Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Sal dit raadsaam wees vir ’n ware Christen om ’n begrafnis of ’n troue in ’n kerk by te woon?

As ons aan enige vorm van valse godsdiens deelneem, mishaag dit Jehovah, en ons moet dit vermy (2 Korintiërs 6:14-17; Openbaring 18:4). ’n Begrafnisdiens in ’n kerk is ’n godsdiensplegtigheid wat waarskynlik ’n preek insluit waarin onskriftuurlike idees soos die onsterflikheid van die siel en ’n hemelse beloning vir alle goeie mense verkondig word. Dit kan ook gebruike insluit soos om die teken van die kruis te maak en saam met die priester of predikant te bid. Gebede en ander godsdiensgebruike wat in stryd is met Bybelleringe, kan ook deel uitmaak van ’n godsdienstige huwelikseremonie wat in ’n kerk of elders gehou word. Wanneer ’n Christen hom in ’n groep bevind waar al die ander aan ’n daad van valse aanbidding deelneem, kan dit vir hom moeilik wees om die druk te weerstaan om ook daaraan deel te neem. Hoe onverstandig is dit tog om jou aan sulke druk bloot te stel!

Maar gestel ’n Christen voel verplig om ’n begrafnis of ’n troue in ’n kerk by te woon. ’n Ongelowige man kan byvoorbeeld daarop aandring dat sy Christenvrou so ’n geleentheid saam met hom bywoon. Kan sy as ’n stil waarnemer saam met hom gaan? Uit respek vir haar man se wense besluit die vrou miskien om saam met hom te gaan en is sy vasbeslote om aan geen godsdiensseremonies deel te neem nie. Aan die ander kant besluit sy dalk om nie te gaan nie, omdat sy meen dat die emosionele druk onder die omstandighede vir haar te veel kan wees en daartoe kan lei dat sy haar godvrugtige beginsels prysgee. Dit is haar persoonlike besluit. Sy sal beslis klaarheid in haar hart wil hê sodat sy ’n skoon gewete kan behou.—1 Timoteus 1:19.

Hoe dit ook al sy, dit sal tot haar voordeel wees om aan haar man te verduidelik dat haar gewete haar nie sal toelaat om aan enige godsdiensseremonies deel te neem of gesange te sing of haar hoof te buig wanneer ’n gebed gedoen word nie. Op grond van haar verduideliking sal hy miskien tot die slotsom kom dat sy vrou se teenwoordigheid hom in ’n ongemaklike posisie kan stel. Hy besluit dalk om eerder alleen te gaan uit liefde vir sy vrou, respek vir haar oortuigings of ’n begeerte om enige verleentheid te vermy. Maar as hy volhou dat sy saam met hom moet gaan, kan sy bloot as ’n waarnemer gaan.

Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die uitwerking wat dit op medegelowiges kan hê as ons ’n diens in ’n kerkgebou bywoon. Kan dit party se gewete skaad? Kan dit hulle voorneme om nie by afgodery betrokke te raak nie, verswak? “Maak [seker] van die belangriker dinge”, maan die apostel Paulus, “sodat julle onberispelik kan wees en ander nie laat struikel nie, tot op die dag van Christus.”—Filippense 1:10.

As ’n naverwant by die geleentheid betrokke is, sal daar moontlik bykomende druk van die familie wees. Hoe dit ook al sy, ’n Christen moet al die betrokke faktore goed oorweeg. Onder sekere omstandighede sal hy of sy moontlik tot die slotsom kom dat geen probleme sal ontstaan as hy of sy as ’n waarnemer ’n begrafnis of troue in ’n kerk bywoon nie. Maar die omstandighede kan so wees dat die moontlike skade wat jy jou eie gewete of dié van ander kan aandoen as jy die geleentheid bywoon, swaarder weeg as die moontlike voordele om daar teenwoordig te wees. Ongeag die situasie, die Christen moet seker maak dat die besluit hom nie sal verhinder om ’n goeie gewete voor God en mense te behou nie.