Onkreukbaarheid lei die regskapenes
Onkreukbaarheid lei die regskapenes
“DIE mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis”, sê die Bybel (Job 14:1). Dit lyk of pyn en lyding die lot van die hele mensdom is. Selfs die daaglikse lewe kan vol sorge en ontsteltenis wees! Wat sal ons help om moeilike omstandighede met welslae die hoof te bied en ’n regverdige posisie voor God te behou?
Kyk na die voorbeeld van ’n ryk man met die naam Job, wat ongeveer 3 500 jaar gelede gelewe het in wat nou Arabië is. Watter rampspoed het Satan tog oor dié godvresende man gebring! Hy het al sy vee verloor en sy geliefde kinders aan die dood afgestaan. Kort daarna het Satan Job van kop tot tone met kwaadaardige swere getref (Job, hoofstukke 1, 2). Job het glad nie geweet waarom slegte dinge met hom gebeur nie. Tog “het Job nie met sy lippe gesondig nie” (Job 2:10). “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” het hy gesê (Job 27:5). Ja, Job se onkreukbaarheid het hom deur sy beproewinge heen gelei.
Onkreukbaarheid word omskryf as regskapenheid of volkomenheid en behels dat ’n mens onberispelik en foutloos in God se oë is. Maar dit beteken nie dat onvolmaakte mense, vir wie dit onmoontlik is om volkome aan God se standaarde te voldoen, volmaak in spraak en gedrag is nie. Onkreukbaarheid by mense dui eerder daarop dat hulle hart ten volle toegewy is aan Jehovah, sy wil en sy voorneme. Sulke godvrugtige toegewydheid rig, of lei, die regskapenes onder alle omstandighede en te alle tye. Die eerste deel van die 11de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke toon hoe ons onkreukbaarheid ons op verskillende gebiede van die lewe kan lei en verseker ons van die seëninge wat sal volg. Laat ons dus met opregte belangstelling kyk na wat daar opgeteken staan.
Onkreukbaarheid lei tot eerlikheid in sakegebruike
Koning Salomo van eertydse Israel gebruik nie wetlike terme nie, maar digterlike woorde wanneer hy die aandag op die beginsel van eerlikheid vestig en sê: “’n Bedrieglike weegskaal is vir Jehovah iets verfoeiliks, maar in ’n volle weegsteen skep hy behae” (Spreuke 11:1). Dit is die eerste van vier plekke in die boek Spreuke waar ’n weegskaal en gewigte gebruik word om aan te dui dat Jehovah wil hê sy aanbidders moet eerlik in hulle sakegebruike wees.—Spreuke 16:11; 20:10, 23.
Die voorspoed van mense wat ’n bedrieglike weegskaal gebruik—of oneerlik is—kan aanloklik
wees. Maar wil ons werklik God se standaarde van goed en sleg versaak deur by onetiese sakegebruike betrokke te raak? Nie as onkreukbaarheid ons lei nie. Ons vermy oneerlikheid omdat ’n volle weegsteen, ’n akkurate gewig wat eerlikheid aandui, Jehovah behaag.“Wysheid is by die beskeidenes”
Koning Salomo sê verder: “Het vermetelheid gekom? Dan sal oneer kom; maar wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2). Vermetelheid—hetsy dit as trots, ongehoorsaamheid of jaloesie na vore kom—lei tot skande. Daarenteen is die nederige erkenning van ons beperkings die verstandige weg. Hoe goed lig skriftuurlike voorbeelde tog die waarheid van hierdie spreuk toe!
’n Jaloerse Leviet, Korag, het ’n oproerige skare teen die gesag van Jehovah se aangestelde knegte Moses en Aäron aangevoer. Wat was die gevolg van dié vermetele daad? “Die aarde het sy mond oopgemaak en [party van die opstandelinge] verswelg”, terwyl ander, met inbegrip van Korag, deur vuur verteer is (Numeri 16:1-3, 16-35; 26:10; Deuteronomium 11:6). Watter oneer tog! Dink ook aan Ussa, wat vermetel opgetree het deur sy hand uit te steek om te probeer keer dat die verbondsark val. Hy is onmiddellik met die dood getref (2 Samuel 6:3-8). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons vermetelheid vermy!
’n Nederige en beskeie mens word nie oneer aangedoen nie, selfs al maak hy ’n fout. Hoewel Job in baie opsigte voorbeeldig was, was hy onvolmaak. Sy beproewinge het ’n ernstige tekortkoming in sy denkwyse aan die lig gebring. Terwyl Job hom teen sy beskuldigers verdedig het, het hy ietwat ongebalanseerd geraak. Hy het selfs te kenne gegee dat hy regverdiger as God is (Job 35:2, 3). Hoe het Jehovah Job se denke reggestel?
