Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hy het die waarheid op ’n onwaarskynlike plek gevind

Hy het die waarheid op ’n onwaarskynlike plek gevind

Koninkryksverkondigers berig

Hy het die waarheid op ’n onwaarskynlike plek gevind

DIT is God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Timoteus 2:3, 4). Met dié doel het Jehovah se Getuies al miljoene Bybels en Bybelstudiehulpe gedruk en versprei. Soms het hierdie publikasies opregtes van hart gehelp om die waarheid op die mees onverwagse maniere te leer. In hierdie verband het die Koninkryksverkondigers in Freetown, Sierra Leone, die volgende ondervinding ingestuur.

Osman was die tweede seun in ’n gesin met nege kinders. Aangesien hy in ’n godsdienstige huisgesin grootgeword het, het hy gereeld saam met sy pa kerk toe gegaan. Maar wat Osman se godsdiens oor die hel geleer het, het hom baie gepla. Hy kon nie verstaan hoe ’n barmhartige God goddelose mense sou folter deur hulle in vuur te laat brand nie. Nie een van die verduidelikings wat gegee is om Osman te help om die leerstelling oor die helse vuur te verstaan, het hom gerusgestel nie.

Eendag, toe Osman 20 jaar oud was, het hy ’n blou boek opgemerk wat gedeeltelik begrawe was onder die vullis in ’n asblik. Omdat hy lief was vir boeke, het hy dit opgetel, skoongemaak en na die titel gekyk—Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. a

‘Watter waarheid is dit?’ het Osman gewonder. Sy nuuskierigheid is geprikkel, en daarom het hy die boek huis toe geneem, waar hy dit onmiddellik deurgelees het. Hoe bly was hy tog om te leer dat God ’n persoonlike naam het—Jehovah! (Psalm 83:18). Osman het ook geleer dat God se oorheersende eienskap liefde is en dat selfs die gedagte daaraan om mense in ’n brandende plek te folter, vir Hom iets verfoeiliks is (Jeremia 32:35; 1 Johannes 4:8). Laastens het Osman gelees dat Jehovah binnekort die aarde in ’n paradys gaan omskep waarin mense vir ewig sal kan lewe (Psalm 37:29; Openbaring 21:3, 4). Watter wonderlike waarheid van ’n barmhartige, liefdevolle God af! Osman het Jehovah uit sy hart gedank omdat hy hom die waarheid op ’n baie onwaarskynlike plek laat vind het.

’n Paar dae later het Osman, met die hulp van ’n paar vriende, uitgevind waar die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies is en vir die eerste keer ’n vergadering bygewoon. Terwyl hy daar was, het hy ’n Getuie gevra om die Bybel met hom te studeer. Ondanks kwaai teenstand van sy familie het Osman aangehou om geestelike vooruitgang te maak en is hy gedoop (Matteus 10:36). Vandag dien hy as ’n ouer man in die gemeente. Hoe wonderlik is dit tog dat dit alles gebeur het omdat hy ’n Bybelpublikasie in ’n asblik gevind het!

[Voetnoot]

a In 1968 uitgegee deur Jehovah se Getuies.