Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se heerlikheid skyn oor sy volk

Jehovah se heerlikheid skyn oor sy volk

Jehovah se heerlikheid skyn oor sy volk

“Jehovah sal vir jou ’n lig word wat tot onbepaalde tyd bestaan.”—JESAJA 60:20.

1. Hoe seën Jehovah sy getroue volk?

 “JEHOVAH het behae in sy volk. Hy versier die sagmoediges met redding” (Psalm 149:4). Die psalmis van die ou tyd het dit gesê, en die geskiedenis het die waarheid van sy woorde bevestig. Wanneer Jehovah se volk getrou is, sorg hy vir hulle, maak hy hulle vrugbaar en beskerm hy hulle. In die ou tyd het hy hulle die oorwinning oor hulle vyande gegee. Vandag hou hy hulle geestelik sterk en verseker hy hulle van redding op grond van Jesus se offerande (Romeine 5:9). Hy doen dit omdat hulle pragtig is in sy oë.

2. Waarvan is God se volk seker, al ondervind hulle teenstand?

2 In ’n wêreld wat in duisternis gehul is, sal diegene wat “met godvrugtige toegewydheid . . . lewe”, natuurlik teenstand ondervind (2 Timoteus 3:12). Maar Jehovah let op die teenstanders, en hy waarsku hulle: “Elke nasie en elke koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal vergaan; en die nasies sal vir seker verwoes word” (Jesaja 60:12). Vandag word ons op baie maniere teëgestaan. In party lande probeer teenstanders opregte Christene se aanbidding van Jehovah beperk of verbied. In ander lande val fanatici Jehovah se aanbidders fisies aan en verbrand hulle hulle eiendom. Maar onthou dat Jehovah reeds besluit het wat die uiteinde van enige teenstand teen die uitvoering van sy wil sal wees. Teenstanders sal misluk. Diegene wat veg teen Sion, soos verteenwoordig deur haar kinders op aarde, kan nie slaag nie. Is dit nie ’n aanmoedigende versekering van ons groot God, Jehovah, nie?

Bo verwagting geseën

3. Hoe word die prag en vrugbaarheid van Jehovah se aanbidders toegelig?

3 Feit is dat Jehovah sy volk gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge bo verwagting geseën het. Hy het veral sy plek van aanbidding en diegene daarin wat sy naam dra, al hoe meer versier. Volgens Jesaja se profesie sê hy vir Sion: “Die heerlikheid van die Libanon sal na jou toe kom, die jenewerboom, die esseboom en die sipres tegelyk, om die plek van my heiligdom te versier; en ek sal die plek van my voete verheerlik” (Jesaja 60:13). Berge wat met geil woude bedek is, is iets pragtigs om te sien. Welige bome is dus gepaste simbole van die prag en vrugbaarheid van Jehovah se aanbidders.—Jesaja 41:19; 55:13.

4. Wat is die “heiligdom” en die “plek van [Jehovah se] voete”, en hoe is dit versier?

4 Wat is die “heiligdom” en die “plek van [Jehovah se] voete” wat in Jesaja 60:13 gemeld word? Dit verwys na die voorhowe van Jehovah se groot geestelike tempel, wat die reëling is om hom deur Jesus Christus in aanbidding te nader (Hebreërs 8:1-5; 9:2-10, 23). Jehovah het gesê dat dit sy voorneme is om hierdie geestelike tempel te verheerlik deur mense uit alle nasies te bring om daar te kom aanbid (Haggai 2:7). Jesaja het vroeër menigtes uit alle nasies na Jehovah se verhewe berg van aanbidding sien stroom (Jesaja 2:1-4). Honderde jare later het die apostel Johannes “’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” in ’n visioen gesien. Hulle staan “voor die troon van God; en hulle verrig dag en nag heilige diens aan hom in sy tempel” (Openbaring 7:9, 15). Namate hierdie profesieë in ons dag vervul word, word Jehovah se huis voor ons oë versier.

5. Watter groot verbetering het die kinders van Sion gesien?

5 Wat ’n groot verbetering was dit alles tog vir Sion! Jehovah sê: “In plaas daarvan dat jy heeltemal verlate is en gehaat word, sonder dat iemand daar deurtrek, sal ek jou ’n trots tot onbepaalde tyd maak, ’n vreugde van geslag tot geslag” (Jesaja 60:15). Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog was “die Israel van God” inderdaad in ’n verlate toestand (Galasiërs 6:16). Sy het “heeltemal verlate” gevoel, want haar kinders op die aarde het nie duidelik onderskei wat God se wil vir hulle is nie. Toe het Jehovah in 1919 sy gesalfde knegte laat herleef, en sedertdien het hy hulle met wonderlike geestelike voorspoed geseën. En is die belofte in hierdie vers nie opwindend nie? Jehovah sal Sion as “’n trots” beskou. Ja, Sion se kinders, en Jehovah self, sal trots wees op Sion. Sy sal “’n vreugde” wees, ’n rede tot groot blydskap. En dit sal nie net ’n kort rukkie duur nie. Die begunstigde toestand van Sion, wat deur haar aardse kinders verteenwoordig word, sal “van geslag tot geslag” duur. Dit sal nooit tot ’n einde kom nie.

