Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg die koning se voorbeeld

Volg die koning se voorbeeld

Volg die koning se voorbeeld

“Hy [moet] vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skryf . . . En dit moet voortdurend by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees.”—DEUTERONOMIUM 17:18, 19.

1. Soos wie wil ’n Christen moontlik wees?

 JY SAL jou waarskynlik nie met ’n koning of ’n koningin gelykstel nie. Watter getroue Christen en student van die Bybel sal dink dat hy of sy ooit met koninklike gesag sal optree, soos die goeie konings Dawid, Josia, Hiskia of Josafat? Tog kan en moet jy in minstens een besondere opsig soos hulle wees. Wat is dit? En waarom moet jy in daardie opsig soos hulle wil wees?

2, 3. Wat het Jehovah vooruitgesien in verband met ’n mensekoning, en wat moes so ’n koning doen?

2 In Moses se tyd, lank voordat God ’n mensekoning vir die Israeliete goedgekeur het, het Hy vooruitgesien dat Sy volk later ’n koning sou wou hê. Daarom het hy Moses geïnspireer om toepaslike voorskrifte in die Wetsverbond in te sluit. Dit was koninklike voorskrifte, riglyne vir ’n koning.

3 God het gesê: “Wanneer jy uiteindelik in die land kom wat Jehovah jou God aan jou gee, . . . en jy gesê het: ‘Laat ek ’n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is’, moet jy vir seker ’n koning oor jou aanstel wat Jehovah jou God sal kies. . . . En wanneer hy op die troon van sy koninkryk gaan sit, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skryf . . . En dit moet voortdurend by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, sodat hy kan leer om Jehovah sy God te vrees, om al die woorde van hierdie wet en hierdie voorskrifte te onderhou deur dit te doen.”—Deuteronomium 17:14-19.

4. Wat het God se opdragte aan konings behels?

4 Ja, die koning wat Jehovah vir sy aanbidders sou kies, moes ’n persoonlike afskrif maak van geskrifte wat jy in jou Bybel kan vind. Dan moes die koning elke dag, keer op keer, in daardie afskrif lees. Dit was nie ’n geheueoefening nie. Dit was studie, en dit het ’n nuttige doel gehad. Die koning wat Jehovah se goedkeuring wou wegdra, moes sulke studie doen om die regte hartstoestand te verkry en te behou. Hy moes ook daardie geïnspireerde geskrifte bestudeer sodat hy ’n suksesvolle, wyse koning kon wees.—2 Konings 22:8-13; Spreuke 1:1-4.

Leer soos ’n koning

5. Watter dele van die Bybel het koning Dawid gehad om ’n afskrif van te maak en te lees, en hoe het hy daaroor gevoel?

5 Wat dink jy sou dit van Dawid vereis het toe hy koning oor Israel geword het? Wel, hy sou ’n afskrif moes maak van die boeke van die Pentateug (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri, Deuteronomium). Dink net watter indruk dit op Dawid se verstand en hart moes gemaak het om sy eie oë en hande te gebruik om ’n afskrif van die Wet te skryf. Moses het waarskynlik ook die boek Job sowel as Psalms 90 en 91 geskryf. Sou Dawid daarvan ook ’n afskrif gemaak het? Moontlik. Die boeke Josua, Rigters en Rut was waarskynlik ook vir hom beskikbaar. Jy kan dus sien dat koning Dawid ’n groot deel van die Bybel gehad het om te lees en in te neem. En jy het rede om te glo dat dit presies is wat hy gedoen het, want let op sy opmerkings oor God se Wet, wat nou in Psalm 19:7-11 gevind word.

