Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah versier sy volk met lig

Jehovah versier sy volk met lig

Jehovah versier sy volk met lig

“Staan op, o vrou, versprei lig, want jou lig het gekom en die heerlikheid van Jehovah het oor jou geskyn.”—JESAJA 60:1.

1, 2. (a) Wat is die toestand van die mensdom? (b) Wie is die oorsaak van die mensdom se duisternis?

 “AS DAAR tog net ’n Jesaja of ’n sint Paulus was!” Dit was die wanhopige uitroep van die Amerikaanse president Harry Truman in die 1940’s. Waarom het hy dit gesê? Omdat hy besef het dat daar in die wêreld van sy tyd ’n behoefte aan sedelike leiers van formaat was. Die mensdom het kort tevore die donkerste tyd van die 20ste eeu beleef, die Tweede Wêreldoorlog. Maar al was die oorlog verby, was daar nie vrede in die wêreld nie. Duisternis het voortgeduur. Trouens, die wêreld is 57 jaar ná die einde van daardie oorlog nog steeds in duisternis. As president Truman vandag gelewe het, sou hy sekerlik nog steeds gedink het dat sedelike leiers van formaat soos Jesaja of die apostel Paulus nodig is.

2 Of president Truman hiervan bewus was of nie, die apostel Paulus het van die duisternis gepraat wat die mensdom teister, en hy het in sy geskrifte daarteen gewaarsku. Hy het medegelowiges byvoorbeeld gewaarsku: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12). Met hierdie woorde het Paulus nie net getoon dat hy bewus was van die geestelike duisternis wat die wêreld omhul nie, maar ook dat hy geweet het wat die ware bron daarvan was—sterk demoniese magte wat as “wêreldheersers” beskryf word. Aangesien magtige geeste die oorsaak van die wêreld se duisternis is, wat kan blote mense dan doen om dit te verdryf?

3. Wat het Jesaja vir getroues voorspel, ondanks die duister toestand van die mensdom?

3 Jesaja het ook gepraat van die duisternis wat die mensdom teister (Jesaja 8:22; 59:9). Maar met die oog op ons dag het hy onder inspirasie voorspel dat Jehovah selfs in hierdie donker tye die vooruitsig van dié wat die lig liefhet, helder sal maak. Ja, al is Paulus en Jesaja nie in die vlees met ons nie, het ons hulle geïnspireerde geskrifte om ons te rig. Kom ons kyk na Jesaja se profetiese woorde in die 60ste hoofstuk van sy boek om te sien wat ’n seën dit is vir dié wat Jehovah liefhet.

’n Profetiese vrou versprei lig

4, 5. (a) Wat beveel Jehovah ’n vrou om te doen, en watter belofte maak hy? (b) Watter opwindende inligting bevat Jesaja hoofstuk 60?

4 Die eerste woorde van Jesaja 60 word gerig tot ’n vrou wat in ’n droewige toestand is—sy lê plat op die grond in die duisternis. Skielik dring lig deur die duisternis, en Jehovah roep uit: “Staan op, o vrou, versprei lig, want jou lig het gekom en die heerlikheid van Jehovah het oor jou geskyn” (Jesaja 60:1). Die tyd het aangebreek vir die vrou om op te staan en God se lig, sy heerlikheid, te weerkaats. Waarom? Ons sien die antwoord in die volgende vers: “Kyk! duisternis sal die aarde oordek, en dik donkerheid die volksgroepe; maar oor jou sal Jehovah skyn, en oor jou sal sy heerlikheid gesien word” (Jesaja 60:2). Wanneer die vrou Jehovah se bevel gehoorsaam, word sy van ’n wonderlike resultaat verseker. Jehovah sê: “Nasies sal beslis na jou lig kom, en konings na die glans van jou skynsel.”—Jesaja 60:3.

5 Die opwindende woorde in hierdie drie verse lei die inhoud van die res van Jesaja hoofstuk 60 in en som dit op. Dit voorspel die wedervaringe van ’n profetiese vrou en verduidelik hoe ons in Jehovah se lig kan woon ondanks die duisternis wat die mensdom oordek. Maar wat beteken die simbole in hierdie drie inleidingsverse?

