Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle hou aan om in die waarheid te wandel

Hulle hou aan om in die waarheid te wandel

Hulle hou aan om in die waarheid te wandel

“Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.”—3 JOHANNES 4.

1. Wat is die spil waarom “die waarheid van die goeie nuus” draai?

 JEHOVAH keur net diegene goed wat hom “met gees en waarheid” aanbid (Johannes 4:24). Hulle gehoorsaam die waarheid en aanvaar die hele versameling Christelike leringe wat op God se Woord gegrond is. Jesus Christus en die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit deur middel van die Koninkryk is die spil waarom hierdie “waarheid van die goeie nuus” draai (Galasiërs 2:14). God laat “’n werking van dwaling” gaan na diegene wat leuens verkies, maar redding hang daarvan af of ’n mens geloof in die goeie nuus stel en in die waarheid wandel.—2 Tessalonisense 2:9-12; Efesiërs 1:13, 14.

2. Waarvoor was die apostel Johannes besonder dankbaar, en wat was sy verhouding met Gajus?

2 Koninkryksverkondigers is “medewerkers in die waarheid”. Soos die apostel Johannes en sy vriend Gajus hou hulle onwrikbaar by die waarheid en wandel hulle daarin. Met Gajus in gedagte het Johannes geskryf: “Ek het geen groter rede tot dankbaarheid as hierdie dinge nie, dat ek hoor dat my kinders voortgaan om in die waarheid te wandel” (3 Johannes 3-8). Selfs as die bejaarde Johannes nie vir Gajus die waarheid geleer het nie, was dit weens die apostel se gevorderde leeftyd, Christelike volwassenheid en vaderlike geneentheid gepas dat hierdie man, wat waarskynlik jonger was, as een van Johannes se geestelike kinders beskou is.

Die waarheid en Christelike aanbidding

3. Wat was die doel en nut van die vergaderinge wat die vroeë Christene gehou het?

3 Ten einde die waarheid te leer, het vroeë Christene as gemeentes bymekaargekom, dikwels in huise (Romeine 16:3-5). Hulle is gevolglik aangemoedig en het mekaar tot liefde en goeie werke aangespoor (Hebreërs 10:24, 25). Tertullianus (ca.155–ná 220 G.J.) het oor verklaarde Christene van later tye geskryf: “Ons kom bymekaar om die boeke van God te lees . . . Met hierdie heilige woorde voed ons ons geloof, versterk ons ons hoop, bevestig ons ons vertroue.”—Apology, hoofstuk 39.

4. Watter rol het sang by Christelike vergaderinge gespeel?

4 Sang het heel waarskynlik deel uitgemaak van die vroeë Christene se vergaderinge (Efesiërs 5:19; Kolossense 3:16). Volgens professor Henry Chadwick was die liedere van die verklaarde Christene, wat blykbaar melodies was, vir die tweede-eeuse kritikus Celsus “so mooi dat hy eintlik gegrief was oor die uitwerking wat dit op sy emosies gehad het”. Chadwick voeg by: “Klemens van Aleksandrië is die vroegste Christenskrywer wat bespreek watter soort musiek gepas is om deur Christene gebruik te word. Hy sê dat dit nie die soort moet wees wat met erotiese dansmusiek verbind word nie” (The Early Church, bladsye 274-5). Net soos die eerste Christene klaarblyklik gesing het wanneer hulle bymekaargekom het, sing Jehovah se Getuies dikwels liedere wat op die Bybel gegrond is en kragtige lofsange insluit wat God en die Koninkryk loof.

5. (a) Hoe is geestelike leiding in gemeentes van die vroeë Christene voorsien? (b) Hoe het ware Christene Jesus se woorde in Matteus 23:8, 9 toegepas?

