’n Les uit die Romeinse geskiedenis
’n Les uit die Romeinse geskiedenis
“AS EK, soos mense, in Efese met wilde diere geveg het.” Sommige dink dat hierdie woorde, wat in 1 Korintiërs 15:32 opgeteken is, beteken dat die apostel Paulus gevonnis is om in ’n Romeinse arena te veg. Of hy het of nie, gevegte tot die dood was algemeen in arenas gedurende daardie tyd. Wat vertel die geskiedenis ons van die arena en die gebeure wat daar plaasgevind het?
As Christene wil ons graag ons gewete volgens Jehovah se denke vorm, wat ons kan help om besluite te maak oor hedendaagse vermaak. Beskou byvoorbeeld God se denke oor geweld, soos dit in die volgende woorde weerspieël word: “Moenie afgunstig raak op die man van geweld nie, en moet ook nie enige van sy weë kies nie” (Spreuke 3:31). Die vroeë Christene het hierdie raad tot hulle beskikking gehad om hulle te lei wanneer baie om hulle opgewonde geraak het oor die Romeinse gladiatorgevegte. Deur te kyk na wat by sulke geleenthede gebeur het, kan ons ’n duidelike les vir hedendaagse Christene sien.
Twee gewapende gladiators kom in ’n Romeinse arena teenoor mekaar te staan. Met die eerste gekletter van swaard teen skild, skreeu die rasende skare om hulle gunsteling aan te spoor. Dit is ’n desperate geveg. Kort voor lank is een gewond en nie in staat om verder te veg nie; hy gooi sy wapens neer en val op sy knieë om sodoende die stryd gewonne te gee en om genade te smeek. Die geskreeu bereik ’n crescendo. Party in die skare skreeu dat hy genade betoon moet word, ander dat hy doodgemaak moet word. Alle oë is op die keiser gerig. Hy weet wat die meerderheid wil hê en kan die oorwonne vegter bevry of hy kan, deur net met sy duim ondertoe te wys, beveel dat hy doodgemaak word.
Die Romeine was versot op gladiatorgevegte. Jy sal moontlik verbaas wees om te weet dat sulke gevegte aanvanklik by die begrafnisse van belangrike mense gehou is. Daar word gemeen dat die gevegte hulle oorsprong gehad het by die Oskiese of Samnitiese volke wat menseofferandes gebring het in wat nou Sentraal-Italië is. Die offerandes is gebring om die geeste van die dooies te paai. So ’n geveg is ’n munus, of “gawe” (meervoud munera), genoem. Die eerste opgetekende spele in Rome is in 264 v.G.J. gehou toe drie pare gladiators in die beesmark geveg het. By die begrafnis van Markus Aemilius Lepidus is 22 tweegevegte gehou. By Publius Licinius se begrafnis het 60 pare teenoor mekaar te staan gekom. In 65 v.G.J. het Julius Caesar 320 pare in die arena ingestuur.
“Aristokratiese begrafnisse was politieke geleenthede”, sê die geskiedkundige Keith Hopkins, “en begrafnisspele het ’n politieke inslag gehad . . . omdat dit so gewild was by stemgeregtigde burgers. Ja, die toename in die praal van die gladiatorgevegte is hoofsaaklik deur politieke wedywering tussen ambisieuse aristokrate aangevuur.” Teen die tyd van Augustus se bewind (27 v.G.J. tot 14 G.J.) het die munera oordadige gawes geword—om die massas te vermaak—wat deur welgestelde staatsamptenare gegee is ter bevordering van hulle politieke loopbane.
Deelnemers en opleiding
Jy vra miskien: ‘Wie was die gladiators?’ Wel, hulle was moontlik slawe, misdadigers wat ter dood veroordeel is, krygsgevangenes of vry manne wat deur die opwinding of die vooruitsig op roem en rykdom aangetrek is. Almal is in skole opgelei wat soos gevangenisse was. Die boek Giochi e spettacoli (Spele en vertonings) berig dat die gladiators tydens hulle opleiding “altyd deur wagte dopgehou is en aan streng dissipline, onbuigsame reëls en besonder swaar strawwe onderwerp is . . . Hierdie behandeling het dikwels tot selfmoord, muitery en opstand gelei.” Rome se grootste gladiatorskool het selle vir ten minste duisend manne gehad. Elke man het iets gehad waarop hy hom toegelê het. Party het in ’n wapenrusting met skild en swaard geveg, ander met ’n net en ’n drietandspies. Nog ander is opgelei om teen wilde diere te veg in ’n ander gewilde soort vertoning, die jagtog. Het Paulus dalk na juis so ’n geleentheid verwys?
