Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mites oor die dood van naderby beskou

Mites oor die dood van naderby beskou

Mites oor die dood van naderby beskou

DEUR die geskiedenis heen was die mens nog altyd verward en onseker oor die donker vooruitsig van die dood. Wat meer is, vrees vir die dood is vererger deur ’n kombinasie van valse godsdiensidees, gewilde gebruike en diepgewortelde persoonlike opvattings. Die probleem met vrees vir die dood is dat dit ’n demper kan plaas op ’n mens se vermoë om die lewe te geniet en jou kan laat twyfel aan die doel van die lewe.

Hoofstroomgodsdienste is besonder laakbaar omdat hulle etlike gewilde mites oor die dood bevorder het. Kom ons ondersoek ’n paar van hierdie mites in die lig van Bybelwaarheid, en kyk dan of dit jou ’n beter begrip kan gee van wat die dood is.

Mite 1: Die dood is die natuurlike einde van die lewe.

“Die dood . . . is ’n integrerende deel van ons lewe”, sê die boek Death—The Final Stage of Growth. Sulke opmerkings weerspieël die opvatting dat die dood normaal is, die natuurlike einde van alle lewende organismes. Hierdie opvatting het op sy beurt ’n nihilistiese lewensbeskouing en opportunistiese gedrag in baie bevorder.

Maar is die dood werklik die natuurlike einde van die lewe? Nie alle navorsers dink so nie. Calvin Harley, ’n bioloog wat menslike veroudering bestudeer, het byvoorbeeld in ’n onderhoud gesê dat hy nie glo mense is “gemaak om te sterf” nie. Die immunoloog William Clark het gesê: “Die dood is nie onlosmaaklik met die definisie van die lewe verweef nie.” En Seymour Benzer, van die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie, sê dat dit “gepaster is om veroudering nie as ’n horlosie te beskryf nie, maar as ’n situasie, wat ons hopelik sal kan verander”.

Wanneer wetenskaplikes ’n studie maak van hoe die mens ontwerp is, staan hulle verstom. Hulle vind dat ons veel groter vermoëns gegee is as wat ons in ’n lewensduur van 70 tot 80 jaar nodig het. Wetenskaplikes het byvoorbeeld gevind dat die mensebrein ’n ontsaglike geheuevermoë het. Een navorser het geskat dat ons brein inligting kan bevat wat “ongeveer twintigmiljoen boeke sal vul, soveel as wat daar in die wêreld se grootste biblioteke is”. Party neurowetenskaplikes is van mening dat ’n mens gedurende ’n gemiddelde lewensduur slegs 1/100 van 1 persent (0,0001) van jou potensiële breinvermoë gebruik. ’n Mens kan tereg vra: ‘Waarom het ons ’n brein met so ’n groot vermoë as ons in ’n normale lewensduur skaars ’n fraksie daarvan gebruik?’

Dink ook aan hoe onnatuurlik mense op die dood reageer! Vir die meeste is die dood van ’n vrou, ’n man of ’n kind moontlik die ontstellendste ondervinding in hulle lewe. Mense se emosies is dikwels nog lank ná die dood van ’n geliefde heeltemal ontwrig. Selfs diegene wat beweer dat die dood vir mense natuurlik is, vind dit moeilik om die idee te aanvaar dat hulle eie dood die einde van alles sal beteken. Die British Medical Journal het gepraat van “’n algemene deskundige veronderstelling dat almal so lank as moontlik wil lewe”.

Is dit dan nie duidelik dat die mens, na aanleiding van sy algemene reaksie op die dood, sy verbasende potensiaal om te onthou en te leer sowel as sy innerlike begeerte om vir ewig te lewe, wel gemaak is om te lewe nie? Ja, God het mense geskep, nie sodat die dood hulle natuurlike uiteinde moes wees nie, maar met die vooruitsig om tot onbepaalde tyd te lewe. Let op watter toekoms God vir die eerste mensepaar in die vooruitsig gestel het: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit, en die visse van die see en die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde kruip, moet aan julle onderworpe wees” (Genesis 1:28). Wat ’n wonderlike, blywende toekoms is dit tog nie!

Mite 2: God neem mense deur die dood weg om by hom te wees.