6. Hoe kan ons seker wees dat Jesus soos sy voorvader Dawid belangstelling in die Skrif gehad het?

6 Die Grotere Dawid—Jesus, die Seun van Dawid—het dieselfde gedoen. Dit was Jesus se gewoonte om elke week na die plaaslike sinagoge toe te gaan. Daar het hy gehoor hoe die Skrif gelees en verduidelik word. Jesus het ook soms in die openbaar uit God se Woord voorgelees en die toepassing verduidelik (Lukas 4:16-21). Jy kan maklik ’n idee kry van hoe vertroud hy met die Skrif was. Lees net die Evangelieverslae, en let op hoeveel keer Jesus die woorde “daar staan geskrywe” gesê het of op ander maniere na spesifieke Skrifgedeeltes verwys het. In sy Bergpredikasie soos deur Matteus opgeteken, het Jesus byvoorbeeld 21 keer uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal.—Matteus 4:4-10; 7:29; 11:10; 21:13; 26:24, 31; Johannes 6:31, 45; 8:17.

7. Hoe het Jesus van die godsdiensleiers verskil?

7 Jesus het die raad in Psalm 1:1-3 gevolg: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het . . . nie. Maar sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon. . . . Alles wat hy doen, sal suksesvol wees.” Hoe het dit tog verskil van die godsdiensleiers van sy tyd, wat “op die stoel van Moses gaan sit” het, maar “die wet van Jehovah” verwerp het!—Matteus 23:2-4.

8. Waarom was dit vir die Joodse godsdiensleiers nutteloos om die Bybel te lees en te bestudeer?

8 Party kan dit egter verwarrend vind as hulle die gedeelte lees waar dit dalk lyk of Jesus mense afgeraai het om die Bybel te bestudeer. In Johannes 5:39, 40 lees ons wat Jesus vir party in sy tyd gesê het: “Julle ondersoek die Skrif, want julle dink dat julle die ewige lewe deur middel daarvan sal hê; en juis dié getuig aangaande my. En tog wil julle nie na my toe kom sodat julle die lewe kan hê nie.” Met hierdie woorde het Jesus nie sy Joodse luisteraars afgeraai om die Skrif te bestudeer nie. Hy het eerder hulle onopregtheid of hulle inkonsekwente gedrag blootgelê. Hulle het besef dat die Skrif hulle na die ewige lewe kan lei, maar dieselfde Skrif wat hulle ondersoek het, moes hulle ook na die Messias, Jesus, toe gelei het. Tog het hulle geweier om hom te aanvaar. Studie was dus nutteloos, want hulle was nie opreg en bereid om geleer te word nie.—Deuteronomium 18:15; Lukas 11:52; Johannes 7:47, 48.

9. Watter goeie voorbeeld het die apostels en vroeëre profete gestel?

9 Hoe anders was die situasie tog met Jesus se dissipels, waaronder die apostels! Hulle het “die heilige geskrifte . . . , wat [’n mens] wys kan maak tot redding”, bestudeer (2 Timoteus 3:15). Hierin was hulle soos die vroeëre profete wat die geskrifte “ywerig nagevors en sorgvuldig ondersoek” het. Hierdie profete het nie hulle ondersoek beskou as ywerige studie oor net ’n kort tydperk van ’n paar maande of ’n jaar nie. Die apostel Petrus sê dat hulle “bly ondersoek” het, veral aangaande die Christus en die heerlikheid wat met sy rol in die redding van die mensdom gepaardgegaan het. In sy eerste brief het Petrus 34 keer uit tien Bybelboeke aangehaal.—1 Petrus 1:10, 11.

10. Waarom moet elkeen van ons in Bybelstudie belangstel?

10 Dit is dus duidelik dat dit ’n opdrag aan die konings in eertydse Israel was om God se Woord noukeurig te bestudeer. Jesus het hierdie voorbeeld gevolg. En diegene wat saam met Christus as konings in die hemel sou heers, moes ook hierdie vereiste nakom om dit te bestudeer (Lukas 22:28-30; Romeine 8:17; 2 Timoteus 2:12; Openbaring 5:10; 20:6). Hierdie koninklike voorbeeld is net so belangrik vir almal wat vandag na seëninge op aarde onder Koninkryksheerskappy uitsien.—Matteus 25:34, 46.

