Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het almal vergaan

Hulle het almal vergaan

Hulle het almal vergaan

“Die bruisende waters het hulle bedek; soos ’n klip het hulle in die dieptes afgesak.”

MET hierdie woorde het Moses en die Israeliete hulle bevryding deur die Rooi See en die verdelging van hulle Egiptiese vyande en agtervolgers—Farao en sy krygsmag—besing.—Eksodus 15:4, 5.

Vir enigiemand wat daardie skouspelagtige gebeurtenis aanskou het, was die les baie duidelik. Niemand kan Jehovah se gesag met welslae betwis of hom daarteen verset en bly lewe nie. Maar net ’n paar maande later het vooraanstaande Israeliete—Korag, Datan, Abiram en 250 ondersteuners—die godgegewe gesag van Moses en Aäron openlik betwis.—Numeri 16:1-3.

Op bevel van Jehovah het Moses die Israeliete gewaarsku om van die opstandige Israeliete se tente af weg te kom. Datan en Abiram, met lede van hulle huisgesinne aan hulle sy, het uitdagend daar bly staan. Moses het toe aangekondig dat Jehovah op sy manier vir die volk sou wys dat hierdie manne “Jehovah met minagting bejeën het”. Toe het Jehovah die grond onder hulle voete laat oopskeur. “So het hulle, en alles wat aan hulle behoort het, lewend in Sjeool afgedaal, en die aarde het hulle bedek.” Wat van Korag en die ander opstandige Israeliete? “’n Vuur het van Jehovah af uitgegaan en die tweehonderd-en-vyftig man verteer wat die reukwerk geoffer het.”—Numeri 16:23-35; 26:10.

Farao en sy magte, sowel as daardie opstandige Israeliete in die wildernis, het almal vergaan omdat hulle versuim het om Jehovah se gesag en sy belangstelling in die aangeleenthede van sy volk te erken. Dit is derhalwe belangrik dat almal wat Jehovah se beskerming in hierdie kritieke dae wil hê, van Jehovah moet leer en hom as “die Allerhoogste” en “die Almagtige” moet gehoorsaam. Sodoende kan hulle Jehovah se gerusstellende woorde ter harte neem: “Duisend sal aan jou sy val en tienduisend aan jou regterhand; naby jou sal dit nie kom nie. Net met jou oë sal jy toekyk en die vergelding van die goddeloses sien. Omdat jy gesê het: ‘Jehovah is my toevlug’, het jy die Allerhoogste jou woonplek gemaak.”—Psalm 91:1, 7-9.