’n Sewe-en-twintigjarige moeder wat op sterwe was en drie kinders sou agterlaat, het vir ’n Katolieke non gesê: “Moenie hier inkom en vir my sê dat dit God se wil vir my is nie. . . . Ek haat dit wanneer iemand anders so vir my sê.” En tog is dit wat baie godsdienste oor die dood leer—dat God mense wegneem om naby aan hom te wees.

Is die Skepper werklik so wreed dat hy op gevoellose wyse die dood oor ons sal bring, al weet hy dat dit ons hart breek? Nee, nie die God van die Bybel nie. “God is liefde”, volgens 1 Johannes 4:8. Let daarop dat dit nie sê God het liefde of God is liefdevol nie, maar dit sê God is liefde. God se liefde is so intens, so suiwer, so volmaak, dit is so ’n wesenlike deel van sy persoonlikheid en dade dat daar tereg van hom gepraat kan word as die verpersoonliking van liefde. Hy is nie ’n God wat mense deur die dood wegneem sodat hulle naby aan hom kan wees nie.

Valse godsdiens het verwarring by baie mense laat ontstaan oor waar en in watter toestand die dooies is. Hemel, hel, vaevuur, Limbus—hierdie en verskeie ander bestemmings wissel van onverstaanbaar tot uiters skrikwekkend. Aan die ander kant vertel die Bybel ons dat die dooies van niks bewus is nie; die beste beskrywing vir hulle toestand is dat dit met slaap vergelyk kan word (Prediker 9:5, 10; Johannes 11:11-14). Ons hoef ons dus nie te bekommer oor wat ná die dood met ons gebeur nie, net soos ons nie bekommerd is wanneer ons sien dat iemand vas slaap nie. Jesus het van ’n tyd gepraat wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is”, “sal uitkom” tot hernieude lewe op ’n paradysaarde.—Johannes 5:28, 29; Lukas 23:43.

Mite 3: God neem klein kindertjies weg om engele te word.

Elisabeth Kübler-Ross, wat mense met terminale siektes bestudeer het, het na nog ’n algemene opvatting onder godsdienstige mense verwys. Sy het ’n werklike voorval beskryf en gesê dat dit “onverstandig [is] om vir ’n klein kindjie wat haar boetie verloor het, te vertel dat God so lief vir seuntjies is dat hy klein Johnny hemel toe gevat het”. So ’n stelling plaas God in ’n slegte lig en weerspieël nie sy persoonlikheid en optrede nie. Dr. Kübler-Ross het verder gesê: “Toe hierdie dogtertjie grootgeword het, het sy nog nie van haar woede teenoor God ontslae geraak nie, met die gevolg dat sy aan psigotiese depressie begin ly het toe sy drie dekades later haar eie seuntjie verloor het.”

Waarom sou God ’n kind wegruk om nog ’n engel te kry—asof God ’n kind nodiger het as wat die kind se ouers hom het? As dit wel so was dat God kinders wegneem, sou dit hom dan nie ’n liefdelose, selfsugtige Skepper maak nie? In teenstelling daarmee sê die Bybel: “Die liefde kom van God” (1 Johannes 4:7). Sal ’n God van liefde die oorsaak wees van ’n verlies wat mense met selfs net ’n greintjie goedheid as onaanvaarbaar sou beskou?

Waarom sterf kinders dan? ’n Deel van die Bybel se antwoord is in Prediker 9:11 opgeteken: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.” En Psalm 51:5 sê vir ons dat ons almal onvolmaak, sondig, is vandat ons in die moederskoot ontvang is, en die uiteinde vir alle mense is nou die dood weens verskeie oorsake. Soms word ’n baba dood gebore. In ander gevalle sterf kinders weens tragiese omstandighede of ongelukke. God is nie daarvoor verantwoordelik nie.

Mite 4: Party mense word ná die dood gepynig.

Baie godsdienste leer dat die goddeloses na ’n brandende hel sal gaan en vir ewig gepynig sal word. Is hierdie lering logies en skriftuurlik? Die mens se lewensduur is tot 70 of 80 jaar beperk. Sal ewigdurende pyniging dan ’n regverdige straf wees, selfs as iemand sy hele lewe lank baie goddeloos was? Nee. Dit sal uiters onregverdig wees om iemand vir ewig te pynig vir die sondes wat hy in ’n kort leeftyd gepleeg het.

