Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie moet die skuld kry—Jy of jou gene?

Wie moet die skuld kry—Jy of jou gene?

Wie moet die skuld kry—Jy of jou gene?

WETENSKAPLIKES probeer hard om genetiese oorsake te vind vir alkoholisme, homoseksualiteit, promiskuïteit, geweld, ander afwykende gedrag en selfs vir die dood. Sou dit nie ’n verligting wees om uit te vind dat ons nie vir ons dade verantwoordelik is nie, maar bloot slagoffers van biologie is? Dit is menslik om iemand of iets anders die skuld te gee vir wat ons verkeerd doen.

As ons gene die skuld dra, bied wetenskaplikes die moontlikheid om dit te verander deur ongewenste eienskappe met behulp van genetiese manipulering te elimineer. Die onlangse sukses wat behaal is met die kartering van die hele menslike genoom, het nuwe lewe aan hierdie ideale gegee.

Hierdie scenario is egter gebaseer op die veronderstelling dat ons gene wel vir al ons sondes en foute verantwoordelik is. Het die wetenskaplike navorsers genoeg bewyse gevind om ons gene die skuld te gee? Die antwoord hierop sal ongetwyfeld ’n diepgaande uitwerking hê op hoe ons onsself en ons toekoms beskou. Maar voordat ons die bewyse ondersoek, sal ’n kykie na die mensdom se oorsprong insiggewend wees.

Hoe dit alles begin het

Die meeste mense ken, of het ten minste al gehoor van, die verslag oor die sondeval van die eerste mensepaar, Adam en Eva, in die tuin van Eden. Is hulle van die begin af met die een of ander inherente defek in hulle gene gemaak, ’n soort ontwerpfout wat hulle geneig gemaak het tot sonde en ongehoorsaamheid?

Hulle Skepper, Jehovah God, wie se werke almal volmaak is, het verklaar dat die kroon van sy aardse skepping “baie goed” is (Genesis 1:31; Deuteronomium 32:4). As verdere bewys dat hy tevrede was met sy werk, het hy die eerste paar geseën en hulle die opdrag gegee om vrugbaar te wees, die aarde met mense te vul en vir sy aardse skepping te sorg—beslis nie wat hy sou gedoen het as hy onseker oor sy handewerk was nie.—Genesis 1:28.

Aangaande die skepping van die eerste mensepaar sê die Bybel vir ons: “God het die mens na sy beeld begin skep, na God se beeld het hy hom geskep; man en vrou het hy hulle geskep” (Genesis 1:27). Dit beteken nie dat mense gemaak is om fisies soos God te lyk nie, want “God is ’n Gees” (Johannes 4:24). Dit beteken eerder dat menseskepsele met goddelike eienskappe en ’n sin vir sedelikheid, ’n gewete, geskep is (Romeine 2:14, 15). Hulle het ook wilsvryheid gehad; hulle was in staat om ’n saak te oorweeg en te besluit hoe hulle sou optree.

Maar ons eerste ouers is nie sonder riglyne gelaat nie. Inteendeel, hulle is oor die gevolge van oortreding gewaarsku (Genesis 2:17). Die getuienis toon dus dat Adam, toe hy voor ’n sedelike besluit te staan gekom het, gekies het om te doen wat hom op daardie stadium gepas het of vir hom voordelig gelyk het. Hy het sy vrou in haar sondige weg gevolg pleks van sy verhouding met sy Skepper of die langtermyngevolge van sy optrede in ag te neem. Hy het Jehovah ook later die skuld probeer gee, deur te sê dat hy mislei is deur die vrou wat God hom gegee het.—Genesis 3:6, 12; 1 Timoteus 2:14.

God se reaksie op die sonde van Adam en Eva is betekenisvol. Hy het nie die een of ander ‘ontwerpfout’ in hulle gene probeer regstel nie. Hy het eerder gedoen wat hy vir hulle gesê het die gevolg van hulle optrede sou wees, wat tot hulle uiteindelike dood gelei het (Genesis 3:17-19). Hierdie vroeë geskiedenis werp baie lig op die aard van menslike gedrag. a

Die bewyse teen biologie

Wetenskaplikes is nou al lank besig met die enorme taak om genetiese oorsake en behandelings vir menslike siektes en gedrag te soek. Ná tien jaar se werk deur ses spanne navorsers is die geen geïsoleer wat vir Huntington-chorea verantwoordelik is, hoewel die navorsers geen idee het hoe die geen die siekte veroorsaak nie. Scientific American, wat oor hierdie navorsing berig gelewer het, het egter die Harvardse bioloog Evan Balaban aangehaal, wat gesê het dat dit “baie moeiliker sal wees om gene te vind wat vir gedragsversteurings verantwoordelik is”.