5 In die gemeentes van die vroeë Christene het opsieners onderrigting in die waarheid gegee, en bedieningsknegte het medegelowiges op verskillende maniere gehelp (Filippense 1:1). ’n Bestuursliggaam wat op God se Woord en heilige gees vertrou het, het geestelike leiding voorsien (Handelinge 15:6, 23-31). Godsdienstitels is nie gebruik nie, want Jesus het sy dissipels beveel: “Moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel” (Matteus 23:8, 9). In hierdie en baie ander opsigte is daar ooreenkomste tussen die vroeë Christene en Jehovah se Getuies.

Vervolg omdat hulle die waarheid verkondig

6, 7. Hoe is ware Christene behandel, al verkondig hulle ’n vreedsame boodskap?

6 Hoewel die vroeë Christene die vreedsame Koninkryksboodskap verkondig het, is hulle, soos Jesus, vervolg (Johannes 15:20; 17:14). Die geskiedkundige John L. von Mosheim het van eerste-eeuse Christene gepraat as “’n groep mense met die onskadelikste, onskuldigste karakter, wat nooit ’n begeerte of gedagte in hulle omgedra het wat skadelik was vir die welsyn van die staat nie”. Dr. Mosheim het gesê dat “die Romeine geïrriteerd was met die Christene weens die eenvoud van hulle aanbidding, wat in geen opsig met die heilige ritusse van enige ander volk ooreengestem het nie”. Hy het bygevoeg: “Hulle het geen offerandes, tempels, beelde, orakels of priesterordes gehad nie; en dít was genoeg om hulle die smaad van ’n onkundige menigte op die hals te haal, wat hulle nie ’n godsdiens sonder hierdie ritusse kon voorstel nie. Hulle is dus in sekere sin as ateïste beskou; en volgens die Romeinse wette was dié wat van ateïsme aangekla kon word, die plaag van die samelewing genoem.”

7 Priesters, vakmanne en ander wat ’n bestaan uit afgodediens gemaak het, het die bevolking aangehits teen die Christene, wat nie aan afgodiese gebruike deelgeneem het nie (Handelinge 19:23-40; 1 Korintiërs 10:14). Tertullianus het geskryf: “Hulle glo dat die Christene die oorsaak is van elke ramp wat die Staat tref, van elke onheil wat oor die volk kom. As die Tiberrivier die mure bereik, as die Nyl nie genoeg styg om die landerye nat te lei nie, as die hemel nie reën gee nie, as die aarde skud, as daar hongersnood is, as daar ’n plaag is, is die uitroep dadelik: ‘Gooi die Christene vir die leeus!’” Wat die gevolge ook al is, ware Christene ‘bewaar hulle van afgode’.—1 Johannes 5:21.

Die waarheid en godsdiensvierings

8. Waarom vier diegene wat in die waarheid wandel, nie Kersfees nie?

8 Diegene wat in die waarheid wandel, vermy onskriftuurlike vierings, want ‘lig het geen deelgenootskap met duisternis’ nie (2 Korintiërs 6:14-18). Hulle vier byvoorbeeld nie Kersfees nie, wat op 25 Desember gehou word. “Niemand ken die presiese datum van Christus se geboorte nie”, erken The World Book Encyclopedia. The Encyclopedia Americana (1956-uitgawe) sê: “Saturnalieë, ’n Romeinse fees wat in die middel van Desember gevier is, was die lees waarop baie van die feestelike Kersgebruike geskoei is.” M’Clintock en Strong se Cyclopædia sê: “Die viering van Kersfees is nie ’n Goddelike instelling nie en het ook nie sy oorsprong in die N[uwe] T[estament] nie.” En die boek Daily Life in the Time of Jesus sê: “Die kuddes . . . het die winter onder dak deurgebring; en dit alleen toon dat die tradisionele datum vir Kersfees, in die winter, heel waarskynlik nie reg is nie, aangesien die Evangelie sê dat die herders in die oop veld was.”—Lukas 2:8-11.

