Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

As ’n volk gereinig vir goeie werke

As ’n volk gereinig vir goeie werke

As ’n volk gereinig vir goeie werke

“Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring.”—2 KORINTIËRS 7:1.

1. Wat vereis Jehovah van diegene wat hom aanbid?

 “WIE mag teen die berg van Jehovah opgaan, en wie mag in sy heiligdom opstaan?” Koning Dawid van eertydse Israel het hierdie gedagteprikkelende vraag gevra oor aanbidding wat vir Jehovah aanneemlik is. Hy het toe die antwoord gegee: “Enigiemand wat onskuldig van hande en rein van hart is, wat My siel nie na blote waardeloosheid gevoer het nie, en ook nie ’n valse eed afgelê het nie” (Psalm 24:3, 4). As ’n mens aanneemlik wil wees vir Jehovah, wat die beliggaming van heiligheid is, moet jy rein en heilig wees. Vroeër het Jehovah die gemeente van Israel herinner: “Julle moet julle heilig en julle moet heilig wees, want ek is heilig.”—Levitikus 11:44, 45; 19:2.

2. Hoe het Paulus en Jakobus die belangrikheid van reinheid in ware aanbidding beklemtoon?

2 Eeue later het die apostel Paulus aan mede-Christene in die verdorwe stad Korinte geskryf: “Aangesien ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig en heiligheid in die vrees van God tot volmaaktheid bring” (2 Korintiërs 7:1). Dit toon weer eens dat ’n mens rein en sonder fisiese en geestelike verontreiniging en verdorwenheid moet wees as jy ’n verhouding met God wil hê en sy beloofde seëninge wil ontvang. Toe die dissipel Jakobus geskryf het oor aanbidding wat vir God aanneemlik is, het hy eweneens gesê: “Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar.”—Jakobus 1:27.

3. Waarop moet ons ons toelê as ons wil hê dat ons aanbidding vir God aanneemlik moet wees?

3 Aangesien dit so ’n belangrike aspek van ware aanbidding is om rein, heilig en onbesmet te wees, moet enigiemand wat graag God se goedkeuring wil wegdra, hom daarop toelê om aan hierdie vereistes te voldoen. Maar omdat mense vandag uiteenlopende standaarde en idees van reinheid het, moet ons verstaan wat Jehovah as rein en aanneemlik beskou en daarvolgens lewe. Ons moet uitvind wat God in dié verband van sy aanbidders vereis en wat hy gedoen het om hulle te help om vir hom rein en aanneemlik te word en te bly.—Psalm 119:9; Daniël 12:10.

Rein vir ware aanbidding

4. Verduidelik wat die Bybel met reinheid bedoel.

4 Vir die meeste mense beteken reinheid net dat ’n mens nie vuil of morsig is nie. In die Bybel word die idee van reinheid egter weergegee met verskeie Hebreeuse en Griekse woorde wat nie net fisiese reinheid beskryf nie, maar meer dikwels sedelike en geestelike reinheid. ’n Bybelensiklopedie sê dus: “Die woorde ‘rein’ en ‘onrein’ word selde net met kwessies van higiëne verbind, maar is hoofsaaklik godsdiensbegrippe. Gevolglik raak die beginsel van ‘reinheid’ feitlik elke aspek van die lewe.”

5. In watter mate het die Mosaïese Wet bepaal wat reinheid in die Israeliete se lewe sou vereis?

5 Die Mosaïese Wet het inderdaad reëls en voorskrifte oor feitlik elke aspek van die Israeliete se lewe ingesluit en het aangedui wat rein en aanneemlik was en wat nie was nie. In Levitikus hoofstukke 11 tot 15 vind ons byvoorbeeld breedvoerige instruksies in verband met reinheid en onreinheid. Sekere diere was onrein, en die Israeliete moes hulle nie eet nie. As ’n vrou geboorte gegee het, was sy vir ’n vasgestelde tyd onrein. Sekere velsiektes, veral melaatsheid, en afskeidings van die manlike en vroulike organe het ’n mens eweneens onrein gemaak. Die Wet het ook bepaal wat gedoen moes word wanneer iemand onrein was. In Numeri 5:2 lees ons byvoorbeeld: “Beveel die kinders van Israel om elke melaatse en elkeen wat ’n lopende afskeiding het en elkeen wat deur ’n afgestorwe siel onrein is, uit die kamp uit te stuur.”