Trouens, navorsing wat spesifieke gene met menslike gedrag probeer verbind het, was onsuksesvol. ’n Verslag in Psychology Today oor pogings om genetiese oorsake vir depressie te vind, sê byvoorbeeld: “Epidemiologiese data oor die ernstige geestesiektes toon duidelik dat dit nie tot suiwer genetiese oorsake beperk kan word nie.” Die verslag gee ’n voorbeeld: “Onder Amerikaners wat voor 1905 gebore is, is die voorkoms van depressie 1 persent teen die ouderdom van 75. Onder Amerikaners wat ’n halfeeu later gebore is, raak 6 persent depressief teen die ouderdom van 24!” Dit kom dus tot die slotsom dat net eksterne of maatskaplike faktore sulke dramatiese veranderinge in so ’n kort tyd kan teweegbring.

Wat sê hierdie en talle ander studies vir ons? Hoewel gene dalk ’n rol daarin speel om ons persoonlikheid te vorm, is dit duidelik dat daar ander invloede is. ’n Vername faktor is ons milieu, wat in hedendaagse tye ingrypend verander het. Aangaande die soort dinge waaraan vandag se jeug in gewilde vermaak blootgestel word, sê die boek Boys Will Be Boys dat kinders waarskynlik nie goeie sedelike beginsels sal ontwikkel nie as hulle, “terwyl hulle grootword, tienduisende ure lank na TV-programme en rolprente kyk waarin mense aangerand, geskiet, gesteek word, hulle ingewande uitgeruk word, hulle opgekap word, hulle vel afgestroop of hulle liggaamsdele afgeruk word, as kinders, terwyl hulle grootword, na musiek luister wat verkragting, selfmoord, dwelms, alkohol en bekrompenheid verheerlik”.

Dit is duidelik dat Satan, “die heerser van hierdie wêreld”, ’n milieu geskep het wat die mens se mees verdorwe begeertes bevredig. En wie kan ontken dat hierdie milieu ’n kragtige invloed op ons almal uitoefen?—Johannes 12:31; Efesiërs 6:12; Openbaring 12:9, 12.

Die oorsprong van die mensdom se probleme

Soos ons reeds gesien het, het die mensdom se probleme begin toe die eerste mensepaar gesondig het. Die gevolg? Hoewel Adam se nageslag nie verantwoordelik is vir Adam se sonde nie, word hulle nietemin almal met sonde, onvolmaaktheid en die dood as hulle erfenis in die lewe gebore. Die Bybel verduidelik: “Daarom, net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde, en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het.”—Romeine 5:12.

Die mens se onvolmaaktheid benadeel hom beslis. Maar dit onthef hom nie van alle sedelike verantwoordelikheid nie. Die Bybel toon dat diegene wat geloof stel in Jehovah se voorsiening vir lewe en volgens God se standaarde lewe, sy goedkeuring sal wegdra. Jehovah se liefdevolle goedhartigheid het hom beweeg om ’n barmhartige voorsiening te maak om die mensdom los te koop, om as ’t ware terug te koop wat Adam verloor het. Daardie voorsiening is die losprysoffer van sy volmaakte Seun, Jesus Christus, wat gesê het: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16; 1 Korintiërs 15:21, 22.

Die apostel Paulus het sy innige waardering vir hierdie voorsiening uitgespreek. Hy het gesê: “Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan? Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Romeine 7:24, 25). Paulus het geweet dat hy, op grond van die losprysoffer van Jesus Christus, God om vergifnis kon vra as hy weens swakheid voor sonde geswig het. b

Soos in die eerste eeu het baie mense van vandag wat voorheen uiters verdorwe lewens gelei het of wie se situasie wanhopig gelyk het, ’n juiste kennis van Bybelwaarheid opgedoen, die nodige veranderinge gemaak en kan hulle nou God se seën ontvang. Die veranderinge wat hulle moes maak, was nie maklik nie, en baie worstel nog met skadelike neigings. Maar met God se hulp kan hulle hulle onkreukbaarheid handhaaf en vreugde put uit hulle diens aan hom (Filippense 4:13). Kyk na net een voorbeeld van iemand wat groot veranderinge gemaak het om God te behaag.