6. Wie is die vrou van Jesaja hoofstuk 60, en wie verteenwoordig haar op aarde?

6 Die vrou van Jesaja 60:1-3 is Sion, Jehovah se hemelse organisasie van geesskepsele. Sion word vandag op die aarde verteenwoordig deur die oorblyfsel van “die Israel van God”, die internasionale gemeente van geesgesalfde Christene, wat die hoop het om saam met Christus in die hemel te regeer (Galasiërs 6:16). Hierdie geestelike nasie het uiteindelik altesaam 144 000 lede, en die hedendaagse vervulling van Jesaja hoofstuk 60 hou verband met dié wat gedurende “die laaste dae” op die aarde lewe (2 Timoteus 3:1; Openbaring 14:1). Die profesie het ook baie te sê oor hierdie gesalfde Christene se metgeselle, die “groot menigte” “ander skape”.—Openbaring 7:9; Johannes 10:16.

7. Wat was Sion se toestand in 1918, en hoe is dit voorspel?

7 Was daar ’n tyd toe “die Israel van God” in die duisternis gelê het, soos dit deur daardie profetiese vrou voorafgeskadu is? Ja, dit het meer as 80 jaar gelede gebeur. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het gesalfde Christene hard probeer om die getuieniswerk aan die gang te hou. Maar in 1918, die laaste jaar van die oorlog, het die georganiseerde predikingswerk feitlik tot ’n stilstand gekom. Joseph F. Rutherford, wat oor die wêreldwye predikingswerk toesig gehou het, en ander vooraanstaande Christene is lang vonnisse op valse aanklagte opgelê. In ’n profesie in die boek Openbaring is gesalfde Christene wat destyds op die aarde was, beskryf as lyke wat “op die breë straat van die groot stad lê wat in geestelike sin Sodom en Egipte genoem word” (Openbaring 11:8). Dit was beslis ’n donker tyd vir Sion, wat deur haar gesalfde kinders op die aarde verteenwoordig is!

8. Watter dramatiese verandering het in 1919 plaasgevind, met watter gevolg?

8 Maar in 1919 het daar ’n dramatiese verandering plaasgevind. Jehovah het lig op Sion laat skyn! Oorlewendes van die Israel van God het opgestaan en God se lig weerkaats deur die verkondiging van die goeie nuus onbevrees te hervat (Matteus 5:14-16). Danksy die hernieude ywer van hierdie Christene is ander na Jehovah se lig aangetrek. Eerstens is die nuwelinge as bykomende lede van die Israel van God gesalf. Hulle word in Jesaja 60:3 konings genoem, aangesien hulle mede-erfgename met Christus in God se hemelse Koninkryk gaan wees (Openbaring 20:6). Later is ’n groot menigte ander skape na Jehovah se lig aangetrek. Hulle is die “nasies” wat in die profesie gemeld word.

Die vrou se kinders kom huis toe!

9, 10. (a) Watter merkwaardige gesig het die vrou gesien, en wat het dit voorafgeskadu? (b) Watter rede tot vreugde het Sion gehad?

9 Jehovah begin nou meer besonderhede oor die inligting in Jesaja 60:1-3 voorsien. Hy gee die vrou nog ’n bevel. Luister na sy woorde: “Slaan jou oë rondom op en kyk!” Die vrou doen dit, en wat ’n hartverblydende gesig sien sy tog! Haar kinders kom huis toe. Die teks sê verder: “Hulle is almal bymekaargebring; hulle het na jou toe gekom. Van ver af bly jou seuns kom en jou dogters wat op die heup versorg sal word” (Jesaja 60:4). Die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk wat in 1919 begin het, het duisende nuwelinge na Jehovah se diens laat kom. Hulle het ook “seuns” en “dogters” van Sion geword, gesalfde lede van die Israel van God. Jehovah het Sion dus versier deurdat hy die laaste lede van die 144 000 na die lig gebring het.