6. Hoe gebruik ware Christene middele van die nasies?

6 Luister nou na nog ’n belofte van God. Jehovah praat met Sion en sê: “Jy sal die melk van nasies suig, en aan die bors van konings sal jy suig; en jy sal vir seker weet dat ek, Jehovah, jou Redder is en dat die Magtige van Jakob jou Terugkoper is” (Jesaja 60:16). Hoe drink Sion “die melk van nasies” en suig hulle aan “die bors van konings”? Deurdat gesalfde Christene en hulle metgeselle, die “ander skape”, waardevolle middele van die nasies gebruik om ware aanbidding te bevorder (Johannes 10:16). Vrywillige geldelike bydraes help om ’n groot internasionale predikings- en onderrigtingswerk moontlik te maak. Omdat hulle moderne tegnologie verstandig aanwend, kan hulle Bybels en Bybellektuur in honderde tale uitgee. Vandag is Bybelwaarheid vir meer mense beskikbaar as op enige ander tyd in die geskiedenis. Burgers van baie nasies leer dat Jehovah, wat sy gesalfde knegte uit geestelike gevangenskap teruggekoop het, inderdaad die Redder is.

Organisatoriese vooruitgang

7. Watter merkwaardige vooruitgang het Sion se kinders gesien?

7 Jehovah het sy volk op nog ’n manier versier. Hy het hulle met organisatoriese vooruitgang geseën. Ons lees in Jesaja 60:17: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers.” Dit is ’n verbetering om koper met goud te vervang, en dit geld ook vir die ander grondstowwe wat genoem word. In ooreenstemming hiermee het die Israel van God gedurende die laaste dae voortdurende verbeteringe in organisatoriese reëlings gesien. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

8-10. Beskryf van die verbeteringe wat sedert 1919 in die organisasie aangebring is.

8 Voor 1919 is gemeentes van God se volk gelei deur ouer manne en diakens wat almal deur lede van die gemeente demokraties verkies is. Van daardie jaar af het “die getroue en verstandige slaaf” ’n diensleier in elke gemeente aangestel om oor velddiensbedrywighede toesig te hou (Matteus 24:45-47). Maar in baie gemeentes het hierdie reëling nie so goed gewerk nie, want party verkose ouer manne het die evangelisasiewerk nie ten volle ondersteun nie. Daarom is gemeentes in 1932 aangesê om met die verkiesing van ouer manne en diakens op te hou. Hulle moes eerder manne kies wat saam met die diensleier op ’n dienskomitee sou dien. Dit was soos “koper” in die plek van “hout”—’n groot verbetering!

9 In 1938 het gemeentes oor die hele wêreld ’n verbeterde reëling aangeneem, een wat meer soos die skriftuurlike voorbeeld was. Die gemeentelike administrasie is aan ’n groepkneg en ander knegte toevertrou, wat almal onder die toesig van die getroue en verstandige slaaf aangestel is. Geen verkiesings meer nie! So is knegte in die gemeente teokraties aangestel. Dit was soos “yster” in die plek van “klippe” of “goud” in die plek van “koper”.

10 Sedertdien het die vooruitgang voortgeduur. In 1972 het dit byvoorbeeld duidelik geword dat toesig oor gemeentes deur ’n liggaam van ouer manne wat teokraties aangestel is en saamwerk, sonder dat een ouer man gesag oor die ander uitoefen, nog nader was aan die manier waarop eerste-eeuse Christengemeentes gelei is. En ongeveer twee jaar gelede was daar nog ’n stap vooruit. ’n Aanpassing is gemaak ten opsigte van die direkteure van sekere wetlike korporasies, wat dit vir die Bestuursliggaam moontlik maak om hulle in ’n groter mate op die geestelike belange van God se volk toe te spits sonder dat hulle aandag deur daaglikse regsake afgelei word.

11. Wie is verantwoordelik vir die organisatoriese veranderinge onder Jehovah se volk, en wat was die gevolg van hierdie veranderinge?

