Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding

Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding

Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding

“[Voeg] by julle geloof . . . volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid.”—2 PETRUS 1:5, 6.

1, 2. (a) Watter soort groei verwag ’n mens van ’n kind? (b) Hoe belangrik is dit om geestelik te groei?

 DIT is belangrik dat ’n kind groei, maar meer as fisiese groei is nodig. Hy moet ook verstandelik en emosioneel groei. Uiteindelik sal die kind ontslae raak van sy onvolwasse maniere en ’n volgroeide man of vrou word. Die apostel Paulus het hierna verwys toe hy geskryf het: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê.”—1 Korintiërs 13:11.

2 Paulus se woorde bring ’n belangrike punt oor geestelike groei na vore. Christene moenie geestelike kindertjies bly nie, maar moet vooruitgang maak en “volgroeid in begripsvermoëns” word (1 Korintiërs 14:20). Hulle moet daarna streef om te kom tot “die mate van die groei wat tot die volheid van die Christus behoort”. Dan sal hulle nie “klein kindertjies . . . wees nie, wat rondgeslinger word soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van lering”.—Efesiërs 4:13, 14.

3, 4. (a) Wat moet ons doen om geestelik volgroeid te word? (b) Watter godvrugtige eienskappe moet ons aan die dag lê, en hoe belangrik is dit?

3 Hoe kan ons geestelik volgroeid word? Hoewel fisiese groei onder normale omstandighede byna vanself plaasvind, vereis dit doelbewuste inspanning om geestelik te groei. Eerstens moet ons juiste kennis van God se Woord opdoen en optree in ooreenstemming met wat ons leer (Hebreërs 5:14; 2 Petrus 1:3). Dit stel ons dan in staat om godvrugtige eienskappe aan die dag te lê. Soos met fisiese groei en die aspekte wat daarmee gepaardgaan, vind groei in verskillende godvrugtige eienskappe gewoonlik gelyktydig plaas. Die apostel Petrus het geskryf: “Deur in reaksie hierop alle ywerige inspanning by te dra, [moet julle] by julle geloof deug voeg, by julle deug kennis, by julle kennis selfbeheersing, by julle selfbeheersing volharding, by julle volharding godvrugtige toegewydheid, by julle godvrugtige toegewydheid broederlike geneentheid, by julle broederlike geneentheid liefde.”—2 Petrus 1:5-7.

4 Elke eienskap wat Petrus noem, is noodsaaklik, en nie een kan weggelaat word nie. Hy voeg by: “As hierdie dinge in julle bestaan en oorvloedig is, sal dit verhoed dat julle onbedrywig of onvrugbaar word met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus” (2 Petrus 1:8). Kom ons bespreek nou die nodigheid om godvrugtige toegewydheid by ons volharding te voeg.

Volharding is nodig

5. Waarom het ons volharding nodig?

5 Petrus sowel as Paulus verbind godvrugtige toegewydheid met volharding (1 Timoteus 6:11). Volharding beteken meer as om net ontberinge te verduur en standvastig te bly. Dit behels geduld, moed en onwrikbaarheid sonder om hoop op te gee wanneer ons voor beproewinge, struikelblokke, versoekings of vervolging te staan kom. As mense wat met “godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus” lewe, kan ons vervolging verwag (2 Timoteus 3:12). Ons moet volhard as ons ons liefde vir Jehovah wil bewys en die eienskappe wil aankweek wat nodig is vir redding (Romeine 5:3-5; 2 Timoteus 4:7, 8; Jakobus 1:3, 4, 12). Sonder volharding sal ons nie die ewige lewe verkry nie.—Romeine 2:6, 7; Hebreërs 10:36.

6. Wat beteken dit om tot die einde toe te volhard?

6 Ongeag hoe goed ons begin, wat op die ou end tel, is dat ons volhard. Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Ja, ons moet tot die einde toe volhard, hetsy dit tot die einde van ons huidige lewe of tot die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge is. In albei gevalle moet ons ons onkreukbaarheid teenoor God handhaaf. Maar as ons nie godvrugtige toegewydheid by ons volharding voeg nie, kan ons Jehovah nie behaag nie en sal ons nie die ewige lewe ontvang nie. Maar wat is godvrugtige toegewydheid?

