Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christene aanbid met gees en waarheid

Christene aanbid met gees en waarheid

Christene aanbid met gees en waarheid

“God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid.”—JOHANNES 4:24.

1. Watter soort aanbidding behaag God?

 JEHOVAH se enigverwekte Seun, Jesus Christus, het geen twyfel laat bestaan oor watter aanbidding sy hemelse Vader behaag nie. Terwyl Jesus ’n hartverblydende getuienis vir ’n Samaritaanse vrou by ’n put naby die stad Sigar gegee het, het hy gesê: “Julle aanbid wat julle nie ken nie; ons aanbid wat ons ken, want redding het sy oorsprong by die Jode. Maar die uur kom, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader met gees en waarheid sal aanbid, want die Vader soek inderdaad sulke mense om hom te aanbid. God is ’n Gees, en dié wat hom aanbid, moet met gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:22-24). Hoe moet ons hierdie woorde verstaan?

2. Waarop het die Samaritane hulle aanbidding gegrond?

2 Die Samaritane het valse godsdiensbeskouings gehad. Hulle het net die eerste vyf boeke van die Heilige Skrif as geïnspireerd aanvaar—en dit net in hulle eie hersiene uitgawe, wat die Samaritaanse Pentateug genoem is. In teenstelling met die Samaritane wat God nie werklik geken het nie, is skriftuurlike kennis aan die Jode toevertrou (Romeine 3:1, 2). Dit was vir getroue Jode en ander moontlik om Jehovah se guns te geniet. Maar wat sou dit van hulle vereis?

3. Wat is belangrik as ons God “met gees en waarheid” wil aanbid?

3 Wat moes Jode, Samaritane en ander destyds doen om Jehovah te behaag? Hulle moes hom “met gees en waarheid” aanbid. En ons moet ook. Diens aan God moet weliswaar met geesdrif, of ywer, verrig word en uit ’n hart vol liefde en geloof spruit, maar as ons God met gees wil aanbid, is dit veral belangrik dat sy heilige gees met ons moet wees en dat ons moet toelaat dat dit ons lei. Deur studie en die toepassing van God se Woord moet ons gees, of geesteshouding, in ooreenstemming met syne gebring word (1 Korintiërs 2:8-12). Ons aanbidding van Jehovah moet ook met waarheid beoefen word om vir hom aanneemlik te wees. Dit moet ooreenstem met wat God se Woord, die Bybel, oor hom en sy voornemens openbaar.

Waarheid kan gevind word

4. Hoe beskou party mense waarheid?

4 Sekere studente van filosofie huldig die mening dat absolute waarheid nie binne die mens se bereik is nie. Trouens, die Sweedse skrywer Alf Ahlberg het geskryf: “Baie filosofiese vrae is van so ’n aard dat dit nie moontlik is om ’n presiese antwoord daarop te gee nie.” Is daar werklik net relatiewe waarheid, soos party sê? Nie volgens Jesus Christus nie.

5. Waarom het Jesus in die wêreld ingekom?

5 Kom ons stel ons voor dat ons die volgende toneel sien: Dit is vroeg in die jaar 33 G.J., en Jesus staan voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus. Jesus sê vir Pilatus: “Hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig.” Pilatus vra: “Wat is waarheid?” Maar hy wag nie vir Jesus se verdere kommentaar nie.—Johannes 18:36-38.

6. (a) Hoe word “waarheid” omskryf? (b) Watter opdrag het Jesus sy volgelinge gegee?

6 “Waarheid” word omskryf as “die versameling van ware dinge, gebeure en feite” (Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary). Maar het Jesus van waarheid in die algemeen getuig? Nee. Hy het ’n spesifieke waarheid in gedagte gehad. Hy het sy volgelinge opdrag gegee om hierdie waarheid te verkondig, want hy het vir hulle gesê: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Voor die einde van hierdie stelsel van dinge sal Jesus se ware volgelinge “die waarheid van die goeie nuus” oor die hele aarde verkondig (Galasiërs 2:14). Dit sal gedoen word ter vervulling van Jesus se woorde: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Dit is dus noodsaaklik dat ons diegene identifiseer wat al die nasies die waarheid leer deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.

