Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jou onderrigting doeltreffend?

Is jou onderrigting doeltreffend?

Is jou onderrigting doeltreffend?

OUERS, ouer manne, verkondigers van die goeie nuus—almal moet onderrigters wees. Ouers leer hulle kinders, ouer manne onderrig lede van die Christengemeente en verkondigers van die goeie nuus onderrig nuwe belangstellendes (Deuteronomium 6:6, 7; Matteus 28:19, 20; 1 Timoteus 4:13, 16). Wat kan jy doen om jou onderrigting doeltreffender te maak? Om maar een ding te noem, jy kan die voorbeeld en metode navolg van bekwame onderrigters wat in God se Woord gemeld word. Esra was so ’n onderrigter.

Leer uit Esra se voorbeeld

Esra was ’n Aäronitiese priester wat sowat 2 500 jaar gelede in Babilon gewoon het. In die jaar 468 v.G.J. het hy na Jerusalem toe gegaan om rein aanbidding te bevorder onder die Jode wat daar gewoon het (Esra 7:1, 6, 12, 13). Hierdie taak het vereis dat hy die volk God se Wet leer. Wat het Esra gedoen om seker te maak dat sy onderrigting doeltreffend is? Hy het verskeie noodsaaklike stappe gedoen. Let op wat hierdie stappe volgens Esra 7:10 is:

“Esra het [1] sy hart voorberei [2] om die wet van Jehovah te raadpleeg en [3] om dit na te kom en [4] om Israel voorskrif en geregtigheid te leer.” Kom ons kyk kortliks na elkeen van hierdie stappe en sien wat ons daaruit kan leer.

“Esra het sy hart voorberei”

Net soos die landbouer eers ’n ploeg gebruik om die grond voor te berei voordat hy saad saai, het Esra sy hart biddend voorberei om die woord van God te ontvang (Esra 10:1). Met ander woorde, hy het ‘sy hart geneig’ tot Jehovah se onderrigting.—Spreuke 2:2.

Die Bybel sê ook dat koning Josafat sy “hart voorberei het om die ware God te soek” (2 Kronieke 19:3). Daarenteen word ’n geslag van Israel “wat nie hulle hart voorberei het nie”, as ’n “hardkoppige en opstandige” geslag beskryf (Psalm 78:8). Jehovah sien “die geheime persoon van die hart” (1 Petrus 3:4). Ja, “hy sal die sagmoediges sy weg leer” (Psalm 25:9). Hoe belangrik is dit dan tog dat onderrigters van vandag Esra se voorbeeld volg deur eers biddend hulle hart in die regte toestand te kry!

“Om die wet van Jehovah te raadpleeg”

Esra het God se Woord geraadpleeg sodat hy ’n bekwame onderrigter kon wees. Sal jy nie, as jy ’n dokter raadpleeg, aandagtig luister en seker maak dat jy alles verstaan wat hy sê of voorskryf nie? Jy sal beslis, want jou gesondheid is op die spel. Hoeveel te meer moet ons dan noukeurig aandag gee aan die dinge wat Jehovah deur sy Woord, die Bybel, en deur “die getroue en verstandige slaaf” vir ons sê, of voorskryf. Sy raad raak immers ons lewe! (Matteus 4:4; 24:45-47). ’n Dokter kan natuurlik verkeerd wees, maar “die wet van Jehovah is volmaak” (Psalm 19:7). Ons sal nooit ’n tweede mening nodig hê nie.

Die Bybelboeke Kronieke (wat Esra oorspronklik as een boek geskryf het) toon dat Esra inderdaad ’n deeglike student was. Hy het baie bronne geraadpleeg om hierdie boeke te skryf. a Die Jode, wat kort tevore uit Babilon aangekom het, het ’n opsomming van hulle nasie se geskiedenis nodig gehad. Hulle het nie genoeg kennis gehad van die voorskrifte van hulle godsdiens, die tempeldiens en die werk van die Leviete nie. Geslagsregisters was vir hulle van die allergrootste belang. Esra het besondere aandag aan hierdie sake gegee. Totdat die Messias sou kom, moes die Jode as ’n nasie met hulle eie land, ’n tempel, ’n priesterdom en ’n goewerneur bly bestaan. Danksy die inligting wat Esra versamel het, kon eenheid en ware aanbidding bewaar word.

Hoe vergelyk jou studiegewoontes met dié van Esra? Ywerige Bybelstudie sal jou help om ’n bekwame onderrigter van die Bybel te wees.

‘Raadpleeg die wet van Jehovah’ as ’n gesin

Dit is nie net tydens persoonlike studie dat ons die wet van Jehovah kan raadpleeg nie. Gesinstudie is ook ’n gulde geleentheid om dit te doen.

Jan en Julia, ’n egpaar in Nederland, het vir hulle twee seuns voorgelees van die dag dat hulle gebore is. Vandag is Ivo 15 jaar oud, en Edo is 14. Hulle gesinstudie word nog steeds een keer per week gehou. Jan verduidelik: “Ons hoofdoel is nie om gedurende die studie baie materiaal te dek nie, maar om te sorg dat die seuns verstaan wat bespreek word.” Hy voeg by: “Die seuns doen baie navorsing. Hulle slaan onbekende woorde na en doen navorsing oor Bybelkarakters—wanneer hulle gelewe het, wie hulle was, watter werk hulle gedoen het, ensovoorts. Vandat hulle leer lees het, raadpleeg hulle boeke soos Insight on the Scriptures, woordeboeke en ensiklopedieë. Dit maak die gesinstudie baie aangenamer. Die seuns sien altyd gretig daarna uit.” As ’n byvoordeel blink al twee seuns nou ook uit in hulle taalklasse.

