Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aanbid God “deur die Gees”

Aanbid God “deur die Gees”

Aanbid God “deur die Gees”

“Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?”—JESAJA 40:18, DIE BYBEL, 1983

DALK is jy opreg daarvan oortuig dat dit aanvaarbaar is om ikone te gebruik wanneer ’n mens God aanbid. Jy meen dalk dat dit jou nader bring aan die Hoorder van gebed, wat onsigbaar is en moontlik vir mense onpersoonlik en abstrak is.

Maar staan dit ons vry om self te besluit hoe ons God gaan nader? Moet God self nie die hoogste gesag wees wat bepaal wat aanvaarbaar en wat onaanvaarbaar is nie? Jesus het God se beskouing van die saak verduidelik toe hy gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). a Op grond van hierdie woorde alleen is dit vir ons duidelik dat die gebruik van ikone of enige ander heilige voorwerp verkeerd is.

Ja, daar is ’n spesifieke soort aanbidding wat deur Jehovah God aanvaar word. En wat is dit? By ’n ander geleentheid het Jesus verduidelik: “Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. God is Gees, en dié wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.”—Johannes 4:23, 24.

Kan God, wat ’n “gees” is, deur middel van ’n fisiese beeld voorgestel word? Nee. Ongeag hoe indrukwekkend ’n ikon is, dit kan nooit die heerlikheid van God ewenaar nie. ’n Beeld van God kan dus nooit ’n getroue voorstelling van hom wees nie (Romeine 1:22, 23). Aanbid iemand God ‘met waarheid’ as hy hom deur middel van ’n mensgemaakte ikon nader?

’n Duidelike Bybelleerstelling

God se Wet het mense verbied om beelde as voorwerpe van aanbidding te maak. Die tweede van die Tien Gebooie het beveel: “Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie” (Eksodus 20:4, 5). Die geïnspireerde Christelike Geskrifte beveel ook: “Moet niks met die afgodsdiens te doen hê nie.”—1 Korintiërs 10:14.

Baie beweer weliswaar dat hulle gebruik van beelde in aanbidding nie afgodediens is nie. Ortodokse Christene ontken byvoorbeeld dikwels dat hulle die ikone aanbid waarvoor hulle buig, kniel en bid. ’n Ortodokse priester het geskryf: “Ons betoon eerbied daaraan omdat dit heilige voorwerpe is en omdat ons ontsag het vir wat die Ikone afbeeld.”

Maar die vraag is nog steeds: Keur God die gebruik van ikone goed, selfs vir sogenaamde indirekte verering? Die Bybel keur nêrens so ’n gebruik goed nie. Toe die Israeliete die beeld van ’n kalf gemaak het, kwansuis omdat hulle Jehovah wou vereer, het hy dit ten sterkste afgekeur en gesê dat hulle afvallig gehandel het.—Eksodus 32:4-7.

Die verskuilde gevaar

Dit is gevaarlik om tasbare voorwerpe in aanbidding te gebruik. Dit kan mense maklik in die versoeking bring om die voorwerp te aanbid in plaas van die God wat skynbaar daardeur verteenwoordig word. Met ander woorde, die ikon word ’n voorwerp van afgodsaanbidding.

Dit het met ’n aantal voorwerpe in die tyd van die Israeliete gebeur. Moses het byvoorbeeld ’n koperslang tydens die uittog uit Egipte gemaak. Die afbeelding van die slang aan ’n paal het aanvanklik as ’n manier gedien om genees te word. Dié wat met ’n slangbyt gestraf is, kon na die koperslang kyk en God se hulp ontvang. Maar nadat die volk hulle in die Beloofde Land gevestig het, het hulle blykbaar ’n afgod van daardie voorwerp gemaak, asof die koperslang self genesingskrag gehad het. Hulle het reukwerk daarvoor gebrand en dit selfs ’n naam, Nehústan, gegee.—Numeri 21:8, 9; 2 Konings 18:4.

