Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie is God?

Wie is God?

Wie is God?

“GOD is die naam wat gewoonlik aan die hoogste bron en krag van die heelal en die voorwerp van godsdiensverering gegee word”, sê The Encyclopedia Americana. God word ook beskryf as die opperste of hoogste werklikheid. Wat is die aard van hierdie ontsagwekkende werklikheid?

Is God ’n onpersoonlike krag of ’n werklike persoon? Het hy ’n naam? Is hy ’n drie-enige wese, ’n Drie-eenheid, soos baie glo? Hoe kan ons God leer ken? Die Bybel gee betroubare en bevredigende antwoorde op hierdie vrae. Trouens, dit spoor ons aan om God te soek waar dit sê: “Hy [is] nie ver van elkeen van ons af . . . nie.”—Handelinge 17:27.

’n Onpersoonlike krag of ’n werklike persoon?

Baie mense wat in God glo, dink aan hom as ’n krag, nie ’n persoon nie. In sekere kulture word gode byvoorbeeld met die natuurkragte verbind. Party mense wat bewyse ondersoek het wat deur middel van wetenskaplike navorsing oor die samestelling van die heelal en die aard van lewe op die aarde versamel is, het tot die slotsom gekom dat daar ’n Skepper moet wees. Hulle huiwer egter om ’n persoonlikheid met hierdie Skepper te verbind.

Maar toon die ingewikkeldheid van die skepping nie dat die Skepper besonderse intelligensie moes gehad het nie? Intelligensie het ’n verstand nodig. Die groot verstand wat vir die hele skepping verantwoordelik is, behoort aan God as persoon. Ja, God het ’n liggaam, nie ’n fisiese liggaam soos ons s’n nie, maar ’n geestelike liggaam. “As daar ’n fisiese liggaam is”, sê die Bybel, “is daar ook ’n geestelike” (1 Korintiërs 15:44). Die Bybel verduidelik die aard van God deur te sê: “God is ’n Gees” (Johannes 4:24). ’n Gees is ’n lewensvorm wat baie van ons verskil, en dit is onsigbaar vir mense-oë (Johannes 1:18). Daar is ook onsigbare geesskepsele. Hulle is engele—“die seuns van die ware God”.—Job 1:6; 2:1.

As ’n ongeskape persoon met ’n geesliggaam het God logieserwys ’n woonplek. Die Bybel praat van die geesteryk en sê vir ons dat die hemel God se “vaste woonplek” is (1 Konings 8:43). Die Bybelskrywer Paulus sê ook: ‘Christus het ingegaan in die hemel self, om vir ons voor die aangesig van God te verskyn.’—Hebreërs 9:24.

Die woord “gees” word ook in ’n ander betekenis in die Bybel gebruik. Die psalmis het in gebed tot God gesê: “As u u gees uitstuur, word hulle geskep” (Psalm 104:30). Hierdie gees is nie God self nie, maar ’n krag wat God uitstuur, of gebruik, om te volbring wat hy ook al verlang. Daardeur het God die fisiese hemele, die aarde en alle lewende dinge geskep (Genesis 1:2; Psalm 33:6). Sy gees word heilige gees genoem. God het sy heilige gees gebruik om die manne te inspireer wat die Bybel geskryf het (2 Petrus 1:20, 21). Die heilige gees is dus die onsigbare werkende krag wat God gebruik om sy voornemens te verwesenlik.

God het ’n unieke naam

Die Bybelskrywer Agur het gevra: “Wie het die wind in die holte van al twee hande versamel? Wie het die waters in ’n mantel toegedraai? Wie het al die eindes van die aarde opgerig? Wat is sy naam en wat is die naam van sy seun?” (Spreuke 30:4). Agur het in werklikheid gevra: ‘Ken jy die naam of familie van enige mens wat hierdie dinge gedoen het?’ Net God het die vermoë om natuurkragte te beheer. Die skepping voorsien wel kragtige bewys dat God bestaan, maar dit openbaar nie die naam van God nie. Trouens, ons sou nooit God se naam geken het tensy God dit self aan ons geopenbaar het nie. En hy het dit geopenbaar. “Ek is Jehovah”, sê die Skepper, “dit is my naam.”—Jesaja 42:8.

God se unieke naam, Jehovah, kom byna 7 000 keer in die Hebreeuse Geskrifte alleen voor. Jesus Christus het dié naam aan ander bekend gemaak en dit voor hulle geloof (Johannes 17:6, 26). Daardie naam word in die laaste boek van die Bybel gevind as deel van die uitdrukking “Halleluja”, wat “loof Jah” beteken. En “Jah” is die verkorte vorm van “Jehovah” (Openbaring 19:1-6, voetnoot in NW). Tog gebruik talle hedendaagse Bybels selde dié naam. Hulle gebruik dikwels die woord “HERE” of “GOD”, wat alles met hoofletters geskryf word om dit van die gewone titels “Here” en “God” te onderskei. Party geleerdes voer aan dat God se naam moontlik Jahweh uitgespreek is.

Waarom is daar verskillende beskouings oor die naam van die grootste Persoon in die heelal? Die probleem het eeue gelede ontstaan toe die Jode weens bygelowigheid opgehou het om God se naam uit te spreek en begin het om dit met die Hebreeuse woord vir “Soewereine Heer” te vervang wanneer hulle tydens hulle Skriflesing by God se naam gekom het. Aangesien Bybelse Hebreeus sonder klinkers geskryf is, is dit onmoontlik om te weet presies hoe Moses, Dawid en ander mense van die ou tyd die letters van God se naam uitgespreek het. Maar die vorm Jehovah is al eeue lank in gebruik, en die ekwivalent daarvan in baie tale word vandag algemeen aanvaar.—Eksodus 6:3; Jesaja 26:4, King James Version.

