Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vinnige uitbreiding nodig weens merkwaardige vermeerdering

Vinnige uitbreiding nodig weens merkwaardige vermeerdering

“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”

Vinnige uitbreiding nodig weens merkwaardige vermeerdering

“KOM na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”, het Jesus Christus gesê (Matteus 11:28). Wat ’n hartverblydende uitnodiging van die Hoof van die Christengemeente is dit tog! (Efesiërs 5:23). Wanneer ons oor dié woorde nadink, kan ons nie anders nie as om dankbaar te wees vir ’n noodsaaklike bron van verkwikking—omgang met ons geestelike broers en susters by Christelike vergaderinge. Ons stem beslis saam met die psalmis wat gesing het: “Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!”—Psalm 133:1.

Ja, ons geniet die beste omgang by hierdie vergaderinge vir aanbidding, en die geestelike atmosfeer is heilsaam en aangenaam. ’n Jong Christen het dus tereg gesê: “Ek is heeldag by die skool, en dit breek my af. Maar die vergaderinge is soos ’n oase in die woestyn, waar ek verkwik word sodat ek deur die volgende skooldag kan kom.” ’n Nigeriese meisie het gesê: “Ek het gevind dat noue omgang met ander wat Jehovah liefhet, my help om na aan hom te bly.”

As ’n sentrum van ware aanbidding in die gemeenskap voorsien die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in ’n groot behoefte. Op die meeste plekke word vergaderinge minstens twee keer per week by die Koninkryksaal gehou, en Bybelstudente word aangespoor om dit so gou moontlik by te woon sodat hulle by die verkwikkende omgang daar baat kan vind.—Hebreërs 10:24, 25.

’n Dringende behoefte

Nie alle Getuies van Jehovah het egter ’n geskikte Koninkryksaal om te gebruik nie. Merkwaardige vermeerdering in die aantal Koninkryksverkondigers oor die hele wêreld het ’n dringende behoefte laat ontstaan. Duisende Koninkryksale is nog nodig, veral in ontwikkelende lande.—Jesaja 54:2; 60:22.

Ter toeligting: Daar was net tien Koninkryksale vir 290 gemeentes in die hoofstad van die Demokratiese Republiek van die Kongo. Dié land het ’n dringende behoefte aan baie Koninkryksale gehad. In Angola vergader die meeste gemeentes in die buitelug omdat daar net ’n beperkte aantal Koninkryksale is. Baie ander lande het soortgelyke behoeftes.

’n Georganiseerde poging is dus sedert 1999 aangewend om met die bou van Koninkryksale in lande met beperkte middele te help. Ervare Getuies het hulle dienste aangebied om na bouprojekte in hierdie lande om te sien. Hierdie pogings, tesame met die gewillige gees en die beskikbaarheid van plaaslike vrywilligers, lewer baie bemoedigende resultate. En plaaslike Getuies vind baat by die opleiding wat hulle ontvang. Dit alles help om in die behoefte aan Koninkryksale in hulle onderskeie lande te voorsien.

So word praktiese hulp verleen in ’n aanpasbare benadering tot die bou van Koninkryksale waarvolgens plaaslike metodes en materiaal gebruik word. Die doel is nie net om in die groot behoefte aan Koninkryksale te voorsien nie, maar ook om ’n instandhoudingsprogram te ontwikkel wat vir plaaslike omstandighede geskik is.—2 Korintiërs 8:14, 15.

Bemoedigende resultate

Wat is die gevolg van hierdie pogings om plekke van aanbidding te voorsien? Vroeg in 2001 het ’n verslag uit Malawi gesê: “Dit is werklik indrukwekkend om te sien wat in hierdie land verrig is. In die volgende twee maande sal ons nog Koninkryksale voltooi” (Prente 1 en 2). In Togo kon vrywilligers in onlangse maande ’n aantal beskeie Koninkryksale bou (Prent 3). Die goeie werk wat gewillige vrywilligers doen, help ook om geskikte Koninkryksale in Mexiko, Brasilië en ander lande te voorsien.

Gemeentes vind dat, wanneer ’n Koninkryksaal gebou is, die plaaslike mense besef dat Jehovah se Getuies ’n vaste plek in die gemeenskap verkry het. Baie mense het blykbaar gehuiwer om met die Getuies om te gaan totdat ’n geskikte plek van aanbidding beskikbaar was. Die Nafisi-gemeente in Malawi laat weet: “Noudat ons ’n geskikte Koninkryksaal het, lei dit tot ’n goeie getuienis. Gevolglik is dit maklik om Bybelstudies te begin.”