Deur die aandag te vestig op die aarde, die see, die sterrehemel, party van die diere en ander wonders van die skepping, het Jehovah Job die les geleer van die mens se nietigheid in vergelyking met God se grootheid (Job, hoofstukke 38-41). Jehovah het nie een keer gesê waarom Job gely het nie. Dit was nie nodig nie. Job was beskeie. Hy het nederig erken dat daar ’n groot verskil bestaan tussen hom en God, tussen sy eie onvolmaaktheid en swakhede en Jehovah se regverdigheid en krag. “Ek [herroep] my woorde”, het hy gesê, “en ek het berou in stof en as” (Job 42:6). Job se onkreukbaarheid het hom gelei sodat hy die teregwysing geredelik aanvaar het. Wat van ons? Sal ons onkreukbaarheid ons lei om die nodige teregwysing of bestrawwing geredelik te aanvaar?
Moses was ook beskeie en nederig. Toe hy uitgeput raak omdat hy ander se probleme probeer oplos, het sy skoonvader, Jetro, ’n praktiese oplossing voorgestel: Deel die verantwoordelikheid met ander bekwame manne. Moses het sy eie beperkings erken en was verstandig genoeg om die raad te aanvaar (Eksodus 18:17-26; Numeri 12:3). ’n Beskeie man is nie teësinnig om gesag aan ander oor te dra nie, en hy is ook nie bang dat hy op die een of ander manier beheer verloor wanneer hy gepaste verantwoordelikhede met ander bekwame manne deel nie (Numeri 11:16, 17, 26-29). Hy wil hulle eerder graag help om geestelik vooruitgang te maak (1 Timoteus 4:15). Behoort dit nie met ons ook die geval te wees nie?
‘Die weg van die onberispelike is reguit’
Salomo erken dat onkreukbaarheid nie altyd die regskapenes teen gevaar of rampspoed beskerm nie en sê: “Die onkreukbaarheid van die regskapenes lei hulle, maar verdraaiing deur dié wat verraderlik handel, sal hulle plunder” (Spreuke 11:3). Onkreukbaarheid lei inderdaad die regskapenes om te doen wat reg is in God se oë, selfs onder moeilike omstandighede, en bring op die lange duur voordele. Job het geweier om sy onkreukbaarheid prys te gee, en Jehovah “het die einde van Job meer geseën as sy begin” (Job 42:12). Dié wat verraderlik handel, meen moontlik dat hulle hulle verryk ten koste van iemand anders, en dit lyk dalk selfs ’n ruk lank of hulle voorspoedig is. Maar vroeër of later sal hulle bedrog hulle vernietig.
“Waardevolle dinge sal geen voordeel bring op die dag van grimmigheid nie”, sê die wyse koning, “maar regverdigheid sal van die dood verlos” (Spreuke 11:4). Hoe dwaas is dit tog om vir materiële gewin te swoeg, maar nie tyd in te ruim vir persoonlike studie, gebed, vergaderingbywoning en die veldbediening nie—juis die bedrywighede wat ons liefde vir God verinnig en ons toegewydheid aan hom versterk! Geen rykdom sal verlossing bring tydens die komende groot verdrukking nie (Matteus 24:21). Net die regverdigheid van die regskapenes sal (Openbaring 7:9, 14). Ons is dus verstandig as ons Sefanja se versoek ter harte neem: “Voordat die dag van Jehovah se toorn oor julle kom, soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde, wat Sy regterlike beslissing uitgevoer het. Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid” (Sefanja 2:2, 3). Laat ons ons intussen ten doel stel om ‘Jehovah met ons waardevolle dinge te eer’.—Spreuke 3:9.
Salomo beklemtoon verder hoe belangrik dit is om regverdigheid na te streef wanneer hy die uiteinde van die onberispelike met dié van die goddelose vergelyk en sê: “Die regverdigheid van die onberispelike sal sy weg reguit maak, maar die goddelose sal in sy eie goddeloosheid val. Die regverdigheid van die regskapenes sal hulle verlos, maar dié wat verraderlik handel, sal deur hulle begeerte gevang word. Wanneer ’n goddelose mens sterf, vergaan sy hoop; en selfs verwagting wat op mag gegrond is, het vergaan. Die regverdige word selfs uit benoudheid gered, en die goddelose kom in sy plek” (Spreuke 11:5-8). Die onberispelike val nie in sy weë nie en raak ook nie verstrik in sy handelinge nie. Sy weg is reguit. Op die ou end word die regskapenes uit benoudheid gered. Die goddeloses lyk dalk magtig, maar hulle kan glad nie so ’n verlossing te wagte wees nie.
‘’n Stad is uitgelate’
Die onkreukbaarheid van die regskapenes en die goddeloosheid van kwaaddoeners het ook ’n uitwerking op ander mense. “Deur sy mond stort die afvallige sy medemens in die verderf”, sê die koning van Israel, “maar deur kennis word die regverdiges gered” (Spreuke 11:9). Wie sal ontken dat laster, skadelike skinderpraatjies, onwelvoeglike praatjies en onsinnige praatjies ander benadeel? Daarenteen is ’n regverdige se spraak rein, weldeurdag en bedagsaam. Hy word deur kennis gered omdat sy onkreukbaarheid hom die bewyse gee wat hy nodig het om te toon dat sy aanklaers leuens vertel.