6. Met watter doel is die wette oor reinheid gegee?

6 Hierdie en ander wette van Jehovah het ongetwyfeld bewys gelewer van mediese en fisiologiese kennis wat hulle tyd ver vooruit was, en dit het die volk tot voordeel gestrek wanneer hulle dit nagekom het. Maar hierdie wette is nie bloot as ’n gesondheidskode gegee of om net as mediese riglyne te dien nie. Dit was ’n deel van ware aanbidding. Die feit dat dit betrekking gehad het op mense se daaglikse lewe—dieet, geboorte, die huwelik, ensovoorts—het beklemtoon dat Jehovah as hulle God die reg gehad het om in alle aspekte van hulle lewe, wat uitsluitlik aan Jehovah toegewy was, te bepaal wat vir hulle gepas is en wat nie.—Deuteronomium 7:6; Psalm 135:4.

7. Watter seën sou die nasie Israel ontvang het as hulle die Wet onderhou het?

7 Die Wetsverbond het die Israeliete ook beskerm teen die verontreinigende gebruike van die nasies om hulle. As die Israeliete die Wet getrou onderhou het, met inbegrip van al die vereistes om in Jehovah se oë rein te bly, sou hulle hulle God aanneemlik kon dien en sy seën kon ontvang. In verband hiermee het Jehovah vir die nasie gesê: “As julle . . . my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word, want die hele aarde behoort aan my. En julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie word.”—Eksodus 19:5, 6; Deuteronomium 26:19.

8. Waarom moet Christene van vandag aandag skenk aan wat die Wet oor reinheid sê?

8 Aangesien Jehovah hierdie besonderhede in die Wet uiteengesit het om die Israeliete te leer hoe om rein, heilig en vir hom aanneemlik te wees, is die vraag: Moet Christene van vandag nie ernstig nadink oor die mate waarin hulle aan hierdie vereistes voldoen nie? Al is Christene nie onder die Wet nie, moet hulle in gedagte hou dat alles wat in die Wet staan, soos Paulus verduidelik het, “’n skaduwee van die toekomstige dinge [is], maar die werklikheid behoort aan die Christus” (Kolossense 2:17; Hebreërs 10:1). As Jehovah God, wat sê “ek het nie verander nie”, dit destyds as so ’n belangrike aspek van ware aanbidding beskou het om rein en onbesmet te wees, moet ons vandag die kwessie van fisiese, sedelike en geestelike reinheid ernstig opneem as ons sy goedkeuring en seën wil geniet.—Maleagi 3:6; Romeine 15:4; 1 Korintiërs 10:11, 31.

Fisiese reinheid beveel ons aan

9, 10. (a) Waarom is fisiese reinheid vir ’n Christen belangrik? (b) Watter opmerkings word dikwels oor die byeenkomste van Jehovah se Getuies gemaak?

9 Is fisiese reinheid nog steeds ’n belangrike deel van ware aanbidding? Hoewel fisiese reinheid op sigself ’n mens nie ’n ware aanbidder van God maak nie, is dit beslis gepas vir ’n ware aanbidder om fisies rein te wees sover sy omstandighede dit toelaat. Veral vandag, wanneer baie mense nie veel moeite doen om hulle liggaam, hulle klere of hulle omgewing skoon te hou nie, word dié wat dit wel doen, dikwels deur mense om hulle opgemerk. Dit kan goeie gevolge hê, soos Paulus vir die Christene in Korinte gesê het: “In geen opsig gee ons enige rede tot struikeling nie, sodat daar nie met ons bediening foutgevind sal word nie; maar in elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan.”—2 Korintiërs 6:3, 4.

10 Jehovah se Getuies is al herhaaldelik deur staatsamptenare geprys vir hulle rein, ordelike en goeie gedrag en gewoontes, wat veral by hulle groot byeenkomste gesien word. Die koerant La Stampa het byvoorbeeld die volgende opmerking gemaak oor ’n byeenkoms wat in die provinsie Savona, Italië, gehou is: “Wanneer ’n mens deur die fasiliteite stap, merk jy onmiddellik op hoe netjies en ordelik die mense is wat dit gebruik.” Ná ’n byeenkoms van die Getuies by ’n stadion in Sao Paulo, Brasilië, het ’n stadionbeampte vir sy skoonmaakspan se toesighouer gesê: “Van nou af wil ons hê die stadion moet skoongemaak word soos Jehovah se Getuies dit skoongemaak het.” ’n Ander beampte by dieselfde stadion het gesê: “Wanneer Jehovah se Getuies die stadion wil huur, wil ons net die datums weet. Ons is oor niks anders bekommerd nie.”

11, 12. (a) Watter Bybelbeginsel moet ons in gedagte hou wanneer dit by persoonlike netheid kom? (b) Watter vrae kan gevra word oor ons persoonlike gewoontes en lewenswyse?