Lede van die Krake-gemeente in Benin het in die verlede baie bespotting verduur omdat die vorige Koninkryksaal in vergelyking met party kerke primitief was (Prent 4). Nou het die gemeente ’n pragtige nuwe Koninkryksaal wat ware aanbidding op ’n beskeie, maar waardige wyse verteenwoordig (Prent 5). Hierdie gemeente het 34 Koninkryksverkondigers en ’n gemiddelde bywoningsyfer van 73 by die Sondagvergaderinge gehad, maar 651 het die toewyding van die Koninkryksaal bygewoon. Die meeste van hulle was dorpsmense wat beïndruk was om te sien dat die Getuies in net ’n kort tydjie ’n saal kon bou. Die Zimbabwe-takkantoor het oor vorige resultate in dié verband geskryf: “Binne ’n maand nadat ’n nuwe Koninkryksaal gebou is, verdubbel die bywoningsyfer gewoonlik.”—Prente 6 en 7.

Al die nuwe Koninkryksale help ongetwyfeld om plekke vir die geestelike verkwikking van toegewyde Christene sowel as belangstellendes te voorsien. “Ons loop oor van vreugde”, het ’n Getuie in die Oekraïne gesê nadat die plaaslike gemeente hulle nuwe Koninkryksaal begin gebruik het. “Ons het met ons eie oë gesien hoe Jehovah sy volk help.”

[Venster/Prente op bladsy 10, 11]

Milddadige ondersteuning word waardeer

Jehovah se Getuies is verheug om te sien watter vinnige vooruitgang daar al gemaak is om in die dringende behoefte aan nuwe Koninkryksale oor die hele wêreld te voorsien. Weens die bestendige toename in die aantal aanbidders van Jehovah in etlike lande sal talle nuwe Koninkryksale in die toekoms gebou moet word. Gedurende die 2001-diensjaar is daar elke week gemiddeld 32 nuwe gemeentes gestig! Hierdie gemeentes het plekke nodig om te vergader en te aanbid.

Die vraag kan ontstaan: ‘Hoe finansier ons projekte soos die bou van nuwe Koninkryksale, veral in lande waar die broers beperkte geldmiddele het?’ Die antwoord lê in God se ondersteuning sowel as mense se vrygewigheid.

Soos Jehovah beloof het, stort hy sy heilige gees op sy knegte uit sodat hulle in staat is “om goed te doen, om ryk te wees in goeie werke, om vrygewig te wees, mededeelsaam” (1 Timoteus 6:18). God se gees beweeg Jehovah se Getuies om die Koninkrykspredikingswerk op alle maniere te ondersteun—deur hulle tyd, energie, arbeid en ander middele aan Christelike bedrywighede te wy.

Getuies en ander word deur ’n vrygewige gees beweeg om die uitbreiding en bouwerk geldelik te ondersteun. Hulle help nie net om die gewone uitgawes van die plaaslike gemeente te dek nie, maar gee ook bydraes vir bouwerk in ander wêrelddele.

In elke gemeente is daar bussies wat duidelik gemerk is “Bydraes vir die wêreldwye werk—Matteus 24:14”. Mense kan vrywillige bydraes daarin gooi (2 Konings 12:9). Alle bydraes, groot en klein, word waardeer (Markus 12:42-44). Hierdie geld word op ’n verskeidenheid maniere aangewend vir wat nodig is, waaronder die bou van Koninkryksale. Die geld word nie gebruik om die salarisse van amptenare te betaal nie, want Jehovah se Getuies het nie besoldigde amptenare nie.

Bereik bydraes vir die wêreldwye werk hulle doel? Ja. Die takkantoor in Liberië—’n land wat deur burgeroorlog geteister word—laat weet dat die meeste plaaslike Getuies met werkloosheid en ernstige geldnood te kampe het. Hoe kan Jehovah se volk in hierdie land geskikte plekke van aanbidding bekom? “Die milddadige bydraes van die broers in ander lande sal gebruik word om die werk te finansier”, sê die takkantoor. “Wat ’n wyse en liefdevolle reëling is dit tog!”

Die plaaslike broers gee ook bydraes, ondanks hulle beperkte middele. Die volgende verslag is uit die Afrikaland Sierra Leone ontvang: “Die plaaslike broers ondersteun die poging en is verheug om deur hulle arbeid en watter geldelike bydraes hulle ook al kan gee, tot die bou van Koninkryksale by te dra.”

Bowenal strek hierdie boupoging Jehovah tot eer. Die broers van Liberië sê geesdriftig: “Die bou van geskikte plekke van aanbidding oor die hele land sal vir die mense wys dat ware aanbidding ’n vaste plek verkry het, en dit sal ons God se groot naam vereer en verheerlik.”