Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is jou beskouing van die dood?

Wat is jou beskouing van die dood?

Wat is jou beskouing van die dood?

DIE dood werp elke dag ’n skaduwee oor ons lewe, ongeag hoe gesond of ryk ons is. Ons kan sterf wanneer ons oor ’n straat stap of in die bed lê. Rampe soos die terreuraanvalle van 11 September 2001 in New York-stad en Washington, DC, bring ons voor die feit te staan dat “die laaste vyand”, die dood, sy slagoffers uit alle lewensterreine en uit alle ouderdomsgroepe versamel en soms duisende binne minute kan eis.—1 Korintiërs 15:26.

Nogtans lyk dit of mense deur die dood gefassineer word. Niks kan koerante blykbaar beter laat verkoop of meer mense na hulle televisieskerms lok as berigte oor mense wat gesterf het nie, veral as groot getalle mense in skrikwekkende omstandighede gesterf het. Dit lyk of mense nie genoeg daarvan kan kry nie, of dit nou sterftes weens oorlog, natuurrampe, misdaad of siekte is. Die onverklaarbaarste blyk van hierdie beheptheid met die dood is die intense emosies waaraan mense uiting gee wanneer ’n openbare persoonlikheid of beroemde persoon sterf.

Niks hiervan kan betwis word nie. Mense word voortdurend gefassineer deur die dood—die dood van ander. Maar wanneer dit by hulle eie dood kom, deins hulle terug. Ons eie dood is die een onderwerp waaraan die meeste van ons nie eers wil dink nie.

Verwar deur die dood?

Die gedagte aan ons eie dood is altyd onaangenaam, en dit sal altyd so wees. Waarom? Omdat God die sterk begeerte om vir ewig te lewe, in ons geplaas het. “Hy het ook die ewigheid in hulle hart gesit”, sê Prediker 3:11, volgens die Anchor Bible. Die onvermydelikheid van die dood het derhalwe ’n innerlike stryd in mense laat ontstaan, ’n voortdurende gevoel van verwarring. As ’n oplossing vir hierdie innerlike stryd en om die natuurlike begeerte te bevredig om aan te hou lewe, het mense allerhande opvattings versin, van die leerstelling van die onsterflikheid van die siel tot geloof in reïnkarnasie.

Hoe dit ook al sy, die dood is iets wat kommer en angs veroorsaak, en vrees vir die dood kom oral voor. Ons moet derhalwe nie verbaas wees dat die dood vir die mensegemeenskap oor die algemeen ’n skrikwekkende vooruitsig is nie. Om maar een ding te noem, die dood bevestig hoe uiters tevergeefs ’n lewe is wat aan die najaging van rykdom en mag gewy is.

Alleen tydens die dood?

In die verlede is iemand wat terminaal siek was of dodelik gewond was, gewoonlik toegelaat om in sy eie huis te sterf, in ’n omgewing wat vir hom bekend is en waarvoor hy lief is. Dit was dikwels in Bybeltye die geval en word nog steeds in sommige kulture gedoen (Genesis 49:1, 2, 33). In sulke gevalle kom die familie bymekaar, en die kinders word by die gesprek ingesluit. Dit gee elke familielid die gevoel dat hy of sy nie alleen treur nie en bied hulle vertroosting omdat hulle dan nie voel dat die verantwoordelikheid en verdriet alleen gedra word nie.

Dit vorm ’n skerp teenstelling met wat in ’n gemeenskap gebeur waar gesprekke oor die dood taboe is, as morbied beskou word en waar kinders uitgesluit word omdat dit glo “te veel” vir hulle sal wees. Vandag is dit in baie opsigte anders om te sterf, en dit is dikwels eensamer. Hoewel die meeste mense sou verkies om tuis te sterf, waar hulle rustig voel en die liefdevolle sorg van hulle familie ontvang, is die wrede werklikheid vir baie dat hulle in ’n hospitaal sterf, gewoonlik terwyl hulle alleen is, pyn verduur en aan ’n ontsettende klomp hipertegnologiese masjiene gekoppel is. Aan die ander kant is daar miljoene wat eenvoudig naamloos sterf—as een van die talle slagoffers van volkslagtings, hongersnood, vigs, burgeroorloë of bloot weens volslae armoede.

’n Onderwerp waaroor nagedink moet word

Die Bybel ontmoedig ons nie om oor die dood te dink nie. Trouens, Prediker 7:2 sê vir ons: “Dit is beter om na die huis van rou te gaan as om na die huis van feesmaaltye te gaan, want dit is die einde van die hele mensdom.” Wanneer ons voor die werklikheid van die dood te staan kom, sal ons moontlik ons gewone verantwoordelikhede of bedrywighede op die agtergrond skuif en nadink oor hoe kortstondig die lewe is. Dit kan ons help om ’n sinvoller lewe te lei en nie net doelloos deur die lewe te gaan of dit te vermors nie.

Wat is jou beskouing van die dood? Het jy jou gevoelens, oortuigings, verwagtinge en vrese oor die einde van jou lewe ondersoek?

Soos met die begrip “lewe”, het die mens ook nie die vermoë om die begrip “dood” te verduidelik en te verstaan nie. Die enigste een wat met betroubare gesag oor die onderwerp kan praat, is ons Skepper. By hom is “die bron van die lewe” en aan hom “behoort die weë wat uit die dood lei” (Psalm 36:9; 68:20). Dit klink heel moontlik verbasend, maar as ons party gewilde opvattings oor die dood aan die hand van God se Woord ondersoek, sal dit vertroostend sowel as opbouend wees. Dit sal toon dat die dood nie noodwendig die einde van alles is nie.

[Lokteks op bladsy 4]

Die moontlikheid dat ons kan sterf, spoor ons aan om ’n sinvoller lewe te lei