11 Wie is vir hierdie progressiewe veranderinge verantwoordelik? Niemand anders as Jehovah God nie. Dit is hy wat sê: ‘Ek sal goud bring.’ En dit is hy wat verder sê: “Ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers.” Ja, Jehovah is verantwoordelik vir die toesig oor sy volk. Die voorspelde organisatoriese vooruitgang is nog ’n manier waarop hy sy volk versier. En Jehovah se Getuies is as gevolg daarvan in baie opsigte geseën. In Jesaja 60:18 lees ons: “Van geweld sal daar nie meer in jou land gehoor word nie, van geen plundering en verbreking binne jou grense nie. En jy sal beslis jou mure Redding noem en jou poorte Lof.” Hoe pragtig is hierdie woorde tog! Maar hoe is dit vervul?

12. Waarom heers daar vrede onder ware Christene?

12 Ware Christene vertrou volkome op Jehovah se onderrigting en leiding, en die gevolg is soos Jesaja voorspel het: “Al jou kinders sal persone wees wat deur Jehovah geleer word, en die vrede van jou kinders sal oorvloedig wees” (Jesaja 54:13). Jehovah se gees werk ook in op sy volk, en een van die vrugte van daardie gees is vrede (Galasiërs 5:22, 23). Die gevolglike vreedsaamheid van Jehovah se volk maak hulle ’n verkwikkende oase in ’n gewelddadige wêreld. Hulle vreedsame toestand, op grond van die liefde wat ware Christene vir mekaar het, is ’n voorsmaak van die lewe in die nuwe wêreld (Johannes 15:17; Kolossense 3:14). Elkeen van ons is ongetwyfeld verheug dat ons hierdie vrede kan geniet en daartoe kan bydra, want dit strek ons God tot lof en eer en is ’n vername aspek van ons geestelike paradys!—Jesaja 11:9.

Jehovah se lig sal aanhou skyn

13. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah se lig nooit sal ophou om op sy volk te skyn nie?

13 Sal Jehovah se lig aanhou skyn op sy volk? Ja! In Jesaja 60:19, 20 lees ons: “Vir jou sal die son nie meer bedags ’n lig wees nie, en as glans sal die maan nie meer vir jou lig gee nie. En Jehovah moet vir jou ’n lig word wat tot onbepaalde tyd bestaan, en jou God jou prag. Jou son sal nie meer ondergaan nie, en ook sal jou maan nie afneem nie; want Jehovah sal vir jou ’n lig word wat tot onbepaalde tyd bestaan, en die dae van jou rou sal voltooi wees.” Toe die “rou” van die geestelike ballinge in 1919 voltooi is, het Jehovah se lig op hulle begin skyn. Meer as 80 jaar later geniet hulle nog Jehovah se guns terwyl sy lig aanhou skyn. En dit sal nie ophou nie. Ons God sal nie soos die son “ondergaan” of soos die maan “afneem” met betrekking tot sy aanbidders nie. Nee, hy sal vir ewig lig op hulle laat skyn. Wat ’n wonderlike versekering is dit tog vir ons wat gedurende die laaste dae van hierdie donker wêreld lewe!

14, 15. (a) In watter opsig is God se hele volk “regverdig”? (b) Na watter belangrike vervulling van Jesaja 60:21 sien die ander skape uit?

14 Luister nou wat Jehovah verder belowe oor Sion se aardse verteenwoordiger, die Israel van God. Jesaja 60:21 sê: “Wat jou volk betref, hulle sal almal regverdig wees; tot onbepaalde tyd sal hulle die land besit, die spruit wat deur my geplant is, die werk van my hande, om prag aan my te verleen.” Toe die gesalfde Christene in 1919 weer bedrywig geword het, was hulle ’n buitengewone groep mense. In ’n wêreld wat beslis sondig is, is hulle “regverdig verklaar” op grond van hulle onwankelbare geloof in die losprysoffer van Christus Jesus (Romeine 3:24; 5:1). Toe het hulle, soos die Israeliete wat uit Babiloniese gevangenskap bevry is, ’n “land” in besit geneem, ’n geestelike land, of gebied van bedrywigheid, waarin hulle ’n geestelike paradys sou geniet (Jesaja 66:8). Die paradysagtige prag van daardie land sal nooit verdwyn nie omdat die Israel van God as ’n nasie, in teenstelling met eertydse Israel, nie ontrou sal wees nie. Hulle geloof, hulle volharding en hulle ywer sal nooit ophou om God se naam eer aan te doen nie.