’n Bemoedigende voorbeeld

“Toe ek ’n jong seun op kosskool was, het ek by homoseksuele gebruike betrokke geraak, hoewel ek my nooit as ’n homoseksueel beskou het nie. My ouers was geskei, en ek het gehunker na die ouerlike liefde wat ek nooit gekry het nie. Nadat ek skool verlaat het, het ek verpligte militêre diens gedoen. Daar was ’n groep homoseksuele in die barak langs myne. Ek het hulle lewenswyse begin beny en dus met hulle begin assosieer. Nadat ek ’n jaar lank met hulle geassosieer het, het ek aan myself as ’n homoseksueel begin dink. ‘Dis hoe ek is’, het ek geredeneer, ‘en ek kan niks daaromtrent doen nie.’

“Ek het begin leer om soos hulle te praat en om na homoseksuele klubs te gaan, waar dwelms en alkohol vryelik beskikbaar was. Hoewel dit alles op die oog af baie opwindend en aanloklik gelyk het, was dit eintlik walglik. In my diepste wese het ek besef dat hierdie soort verhouding onnatuurlik is en geen toekoms het nie.

“In ’n klein dorpie het ek op ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies afgekom terwyl die vergadering aan die gang was. Ek het ingegaan en na die toespraak geluister, wat oor toekomstige Paradystoestande gehandel het. Ná die tyd het ek van die Getuies ontmoet, en hulle het my na ’n byeenkoms genooi. Ek het gegaan, en dit was vir my ’n openbaring—om te sien hoe gelukkige gesinne saam aanbid. Ek het die Bybel saam met die Getuies begin studeer.

“Hoewel dit vir my ’n stryd was, het ek die dinge wat ek uit die Bybel geleer het, begin toepas. Ek het dit reggekry om van al my onrein gewoontes weg te breek. Nadat ek 14 maande lank gestudeer het, het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek gedoop. Vir die eerste keer in my lewe het ek ware vriende gehad. Ek het ook ander gehelp om die waarheid uit die Bybel te leer, en nou dien ek as ’n bedieningskneg in die Christengemeente. Jehovah het my waarlik geseën.”

Ons is verantwoordelik

Dit is eenvoudig nie ’n oplossing om ons gene al die skuld vir ons wangedrag te gee nie. Dit help ons nie om ons probleme op te los of te oorkom nie, sê Psychology Today, maar “leer ons moontlik ’n hulpeloosheid wat die oorsaak van baie van ons probleme is. Pleks van hierdie probleme minder algemeen te maak, laat dit hulle klaarblyklik toeneem.”

Ons moet weliswaar teen kragtige negatiewe invloede stry, waaronder ons eie sondige neigings en Satan se pogings om te keer dat ons God gehoorsaam (1 Petrus 5:8). Dit is ook waar dat ons gene op die een of ander manier ’n uitwerking op ons kan hê. Maar ons is beslis nie hulpeloos nie. Ware Christene het kragtige bronne van ondersteuning—Jehovah, Jesus Christus, God se heilige gees, sy Woord die Bybel en die Christengemeente.—1 Timoteus 6:11, 12; 1 Johannes 2:1.

Voordat die nasie Israel die Beloofde Land binnegegaan het, het Moses die volk aan hulle verantwoordelikheid voor God herinner en gesê: “Ek [het] jou die lewe en die dood voorgehou . . . , die seën en die vloek; en jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag, deur Jehovah jou God lief te hê, deur na sy stem te luister en deur hom aan te kleef” (Deuteronomium 30:19, 20). Net so is elke verantwoordelike individu vandag verplig om ’n persoonlike besluit te neem of hy God gaan dien en aan sy vereistes gaan voldoen of nie. Dit is jou keuse.—Galasiërs 6:7, 8.

[Voetnote]

a Sien die Ontwaak! van 22 September 1996, bladsye 3-8.

b Sien die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, bladsye 62-9, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 9]

Was Adam en Eva tot sonde geneig weens die een of ander defek in hulle gene?

[Prente op bladsy 10]

Moet elkeen die verantwoordelikheid dra vir sy besluite?

[Erkenning]

Dwelmgebruiker: Godo-Foto

[Prent op bladsy 11]

Pogings om genetiese oorsake vir menslike gedrag te vind, was onsuksesvol

[Prent op bladsy 12]

Dit kan opregtes van hart help om te verander as hulle toepas wat die Bybel sê