Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Versterk deur ons wêreldwye broederskap

Versterk deur ons wêreldwye broederskap

Lewensverhaal

Versterk deur ons wêreldwye broederskap

SOOS VERTEL DEUR THOMSON KANGALE

Op 24 April 1993 is ek genooi om die toewydingsprogram van ’n nuwe takkantoorkompleks met 13 geboue in Lusaka, Zambië, by te woon. Aangesien ek gesukkel het om te loop, het die Christensuster wat ons op ’n toer van die kompleks geneem het, vriendelik gevra: “Moet ek ’n stoel saamdra sodat Broer elke nou en dan ’n bietjie kan rus?” Ek is swart en sy is wit, maar dit het vir haar geen verskil gemaak nie. Dit het my diep getref, en ek het haar bedank, want haar vriendelikheid het dit vir my moontlik gemaak om die hele kompleks te sien.

DEUR die jare heen het ondervindinge soos dié my hart verbly en my vertroue versterk dat die liefde wat Christus gesê het sy ware volgelinge sou identifiseer, in die Christelike broederskap van Jehovah se Getuies bestaan (Johannes 13:35; 1 Petrus 2:17). Kom ek vertel jou hoe ek in 1931 met hierdie Christene kennis gemaak het—die jaar toe hulle aangekondig het dat hulle voortaan onder die Bybelse naam Jehovah se Getuies bekend wil staan.—Jesaja 43:12.

Vroeë bediening in Afrika

In November 1931 was ek 22 jaar oud en het ek in Kitwe, in die Koperstreek van Noord-Rhodesië (nou Zambië), gewoon. ’n Vriend saam met wie ek sokker gespeel het, het my aan die Getuies voorgestel. Ek het ’n paar van hulle vergaderinge bygewoon en aan die takkantoor in Kaapstad geskryf en die Bybelstudiehulp Die harp van God aangevra. a Die boek was in Engels, en dit was vir my moeilik om te verstaan, want my Engels was nie baie goed nie.

Baie mense uit ander provinsies het op die kopermyne in die Koperstreek gewerk, wat sowat 240 kilometer suidwes is van die Bangweulu-meer, waar ek grootgeword het. Etlike groepe Getuies het gereeld daar vergader vir Bybelstudie. Na ’n ruk het ek uit Kitwe na die nabygeleë dorp Ndola getrek en met ’n groep Getuies daar begin omgaan. Destyds was ek die kaptein van ’n sokkerspan wat Prince of Wales genoem is. Ek het ook as ’n huisbediende gewerk vir ’n blanke bestuurder van die African Lakes Corporation, ’n maatskappy wat ’n winkelketting in Sentraal-Afrika besit het.

Ek het nie baie skoolopleiding gehad nie, en die bietjie Engels wat ek kon verstaan, het ek geleer by blankes vir wie ek gewerk het. Maar ek wou graag verder leer en het aansoek gedoen om by ’n skool in Plumtree, Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe), ingeskryf te word. Intussen het ek egter ’n tweede keer aan die takkantoor in Kaapstad geskryf. Ek het hulle laat weet dat ek Die harp van God gekry het en dat ek Jehovah voltyds wou dien.

Ek was verras toe ek hulle antwoord kry, wat gesê het: “Ons waardeer jou begeerte om Jehovah te dien. Ons wil jou aanmoedig om dit ’n saak van gebed te maak, en Jehovah sal jou help om ’n beter begrip van die waarheid te kry, en hy sal vir jou ’n plek vind om hom te dien.” Nadat ek die brief etlike kere gelees het, het ek ’n paar Getuies gevra wat ek moet doen. Hulle het gesê: “As dit werklik jou begeerte is om Jehovah te dien, moet jy dit sommer dadelik begin doen.”

Ek het ’n hele week lank oor die saak gebid en eindelik besluit om nie verder te leer nie en my Bybelstudie met die Getuies voort te sit. Die volgende jaar, in Januarie 1932, het ek my toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer. Nadat ek uit Ndola na die nabygeleë stad Luanshya getrek het, het ek Jeanette, ’n medegelowige, ontmoet, en ons is in September 1934 getroud. Toe ons getrou het, het Jeanette reeds ’n seun en ’n dogter gehad.