Die Israeliete het ook die verbondsark as ’n gelukbringer teen hulle vyande probeer gebruik, met rampspoedige gevolge (1 Samuel 4:3, 4; 5:11). En in Jeremia se dag was die inwoners van Jerusalem meer besorg oor die tempel as oor die God wat daar aanbid is.—Jeremia 7:12-15.

Die neiging om dinge in plaas van God te aanbid, het nog glad nie verdwyn nie. Die navorser Vitalij Iwanowitsj Petrenko het gesê: “Die ikon . . . word die voorwerp van aanbidding en kan moontlik verafgod word . . . ’n Mens moet erken dat dit in wese ’n heidense idee is wat deur die volksgeloof ’n deel van ikonaanbidding gemaak is.” Die Grieks-Ortodokse priester Demetrios Constantelos sê eweneens in sy boek Understanding the Greek Orthodox Church: “Dit is moontlik dat ’n Christen ’n ikon die voorwerp van aanbidding kan maak.”

Die bewering dat ikone slegs hulpmiddele in relatiewe aanbidding is, is uiters twyfelagtig. Waarom? Wel, is sekere ikone van Maria of van “heiliges” nie volgens party mense groter toegewydheid waardig en kragtiger as ander ikone wat dieselfde persoon afbeeld wat lank reeds dood is nie? Byvoorbeeld, ’n sekere ikon op Tínos, Griekeland, wat Maria afbeeld, het sy eie getroue Ortodokse aanhangers, terwyl ’n ikon wat Maria in Soumela, noordelike Griekeland, afbeeld net sulke getroue aanhangers het. Albei groepe glo dat hulle ikon beter as die ander een is en indrukwekkender wonderwerke as die ander een verrig, al beeld albei dieselfde afgestorwe persoon af. Mense skryf dus in werklikheid ware kragte aan sekere ikone toe, en hulle aanbid daardie ikone.

Gebede tot die “heiliges” of Maria?

Maar wat van die verering van individue, soos Maria of “heiliges”? Toe Satan Jesus versoek het, het Jesus na Deuteronomium 6:13 verwys en gesê: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Matteus 4:10). Hy het later gesê dat ware aanbidders “die Vader”, niemand anders nie, sou aanbid (Johannes 4:23). In ooreenstemming hiermee het ’n engel die apostel Johannes met die volgende woorde berispe toe hy hom probeer aanbid het: “Pas op, moenie! . . . Aanbid God.”—Openbaring 22:9.

Is dit gepas om tot Jesus se aardse moeder, Maria, of tot sekere “heiliges” te bid en hulle te vra om as middelaar tussen jou en God op te tree? Die Bybel se duidelike antwoord is: “Daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.”—1 Timoteus 2:5.

Bewaar jou verhouding met God

Aangesien die gebruik van ikone in aanbidding in stryd is met die duidelike lering van die Bybel, kan dit mense nie help om God se goedkeuring te verkry en redding te ontvang nie. Inteendeel, Jesus het gesê dat ewige lewe daarvan afhang of ons kennis inneem van die enigste ware God deur vertroud te raak met sy weergalose persoonlikheid sowel as met sy voornemens en handelinge met die mens (Johannes 17:3). Ikone wat nie kan sien, voel of praat nie, help ’n mens nie om God te leer ken en hom op aanneemlike wyse te aanbid nie (Psalm 115:4-8). Daardie allerbelangrikste onderrigting kan slegs verkry word deur ’n studie van God se Woord, die Bybel.

Buiten dat dit geen voordeel inhou nie, kan ikonaanbidding geestelik gevaarlik wees. Hoe so? Dit kan ’n mens in die eerste plek van Jehovah vervreem. God het aangaande Israel, wat “hom met afskuwelike afgode vertoorn het”, voorspel: “Ek sal my aangesig vir hulle verberg” (Deuteronomium 32:16, 20, The New American Bible). As hulle hulle verhouding met God wou herstel, moes hulle hulle ‘sondige afgode verwerp’.—Jesaja 31:6, 7, NAB.