’n Vereiste vir konings en vir jou

11. (a) Watter gevaar bestaan daar vir Christene wat studie betref? (b) Watter vrae moet ons ons afvra?

11 Ons kan met nadruk en eerlikheid sê dat elke ware Christen self die Bybel moet ondersoek. Dit is nie net nodig wanneer jy die Bybel in die begin saam met Jehovah se Getuies studeer nie. Elkeen van ons moet vasbeslote wees om nie soos party in die apostel Paulus se tyd te wees wat persoonlike studie mettertyd verwaarloos het nie. Hulle het “die elementêre dinge van die heilige verklarings van God”, soos “die grondleer oor die Christus”, geleer. Maar hulle het nie met hulle studie volgehou nie en het dus nie ‘tot volwassenheid voortgebeur’ nie (Hebreërs 5:12–6:3). Ons kan ons gevolglik afvra: ‘Hoe voel ek oor persoonlike studie van God se Woord, hetsy ek ’n kort rukkie of al dekades lank ’n lid van die Christengemeente is? Paulus het gebid dat Christene in sy tyd moet voortgaan om “toe te neem in die juiste kennis van God”. Toon ek dat ek dieselfde begeerte het?’—Kolossense 1:9, 10.

12. Waarom is ’n volgehoue liefde vir God se Woord belangrik?

12 As jy goeie studiegewoontes wil hê, moet jy ’n liefde vir God se Woord aankweek. Psalm 119:14-16 toon dat gereelde, doelgerigte bepeinsing oor God se Woord jou sal help om behae daarin te skep. Weer eens is dit die geval ongeag hoe lank jy al ’n Christen is. Dink aan die voorbeeld van Timoteus ter bevestiging. Hoewel hierdie Christen- ouer man reeds as “’n goeie soldaat van Christus Jesus” gedien het, het Paulus hom aangespoor om sy uiterste bes te doen om “die woord van die waarheid reg [te] hanteer” (2 Timoteus 2:3, 15; 1 Timoteus 4:15). Dit is duidelik dat goeie studiegewoontes noodsaaklik is as ’n mens jou “uiterste bes” wil doen.

13. (a) Hoe kan meer tyd vir Bybelstudie gemaak word? (b) Watter veranderinge kan jy aanbring om meer tyd vir studie te hê?

13 ’n Stap in die rigting van goeie studiegewoontes is om gereeld tyd vir Bybelstudie opsy te sit. Doen jy dit? Wat jou eerlike antwoord ook al is, dink jy dat jy daarby baat sal vind as jy meer tyd aan persoonlike studie wy? ‘Hoe’, wonder jy dalk, ‘kan ek tyd daarvoor inruim?’ Wel, party het hulle tyd vir betekenisvolle Bybelstudie vermeerder deur soggens ’n bietjie vroeër op te staan. Hulle lees miskien die Bybel 15 minute lank of werk aan ’n projek vir persoonlike studie. Kan jy, as ’n ander moontlikheid, jou weeklikse rooster effens aanpas? Kan jy byvoorbeeld, as jy die gewoonte het om feitlik elke dag die koerant te lees of elke aand na die televisienuus te kyk, dit net een dag per week oorslaan? Dan kan jy daardie dag die tyd vir meer Bybelstudie gebruik. As jy een dag nie nuus kyk of lees nie en ongeveer 30 minute van jou tyd aan persoonlike studie wy, sal dit jou studietyd met meer as 25 uur per jaar vermeerder. Stel jou voor watter voordele 25 uur van bykomende Bybellees of studie inhou! Hier is nog ’n idee: Ontleed jou bedrywighede aan die einde van elke dag gedurende die komende week. Kyk of daar iets is wat jy kan uitskakel of beperk sodat jy meer tyd vir Bybellees of studie sal hê.—Efesiërs 5:15, 16.

14, 15. (a) Waarom is doelwitte belangrik wanneer dit by persoonlike studie kom? (b) Wat is moontlike doelwitte met betrekking tot Bybellees?