John en Tini, nog ’n egpaar in Nederland, het ’n studie gehou met hulle seun, Esli (nou 24 jaar oud en ’n pionier in ’n ander gemeente), en hulle dogter, Linda (nou 20 en met ’n voorbeeldige jong broer getroud). Hulle het egter nie ’n sekere publikasie volgens die gewone vraag-en-antwoord-metode bestudeer nie, maar het eerder die gesinstudie by die ouderdom en behoeftes van die kinders aangepas. Watter metode het hulle gebruik?

John verduidelik dat sy seun en dogter ’n interessante onderwerp uit “Vrae van lesers” (in Die Wagtoring) en “Die Bybelse beskouing” (in die Ontwaak!) gekies het. Later het hulle die gesin vertel wat hulle voorberei het, en dit het altyd tot interessante besprekings gelei. So het die jongmense geleer om navorsing te doen en om wat hulle geleer het, met ander te bespreek. “Raadpleeg” jy “die wet van Jehovah” saam met jou kinders? Dit sal nie net jou eie onderrigvermoë verbeter nie, maar sal ook jou kinders help om bekwamer onderrigters te word.

“Om dit na te kom”

Esra het toegepas wat hy geleer het. Terwyl hy byvoorbeeld nog in Babilon was, het hy dalk ’n gemaklike lewe gelei. Maar toe hy besef dat hy sy volk in hulle land ver daarvandaan kan help, het hy die geriewe van Babilon verruil vir die vergeleë stad Jerusalem, met al sy ongeriewe, probleme en gevare. Esra het klaarblyklik nie net Bybelkennis ingeneem nie, maar hy was gretig om toe te pas wat hy geleer het.—1 Timoteus 3:13.

Later, terwyl hy in Jerusalem gewoon het, het Esra weer getoon dat hy toepas wat hy geleer het en wat hy ander leer. Dit het duidelik geword toe hy van die huwelike van Israelitiese mans met heidense vroue gehoor het. Die Bybelverslag sê vir ons dat hy ‘sy kleed en sy moulose oorkleed geskeur en van die hare van sy kop en sy baard uitgetrek en verbysterd bly sit het tot die aand toe’. Hy het selfs ‘skaam en verleë gevoel om sy aangesig op te hef’ tot Jehovah.—Esra 9:1-6.

Hoe diep het sy studie van God se Wet hom tog geraak! Esra kon duidelik sien watter verskriklike gevolge die volk se ongehoorsaamheid sou hê. Die Jode wat na hulle vaderland teruggekeer het, was maar min. As hulle met uitlanders sou trou, sou hulle dalk uiteindelik met die heidense nasies om hulle saamsmelt, en rein aanbidding kon maklik van die aarde af verdwyn het!

Gelukkig het Esra se voorbeeld van toegewyde vrees en ywer die Israeliete beweeg om hulle weë reg te stel. Hulle het van hulle uitlandse vrouens ontslae geraak. Binne drie maande is alles reggestel. Esra se lojaliteit teenoor God se Wet het baie gedoen om sy onderrigting doeltreffend te maak.

Dit is vandag ook die geval. ’n Christenvader het gesê: “Kinders doen nie wat jy sê nie; hulle doen wat jy doen!” Dieselfde beginsel geld in die Christengemeente. Ouer manne wat ’n goeie voorbeeld stel, kan verwag dat die gemeente op hulle onderrigting sal reageer.

“Om Israel voorskrif en geregtigheid te leer”

Daar is nog ’n rede waarom Esra se onderrigting doeltreffend was. Hy het ander nie sy eie idees geleer nie, maar hy het hulle “voorskrif en geregtigheid” geleer. Dit wil sê die voorskrifte, of wette, van Jehovah. Dit was sy verantwoordelikheid as priester (Maleagi 2:7). Hy het hulle ook geregtigheid geleer, en hy het ’n voorbeeld gestel in wat hy hulle geleer het deur op ’n regverdige en onpartydige manier, volgens ’n standaard, te bly by wat reg is. Wanneer mense wat gesag het, geregtigheid laat geskied, bring dit bestendigheid en blywende voordele mee (Spreuke 29:4). Net so sal Christen- ouer manne, ouers en Koninkryksverkondigers wat goed met God se Woord vertroud is, geestelike bestendigheid opbou wanneer hulle Jehovah se voorskrifte en geregtigheid in die gemeente, in hulle gesin en aan belangstellendes leer.

Stem jy nie saam dat jou onderrigting moontlik doeltreffender sal word as jy die voorbeeld van die getroue Esra in alle opsigte navolg nie? Jy moet dus ‘jou hart voorberei, die wet van Jehovah raadpleeg, dit nakom en ander Jehovah se voorskrif en geregtigheid leer’.Esra 7:10.

[Voetnoot]

a Daar is ’n lys van 20 bronne in Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 444-5, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Prent op bladsy 22]

WAT HET ESRA SE ONDERRIGTING DOELTREFFEND GEMAAK?

1. Hy het sy hart in die regte toestand gekry

2. Hy het die Wet van Jehovah geraadpleeg

3. Hy het ’n goeie voorbeeld gestel deur toe te pas wat hy geleer het

4. Hy het hom daarop toegelê om ander die skriftuurlike beskouing te leer