Ek het geleidelik geestelike vooruitgang gemaak, en in 1937 het ek die voltydse bediening betree. Kort daarna is ek aangestel as ’n reisende bedienaar, wat nou ’n kringopsiener genoem word. Reisende opsieners besoek gemeentes van Jehovah se Getuies om hulle geestelik te versterk.

Die predikingswerk in die vroeë jare

In Januarie 1938 is ek na ’n hoofman met die naam Sokontwe gestuur, wat gevra het dat Jehovah se Getuies hom moet kom besoek. Ek het drie dae per fiets gery om by hom uit te kom. Toe ek vir hom sê dat ek in antwoord op sy brief aan ons kantoor in Kaapstad gestuur is, het hy dit werklik waardeer.

Ek het van hut tot hut gegaan en sy mense na die insaka (openbare hut) genooi. Toe hulle vergader het, het ek met die groep gepraat. As gevolg daarvan is baie Bybelstudies begin. Die hoofman en sy klerk was die eerstes wat daar opsieners van gemeentes geword het. Vandag is daar meer as 50 gemeentes in daardie gebied, wat nou as die Samfya-streek bekend staan.

Van 1942 tot 1947 het ek in die gebied om die Bangweulu-meer gedien. Ek het tien dae saam met elke gemeente deurgebring. Aangesien daar destyds min werkers was wat aan die geestelike oeswerk deelgeneem het, het ons net soos ons Heer, Jesus Christus, gevoel toe hy gesê het: “Ja, die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek dan die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matteus 9:36-38). In daardie vroeë dae was dit moeilik om te reis, en daarom het Jeanette gewoonlik in Luanshya by die kinders gebly terwyl ek gemeentes besoek het. Teen daardie tyd het ek en Jeanette nog twee kinders gehad, maar die een het op tien maande gesterf.

Motors was destyds nie so algemeen nie en paaie natuurlik ook nie. Eendag het ek Jeanette se fiets geneem en op ’n reis van meer as 200 kilometer vertrek. Wanneer ek ’n kleinerige rivier moes oorsteek, het ek soms die fiets op my skouers getel, dit met een hand vasgehou en die ander hand gebruik om te swem. Terloops, die aantal Getuies in Luanshya het dramaties toegeneem, en in 1946 het 1 850 die herdenking van Christus se dood bygewoon.

Teenstand teen ons werk

By een geleentheid gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die streekkommissaris in Kawambwa my ontbied en gesê: “Ek wil hê jy moet ophou om die boeke van die Wagtoringgenootskap te gebruik, want hierdie boeke is nou verbied. Maar ek kan jou gee wat jy nodig het om ander boeke te skryf wat jy in jou werk kan gebruik.”

“Ek is tevrede met die lektuur wat ons het”, het ek geantwoord. “Ek het niks anders nodig nie.”

“Jy ken nie die Amerikaners nie”, het hy gesê (ons lektuur is destyds in die Verenigde State gedruk). “Hulle sal jou mislei.”

“Nie dié met wie ek te doen het nie”, was my antwoord.

Toe het hy gevra: “Kan jy nie julle gemeentes aanmoedig om soos die ander godsdienste geld te skenk om die oorlog te ondersteun nie?”

“Dit is die werk van boodskappers van die regering”, het ek geantwoord.

“Gaan huis toe en dink ’n bietjie daaroor”, het hy gesê.

“In Eksodus 20:13 en 2 Timoteus 2:24 beveel die Bybel ons om nie moord te pleeg of te veg nie”, was my antwoord.

Hoewel ek toegelaat is om huis toe te gaan, is ek later ontbied deur die streekkommissaris in Fort Rosebery, ’n dorp wat nou Mansa genoem word. “Ek het jou hierheen laat kom om jou in kennis te stel dat die regering julle boeke verbied het”, het hy gesê.

“Ja. Ek het so iets gehoor”, het ek gesê.

“Jy moet nou na al julle gemeentes toe gaan en vir die mense wat saam met jou aanbid, sê dat hulle al die boeke hierheen moet bring. Verstaan jy?”

“Dit is nie my werk nie”, het ek geantwoord. “Dit is die verantwoordelikheid van boodskappers van die regering.”