Hoe ons die waarheid kan leer

7. Hoe sal jy bewys dat Jehovah die Bron van waarheid is?

7 Jehovah is die Bron van geestelike waarheid. Trouens, die psalmis Dawid het Jehovah “die God van waarheid” genoem (Psalm 31:5; 43:3). Jesus het erken dat sy Vader se woord die waarheid is, en hy het ook gesê: “Daar staan in die Profete geskrywe: ‘En hulle sal almal deur Jehovah geleer word.’ Elkeen wat by die Vader gehoor het en wat geleer het, kom na my toe” (Johannes 6:45; 17:17; Jesaja 54:13). Dit is dus duidelik dat diegene wat na die waarheid soek, deur Jehovah, die Grootse Onderrigter, geleer moet word (Jesaja 30:20, 21). Waarheidsoekers moet “die kennis van God” verkry (Spreuke 2:5). En Jehovah het die waarheid liefdevol op verskillende maniere aan ander geleer of oorgedra.

8. Op watter maniere het God die waarheid aan ander geleer of oorgedra?

8 God het die Wet byvoorbeeld deur middel van engele aan die Israeliete oorgedra (Galasiërs 3:19). In drome het hy seëninge aan die aartsvaders Abraham en Jakob beloof (Genesis 15:12-16; 28:10-19). God het selfs uit die hemel gepraat, soos toe Jesus gedoop is en hierdie treffende woorde op die aarde gehoor is: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Ons kan ook dankbaar wees dat God die waarheid oorgedra het deur die Bybelskrywers te inspireer (2 Timoteus 3:16, 17). Deur God se Woord te bestudeer, kan ons dus “geloof in die waarheid” stel.—2 Tessalonisense 2:13.

Die waarheid en God se Seun

9. Hoe het God sy Seun gebruik om die waarheid te openbaar?

9 God het veral sy Seun, Jesus Christus, gebruik om die waarheid aan die mensdom te openbaar (Hebreërs 1:1-3). Trouens, Jesus het die waarheid gepraat soos geen ander mens dit ooit gedoen het nie (Johannes 7:46). Selfs ná sy hemelvaart het hy die waarheid geopenbaar wat van sy Vader kom. Die apostel Johannes het byvoorbeeld “’n openbaring deur Jesus Christus, wat God hom gegee het, om vir sy slawe die dinge te toon wat binnekort moet plaasvind”, ontvang.—Openbaring 1:1-3.

10, 11. (a) Waarmee hou die waarheid waarvan Jesus getuig het verband? (b) Hoe het Jesus die waarheid ’n werklikheid laat word?

10 Jesus het vir Pontius Pilatus gesê dat Hy aarde toe gekom het om van die waarheid te getuig. Gedurende Jesus se bediening het hy getoon dat hierdie waarheid verband gehou het met die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit deur middel van God se Koninkryk met Christus as Koning. Maar om van die waarheid te getuig, het meer van Jesus vereis as om te preek en te onderrig. Jesus het daardie waarheid ’n werklikheid laat word deur dit te vervul. Gevolglik het die apostel Paulus geskryf: “Laat niemand julle dan in verband met eet en drink of met betrekking tot ’n fees of ’n viering van die nuwemaan of van ’n sabbat oordeel nie; want dié dinge is ’n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die werklikheid behoort aan die Christus.”—Kolossense 2:16, 17.

11 Een manier waarop die waarheid ’n werklikheid geword het, was deur Jesus se voorspelde geboorte in Betlehem (Miga 5:2; Lukas 2:4-11). Die waarheid het ook ’n werklikheid geword toe Daniël se profetiese woorde oor die Messias se verskyning aan die einde van 69 ‘weke van jare’ vervul is. Dit het gebeur toe Jesus hom op presies die regte tyd, in 29 G.J., by sy doop vir God aangebied het en met heilige gees gesalf is (Daniël 9:25; Lukas 3:1, 21, 22). Die waarheid het verder ’n werklikheid geword deur Jesus se leersame bediening as ’n verkondiger van die Koninkryk (Jesaja 9:1, 2, 6, 7; 61:1, 2; Matteus 4:13-17; Lukas 4:18-21). Dit het ook deur sy dood en opstanding ’n werklikheid geword.—Psalm 16:8-11; Jesaja 53:5, 8, 11, 12; Matteus 20:28; Johannes 1:29; Handelinge 2:25-31.

12. Waarom kon Jesus sê: ‘Ek is die waarheid’?

12 Aangesien die waarheid om Jesus Christus gedraai het, kon hy sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Mense word geestelik vrygemaak wanneer hulle hulle “aan die kant van die waarheid” skaar deur Jesus se rol in God se voorneme te aanvaar (Johannes 8:32-36; 18:37). Omdat skaapgeaardes die waarheid aanneem en Christus in geloof volg, sal hulle die ewige lewe kry.—Johannes 10:24-28.