9. Waarom het Jehovah se knegte van die verlede en die hede nie Paasfees gevier nie?

9 Paasfees is veronderstel om die opstanding van Christus te herdenk, maar gerespekteerde bronne verbind dit met valse aanbidding. Volgens The Westminster Dictionary of the Bible was Paasfees (wat in Engels “Easter” genoem word) “oorspronklik die lentefees ter ere van die Germaanse godin van lig en lente wat in Angel-Saksies as Eastre”, of Eostre, bekend gestaan het. Hoe dit ook al sy, die Encyclopædia Britannica (11de Uitgawe) sê: “Daar is geen aanduiding in die Nuwe Testament dat Paasfees gevier is nie.” Paasfees is nie deur die vroeë Christene gevier nie en dit word nie deur Jehovah se hedendaagse knegte gevier nie.

10. Watter herdenking het Jesus ingestel, en wie het daarby gehou?

10 Jesus het nie sy volgelinge beveel om sy geboorte of sy opstanding te herdenk nie, maar hy het wel die herdenking van sy offerdood ingestel (Romeine 5:8). Trouens, dit is die enigste gebeurtenis wat hy sy dissipels beveel het om te herdenk (Lukas 22:19, 20). Hierdie jaarlikse gebeurtenis, wat ook die Here se Aandmaal genoem word, word nog steeds deur Jehovah se Getuies herdenk.—1 Korintiërs 11:20-26.

Die waarheid word oor die hele aarde verkondig

11, 12. Hoe het diegene wat in die waarheid wandel, nog altyd hulle predikingswerk ondersteun?

11 Diegene wat die waarheid ken, beskou dit as ’n voorreg om hulle tyd, energie en ander middele te gebruik in die werk om die goeie nuus te verkondig (Markus 13:10). Die predikingswerk van die vroeë Christene is deur vrywillige bydraes ondersteun (2 Korintiërs 8:12; 9:7). Tertullianus het geskryf: “Selfs al is daar ’n geldkas, is die geld wat daarin gegooi word, nie toegangsgeld, asof godsdiens ’n saketransaksie is nie. Elkeen bring een keer per maand ’n beskeie bedrag—of net wanneer hy wil, en slegs as hy wil en as hy kan; want niemand staan onder verpligting nie; dit is ’n vrywillige bydrae.”—Apology, hoofstuk 39.

12 Die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk van Jehovah se Getuies word ook deur vrywillige bydraes ondersteun. Buiten die Getuies beskou waarderende belangstellendes dit as ’n voorreg om hierdie werk met hulle bydraes te ondersteun. Hier is nog ’n ooreenkoms tussen die eerste Christene en Jehovah se Getuies.

Die waarheid en persoonlike gedrag

13. Watter raad van Petrus oor gedrag volg Jehovah se Getuies?

13 As persone wat in die waarheid gewandel het, het die vroeë Christene die apostel Petrus se raad gehoorsaam: “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle praat as kwaaddoeners, as gevolg van julle goeie werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik” (1 Petrus 2:12). Jehovah se Getuies neem hierdie woorde ter harte.

14. Wat is die Christelike beskouing van onsedelike vermaak?

14 Selfs nadat afvalligheid wortelgeskiet het, het verklaarde Christene onsedelike bedrywighede vermy. W. D. Killen, professor van kerkgeskiedenis, het geskryf: “In die tweede en derde eeu was die teater in elke groot dorp ’n groot aantreklikheid; en terwyl die toneelspelers gewoonlik mense met uiters losse sedes was, was hulle toneelopvoerings voortdurend daarop gemik om die verdorwe luste van die tyd te bevredig. . . . Alle ware Christene het die teater met afkeer beskou. . . . Die onwelvoeglikheid daarvan het hulle met weersin vervul; en die voortdurende gebede tot die gode en godinne van die heidendom was aanstootlik vir hulle godsdiensoortuiging” (The Ancient Church, bladsye 318-19). Jesus se ware volgelinge van vandag vermy ook vorme van vermaak wat onwelvoeglik en sedelik verdorwe is.—Efesiërs 5:3-5.

Die waarheid en “die hoër owerhede”

15, 16. Wie is “die hoër owerhede”, en hoe het diegene wat in die waarheid wandel, hulle beskou?