14 Wat sal studie vir jou makliker, aangenamer, maak? Doelwitte. Watter realistiese studiedoelwitte kan jy stel? Vir baie is ’n uitstekende eerste doelwit om die Bybel deur te lees. Miskien het jy tot nog toe soms gedeeltes van die Bybel gelees en daarby baat gevind. Kan jy dit nou jou vaste voorneme maak om die Bybel deur te lees? Jou eerste doelwit in hierdie verband kan wees om die vier Evangelies te lees, gevolg deur ’n tweede doelwit, soos om dan die res van die Christelike Griekse Geskrifte te lees. Wanneer jy gesien het hoe bevredigend en voordelig dit is, kan jou volgende doelwit wees om die boeke van Moses en die geskiedkundige boeke tot by Ester die een na die ander deur te lees. As jy dít reggekry het, sal jy sien dat dit moontlik is om die res van die Bybel klaar te lees. ’n Vrou wat sowat 65 jaar oud was toe sy ’n Christen geword het, het aan die binnekant van haar Bybel se omslag die datum geskryf waarop sy dit begin deurlees het en later die datum waarop sy klaar was. Sy het nou vyf pare datums! (Deuteronomium 32:45-47). En sy het nie op ’n rekenaarskerm of van ’n rekenaardrukstuk af gelees nie, maar het die Bybel in haar hande gehad.

15 Party wat reeds die doelwit bereik het om die hele Bybel te lees, maak hulle volgehoue studie op ander maniere produktiewer en lonender. Een manier is om uitgesoekte studiemateriaal in te sluit voordat elke opeenvolgende Bybelboek gelees word. In “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” en Insight on the Scriptures kan ’n mens uitstekende inligting oor die geskiedkundige agtergrond, styl en moontlike voordele van elke Bybelboek kry. a

16. Watter voorbeeld van Bybelstudie moet ons nie volg nie?

16 Tydens jou studie moet jy die benadering vermy wat baie sogenaamde Bybelgeleerdes het. Hulle gee te veel aandag aan die ontleding van tekste asof die Bybel sy oorsprong by mense het. Party van hulle probeer om ’n bepaalde gehoor vir elke boek te kies of om hulle voor te stel watter oogmerk en veronderstelde beskouing ’n menslike skrywer van elke boek in gedagte gehad het. Die gevolg van hierdie menslike redenasie kan wees dat Bybelboeke as blote geskiedenis of as ’n weerspieëling van evolusionêre benaderings tot godsdiens beskou word. Ander geleerdes spits hulle toe op ’n studie van woorde, soos die taalkundige ontleding van Bybellektuur. Hulle stel meer daarin belang om die oorsprong van woorde te bestudeer en Hebreeuse en Griekse betekenisse aan te haal as om God se boodskap te verstaan. Dink jy dit is waarskynlik dat sulke benaderings sterk en besielende geloof sal opbou?—1 Tessalonisense 2:13.

17. Waarom moet ons die Bybel beskou as ’n boek wat ’n boodskap vir almal bevat?

17 Is die geleerdes se gevolgtrekkings enigsins geldig? Is dit waar dat elke boek net een hoofgedagte het of uitsluitlik vir een gehoor bedoel is? (1 Korintiërs 1:19-21). Feit is dat die boeke van God se Woord vir mense van alle ouderdomme en agtergronde blywende waarde het. Al is ’n boek oorspronklik gerig tot een mens, soos Timoteus of Titus, of tot ’n sekere groep, miskien die Galasiërs of die Filippense, kan en moet ons almal hierdie boeke bestudeer. Dit is belangrik vir elkeen van ons, en ’n bepaalde boek sal moontlik baie onderwerpe bespreek en baie gehore tot voordeel strek. Ja, die boodskap van die Bybel is universeel, wat ons help om te verstaan waarom dit in die tale van mense oor die hele wêreld vertaal is.—Romeine 15:4.