“Weens die goedheid van die regverdiges is ’n stad uitgelate”, sê die koning verder, “maar wanneer die goddeloses vergaan, is daar vreugdegeroep” (Spreuke 11:10). Die regverdiges is gewoonlik gelief by ander, en hulle maak hulle medemens uitgelate—gelukkig en bly. Niemand hou eintlik van “goddeloses” nie. Wanneer die goddeloses sterf, treur mense oor die algemeen nie oor hulle nie. Daar sal beslis geen droefheid wees wanneer Jehovah ‘die goddeloses van die aarde af uitroei en die verraderlikes daarvan wegruk’ nie (Spreuke 2:21, 22). Daar sal eerder vreugde wees omdat hulle van die toneel verwyder is. Maar wat van ons? Dit sal goed wees as ons daaroor nadink of ons gedrag tot die vreugde van ander bydra.
‘’n Stad word verhef’
Salomo vergelyk weer die uitwerking wat die regskapenes en die goddeloses op ’n gemeenskap het en sê: “Weens die seën van die regskapenes word ’n stad verhef, maar weens die mond van die goddeloses word dit afgebreek.”—Spreuke 11:11.
Stadsbewoners wat ’n regskape weg volg, bevorder vrede en die welstand van ander, en hulle bou mense in die gemeenskap op. ’n Stad word dus verhef—dit is voorspoedig. Mense wat lasterlike, kwetsende en verkeerde dinge sê, versteur die vrede en veroorsaak hartseer, verdeeldheid en moeilikheid. Dit is veral die geval as hierdie mense invloedryk is. In so ’n stad is daar wanorde, verdorwenheid, sedelike verval en miskien ekonomiese agteruitgang.
Die beginsel in Spreuke 11:11 geld ook vir Jehovah se volk wanneer hulle met mekaar omgaan in hulle gemeentes wat met stede vergelyk word. ’n Gemeente waar geestelike mense—regskapenes wat deur hulle onkreukbaarheid gelei word—’n invloed het, is ’n groep gelukkige, bedrywige en behulpsame mense wat God eer. Jehovah seën die gemeente, en dit geniet geestelike voorspoed. Die paar, hier en daar, wat dalk klaerig en ontevrede is, wat foutvind en griewende aanmerkings maak oor hoe dinge gedoen word, is soos ’n “giftige wortel” wat kan versprei en ander kan vergiftig wat aanvanklik onaangetas was (Hebreërs 12:15). Sulke mense wil dikwels meer gesag en vernaamheid hê. Hulle begin gerugte dat daar onregverdigheid, etniese vooroordeel of so iets in die gemeente bestaan of dat die ouer manne daaraan skuldig is. Hulle mond kan beslis die gemeente verdeel. Moet ons nie doof wees vir hulle praatjies en daarna streef om geestelike mense te wees wat vrede en eenheid in die gemeente bevorder nie?
Salomo sê verder: “Wie nie ’n verstandige hart het nie, het sy medemens verag, maar die man met groot onderskeidingsvermoë is iemand wat stilbly. Wie as ’n lasteraar rondgaan, lê vertroulike gesprekke bloot, maar wie getrou van gees is, bedek ’n saak.”—Spreuke 11:12, 13.
Watter skade word tog aangerig deur iemand wat nie goeie oordeel aan die dag lê nie, of “nie ’n verstandige hart het nie”! Hy gaan so ver met sy los praatjies dat hy laster of kwaadspreek. Die aangestelde ouer manne moet vinnig optree om van so ’n skadelike invloed ontslae te raak. In teenstelling met iemand wat “nie ’n verstandige hart het nie”, weet ’n man met onderskeidingsvermoë wanneer om stil te bly. Hy openbaar nie iets vertrouliks nie, maar bedek die saak. Aangesien iemand met onderskeidingsvermoë weet dat ’n onbewaakte tong baie skade kan aanrig, is hy “getrou van gees”. Hy is lojaal aan medegelowiges en openbaar nie vertroulike sake wat hulle in gevaar kan stel nie. Wat ’n seën is sulke handhawers van onkreukbaarheid tog vir die gemeente!
Jehovah help ons om in die weg van die onberispelikes te wandel deur ’n oorvloed geestelike voedsel te voorsien wat onder die leiding Matteus 24:45). Ons kry ook baie hulp van Christen- ouer manne in ons gemeentes wat met stede vergelyk word (Efesiërs 4:11-13). Ons is werklik dankbaar hiervoor, want “wanneer daar geen bekwame leiding is nie, val die volk; maar daar is redding in die veelheid van raadgewers” (Spreuke 11:14). Laat ons, ongeag wat gebeur, vasbeslote wees om ‘in ons onkreukbaarheid te wandel’.—Psalm 26:1.
van “die getroue en verstandige slaaf” voorberei word ([Lokteks op bladsy 26]
Hoe dwaas is dit tog om vir materiële gewin te swoeg, maar teokratiese bedrywighede af te skeep!
[Prente op bladsy 24]
Job is deur sy onkreukbaarheid gelei, en Jehovah het hom geseën
[Prent op bladsy 25]
Ussa het weens sy vermetelheid gesterf