Wat godvrugtige toegewydheid beteken

7. Wat is godvrugtige toegewydheid, en wat beweeg dit ons om te doen?

7 Godvrugtige toegewydheid is persoonlike verering, aanbidding en diens aan Jehovah God weens lojaliteit ten opsigte van sy universele soewereiniteit. As ons godvrugtige toegewydheid teenoor Jehovah wil beoefen, het ons juiste kennis van hom en sy weë nodig. Ons begeerte moet wees om God persoonlik, intiem, te ken. Dit sal ons beweeg om ’n hegte verhouding met hom aan te kweek, wat deur ons dade en lewenswyse geopenbaar word. Dit moet ook ons begeerte wees om Jehovah so goed moontlik na te volg—sy weë na te boots en sy eienskappe en persoonlikheid te weerspieël (Efesiërs 5:1). Ja, godvrugtige toegewydheid beweeg ons om God te wil behaag in alles wat ons doen.—1 Korintiërs 10:31.

8. Hoe werk godvrugtige toegewydheid en uitsluitlike toegewydheid saam?

8 Ten einde ware godvrugtige toegewydheid te beoefen, moet ons Jehovah alleen aanbid en nie toelaat dat enigiets anders sy plek in ons hart inneem nie. As ons Skepper het hy die reg op ons uitsluitlike toegewydheid (Deuteronomium 4:24; Jesaja 42:8). Tog dwing Jehovah ons nie om hom te aanbid nie. Hy vra ons gewillige toegewydheid. Ons liefde vir God, op grond van juiste kennis van hom, beweeg ons om ons lewe in orde te kry en ons onvoorwaardelik aan hom toe te wy en dan ons toewyding na te leef.

Bou ’n verhouding met God op

9, 10. Hoe kan ons ’n hegte verhouding met God opbou en behou?

9 Nadat ons ons toewyding aan God deur doop gesimboliseer het, moet ons voortgaan om ’n hegter persoonlike verhouding met hom op te bou. Ons begeerte om dit te doen en Jehovah getrou te dien, beweeg ons dus om aan te hou om sy Woord te bestudeer en daaroor te peins. Namate ons God se gees toelaat om op ons verstand en hart in te werk, verinnig ons liefde vir Jehovah. Ons verhouding met hom bly die heel belangrikste saak in ons lewe. Ons beskou Jehovah as ons beste Vriend en wil hom altyd behaag (1 Johannes 5:3). Ons verbly ons al hoe meer in ons aangename verhouding met God, en ons is dankbaar dat hy ons op liefdevolle wyse leer en ons teregwys waar nodig.—Deuteronomium 8:5.

10 Tensy ons ons voortdurend inspan om ons kosbare verhouding met Jehovah te versterk, kan dit agteruitgaan. As dit sou gebeur, sou dit nie God se skuld wees nie, want ‘hy is nie ver van elkeen van ons af nie’ (Handelinge 17:27). Hoe bly is ons tog dat Jehovah dit nie vir ons moeilik maak om hom te nader nie! (1 Johannes 5:14, 15). Ons moet natuurlik daarna streef om ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah te behou. Maar hy help ons om nader aan hom te kom deur alles te voorsien wat ons nodig het om godvrugtige toegewydheid aan te kweek en te handhaaf (Jakobus 4:8). Hoe kan ons ten volle gebruik maak van al hierdie liefdevolle voorsienings?

Bly geestelik sterk

11. Wat is ’n paar blyke van ons godvrugtige toegewydheid?

11 Ons innige liefde vir God sal ons beweeg om die diepte van ons godvrugtige toegewydheid te toon in ooreenstemming met Paulus se raad: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg hanteer” (2 Timoteus 2:15). Dit vereis dat ons volhou met ’n goeie roetine van gereelde Bybelstudie, vergaderingbywoning en deelname aan die veldbediening. Ons kan ook na aan Jehovah bly deur ‘onophoudelik te bid’ (1 Tessalonisense 5:17). Dit is betekenisvolle blyke van ons godvrugtige toegewydheid. As ons enige hiervan verwaarloos, kan dit ons geestelik siek laat word en ons kwesbaar maak vir Satan se liste.—1 Petrus 5:8.