Die organiseerders van vertonings kon hulle tot entrepreneurs wend wat 17- of 18-jariges gewerf en opgelei het om gladiators te wees. Mensehandel was ’n reusebedryf. In een uitsonderlike vertoning wat Trajanus aangebied het om ’n militêre oorwinning te vier, was daar 10 000 gladiators en 11 000 diere.
’n Dag by die arena
Die oggende by die arena is aan die jagtogte gewy. Allerhande soorte wilde diere kon in die
arena ingedwing word. Die toeskouers het veral daarvan gehou as ’n bul en ’n beer teen mekaar geveg het. Die twee is dikwels aan mekaar vasgebind om te veg totdat een dood was, en dan het ’n jagter die ander dier doodgemaak. In ander gewilde gevegte het leeus teen tiers geveg of olifante teen bere. Jagters het hulle vaardighede gewys deur uitheemse diere dood te maak wat uit elke uithoek van die ryk gebring is, ongeag die koste—luiperds, renosters, seekoeie, kameelperde, hiënas, kamele, wolwe, wildevarke en wildsbokke.Die dekor het die jagtonele onvergeetlik gemaak. Rotse, poele en bome is gebruik om woude na te boots. In sommige arenas het die diere asof uit die niet verskyn, aangesien hulle met ondergrondse hysers en valdeure ingebring is. Die onvoorspelbare gedrag van die diere het die jagtogte nog interessanter gemaak, maar dit lyk asof toeskouers veral gefassineer is deur die wreedheid daarvan.
Die volgende item op die program was teregstellings. Pogings is aangewend om dit met oorspronklikheid te doen. Mitologiese dramas is opgevoer waarin die toneelspelers werklik gesterf het.
Gedurende die middae het verskeie groepe gladiators wat op verskillende maniere gewapen was en in uiteenlopende tegnieke opgelei is, teen mekaar geveg. Party van dié wat die lyke uitgesleep het, was soos die god van die onderwêreld aangetrek.
Uitwerking op die toeskouers
Die skares het ’n onversadigbare drang gehad om aksie te sien, en onwillige vegters is dus met swepe en brandysters aangepor. Die skares het geskreeu: “Waarom gaan hy die swaard so lafhartig tegemoet? Waarom val hy nie met mening aan nie? Waarom sterf hy nie [gewillig nie]? Slaan hom met die sweep sodat hy kan begin veg! Laat hulle hou vir hou kry, met ontblote bors en onbeskermd teen die swaard!” Die Romeinse staatsman Seneka skryf dat daar gedurende ’n pouse aangekondig is: “Daar gaan intussen so ’n paar kele afgesny word sodat daar steeds iets is om na te kyk!”
Dit is nie verbasend nie dat Seneka erken dat hy “wreder en onmensliker” teruggekeer het huis toe. Daardie toeskouer se openhartige erkenning moet ons tot ernstige nadenke stem. Is dit moontlik dat toeskouers by party van vandag se sportbyeenkomste op soortgelyke wyse geraak word en “wreder en onmensliker” word?
Sommige kon hulleself gelukkig ag om enigsins na hulle huis terug te keer. Toe ’n toeskouer ’n gevatte opmerking ten koste van Domitianus gemaak het, het daardie keiser hom uit sy sitplek laat sleep en hom vir die honde laat gooi. Toe daar te min misdadigers was om tereg te stel, het
Kaligula beveel dat ’n deel van die skare gegryp en vir die wilde diere gegooi moes word. En toe die verhoogmeganisme nie na Claudius se sin gewerk het nie, het hy beveel dat die werktuigkundiges wat daarvoor verantwoordelik was, in die arena veg.Die fanatiese optrede van toeskouers het ook rampe en oproerigheid tot gevolg gehad. ’n Amfiteater net noord van Rome het inmekaargestort, en na bewering het duisende gesterf. ’n Oproer het in 59 G.J. tydens ’n vertoning in Pompeji uitgebreek. Tacitus berig dat botsings tussen die tuisskare en mededingers van ’n nabygeleë dorp begin het met beledigings wat heen en weer geslinger is, toe klippe, en geëindig het met die gebruik van die swaard. Heelparty mense is vermink of beseer, en baie het gesterf.