10 Kan jy jou Sion se vreugde voorstel omdat sy weer haar kinders by haar het? En tog gee Jehovah Sion verdere redes tot vreugde. Ons lees: “Dan sal jy dit sien en beslis straal, en jou hart sal bewe en verruim word, want die skatte van die see sal hom tot jou wend; die rykdom van die nasies sal na jou toe kom” (Jesaja 60:5). In ooreenstemming met hierdie profetiese woorde het menigtes Christene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, van die 1930’s af na Sion toe gestroom. Hulle het uit “die see” van die mensdom wat van God vervreemd is, gekom en verteenwoordig die rykdom van die nasies. Hulle is “die begeerlike dinge van al die nasies” (Haggai 2:7; Jesaja 57:20). Dit is ook opmerkenswaardig dat hierdie “begeerlike dinge” Jehovah nie elkeen op sy eie manier aanbid nie. Nee, hulle dra by tot die prag van Sion deur saam met hulle gesalfde broers te kom aanbid en saam met hulle “een kudde onder een herder” te word.—Johannes 10:16.

Koopmanne, herders en handelaars kom na Sion

11, 12. Beskryf die skares wat in die rigting van Sion beweeg.

11 Die gevolg van hierdie voorspelde insameling is ’n merkwaardige toename in die aantal lowers van Jehovah. Dit word in die volgende woorde van die profesie voorspel. Stel jou voor dat jy saam met die profetiese vrou op die berg Sion staan. Jy kyk na die ooste toe, en wat sien jy? “Die deinende massa kamele sal jou oordek, die jong kameelbulle van Midian en van Efa. Almal uit Skeba—hulle sal kom. Goud en wierook sal hulle aandra. En die lofprysinge van Jehovah sal hulle verkondig” (Jesaja 60:6). Skares koopmanne reis met hulle kameelkaravane op die paaie wat na Jerusalem lei. Die kamele is soos ’n vloed wat die land oordek! Die handelaars bring waardevolle geskenke, “goud en wierook”. En hierdie koopmanne kom na God se lig om hom in die openbaar te loof, ‘om die lofprysinge van Jehovah te verkondig’.

12 Koopmanne is nie die enigstes wat nader kom nie. Herders stroom ook na Sion. Die profesie sê verder: “Al die kuddes van Kedar—hulle sal by jou bymekaargebring word. Die ramme van Nebajot—hulle sal jou dien” (Jesaja 60:7a). Herderstamme kom na die heilige stad om die beste van hulle kuddes aan Jehovah te offer. Hulle bied selfs hulleself as dienaars van Sion aan! Hoe ontvang Jehovah hierdie vreemdelinge? God antwoord self: “Met goedkeuring sal hulle op my altaar kom, en ek sal my luisterryke huis versier” (Jesaja 60:7b). Jehovah neem die offers en die diens van hierdie vreemdelinge goedgunstig aan. Hulle teenwoordigheid versier sy tempel.

13, 14. Wat kom uit die weste?

13 Draai nou jou kop en kyk in die rigting van die westelike horison. Wat sien jy? In die verte is daar iets wat soos ’n wit wolk lyk wat oor die oppervlak van die see uitgesprei is. Jehovah vra die vraag waaroor jy wonder: “Wie is dit wat aangevlieg kom soos ’n wolk, en soos duiwe na die openinge van hulle voëlhuis?” (Jesaja 60:8). Jehovah antwoord self sy vraag: “Op my sal die eilande bly hoop, asook die skepe van Tarsis soos eers, om jou seuns van ver af te bring, hulle silwer en hulle goud saam met hulle, vir die naam van Jehovah jou God en vir die Heilige van Israel, omdat hy jou versier het.”—Jesaja 60:9.

14 Kan jy die toneel voor jou geestesoog sien? Daardie wit wolk het nader gekom en lyk nou soos ’n klomp spikkels ver in die weste. Dit lyk soos ’n swerm voëls wat laag oor die golwe vlieg. Maar wanneer dit nog nader kom, sien jy dat dit skepe is met hulle seile wat bol staan in die wind. Daar kom soveel skepe na Jerusalem toe aangeseil dat hulle soos ’n swerm duiwe lyk. Die vloot seil so vinnig moontlik uit verre hawens en bring gelowiges na Jerusalem om Jehovah te aanbid.

Jehovah se organisasie brei uit

15. (a) Watter vermeerdering voorspel die woorde van Jesaja 60:4-9? (b) Watter gees openbaar ware Christene?