Net God kan aan ons openbaar wat met mense gebeur nadat hulle sterf, en hy het dit in sy geskrewe Woord, die Bybel, gedoen. Die Bybel sê die volgende: “Soos die [dier] sterf, so sterf die [mens]; en hulle almal het net een gees . . . Almal gaan na een plek. Hulle is almal uit die stof, en hulle keer almal na die stof terug” (Prediker 3:19, 20). Hier word geen melding gemaak van ’n brandende hel nie. Mense keer terug na stof—na ’n toestand van niebestaan—wanneer hulle sterf.

’n Persoon moet bewus wees van wat om hom aangaan om gepynig te kan word. Is die dooies bewus van enigiets? Die Bybel gee weer eens die antwoord: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks, en ook het hulle geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis is vergeet” (Prediker 9:5). Dit is onmoontlik dat die dooies, wat “bewus [is] van hoegenaamd niks”, op enige plek pyn kan ervaar.

Mite 5: Die dood beteken die permanente einde van ons bestaan.

Wanneer ons sterf, bestaan ons nie meer nie, maar dit beteken nie noodwendig die einde van alles nie. Die getroue man Job het geweet dat hy na die graf, Sjeool, sou gaan wanneer hy sterf. Maar luister na sy gebed tot God: “Ag, as u my maar in Sjeool wou verberg, as u my maar weggesteek wou hou totdat u toorn bedaar, as u maar vir my ’n tydgrens wou stel en aan my wou dink! As ’n man sterf, kan hy weer lewe? . . . U sal roep, en ek sal u antwoord.”—Job 14:13-15.

Job het geglo dat God hom sal onthou en uiteindelik sal opwek as hy tot die dood toe getrou bly. Dit is wat al God se knegte van die ou tyd geglo het. Jesus self het hierdie hoop bevestig en getoon dat God hom sal gebruik om die dooies op te wek. Christus se eie woorde gee ons hierdie versekering: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe, dié wat veragtelike dinge beoefen het, tot ’n opstanding van oordeel.”—Johannes 5:28, 29.

God gaan binnekort alle goddeloosheid verwyder en ’n nuwe wêreld onder hemelse heerskappy tot stand bring (Psalm 37:10, 11; Daniël 2:44; Openbaring 16:14, 16). Dit gaan ’n paradys oor die hele aarde tot gevolg hê, wat bewoon sal word deur mense wat God dien. Ons lees in die Bybel: “Ek [het] ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’”—Openbaring 21:3, 4.

Bevry van vrees

Kennis van die opstandingshoop tesame met kennis van die Een wat daardie voorsiening gemaak het, kan jou vertroos. Jesus het beloof: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Dit sluit in dat ons van vrees vir die dood bevry word. Jehovah is die enigste een wat die proses van veroudering en die dood in werklikheid kan omkeer en ons die ewige lewe kan gee. Kan jy in God se beloftes glo? Ja, jy kan, want God se Woord word altyd bewaarheid (Jesaja 55:11). Ons spoor jou aan om meer te leer aangaande God se voornemens vir die mens. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help.

[Lokteks op bladsy 6]

Die probleem met vrees vir die dood is dat dit ’n demper kan plaas op jou vermoë om die lewe te geniet

[Tabel op bladsy 6]

PARTY ALGEMENE MITES OOR DIE DOOD WAT SÊ DIE SKRIF?

● Die dood is die natuurlike einde Genesis 1:28; 2:17;

van die lewe Romeine 5:12

● God neem mense deur die dood weg Job 34:15; Psalm 37:11, 29;

om by hom te wees 115:16

● God neem klein kindertjies weg Psalm 51:5; 104:1, 4;

om engele te word Hebreërs 1:7, 14

● Party mense word ná die Psalm 146:4;

doodgepynig Prediker 9:5, 10;

Romeine 6:23

● Die dood beteken die permanente Job 14:14, 15;

einde van ons bestaan Johannes 3:16; 17:3;

Handelinge 24:15

[Prent op bladsy 8]

As ons weet wat die waarheid omtrent die dood is, bevry dit ons van vrees

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Barrators—Giampolo/The Doré Illustrations For Dante’s Divine Comedy/Dover Publications Inc.