15 Ondanks die goeie gedrag van die vroeë Christene het die meeste Romeinse keisers hulle verkeerd beoordeel. Die geskiedkundige E. G. Hardy sê dat die keisers hulle as “ietwat veragtelike yweraars” beskou het. ’n Briefwisseling tussen goewerneur Plinius die Jongere van Bitinië en keiser Trajanus toon dat die heersende klasse oor die algemeen nie bekend was met die ware karakter van die Christelike geloof nie. Hoe beskou Christene die Staat?

16 Soos Jesus se vroeë volgelinge toon Jehovah se Getuies relatiewe onderdanigheid aan die regerings, of “hoër owerhede” (Romeine 13:1-7). As die eise wat mense stel, met God se wil bots, neem hulle die standpunt in: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Die boek After Jesus—The Triumph of Christianity sê: “Al het Christene nie aan keiseraanbidding deelgeneem nie, was hulle nie oproermakers nie, en hoewel hulle godsdiens vir die heidene eienaardig en soms aanstootlik was, het dit geen wesenlike gevaar vir die ryk ingehou nie.”

17. (a) Van watter regering was die vroeë Christene voorstanders? (b) Hoe het ware volgelinge van Christus die woorde van Jesaja 2:4 in hulle lewe toegepas?

17 Die vroeë Christene was voorstanders van God se Koninkryk, net soos die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob geloof beoefen het in daardie beloofde ‘stad waarvan God die maker is’ (Hebreërs 11:8-10). Soos hulle Heer was Jesus se dissipels “geen deel van die wêreld nie” (Johannes 17:14-16). En wat menseoorloë en konflikte betref, het hulle vrede nagestreef deur ‘van hulle swaarde ploegskare te smee’ (Jesaja 2:4). ’n Lektor in kerkgeskiedenis, Geoffrey F. Nuttall, het ’n interessante ooreenkoms gesien en gesê: “Die vroeë Christene se gesindheid teenoor oorlog het meer ooreengekom met dié van die mense wat hulleself Jehovah se Getuies noem as wat ons graag wil erken.”

18. Waarom het geen regering enige rede om Jehovah se Getuies te vrees nie?

18 Omdat die eerste Christene neutraal en onderdanig aan “die hoër owerhede” was, was hulle geen bedreiging vir enige politieke liggaam nie, en Jehovah se Getuies is ook nie. “’n Mens moet ’n bevooroordeelde en paranoïese verbeelding hê om te glo dat Jehovah se Getuies enige bedreiging vir enige politieke stelsel inhou”, het ’n Noord-Amerikaanse hoofartikelskrywer geskryf. “Hulle is so nie-ondermynend en vredeliewend as wat ’n godsdiensgroep maar kan wees.” Ingeligte owerhede weet dat hulle Getuies van Jehovah beslis nie hoef te vrees nie.

19. Wat kan van die vroeë Christene en van Jehovah se Getuies gesê word wat belasting betref?

19 Een manier waarop die vroeë Christene eerbied vir “die hoër owerhede” getoon het, was deur hulle belasting te betaal. In ’n brief aan die Romeinse keiser Antoninus Pius (138-161 G.J.) het Justinus die Martelaar gesê dat Christene hulle belasting “geredeliker as alle mense” betaal het (First Apology, hoofstuk 17). En Tertullianus het vir Romeinse heersers gesê dat hulle belastinggaarders “aan Christene dank verskuldig was” omdat hulle pligsgetrou belasting betaal het (Apology, hoofstuk 42). Christene het baat gevind by die Pax Romana, of Romeinse Vrede, met sy wet en orde, goeie paaie en betreklik veilige seevaart. Hulle het besef dat hulle die gemeenskap iets verskuldig is en het Jesus se woorde gehoorsaam: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17). Jehovah se hedendaagse knegte volg hierdie raad en is al geprys vir hulle eerlikheid, soos met die betaling van belasting.—Hebreërs 13:18.

Die waarheid—’n verenigende band

20, 21. Wat was waar van die vroeë Christene en is ook waar van Jehovah se hedendaagse knegte wanneer dit by ’n vreedsame broederskap kom?