’n Ontmoeting wat vrugte afgewerp het

Ná die oorlog het ons aangehou om die predikingswerk te doen. In 1947 het ek, net ná my besoek aan ’n gemeente in die dorpie Mwanza, gevra waar ek ’n koppie tee kan kry. Ek is na die huis van mnr. Nkonde gestuur, waar daar ’n teekamer was. Mnr. Nkonde en sy vrou het my gasvry ontvang. Ek het vir mnr. Nkonde gevra of hy die hoofstuk “Hel, ’n plek van rus in hoop” in die boek “Laat God waaragtig wees” sal lees terwyl ek my tee drink.

“Hoe verstaan jy die hel?” het ek gevra nadat ek my tee klaar gedrink het. Omdat hy verwonderd was oor wat hy gelees het, het hy die Bybel saam met die Getuies begin studeer, en hy en sy vrou is later gedoop. Hoewel hy nie ’n Getuie gebly het nie, het sy vrou en ’n aantal van sy kinders getrou gebly. Trouens, een van sy kinders, Pilney, dien nog steeds by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Zambië. En al is Pilney se ma nou al redelik bejaard, is sy nog steeds ’n getroue Getuie.

’n Smakie van Oos-Afrika

Ons takkantoor in Noord-Rhodesië, wat vroeg in 1948 in Lusaka geopen is, het my na Tanganjika (nou Tanzanië) gestuur. ’n Ander Getuie het die reis te voet saam met my en my vrou deur die bergagtige terrein aangepak. Die reis het drie dae geduur en was baie uitputtend. Terwyl ek die boeke gedra het, het my vrou ons klere gedra, en die ander Getuie het ons beddegoed gedra.

Toe ons in Maart 1948 in Mbeya aangekom het, was daar baie werk wat gedoen moes word om die broers te help om aanpassings te maak sodat hulle Bybelleerstellings in groter mate kon toepas. Om maar een ding te noem, ons het in daardie gebied as die Wagtoringmense bekend gestaan. Hoewel die broers die naam Jehovah se Getuies aangeneem het, is dit nie in die openbaar bekend gemaak nie. Daarbenewens moes party Getuies sekere gebruike met betrekking tot die verering van die dooies laat vaar. Maar vir baie was die moeilikste aanpassing moontlik om hulle huwelik wetlik te registreer, sodat dit voor almal eerbaar kon wees.—Hebreërs 13:4.

Later het ek die voorreg gehad om in ander gebiede in Oos-Afrika te dien, onder andere Uganda. Ek het sowat ses weke in Entebbe en Kampala deurgebring, waar baie gehelp is om kennis van Bybelwaarheid op te doen.

Uitnodiging na New York

Nadat ek ’n ruk in Uganda gedien het, het ek vroeg in 1956 in Dar es Salaam, die hoofstad van Tanganjika, aangekom. Daar het ’n brief van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies vir my gewag. Dit het gesê dat ek voorbereidings moes tref om na New York te gaan en ’n internasionale byeenkoms by te woon wat van 27 Julie tot 3 Augustus 1958 gehou sou word. Ek hoef seker nie te sê hoe opgewonde ek daaroor was nie.

Toe die tyd aangebreek het om te vertrek, het ek en ’n ander reisende opsiener, Luka Mwango, van Ndola na Salisbury (nou Harare), Suid-Rhodesië, gevlieg en van daar af na Nairobi, Kenia. Daarvandaan het ons na Londen, Engeland, gevlieg, waar ons hartlik ontvang is. Toe ons die eerste aand ná ons aankoms in Engeland bed toe gegaan het, was ons opgewonde en kon ons nie uitgepraat raak oor hoe gasvry die wit mense ons as Afrikane ontvang het nie. Hierdie ondervinding het ons baie aangemoedig.

Uiteindelik het ons in New York aangekom, waar die byeenkoms gehou is. Een dag gedurende die byeenkoms het ek ’n verslag oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Noord-Rhodesië aangebied. Daardie dag was daar byna 200 000 in die gehoor wat by die Polo-terrein en Yankee-stadion in die stad New York vergader het. Ek kon daardie aand nie slaap nie omdat ek die hele tyd gedink het aan die wonderlike voorreg wat ek geniet het.