13. Op watter drie gebiede sal ons skriftuurlike waarheid ondersoek?

13 Die versameling waarhede wat deur Jesus en sy geïnspireerde dissipels oorgedra is, is die ware Christelike geloof. En diegene wat “aan die geloof gehoorsaam” is, “[gaan voort] om in die waarheid te wandel” (Handelinge 6:7; 3 Johannes 3, 4). Wie wandel dan vandag in die waarheid? Wie leer werklik al die nasies die waarheid? Om hierdie vrae te beantwoord, sal ons na die vroeë Christene kyk en skriftuurlike waarheid ondersoek met betrekking tot (1) oortuigings, (2) manier van aanbidding en (3) persoonlike gedrag.

Die waarheid en oortuigings

14, 15. Wat sal jy sê van die vroeë Christene en Jehovah se Getuies se gesindheid teenoor die Skrif?

14 Die vroeë Christene het groot agting vir Jehovah se geskrewe Woord gehad (Johannes 17:17). Dit was die maatstaf vir hulle oortuigings en gebruike. Klemens van Aleksandrië van die tweede en derde eeu het gesê: “Diegene wat voortreflikheid nastreef, sal nie ophou soek na waarheid totdat hulle in die Skrif bewys gevind het vir wat hulle glo nie.”

15 Soos die vroeë Christene het Jehovah se Getuies groot agting vir die Bybel. Hulle glo dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is om te onderrig’ (2 Timoteus 3:16). Kom ons bespreek dus ’n paar oortuigings van die vroeë Christene aan die hand van wat Jehovah se hedendaagse knegte geleer het omdat hulle die Bybel as hulle vernaamste handboek gebruik.

Die waarheid oor die siel

16. Wat is die waarheid oor die siel?

16 Omdat die eerste Christene geglo het wat in die Skrif gesê word, het hulle ander die waarheid oor die siel geleer. Hulle het geweet dat “die mens . . . ’n lewende siel geword” het toe God hom geskep het (Genesis 2:7). En hulle het erken dat die mensesiel sterf (Esegiël 18:4; Jakobus 5:20). Hulle het ook geweet dat ‘die dooies bewus is van hoegenaamd niks’.—Prediker 9:5, 10.

17. Hoe sal jy die hoop vir die dooies verduidelik?

17 Maar Jesus se vroeë dissipels het die vaste hoop gehad dat die dooies wat in God se geheue is, opgewek sou word, of weer sou lewe. Hierdie oortuiging is goed uitgedruk deur Paulus, wat gesê het: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Nog later het die verklaarde Christen Minucius Felix geskryf: “Wie is so dom of dwaas om te durf sê dat die mens, wat oorspronklik deur God gevorm is, nie weer opnuut deur hom gemaak kan word nie?” Soos die eerste Christene hou Jehovah se Getuies by die skriftuurlike waarheid oor die mensesiel, die dood en die opstanding. Kom ons bespreek nou die identiteit van God en Christus.

Die waarheid en die Drie-eenheid

18, 19. Waarom kan daar gesê word dat die Drie-eenheid nie ’n skriftuurlike leerstelling is nie?

18 Die vroeë Christene het God, Christus en die heilige gees nie as ’n Drie-eenheid beskou nie. The Encyclopædia Britannica sê: “Nie die woord Drie-eenheid of die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor nie, en Jesus en sy volgelinge wou ook nie die Sjema [’n Hebreeuse gebed] in die Ou Testament, ‘Hoor, o Israel: die Here onse God is ’n enige Here’, weerspreek nie (Deut. 6:4).” Christene het nie die Romeinse triade of enige ander gode aanbid nie. Hulle het Jesus se stelling aanvaar dat Jehovah alleen aanbid moet word (Matteus 4:10). En hulle het Christus se woorde geglo: “Die Vader is groter as ek” (Johannes 14:28). Getuies van Jehovah het vandag dieselfde beskouing.

19 Jesus se vroeë volgelinge het ’n duidelike onderskeid getref tussen God, Christus en die heilige gees. Trouens, hulle het dissipels gedoop (1) in die naam van die Vader, (2) in die naam van die Seun en (3) in die naam van die heilige gees, nie in die naam van ’n Drie-eenheid nie. Jehovah se Getuies leer ander eweneens skriftuurlike waarheid en tref gevolglik ’n onderskeid tussen God, sy Seun en die heilige gees.—Matteus 28:19.