Hoe gepas is die skriftuurlike raad dus tog: “My kindertjies, wees op julle hoede teen afgode”!—1 Johannes 5:21, NAB.

[Voetnoot]

a Tensy anders aangedui, kom alle Skrifaanhalings uit Die Bybel, 1983.

[Venster op bladsy 6]

Gehelp om “deur die Gees” te aanbid

Olivera was ’n getroue lid van die Ortodokse Kerk in Albanië. Toe godsdiens in 1967 onwettig verklaar is in die land, het Olivera haar godsdiensgebruike in die geheim voortgesit. Sy het die meeste van haar karige pensioen gebruik om goue en silwerikone, reukwerk en kerse te koop. Sy het dit in haar bed weggesteek en het dikwels in ’n stoel naby die bed geslaap omdat sy bang was dat dit gesien of gesteel sou word. Toe Olivera in die vroeë 1990’s deur Jehovah se Getuies besoek is, het sy die klank van Bybelwaarheid in hulle boodskap herken. Sy het gesien die Bybel sê dat ware aanbidding “deur die Gees” moet wees, en sy het geleer hoe God oor die gebruik van ikone voel (Johannes 4:24, Die Bybel, 1983). Die Getuie wat die Bybel met haar gestudeer het, het opgelet dat daar elke keer minder ikone in die huis was wanneer sy Olivera besoek het. Uiteindelik was daar niks meer nie. Ná haar doop het Olivera opgemerk: “Vandag het ek nie nuttelose ikone nie, maar Jehovah se heilige gees. Ek is so dankbaar dat sy gees nie ikone nodig het om my te bereik nie.”

Athena, van die eiland Lesbos in Griekeland, was ’n baie bedrywige lid van die Ortodokse Kerk. Sy het in die koor gesing en het godsdienstradisies nougeset nagekom, wat die gebruik van ikone ingesluit het. Jehovah se Getuies het Athena gehelp om te besef dat nie alles wat sy geleer is, in ooreenstemming met die Bybel is nie. Dit het die gebruik van ikone en kruise in aanbidding ingesluit. Athena het daarop aangedring om haar eie navorsing oor die oorsprong van daardie godsdiensvoorwerpe te doen. Nadat sy diep navorsing in verskeie naslaanwerke gedoen het, was sy oortuig dat daardie voorwerpe nie ’n Christelike oorsprong gehad het nie. Haar begeerte om God “deur die Gees” te aanbid, het haar beweeg om ontslae te raak van haar ikone, ondanks die geldelike waarde daarvan. Maar Athena was tevrede om enige verlies te ly sodat sy God op ’n geestelik rein en aanneemlike wyse kan aanbid.—Handelinge 19:19.

[Venster/Prent op bladsy 7]

Ikone as kuns?

In onlangse jare word Ortodokse ikone wêreldwyd versamel. Versamelaars beskou die ikon gewoonlik nie as ’n heilige godsdiensvoorwerp nie, maar as ’n kunswerk wat die Bisantynse kultuur weerspieël. Dit is iets algemeens om talle van hierdie godsdiensikone in die huis of kantoor van iemand te vind wat sê dat hy ’n ateïs is.

Maar opregte Christene vergeet nie die hoofdoel van die ikon nie. Dit is ’n voorwerp van aanbidding. Hoewel Christene nie ander se reg betwis om ikone in hulle besit te hê nie, besit hulle self nie ikone nie, nie eers as versamelstukke nie. Dit is in ooreenstemming met die beginsel in Deuteronomium 7:26, Die Bybel, 1983: “Moenie so iets afskuweliks [beelde wat in aanbidding gebruik word] in jou huis inbring nie, want dan is jy gedoem om vernietig te word. Jy moet dit verafsku en as afskuwelik beskou.”

[Prent op bladsy 7]

God het nie die gebruik van beelde in aanbidding geduld nie

[Prent op bladsy 8]

Bybelkennis help ons om God deur die gees te aanbid