Die byeenkoms was alte gou verby en ons het weer huis toe gegaan. Op pad terug het ons weer eens die liefdevolle gasvryheid van ons broers en susters in Engeland geniet. Die eenheid van Jehovah se volk, ongeag ras of nasionaliteit, is gedurende daardie reis op onvergeetlike wyse aan ons getoon!

Voortgesette diens en beproewinge

In 1967 is ek aangestel as ’n streekkneg—’n bedienaar wat van kring tot kring reis. Teen daardie tyd was daar meer as 35 000 Getuies in Zambië. Later is ek, as gevolg van swak gesondheid, weer as ’n kringopsiener in die Koperstreek aangestel. Jeanette het later gesondheidsprobleme ontwikkel, en in Desember 1984 het sy getrou aan Jehovah gesterf.

Ná haar dood was ek diep seergemaak toe my ongelowige skoonfamilie my daarvan beskuldig het dat ek haar dood veroorsaak het deur van towery gebruik te maak. Maar party wat van Jeanette se siekte geweet het en met haar dokter gepraat het, het die ware toedrag van sake aan hierdie familielede verduidelik. Toe het ’n verdere beproewing gekom. Party familielede wou hê dat ek die tradisionele gebruik moes volg wat ukupyanika genoem word. In die gebied waar ek vandaan kom, vereis hierdie gebruik dat, wanneer ’n huweliksmaat sterf, die oorlewende huweliksmaat met ’n naverwant van die oorledene geslagsomgang moet hê. Ek het natuurlik geweier.

Mettertyd het die druk van die familie tot ’n einde gekom. Ek was dankbaar dat Jehovah my gehelp het om standvastig te bly. ’n Maand ná my vrou se begrafnis het een broer na my toe gekom en gesê: “Broer Kangale, jy was vir ons regtig ’n aanmoediging toe jou vrou oorlede is, want jy het nie voor een onchristelike tradisie geswig nie. Ons wil vir jou baie dankie sê.”

’n Wonderlike oes

Dit is nou 65 jaar vandat ek my voltydse bediening as een van Jehovah se Getuies begin het. Wat ’n vreugde was dit tog vir my om gedurende daardie tyd te sien hoe honderde gemeentes gestig word en baie Koninkryksale gebou word in plekke waar ek vroeër as reisende opsiener gedien het! Van die sowat 2 800 Getuies in 1943 het ons nou tot meer as 122 000 Koninkryksverkondigers in Zambië toegeneem. En meer as 514 000 het verlede jaar die Gedenkmaal bygewoon in hierdie land, wat ’n bevolking van minder as 11 miljoen het.

Intussen sorg Jehovah goed vir my. Wanneer ek mediese sorg nodig het, neem ’n Christenbroer my hospitaal toe. Gemeentes vra my nog steeds om openbare toesprake te hou, en dit is vir my baie aanmoedigend. Die gemeente waarmee ek omgaan, reël dat Christensusters beurte maak om my huis skoon te maak, en broers bied aan om my elke week vir die vergaderinge te kom haal. Ek weet dat ek nooit sulke liefdevolle sorg sou geniet het as ek Jehovah nie gedien het nie. Ek dank hom dat hy my nog steeds in die voltydse bediening gebruik en vir al die verantwoordelikhede wat ek tot nou toe kon dra.

My oë het swak geword, en wanneer ek na die Koninkryksaal toe loop, moet ek ’n paar keer langs die pad rus. My boeksak voel deesdae vir my swaarder, en daarom maak ek dit ligter deur die boeke uit te haal wat ek nie by die vergadering gaan nodig kry nie. My veldbediening bestaan hoofsaaklik uit Bybelstudies wat ek met mense hou wat na my huis toe kom. Maar hoeveel vreugde verskaf dit my tog wanneer ek terugkyk op die jare en dink aan die wonderlike groei wat plaasgevind het! Ek het in ’n gebied gedien waar Jehovah se woorde in Jesaja 60:22 in ’n uitsonderlike mate vervul is. Dit sê daar: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.” Ja, ek het in my lewe gesien hoe dit nie net in Zambië nie, maar in die hele wêreld gebeur. b

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.

b Ongelukkig het broer Kangale se kragte ingegee, en hy het getrou gesterf terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is.

[Prente op bladsy 24]

Thomson met die Zambiese takkantoor op die agtergrond

[Prent op bladsy 26]

Die Zambiese takkantoor vandag