Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Jy is ’n voortreflike vrou’

‘Jy is ’n voortreflike vrou’

‘Jy is ’n voortreflike vrou’

Dit is hoe ’n jong Moabitiese vrou geprys is. Sy was ’n weduwee met die naam Rut, die skoondogter van ’n Israelitiese vrou, Naomi. Rut het sowat 3 000 jaar gelede gedurende die tyd van die rigters in Israel gewoon en het vir haarself ’n reputasie verwerf as ’n voortreflike vrou (Rut 3:11). Hoe het sy hierdie reputasie verkry? Wie kan uit haar voorbeeld leer?

Rut was nie iemand wat “die brood van luiheid” geëet het nie, en sy het lank en hard op die land gewerk om die oesoorblyfsels op te tel. Sy was so vlytig dat sy daarvoor geprys is. Selfs toe sy ’n aanbod gekry het wat haar werklas sou verlig, het sy aangehou werk, selfs meer as wat van haar verwag is. Sy was ’n besondere voorbeeld van wat in die Bybel as ’n prysenswaardige, bekwame, vlytige vrou beskryf word.—Spreuke 31:10-31; Rut 2:7, 15-17.

Rut se geestelike eienskappe—haar nederige, selfopofferende gesindheid en haar lojale liefde—was die belangrikste faktore in die openbare respek wat sy geniet het. Sy het haar ouers en haar vaderland verlaat en saam met Naomi gegaan, sonder dat sy werklik die vooruitsig gehad het om die sekuriteit te kan geniet wat die huwelik sou meebring. Terselfdertyd het Rut die begeerte uitgespreek om Jehovah, die God van haar skoonmoeder, te dien. Waar die skriftuurlike verslag die aandag op haar deug vestig, sê dit dat sy ‘vir [Naomi] beter was as sewe seuns’.—Rut 1:16, 17; 2:11, 12; 4:15.

Rut se voorbeeld van voortreflikheid was voorwaar prysenswaardig onder haar menslike metgeselle, maar God se positiewe beskouing van haar eienskappe en die beloning wat sy van hom ontvang het—die voorreg om ’n voorouer van Jesus Christus te wees—was van veel groter belang (Matteus 1:5; 1 Petrus 3:4). Wat ’n goeie voorbeeld is Rut tog, nie net vir Christenvroue nie, maar vir almal wat sê dat hulle Jehovah aanbid!