20 Omdat die vroeë Christene in die waarheid gewandel het, was hulle in ’n vreedsame broederskap verenig, net soos Jehovah se Getuies vandag is (Handelinge 10:34, 35). ’n Brief wat in The Moscow Times verskyn het, het gesê: “[Jehovah se Getuies is] bekend as baie gawe, goedhartige en sagmoedige mense wat baie maklik is om mee oor die weg te kom, nooit druk op ander mense uitoefen nie en altyd vrede nastreef in hulle verhouding met ander . . . Niemand onder hulle neem omkoopgeskenke aan of is ’n dronkaard of dwelmverslaafde nie, en die rede is baie eenvoudig: Hulle probeer net om deur hulle Bybelse oortuigings gerig te word in alles wat hulle doen of sê. As al die mense in die wêreld ten minste volgens die Bybel probeer lewe het soos Jehovah se Getuies probeer doen, sou ons wrede wêreld heeltemal anders gewees het.”

21 Die Encyclopedia of Early Christianity sê: “Die vroeë kerk het hom as een nuwe mensegemeenskap beskou waarin groepe wat mekaar voorheen vyandiggesind was, Jode en Heidene, as ’n verenigde groep in vrede kon saamlewe.” Jehovah se Getuies is ook ’n vredeliewende internasionale broederskap—waarlik ’n nuwewêreld-gemeenskap (Efesiërs 2:11-18; 1 Petrus 5:9; 2 Petrus 3:13). Toe die hoofveiligheidsbeampte by die Pretoria-Skouterrein gesien het hoe Getuies van alle rasse as byeenkomsgangers vreedsaam daar vergader het, het hy gesê: “Elkeen was en is beleefd, mense wat mooi met mekaar praat, die gesindheid wat die afgelope paar dae geopenbaar is—dit alles getuig van die kaliber van die lede van julle genootskap, en dat julle almal soos een gelukkige gesin saamlewe.”

Geseën omdat hulle ander die waarheid leer

22. Wat is die resultaat omdat Christene die waarheid openbaar gemaak het?

22 Deur hulle gedrag en predikingswerk het Paulus en ander Christene ‘die waarheid openbaar gemaak’ (2 Korintiërs 4:2). Stem jy nie saam dat Jehovah se Getuies dit ook doen en al die nasies die waarheid leer nie? Mense oor die hele aarde neem ware aanbidding aan en stroom in immer toenemende getalle na ‘die berg van Jehovah se huis’ (Jesaja 2:2, 3). Elke jaar word duisende as simbool van hulle toewyding aan God gedoop, en as gevolg daarvan word baie nuwe gemeentes gestig.

23. Hoe beskou jy diegene wat al die nasies die waarheid leer?

23 Al kom Jehovah se knegte uit verskillende agtergronde, is hulle verenig in ware aanbidding. Die liefde wat hulle openbaar, identifiseer hulle as Jesus se dissipels (Johannes 13:35). Kan jy sien dat ‘God werklik onder hulle is’? (1 Korintiërs 14:25). Het jy jou geskaar by diegene wat al die nasies die waarheid leer? Indien wel, mag jy dan voortdurend waardering toon vir die waarheid en die voorreg hê om vir ewig daarin te wandel.

Hoe sal jy antwoord?

• Watter ooreenkoms is daar tussen die vroeë Christene en Jehovah se Getuies wat hulle manier van aanbidding betref?

• Wat is die enigste godsdiensviering wat onderhou word deur diegene wat in die waarheid wandel?

• Wie is “die hoër owerhede”, en hoe beskou Christene hulle?

• Hoe is die waarheid ’n verenigende band?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 21]

Christelike vergaderinge was nog altyd ’n seën vir diegene wat in die waarheid wandel

[Prente op bladsy 23]

Jesus het sy volgelinge beveel om sy offerdood te herdenk

[Prent op bladsy 24]

Soos die vroeë Christene toon Jehovah se Getuies eerbied vir “die hoër owerhede”