Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Tetragrammaton in die Septuagint

Die Tetragrammaton in die Septuagint

Die Tetragrammaton in die Septuagint

GOD se naam, Jehovah, word voorgestel deur die Tetragrammaton, dit wil sê die vier Hebreeuse letters יהוה (JHWH). Daar is lank geglo dat die Tetragrammaton nie in afskrifte van die Septuagint verskyn het nie. Gevolglik is daar aangevoer dat die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte nie God se naam in hulle geskrifte sou gebruik het wanneer hulle uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het nie.

’n Reeks ontdekkings wat oor die laaste honderd jaar of wat gemaak is, het aan die lig gebring dat God se naam wel in die Septuagint verskyn het. Een bron sê: “Die begeerte was so groot om die heilige naam van God ongeskonde te bewaar dat Hellenistiese Jode die letters van die Tetragrammaton net so in die Griekse teks oorgeskryf het toe hulle die Hebreeuse Bybel in Grieks vertaal het.”

Die foto van die papirusfragment aan die linkerkant is net een van verskeie voorbeelde wat behoue gebly het. Hierdie fragment wat in Oxirhinchus, Egipte, gevind is en die nommer 3522 gegee is, dateer uit die eerste eeu G.J. a Dit is omtrent 7 by 10,5 sentimeter groot en bevat ’n gedeelte uit Job 42:11, 12. Die Tetragrammaton, wat omkring is, verskyn in antieke Hebreeuse letters. b

Het God se naam dus in vroeë afskrifte van die Christelike Griekse Geskrifte verskyn? Die geleerde George Howard sê: “Aangesien die Tetragram nog in geskrewe vorm voorgekom het in die afskrifte van die Griekse Bybel [die Septuagint], wat die Skrif van die vroeë kerk uitgemaak het, is dit redelik om te glo dat die skrywers van die N[uwe] T[estament], wanneer hulle uit die Skrif aangehaal het, die Tetragram in die Bybelse teks bewaar het.” Dit wil voorkom of kopiïste kort daarna plaasvervangers vir God se naam gebruik het, soos Kuʹri·os (Here) en The·osʹ (God).

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1992, bladsye 26-8, vir meer inligting oor die papirus wat in Oxirhinchus gevind is.

b Sien die New World Translation of the Holy Scriptures−With References, aanhangsel 1C, vir ander voorbeelde van God se naam in eertydse Griekse vertalings.

[Foto-erkenning op bladsy 30]

Courtesy of the Egypt Exploration Society