Hoewel daar onsekerheid bestaan oor hoe God se naam in Ou Hebreeus uitgespreek is, is die betekenis daarvan nie ’n verborgenheid nie. Sy naam beteken “Hy laat word”. Jehovah God identifiseer hom daardeur as die Groot Voornemer. Hy laat altyd sy voornemens en beloftes verwesenlik word. Net die ware God, wat die mag het om dit te doen, kan tereg dié naam dra.—Jesaja 55:11.

Die naam Jehovah onderskei die almagtige God onteenseglik van alle ander gode. Daarom kom dié naam so dikwels in die Bybel voor. Hoewel baie vertalings nie God se naam gebruik nie, sê Psalm 83:18 duidelik: “U, wie se naam Jehovah is, u alleen [is] die Allerhoogste oor die hele aarde.” Tydens sy bediening het Jesus Christus sy volgelinge geleer: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word’” (Matteus 6:9). Ons behoort dus God se naam te gebruik wanneer ons bid, van hom praat en hom voor ander loof.

Is Jesus God?

Jehovah God laat geen twyfel bestaan oor wie sy Seun is nie. Nadat Jesus gedoop is, was daar volgens Matteus se evangelieverslag “’n stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het’” (Matteus 3:16, 17). Jesus Christus is die Seun van God.

Maar party godsdienstige mense sê dat Jesus God is. Ander sê dat God ’n Drie-eenheid is. Volgens hierdie leer “is die Vader God, is die Seun God en is die Heilige Gees God, en tog is daar nie drie Gode nie, maar een God”. Daar word beweer dat die drie “mede-ewig en gelyk is” (The Catholic Encyclopedia). Is hierdie beskouings reg?

Die geïnspireerde Skrif sê van Jehovah: “Ja, van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd is u God” (Psalm 90:2). Hy is “die Koning van die ewigheid”—sonder begin of einde (1 Timoteus 1:17). Jesus is daarenteen “die eersgeborene van die hele skepping”, “die begin van die skepping deur God” (Kolossense 1:13-15; Openbaring 3:14). Jesus het van God as sy Vader gepraat en gesê: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Jesus het ook verduidelik dat daar dinge was wat nie hy of die engele geweet het nie, maar wat net God geweet het (Markus 13:32). En Jesus het tot sy Vader gebid en gesê: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied” (Lukas 22:42). Tot wie het hy gebid as dit nie tot ’n Persoon was wat hoër as hy is nie? En dit was God wat Jesus uit die dood opgewek het, nie Jesus self nie.—Handelinge 2:32.

Volgens die Skrif is Jehovah dus die almagtige God, en Jesus is sy Seun. Hulle twee was nie gelyk voordat Jesus aarde toe gekom het of gedurende sy aardse lewe nie; en Jesus het ook nie aan sy Vader gelyk geword nadat hy tot lewe in die hemel opgewek is nie (1 Korintiërs 11:3; 15:28). Soos ons gesien het, is die sogenaamde derde persoon van die Drie-eenheid, die heilige gees, nie ’n persoon nie. Dit is eerder ’n krag wat God gebruik om sy voornemens te volbring. Die Drie-eenheid is dus nie ’n skriftuurlike leerstelling nie. a “Jehovah ons God is een Jehovah”, sê die Bybel.—Deuteronomium 6:4.

Leer God beter ken

Voordat ons God kan liefhê en hom die uitsluitlike toegewydheid kan gee wat hy verdien, moet ons hom ken soos hy waarlik is. Hoe kan ons God beter leer ken? “Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien”, sê die Bybel, “omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Romeine 1:20). Een manier waarop ons God beter kan leer ken, is deur na sy skeppingswerke te kyk en met waardering daaroor te peins.

Die skepping vertel ons egter nie alles wat ons omtrent God moet weet nie. Ons moet byvoorbeeld die Bybel ondersoek om te kan verstaan dat hy ’n werklike geespersoon met ’n unieke naam is. Trouens, die beste manier om God beter te leer ken, is deur die Bybel te bestudeer. In die Skrif vertel Jehovah ons baie meer van watter soort God hy is. Hy openbaar ook sy voornemens aan ons en onderrig ons in sy weë (Amos 3:7; 2 Timoteus 3:16, 17). Hoe bly kan ons tog wees dat God wil hê dat ons “tot juiste kennis van die waarheid moet kom” sodat ons by sy liefdevolle voorsienings baat kan vind! (1 Timoteus 2:4). Laat ons dus alles in ons vermoë doen om soveel moontlik van Jehovah te leer.

[Voetnoot]

a Sien die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp.

[Prente op bladsy 5]

God het sy heilige gees gebruik om die aarde te skep en om manne te inspireer om die Bybel te skryf

[Prent op bladsy 5]

’n Stem uit die hemele het gesê: “Dit is my Seun”

[Prent op bladsy 7]

Jesus het tot God—die Persoon wat hoër as hy is—gebid

[Prent op bladsy 7]

Jesus het God se naam aan ander bekend gemaak

[Prente op bladsy 7]

Ons kan God beter leer ken