’n Duidelike les
’n Onlangse uitstalling (Sangue e arena, “Bloed en sand”) in die Kolosseum in Rome het ’n mens laat dink aan hedendaagse parallelle met die munera. Dit is betekenisvol dat video-uittreksels gewys is van stiergevegte, professionele boksgevegte, grusame ongelukke in motor- en motorfietswedrenne, woeste gevegte tussen sportmanne tydens wedstryde en oproerige gevegte onder toeskouers. Die aanbieding het geëindig met die Kolosseum wat vanuit die lug besigtig word. Tot watter slotsom dink jy moes die besoekers kom? Hoeveel sou die punt snap?
Hondegevegte, hanegevegte, stiergevegte en gewelddadige sportsoorte is vandag iets algemeens in sommige lande. Lewens word in motorsport gewaag om ontsaglike skares met opwinding te vervul. En dink aan die daaglikse programme op televisie. Studies in een westerse land het getoon dat die gemiddelde jong TV-kyker moontlik 10 000 moorde en 100 000 dade van aggressie sal sien teen die tyd dat hy tien is.
Die plesier wat die vertonings gebied het, was “nie verenigbaar met ware godsdiens en ware gehoorsaamheid aan die ware God nie”, het die derde-eeuse skrywer Tertullianus gesê. Hy het diegene wat dit bygewoon het, as medepligtiges beskou van dié wat ander doodgemaak het. Wat van vandag? ’n Mens kan jou afvra: ‘Word ek vermaak deur dinge op televisie of op die Internet wat bloed, die dood of geweld uitbeeld?’ Dit sal goed wees om die woorde van Psalm 11:5 in gedagte te hou: “Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose, en Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet.”
[Venster op bladsy 28]
Gevegte om “die dooies te paai”
Aangaande die oorsprong van gladiatorgevegte sê die derde-eeuse skrywer Tertullianus: “Die mense van die ou tyd het gedink dat hulle deur hierdie soort vertoning ’n diens aan die dooies bewys, nadat hulle dit met ’n beskaafder vorm van wreedheid getemper het. In die ou tyd het hulle, weens die opvatting dat die siele van die dooies met mensebloed gepaai kon word, gewoonlik gevangenes of slawe wat hulle gekoop het en nie veel werd was nie, by begrafnisse geoffer. Later het dit wenslik gelyk om hulle verdorwenheid te verberg deur dit in vermaak te verander. Nadat die mense wat deur hulle aangeskaf is, dus opgelei is om die wapens wat hulle destyds gehad het, so goed moontlik te gebruik—hulle opleiding was om te leer om doodgemaak te word!—is hulle op die vasgestelde dag van die begrafnis by die grafte om die lewe gebring. So het hulle deur ’n moord vertroosting gevind vir die dood. Dit is waar die munus sy ontstaan gehad het. Maar kort voor lank het hulle verfyndheid dieselfde hoogtepunt as hulle wreedheid bereik; want die plesier van die vakansiedag was nie volkome nie tensy wrede diere ook ’n deel daaraan gehad het om mense se liggame uitmekaar te skeur. Dit wat aangebied is om die dooies te paai, is as ’n begrafnisplegtigheid beskou.”
[Prent op bladsy 27]
’n Eertydse gladiatorhelm en -beenskut
[Prente op bladsy 29]
Vir die eertydse Christene was gewelddadige vermaak onaanvaarbaar. Voel jy dieselfde?
[Erkennings]
Boks: Dave Kingdon/Index Stock Photography; motorongeluk: AP Photo/Martin Seppala
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Phoenix Art Museum, Arizona/Bridgeman Art Library