15 Al die lede van hierdie geestelike nasie is in die nuwe verbond. Jehovah se wet is op hulle almal se hart geskryf, en Jehovah het hulle sondes op grond van Jesus se losprysoffer vergewe (Jeremia 31:31-34). Hy verklaar hulle regverdig as “kinders” en handel met hulle asof hulle volmaak is (Romeine 8:15, 16, 29, 30). Hulle metgeselle, die ander skape, se sondes is ook op grond van Jesus se offerande vergewe en, soos Abraham, is hulle deur middel van geloof regverdig verklaar as vriende van God. “Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.” En hierdie metgeselle, die ander skape, sien uit na nog ’n wonderlike seën. Nadat hulle “die groot verdrukking” oorleef het of nadat hulle opgewek is, sal hulle ’n letterlike vervulling van die woorde in Jesaja 60:21 sien wanneer die hele aarde ’n paradys word (Openbaring 7:14; Romeine 4:1-3). Dan sal “die sagmoediges . . . die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”.—Psalm 37:11, 29.

Die vermeerdering duur voort

16. Watter merkwaardige belofte het Jehovah gemaak, en hoe is dit vervul?

16 In die laaste vers van Jesaja 60 lees ons Jehovah se laaste belofte in hierdie hoofstuk. Hy sê vir Sion: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig” (Jesaja 60:22). In ons dag het Jehovah sy woord gehou. Toe die gesalfde Christene in 1919 weer bedrywig geword het, was hulle maar min—waarlik ’n “kleine”. Hulle getal het toegeneem namate nog geestelike Israeliete ingebring is. En daarna het die ander skape in immer toenemende getalle na hulle toe begin stroom. Die vreedsame toestand van God se volk, die geestelike paradys wat in hulle “land” bestaan, het soveel opregtes van hart aangetrek dat “die geringe” werklik “’n magtige nasie” geword het. Op die oomblik het hierdie “nasie”—die Israel van God en meer as sesmiljoen toegewyde “uitlanders”—’n groter bevolking as baie van die onafhanklike state in die wêreld (Jesaja 60:10). Al die burgers daarvan het ’n aandeel daaraan om Jehovah se lig te weerkaats, en dit maak hulle almal pragtig in sy oë.

17. Hoe het hierdie bespreking van Jesaja hoofstuk 60 jou geraak?

17 Ja, dit is geloofversterkend om die hoofgedagtes van Jesaja hoofstuk 60 te bespreek. Dit is bemoedigend om te sien dat Jehovah so lank vooruit geweet het dat sy volk in geestelike ballingskap sou gaan en daarna herstel sou word. Ons is verwonderd oor die feit dat Jehovah so lank vooruit gesien het dat daar in ons dag ’n groot toename in die aantal ware aanbidders sou wees. En hoe bemoedigend is dit tog om daaraan te dink dat Jehovah ons nie sal verlaat nie! Hoe liefdevol is die versekering tog dat die poorte van “die stad” altyd oop sal bly om diegene wat “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, gasvry te ontvang! (Handelinge 13:48). Jehovah sal aanhou om oor sy volk te skyn. Sion sal voortdurend ’n trots wees terwyl haar kinders hulle lig al hoe helderder laat skyn (Matteus 5:16). Dit maak ons beslis nog meer vasbeslote as tevore om naby die Israel van God te bly en om waardering te toon vir ons voorreg om Jehovah se lig te weerkaats!

Kan jy verduidelik?

• Waarvan is ons seker wat teenstand betref?

• Hoe het Sion se kinders ‘die melk van nasies gesuig’?

• Hoe het Jehovah ‘koper in die plek van hout gebring’?

• Watter twee eienskappe kom na vore in Jesaja 60:17, 21?

• Hoe het die “geringe ’n magtige nasie” geword?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 18]

JESAJA SE PROFESIELig vir die hele mensdom

Die inhoud van hierdie artikels is in ’n toespraak gedurende die “Onderrigters van God se woord”-streekbyeenkomste van 2001/02 aangebied. Aan die einde van die toespraak het die spreker ’n nuwe publikasie met die titel Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom, Deel Twee, vrygestel. Die vorige jaar is Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom, Deel Een, vrygestel. Noudat hierdie nuwe publikasie vrygestel is, is daar ’n bespreking van die jongste begrip van feitlik elke vers in die boek Jesaja beskikbaar. Hierdie boeke help ons baie om die geloofversterkende profetiese boek Jesaja beter te verstaan en meer te waardeer.

[Prente op bladsy 15]

Ondanks hewige vervolging ‘versier Jehovah sy volk met redding’

[Prente op bladsy 16]

God se volk gebruik waardevolle middele van die nasies om rein aanbidding te bevorder

[Prent op bladsy 17]

Jehovah het sy volk met organisatoriese vooruitgang en vrede geseën