Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Is algehele onderdompeling ’n vereiste as iemand gedoop wil word, maar ’n ernstige gebrek of baie swak gesondheid het, wat onderdompeling sal bemoeilik?

Die woord “doop” is ’n vertaling van die Griekse werkwoord baʹpto, wat beteken “om in te dompel” (Johannes 13:26). In die Bybel is “om te doop” dieselfde as “om onder te dompel”. Aangaande die doop van die Etiopiese eunug deur Filippus, sê Rotherham se The Emphasised Bible: “Hulle het albei in die water afgeklim, Filippus sowel as die eunug—en hy het hom ondergedompel” (Handelinge 8:38). Die persoon wat gedoop word, moet dus in werklikheid heeltemal onder die water ingaan.—Matteus 3:16; Markus 1:10.

Jesus het sy dissipels beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle” (Matteus 28:19, 20). Gevolglik reël Jehovah se Getuies dat mense in swembaddens, mere, riviere of ander plekke gedoop word waar daar genoeg water vir algehele onderdompeling is. Aangesien doop deur algehele onderdompeling ’n skriftuurlike vereiste is, het mense geen gesag om iemand van doop vry te stel nie. ’n Persoon moet dus gedoop word selfs wanneer ongewone stappe weens sy toestand nodig is. Die doop van bejaardes of mense met besonder swak gesondheid is byvoorbeeld al vergemaklik deur ’n groot bad te gebruik. Die water in die bad kan verhit word, die doopkandidaat kan rustig en geleidelik in die water geplaas word en dan, sodra hy of sy gereed is, kan die doop self plaasvind.

Selfs mense met ernstige gebreke is al gedoop. Daar is byvoorbeeld al mense gedoop wat ’n lugpypinsnyding gehad het, en as gevolg daarvan ’n permanente gat in hulle keel het, of mense wat ’n meganiese asemhalingstoestel moet gebruik. In al hierdie gevalle moet daar natuurlik deeglike voorbereidings vir die doop getref word. Dit sal wys wees om ’n opgeleide verpleegster byderhand te hê of ’n dokter indien een beskikbaar is. Mense kan dus, met spesiale sorg en goeie voorbereiding, in byna alle gevalle gedoop word. Daarom moet alles gedoen word wat redelikerwyse moontlik is om iemand in water te doop as dit sy opregte begeerte is en as hy gewillig is om die gepaardgaande risiko’s te aanvaar.