15 Wat ’n duidelike profetiese prentjie skilder verse 4 tot 9 tog van die wêreldwye uitbreiding wat sedert 1919 plaasgevind het! Waarom het Jehovah Sion met hierdie vermeerdering geseën? Omdat die Israel van God sedert 1919 gehoorsaam was en Jehovah se lig aanhoudend laat skyn het. Maar het jy gesien dat die nuwe aankomelinge, volgens vers 7, “op [God se] altaar kom”? Offerandes word op ’n altaar gebring, en wat die profesie hier sê, herinner ons daaraan dat Jehovah se diens opofferinge verg. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek [versoek] julle dringend . . . om julle liggaam aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Romeine 12:1). In ooreenstemming met Paulus se woorde is ware Christene nie daarmee tevrede om bloot een keer per week kerkdienste by te woon nie. Hulle gebruik van hulle tyd, energie en middele om ware aanbidding te bevorder. Versier die teenwoordigheid van sulke toegewyde aanbidders nie Jehovah se huis nie? Jesaja se profesie het gesê dit sou. En ons kan seker wees dat sulke ywerige aanbidders pragtig is in Jehovah se oë.

16. Wie het in die ou tyd met die herbouingswerk gehelp, en wie het dit in hedendaagse tye gedoen?

16 Die nuwelinge wil werk. Die profesie sê verder: “Uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien” (Jesaja 60:10). In die eerste vervulling van hierdie woorde in die tyd van die terugkeer uit Babiloniese ballingskap het konings en ander uit die nasies wel gehelp om die tempel en die stad Jerusalem te herbou (Esra 3:7; Nehemia 3:26). In die hedendaagse vervulling het die groot menigte die gesalfde oorblyfsel ondersteun in hulle werk om ware aanbidding op te bou. Hulle het gehelp om Christengemeentes op te bou en sodoende die “mure” van Jehovah se stadagtige organisasie te versterk. Hulle neem ook deel aan ’n letterlike bouwerk—die oprigting van Koninkryksale, Byeenkomssale en Bethelkomplekse. Op al hierdie maniere ondersteun hulle hulle gesalfde broers in hulle werk om na die behoeftes van Jehovah se groeiende organisasie om te sien!

17. Wat is een manier waarop Jehovah sy volk versier?

17 Hoe aanmoedigend is die laaste woorde van Jesaja 60:10 tog! Jehovah sê: “In my verontwaardiging het ek jou geslaan, maar in my welwillendheid sal ek jou beslis barmhartig wees.” Ja, in 1918/19 het Jehovah sy volk gedissiplineer. Maar dit is in die verlede. Nou is dit die tyd dat Jehovah barmhartigheid bewys aan sy gesalfde knegte en hulle metgeselle, die ander skape. Die bewys hiervan is die buitengewone vermeerdering waarmee hy hulle geseën, of ‘hulle versier’, het.

18, 19. (a) Watter belofte maak Jehovah met betrekking tot nuwelinge wat in sy organisasie inkom? (b) Wat vertel die res van die verse in Jesaja hoofstuk 60 ons?

18 Elke jaar begin honderdduisende bykomende “uitlanders” met Jehovah se organisasie omgaan, en die weg sal oop bly vir nog baie meer om hulle te volg. Jehovah sê vir Sion: “Jou poorte sal voortdurend oopgehou word; hulle sal nie bedags of snags toegemaak word nie, sodat die rykdom van die nasies na jou toe gebring kan word, en hulle konings sal die leiding neem” (Jesaja 60:11). Party teenstanders probeer hierdie “poorte” toemaak, maar ons weet dat hulle dit nie sal regkry nie. Jehovah het self gesê dat die poorte op die een of ander manier oop sal bly. Die vermeerdering sal aanhou.

19 Jehovah het sy volk in hierdie laaste dae ook op ander maniere geseën, of versier. Die res van die verse in Jesaja 60 toon profeties wat hierdie maniere is.

Kan jy verduidelik?

• Wie is God se “vrou”, en wie verteenwoordig haar op aarde?

• Wanneer het die kinders van Sion plat op die grond gelê, en wanneer en hoe het hulle ‘opgestaan’?

• Hoe het Jehovah die hedendaagse toename in Koninkryksverkondigers met behulp van verskillende simbole voorspel?

• Hoe het Jehovah sy lig op sy volk laat skyn?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 10]

Jehovah se “vrou” word beveel om op te staan

[Prent op bladsy 12]

Die vloot skepe lyk soos duiwe op die horison