Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer jy God se liefde?

Waardeer jy God se liefde?

Waardeer jy God se liefde?

DIE man Job het die mens se onvolmaakte toestand eenkeer met hierdie woorde beskryf: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis. Soos ’n bloeisel het hy te voorskyn gekom en word hy afgesny, en hy vlug soos die skaduwee en bly nie bestaan nie” (Job 14:1, 2). Vir Job was die lewe op daardie stadium vol pyn en smart. Het jy al ooit so gevoel?

Ten spyte van al die moeilikhede en probleme waarvoor ons te staan kan kom, bestaan daar egter ’n gegronde hoop, ’n hoop wat God se medelye en liefde as grondslag het. Eerstens het ons barmhartige hemelse Vader die losprysoffer voorsien om die mensdom uit hulle gevalle, sondige toestand los te koop. Volgens Johannes 3:16, 17 het Jesus Christus gesê: “God het die [mense]wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun [Jesus] in die wêreld uitgestuur, nie sodat hy die wêreld moet oordeel nie, maar sodat die wêreld deur middel van hom gered kan word.”

Dink ook aan God se goedhartige gesindheid teenoor ons as onvolmaakte mense. Die apostel Paulus het gesê: “Hy het uit een mens elke nasie van die mense gemaak om op die hele oppervlak van die aarde te woon, en hy het die vasgestelde tye en die bepaalde grense van die woonplek van die mense verorden, sodat hulle God sou soek, indien hulle na hom sou tas en hom werklik sou vind, hoewel hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:26, 27). Dink net daaraan! Al is ons as mense onvolmaak, kan ons nog steeds ’n persoonlike verhouding met ons liefdevolle Skepper, Jehovah God, geniet.

Ons kan die toekoms dus met vertroue tegemoetgaan, in die wete dat God vir ons sorg en op liefdevolle wyse voorsienings gemaak het wat vir ons blywende voordele sal meebring (1 Petrus 5:7; 2 Petrus 3:13). Daarom het ons beslis alle rede om meer omtrent ons liefdevolle God te leer deur sy Woord, die Bybel, te bestudeer.