Die waarheid en doop

20. Watter kennis moet doopkandidate hê?

20 Jesus het sy volgelinge opdrag gegee om dissipels te maak deur mense die waarheid te leer. Om gedoop te kan word, moet hulle ’n basiese kennis van die Skrif hê. Hulle moet byvoorbeeld die posisie en gesag van die Vader en van sy Seun, Jesus Christus, erken (Johannes 3:16). Doopkandidate moet ook verstaan dat die heilige gees nie ’n persoon is nie, maar God se werkende krag.—Genesis 1:2, voetnoot in NW.

21, 22. Waarom sal jy sê dat doop vir gelowiges is?

21 Die vroeë Christene het net ingeligte en berouvolle persone gedoop wat hulle onvoorwaardelik aan God toegewy het om sy wil te doen. Jode en proseliete wat op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem vergader het, het reeds kennis van die Hebreeuse Geskrifte gehad. Nadat hulle die apostel Petrus oor Jesus, die Messias, hoor praat het, het sowat 3 000 “sy woord van harte aangeneem” en ‘is hulle gedoop’.—Handelinge 2:41; 3:19–4:4; 10:34-38.

22 Christelike doop is vir gelowiges. Mense in Samaria het die waarheid aangeneem, en “toe hulle Filippus glo, wat die goeie nuus van die koninkryk van God en van die naam van Jesus Christus bekend gemaak het, is hulle gedoop, manne sowel as vroue” (Handelinge 8:12). As ’n vroom proseliet wat kennis van Jehovah gehad het, het die Etiopiese eunug eers aanvaar wat Filippus oor die vervulling van Messiaanse profesieë gesê het, en toe is hy gedoop (Handelinge 8:34-36). Later het Petrus vir Kornelius en ander nie-Jode gesê dat “die mens wat [God] vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” is en dat elkeen wat geloof in Jesus Christus stel, vergifnis van sondes kry (Handelinge 10:35, 43; 11:18). Dit alles stem ooreen met Jesus se bevel om ‘dissipels te maak en hulle te leer om alles te onderhou wat hy beveel het’ (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8). Jehovah se Getuies handhaaf dieselfde standaard en laat net diegene gedoop word wat ’n basiese kennis van die Skrif het en hulle aan God toegewy het.

23, 24. Wat is die regte manier waarop die Christelike doop uitgevoer word?

23 Algehele onderdompeling in water is die regte manier om gelowiges te doop. Nadat Jesus in die Jordaanrivier gedoop is, het hy “uit die water” opgekom (Markus 1:10). Toe die Etiopiese eunug gedoop is, het hy en Filippus “in die water afgeklim” en daarna “uit die water” opgekom (Handelinge 8:36-40). Die feit dat doop in die Skrif met begrawing in simboliese sin verbind word, dui ook op algehele onderdompeling in water.—Romeine 6:4-6; Kolossense 2:12.

24 The Oxford Companion to the Bible sê: “Die beskrywing van bepaalde gevalle waar iemand in die Nuwe Testament gedoop is, toon dat die dopeling onder die water gedompel is.” Volgens die Franse werk Larousse du XXe Siècle (Parys, 1928) “is die eerste Christene deur onderdompeling gedoop oral waar water gevind is”. En die boek After Jesus—The Triumph of Christianity sê: “In sy eenvoudigste vorm het [doop] ’n geloofsbelydenis deur die kandidaat vereis, gevolg deur algehele onderdompeling in water in die naam van Jesus.”

25. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

25 Die voorgaande punte oor die Bybelse oortuigings en gebruike van die eerste Christene is bloot voorbeelde. Ander vergelykings kan getref word tussen hulle oortuigings en dié van Jehovah se Getuies. In die volgende artikel sal ons nog maniere bespreek om diegene te identifiseer wat mense die waarheid leer.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter soort aanbidding word deur God vereis?

• Hoe het die waarheid deur middel van Jesus Christus ’n werklikheid geword?

• Wat is die waarheid oor die siel en die dood?

• Hoe word Christene gedoop, en wat word van doopkandidate vereis?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 16]

Jesus het vir Pilatus gesê: ‘Ek het gekom om van die waarheid te getuig’

[Prent op bladsy 17]

Kan jy verduidelik waarom Jesus gesê het: ‘Ek is die waarheid’?

[Prent op bladsy 18]

Wat is die waarheid oor Christelike doop?