11 As netheid en ordelikheid in ons plek van aanbidding die God wat ons aanbid, tot lof kan strek, is dit beslis net so belangrik dat ons hierdie eienskappe in ons persoonlike lewe aan die dag lê. Maar in die privaatheid van ons huis voel ons dalk dat ons die reg het om te doen wat ons wil. En wanneer dit by kleredrag en persoonsversorging kom, het ons sekerlik die vryheid om te kies wat ons voel gemaklik en mooi is! Tog is dit alles in ’n groot mate net relatief. Onthou dat Paulus, in sy bespreking oor ’n mens se keuse om sekere voedsel te eet, sy mede-Christene gewaarsku het: “Let voortdurend daarop dat hierdie reg van julle nie op die een of ander wyse ’n struikelblok word vir dié wat swak is nie.” Toe het hy ’n waardevolle beginsel gemeld: “Alles is geoorloof, maar nie alles is voordelig nie. Alles is geoorloof, maar nie alles bou op nie” (1 Korintiërs 8:9; 10:23). Hoe is Paulus se raad op ons van toepassing wanneer dit by netheid kom?

12 Dit is logies dat mense van ’n bedienaar van God sal verwag om skoon en ordelik te lewe. Gevolglik moet ons seker maak dat die voorkoms van ons huis en erf nie afbreuk doen aan wat ons bely ons is nie, naamlik bedienaars van God se Woord. Watter soort getuienis gee ons huis van ons en ons godsdiensoortuigings? Toon dit dat ons werklik daarna uitsien om in ’n skoon en ordelike nuwe wêreld van regverdigheid te lewe, wat ons so sterk by ander aanbeveel? (2 Petrus 3:13). Ons persoonlike voorkoms—hetsy gedurende ons vrye tyd of in die bediening—kan ook maak dat die boodskap wat ons verkondig, groter of minder byval vind. Let byvoorbeeld op hierdie woorde van ’n koerantverslaggewer in Mexiko: “Daar is werklik baie jongmense onder Jehovah se Getuies, en hulle haarstyle, netjiese voorkoms en gepaste kleredrag is opvallend.” Wat ’n vreugde is dit tog om sulke jongmense onder ons te hê!

13. Wat kan ons doen om seker te maak dat ons in alle aspekte van ons daaglikse lewe skoon en ordelik is?

13 Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan om seker te maak dat ons, ons besittings en ons huis altyd skoon en ordelik is. ’n Groot hoeveelheid ingewikkelde en duur toerusting is nie nodig nie, maar wel goeie beplanning en voortdurende inspanning. Ons moet tyd inruim om te sorg dat ons liggaam, ons klere, ons huis, ons motor, ensovoorts skoon is. Die feit dat ons besig gehou word met die bediening, vergaderingbywoning en persoonlike studie—benewens ander verpligtinge in die daaglikse lewe—stel ons nie vry van die vereiste om rein en aanneemlik te bly in die oë van God en mense nie. Die bekende beginsel, “vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”, geld ook vir hierdie deel van ons lewe.—Prediker 3:1.

’n Hart wat nie verontreinig is nie

14. Waarom kan daar gesê word dat sedelike en geestelike reinheid selfs belangriker as fisiese reinheid is?

14 Dit is belangrik om aan fisiese reinheid aandag te gee en selfs belangriker om oor sedelike en geestelike reinheid besorg te wees. Ons kom tot hierdie gevolgtrekking as ons daaraan dink dat Jehovah nie die nasie Israel verwerp het omdat hulle fisies onrein was nie, maar omdat hulle sedelik en geestelik verdorwe geraak het. Deur die profeet Jesaja het Jehovah vir hulle gesê dat hulle offerandes, hulle onderhouding van die nuwe maan en sabbat, ja, selfs hulle gebede vir hom ’n las geword het omdat hulle ’n “sondige nasie, die volk swaar belaai met oortreding,” was. Wat moes hulle doen om weer God se guns te verkry? Jehovah het gesê: “Was julle; reinig julle; neem die slegtheid van julle handelinge voor my oë weg; hou op om kwaad te doen.”—Jesaja 1:4, 11-16.

15, 16. Wat verontreinig ’n mens volgens Jesus, en hoe kan Jesus se woorde ons tot voordeel strek?

15 Ons kan ook verstaan hoe belangrik sedelike en geestelike reinheid is as ons dink aan wat Jesus gesê het toe die Fariseërs en skrifgeleerdes beweer het dat sy dissipels onrein was omdat hulle nie hulle hande gewas het voordat hulle geëet het nie. Jesus het sake reggestel deur te sê: “Dit is nie wat in die mond ingaan wat ’n mens verontreinig nie; maar dit is wat uit die mond uitgaan wat ’n mens verontreinig.” Jesus het toe verduidelik: “Die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dié dinge verontreinig ’n mens. Uit die hart kom daar byvoorbeeld goddelose redenasies, moorde, egbreuk, hoererye, diefstalle, valse getuienisse, lasteringe. Hierdie dinge verontreinig ’n mens; maar om met ongewaste hande te eet, verontreinig ’n mens nie.”—Matteus 15:11, 18-20.