Voordelig vir jou en ander

18. Waaroor moet jy nadink wanneer jy God se Woord lees?

18 Wanneer jy studeer, sal dit baie voordelig wees as jy die Bybel probeer verstaan en besonderhede in hulle regte verband probeer sien (Spreuke 2:3-5; 4:7). Dít wat Jehovah deur sy Woord geopenbaar het, hou ten nouste verband met sy voorneme. Verbind dus die feite en raad daarmee wanneer jy lees. Jy kan nadink oor hoe ’n gebeurtenis, idee of profesie met Jehovah se voorneme verband hou. Vra jou af: ‘Wat sê dit vir my van Jehovah? Hoe hou dit verband met die verwesenliking van God se voorneme deur sy Koninkryk?’ Jy kan ook vra: ‘Hoe kan ek hierdie inligting gebruik? Kan ek dit gebruik wanneer ek ander op grond van die Skrif onderrig of raad gee?’—Josua 1:8.

19. Wie vind daarby baat wanneer jy ander vertel van die dinge wat jy leer? Verduidelik.

19 As jy aan ander dink, is dit ook in ’n ander opsig voordelig. Terwyl jy met jou Bybellees en studie besig is, sal jy nuwe dinge leer en meer insig verkry. Probeer dit insluit in opbouende gesprekke met jou gesinslede of ander. As jy dit op gepaste tye en op ’n beskeie manier doen, sal sulke gesprekke ongetwyfeld lonend wees. Wanneer jy met opregtheid en geesdrif vertel van wat jy geleer het of van die aspekte wat vir jou interessant was, sal dit waarskynlik ’n groter indruk op ander maak. Wat meer is, dit sal vir jou persoonlik ook voordelig wees. Hoe? Deskundiges het al gesê dat iemand langer sal onthou wat hy geleer of gelees het as hy dit gebruik of herhaal, soos wanneer hy ander daarvan vertel, terwyl dit nog vars in sy gedagtes is. b

20. Waarom is dit voordelig om die Bybel herhaaldelik te lees?

20 Elke keer as jy ’n Bybelboek deurlees, sal jy beslis iets nuuts leer. Gedeeltes wat voorheen nie so ’n groot indruk op jou gemaak het nie, sal jou diep tref. Hulle sal nuwe betekenis aanneem. Dit beklemtoon die feit dat die Bybelboeke nie bloot menselektuur is nie, maar dat dit skatte is wat jy herhaaldelik kan bestudeer tot jou voordeel. Onthou, ’n koning, soos Dawid, moes “al die dae van sy lewe daarin lees”.

21. Watter beloning kan jy verwag as jy meer tyd aan ’n studie van God se Woord bestee?

21 Ja, diegene wat tyd inruim vir diep studie van die Bybel, put besonder baie voordeel daaruit. Hulle verkry geestelike juwele en begrip. Hulle verhouding met God word sterker, hegter. Hulle word ook al hoe waardevoller vir gesinslede, vir broers en susters in die Christengemeente en vir diegene wat nog aanbidders van Jehovah moet word.—Romeine 10:9-14; 1 Timoteus 4:16.

[Voetnote]

a Hierdie studiehulpe word deur Jehovah se Getuies uitgegee en is in baie tale beskikbaar.

b Sien Die Wagtoring van 15 Augustus 1993, bladsye 13-14.

Onthou jy?

• Wat was die konings in Israel veronderstel om te doen?

• Watter voorbeeld het Jesus en die apostels met betrekking tot Bybelstudie gestel?

• Watter veranderinge kan jy aanbring om meer tyd vir persoonlike studie te hê?

• Met watter gesindheid moet jy ’n studie van God se Woord benader?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 15]

“In ons hande”

“As ons . . . ’n konkordansie van die Bybel wil hê, kan ons geen beter hulpmiddel as die Internet kry nie. Maar as ons die Bybel wil lees, dit wil bestudeer, daaroor wil dink, dit wil bepeins, moet ons dit in ons hande hê, want dit is die enigste manier om dit in ons verstand en ons hart te kry.”—Gertrude Himmelfarb, hooggeagte emeritusprofessor, City-universiteit, New York.