Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons moet weet wie God is

Ons moet weet wie God is

Ons moet weet wie God is

IS JY nie beïndruk wanneer jy op ’n wolklose nag ’n sterbesaaide hemel sien nie? Is die geur van kleurvolle blomme nie aangenaam nie? Geniet jy dit nie om na voëlgesang en die geritsel van blare in ’n ligte bries te luister nie? En hoe indrukwekkend is sterk walvisse en ander seediere tog! Dan is daar nog mense met hulle ingebore gewete en verbasend komplekse brein. Hoe verklaar jy die bestaan van al die wonderlike dinge om ons?

Party glo dat dit alles die resultaat van blinde toeval is. Maar as dit is, waarom is mense dan bewus van God? Waarom sou ’n toevallige verbinding van verskillende chemikalieë wesens met ’n geestelike behoefte voortbring?

“Godsdiens is diep gewortel in die menslike natuur en word op elke ekonomiese en opvoedkundige vlak ervaar.” Hierdie stelling het die navorsing opgesom wat professor Alister Hardy in sy boek The Spiritual Nature of Man opgeteken het. Onlangse eksperimente met die brein het sekere neurowetenskaplikes aan die hand laat doen dat mense moontlik “geneties geprogrammeer” is met die vermoë om godsdiens te beoefen. Die boek met die titel Is God the Only Reality? sê: “Die godsdienstige soeke na die sin [van die lewe] . . . is die gemeenskaplike ervaring in elke kultuur en elke eeu sedert die mensdom sy verskyning gemaak het.”

Let op die gevolgtrekking wat ’n geleerde man sowat 2 000 jaar gelede gemaak het. Hy het geskryf: “Elke huis word . . . deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Trouens, die heel eerste vers van die Bybel sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”—Genesis 1:1.

Maar wie is God? Die mensdom is verdeeld oor hierdie kwessie. Toe ’n Japannese tiener met die naam Josji gevra is wie God is, het hy geantwoord: “Ek is nie seker nie. Ek is ’n Boeddhis, en dit was nog nooit vir my belangrik om te weet wie God is nie.” Maar Josji het erken dat Boeddha self deur baie aanbid word. Nick, ’n sakeman in sy sestigerjare, glo in God en dink aan hom as ’n oppermagtige krag. Toe Nick gevra is om te verduidelik wat hy van God weet, het hy ná ’n lang stilte geantwoord: “Dit is ’n baie moeilike vraag, my vriend. Al wat ek kan sê, is dat daar ’n God is. Hy bestaan.”

Party mense “aanbid en dien wat God geskep het in plaas van die Skepper self” (Romeine 1:25, Today’s English Version). Miljoene aanbid afgestorwe voorouers omdat hulle glo dat God te ver is om genader te word. In die Hindoegodsdiens is daar baie gode en godinne. Verskillende godhede, soos Zeus en Hermes, is in die dae van Jesus Christus se apostels aanbid (Handelinge 14:11, 12). Baie kerke van die Christendom leer dat God ’n Drie-eenheid is, wat uit God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees bestaan.

Ja, “daar [is] baie ‘gode’ en baie ‘here’”, sê die Bybel. Maar dit voeg by: “Daar [is] in werklikheid vir ons een God, die Vader, uit wie alles is” (1 Korintiërs 8:5, 6). Ja, daar is net een ware God. Maar wie is hy? Watter soort God is hy? Dit is belangrik dat ons die antwoorde op hierdie vrae ken. Jesus self het in gebed tot dié Een gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Daar is dus rede om te glo dat ons ewige welsyn daarvan afhang dat ons die waarheid omtrent God ken.

[Prent op bladsy 3]

Hoe verklaar ’n mens hulle bestaan?

[Erkenning]

Walvis: Courtesy of Tourism Queensland

[Foto-erkenning op bladsy 2]

VOORBLAD: Index Stock Photography © 2002