16 Wat kan ons uit Jesus se woorde leer? Jesus het daarop gewys dat goddelose, onsedelike en onrein dade voorafgegaan word deur goddelose, onsedelike en onrein neigings in die hart. Dit is soos die dissipel Jakobus gesê het: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word” (Jakobus 1:14, 15). As ons dus nie die ernstige sondes wil pleeg wat Jesus genoem het nie, moet ons enige neiging tot sulke dinge heeltemal uit ons hart verwyder en dit daaruit hou. Dit beteken dat ons sorgvuldig moet let op wat ons lees en waarna ons kyk en luister. In die naam van vryheid van spraak en kunstenaarsvryheid bring die vermaaklikheids- en advertensiebedryf vandag ’n oorvloed klanke en beelde voort wat die drange van die gevalle vlees bevredig. Ons moet vasbeslote wees om nie toe te laat dat enige van hierdie idees in ons hart wortelskiet nie. Die sleutelgedagte is dat ons, as ons vir God welbehaaglik en aanneemlik wil wees, voortdurend waaksaam moet wees sodat ons hart rein bly en nie verontreinig word nie.—Spreuke 4:23.

Gereinig vir goeie werke

17. Waarom het Jehovah sy volk gereinig?

17 Dit is beslis ’n seën en ’n beskerming dat ons, met Jehovah se hulp, ’n rein posisie voor hom kan geniet (2 Korintiërs 6:14-18). Maar ons besef ook dat Jehovah sy volk met ’n spesifieke doel gereinig het. Paulus het vir Titus gesê dat Christus Jesus “homself vir ons gegee het om ons van elke soort wetteloosheid te verlos en vir homself ’n volk te reinig wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke” (Titus 2:14). Vir watter werke moet ons, as ’n gereinigde volk, ywerig wees?

18. Hoe kan ons toon dat ons ywerig is vir goeie werke?

18 In die eerste plek moet ons ons inspan om die goeie nuus van God se Koninkryk in die openbaar bekend te maak (Matteus 24:14). Sodoende bied ons mense oor die hele wêreld die hoop om vir ewig te lewe op ’n aarde sonder enige besoedeling (2 Petrus 3:13). Ons goeie werke sluit ook in dat ons die vrugte van God se gees in ons daaglikse lewe aan die dag lê en sodoende ons hemelse Vader verheerlik (Galasiërs 5:22, 23; 1 Petrus 2:12). En ons vergeet nie diegene wat nie in die waarheid is en wat dalk deur natuurrampe of menslike tragedies geteister word nie. Ons hou Paulus se raad in gedagte: “Ja, solank ons die geleentheid het, laat ons dan aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Al hierdie dienste, wat uit ’n rein hart en met ’n suiwer beweegrede verrig word, is vir God welgevallig.—1 Timoteus 1:5.

19. Watter seëninge wag op ons as ons voortdurend ’n hoë standaard van fisiese, sedelike en geestelike reinheid handhaaf?

19 As knegte van die Allerhoogste slaan ons ag op Paulus se woorde: “[Ek] versoek . . . julle dringend op grond van die medelye van God, broers, om julle liggaam aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Romeine 12:1). Mag ons voortdurend die voorreg om deur Jehovah gereinig te word, waardeer en ons bes doen om ’n hoë standaard van fisiese, sedelike en geestelike reinheid te handhaaf. Dit sal ons nie net nou selfrespek en bevrediging gee nie, maar ons sal ook die vooruitsig hê om te sien hoe “die vorige dinge”—die huidige goddelose en onrein stelsel—verbygaan wanneer God ‘alles nuut maak’.—Openbaring 21:4, 5.

Kan jy onthou?

• Waarom is die Israeliete soveel wette oor reinheid gegee?

• Hoe laat fisiese reinheid die boodskap wat ons verkondig, groter byval vind?

• Waarom is sedelike en geestelike reinheid selfs belangriker as fisiese reinheid?

• Hoe kan ons toon dat ons ’n volk is wat “ywerig vir goeie werke” is?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 21]

Fisiese reinheid laat die boodskap wat ons verkondig, groter byval vind

[Prent op bladsy 22]

Jesus het gewaarsku dat goddelose gedagtes tot goddelose dade lei

[Prente op bladsy 23]

As ’n gereinigde volk is Jehovah se Getuies ywerig vir goeie werke