Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Internasionale byeenkomste in 2003

Internasionale byeenkomste in 2003

Internasionale byeenkomste in 2003

OP Saterdag, 6 Oktober 2001, is die jaarvergadering van die lede van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië in Jersey City, New Jersey, VSA, gehou. Ná daardie vergadering was daar ’n spesiale program vir die lede en hulle gaste. Die volgende dag, by opvolgvergaderinge wat in vier stede in Kanada en die Verenigde State gehou is, het lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ná hulle slottoespraak die volgende aankondiging gedoen:

“Met die oog op die toekoms is dit uiters belangrik dat al God se knegte nie nalaat om saam te vergader nie. Die apostel Paulus het gemaan dat ons dit moet doen en mekaar ook moet aanmoedig, des te meer namate ons Jehovah se groot en vreesinboesemende dag sien nader kom (Hebreërs 10:24, 25). In ooreenstemming met hierdie skriftuurlike opdrag hoop ons om volgende jaar [2002] in alle wêrelddele streekbyeenkomste te hou. Dan, as dit Jehovah se wil is, sal spesiale internasionale byeenkomste moontlik gedurende 2003 in sekere wêrelddele gehou kan word. Dit is nou die tyd om wakker te bly en aan te hou waak en te onderskei hoe gebeure op die wêreldtoneel ontwikkel.”

Ten spyte van die toenemende onsekerheid en spanning terwyl hierdie huidige stelsel sy einde nader, moet die werksaamhede van God se volk steeds vooruitgaan. Die goeie nuus van die Koninkryk, wat die Bybel se waarskuwende boodskap insluit, moet aan elke nasie, stam, taal en volk bekend gemaak word, en hulle moet aangespoor word om ‘God te vrees en hom heerlikheid te gee omdat die uur van die oordeel deur hom al hoe nader kom’ (Openbaring 14:6, 7). As dit ons hemelse Vader se wil is en dit hom behaag, sal internasionale byeenkomste gevolglik gedurende 2003 in verskeie wêrelddele gehou word.

Om mee te begin, word sulke byeenkomste voorlopig in ’n paar stede in Noord-Amerika en kort daarna in Europa gereël. ’n Bietjie later in 2003 sal daar gereël word dat groepe afgevaardigdes na ’n paar stede in Asië reis; en teen die einde van die jaar sal ander groepe na Afrika, Suid-Amerika en die Pasifiese gebied gaan. Sekere takke sal gevra word om ’n beperkte aantal afgevaardigdes na spesifieke byeenkomsstede te stuur, en gevolglik sal dit nie moontlik wees om aan almal ’n ope uitnodiging na enige internasionale byeenkoms te gee nie. Dit sal nogtans aanmoedigend wees om op elke plek klein afvaardigings te hê wat verskillende lande verteenwoordig.

Gemeentes van Jehovah se Getuies sal binnekort inligting in verband met hierdie byeenkomste ontvang. Inligting oor die presiese datums en spesifieke stede waar genooide afgevaardigdes dit kan bywoon, sal deur hulle onderskeie takke voorsien word. Ons vra dus dat niemand op hierdie stadium al hieroor skryf of navraag doen nie.

Diegene wat uiteindelik as afgevaardigdes gekies word, sal toegewyde en gedoopte Getuies moet wees wat ’n goeie voorbeeld sal stel en broederliefde teenoor die plaaslike broers sal betoon. Op hulle beurt sal die plaaslike broers uitstekende geleenthede hê om die besoekers hartlik te verwelkom en opregte gasvryheid aan hulle te betoon (Hebreërs 13:1, 2). Dit sal “wedersydse aanmoediging” tot gevolg hê (Romeine 1:11, 12). Die takke wat genooi word om afgevaardigdes na ’n spesifieke land of lande te stuur, sal verdere inligting in verband met hierdie reëlings kan voorsien.

In die meeste lande sal daar in 2003 soos gewoonlik driedaagse streekbyeenkomste gereël word. Deur saam te vergader, sal almal die geleentheid hê ‘om te luister en te leer’, asook om ‘aangemoedig te word’ (Deuteronomium 31:12; 1 Korintiërs 14:31). Dit sal God se hele volk die geleentheid gee om te “smaak en [te] sien dat Jehovah goed is” (Psalm 34:8). Sendelinge sal teenwoordig wees by al die internasionale byeenkomste, sowel as by etlike van die streekbyeenkomste, en party van hulle sal aan die program deelneem.

Vanjaar gaan ons die “Ywerige Koninkryksverkondigers”-streekbyeenkomste geniet, wat ons sal aanspoor om ’n groter getuienis te gee. Terwyl ons dit bywoon, sal ons afwagting vir wat Jehovah die volgende jaar vir ons gaan aanbied, ongetwyfeld toeneem. Dit sal ons help om ‘aan te hou waak, wakker te bly en gereed te wees’ met die oog op hierdie kritieke en betekenisvolle tye.—Matteus 24:42-44.