12. Hoe kan ons beproewinge met welslae verduur?

12 As ons geestelik sterk en bedrywig bly, help dit ons ook om al die beproewinge te verduur waarvoor ons te staan kom. Beproewinge kom dalk uit bronne wat ons swaar op die proef kan stel. Dit kan moeiliker wees om onverskilligheid, teenstand en vervolging te verduur wanneer dit van ons gesin, familielede of bure af kom. By ons werksplek of by die skool is daar moontlik subtiele druk om ons Christelike beginsels prys te gee. Ontmoediging, siekte en neerslagtigheid kan ons fisies verswak en dit moeiliker maak om toetse van geloof die hoof te bied. Maar ons kan alle beproewinge met welslae verduur as ons volhard “in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid, terwyl [ons] die teenwoordigheid van die dag van Jehovah verwag en goed in gedagte hou” (2 Petrus 3:11, 12). En ons kan ons vreugde behou terwyl ons dit doen, vol vertroue dat God ons sal seën.—Spreuke 10:22.

13. Wat moet ons doen as ons wil aanhou om godvrugtige toegewydheid te beoefen?

13 Al spits Satan sy aanvalle toe op diegene wat godvrugtige toegewydheid beoefen, hoef ons nie bang te wees nie. Waarom nie? Omdat “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos” (2 Petrus 2:9). Om beproewinge te verduur en hierdie verlossing te verkry, moet ons ‘goddeloosheid en wêreldse begeertes verwerp en met gesonde verstand en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid te midde van hierdie teenswoordige stelsel van dinge lewe’ (Titus 2:12). As Christene moet ons op ons hoede wees dat geen swakheid ten opsigte van vleeslike begeertes en bedrywighede ons godvrugtige toegewydheid skend en dit vernietig nie. Kom ons kyk nou na ’n paar van hierdie gevare.

Waak teen dinge wat godvrugtige toegewydheid in gevaar kan stel

14. Wat moet ons onthou as ons deur die strik van materialisme verlok word?

14 Materialisme is vir baie ’n strik. Ons bedrieg dalk onsself deur te “dink dat godvrugtige toegewydheid ’n middel tot [materiële] gewin is”. Gevolglik kan ons ons die reg aanmatig om misbruik te maak van medegelowiges se vertroue (1 Timoteus 6:5). Ons kan selfs verkeerdelik die gevolgtrekking maak dat dit in die haak is om druk op ’n welgestelde Christen uit te oefen vir ’n lening wat ons waarskynlik nie sal kan terugbetaal nie (Psalm 37:21). Maar godvrugtige toegewydheid, nie die verkryging van materiële dinge nie, ‘hou belofte in vir die teenswoordige en die toekomstige lewe’ (1 Timoteus 4:8). Kom ons streef met meer vasbeslotenheid na “godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid” en wees ‘tevrede met voedsel, klere en onderdak’, want ‘ons het niks in die wêreld ingebring nie en kan niks uitdra nie’.—1 Timoteus 6:6-11.

15. Wat kan ons doen as die najaging van plesier dreig om ons godvrugtige toegewydheid te verdring?

15 Die najaging van plesier kan godvrugtige toegewydheid verdring. Moet ons dalk onmiddellike aanpassings in hierdie verband maak? Liggaamlike oefening en ontspanning hou weliswaar enkele voordele in. Maar hierdie voordele is gering in vergelyking met die ewige lewe (1 Johannes 2:25). Vandag is baie mense “liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God, wat ’n vorm van godvrugtige toegewydheid het maar die krag daarvan verloën”, en ons moet ons van hierdie mense afkeer (2 Timoteus 3:4, 5). Diegene wat op godvrugtige toegewydheid klem lê, is besig om “vir hulleself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat te bewaar, sodat hulle ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry”.—1 Timoteus 6:19.

16. Watter sondige drange voorkom dat party God se regverdige vereistes nakom, en hoe kan ons hierdie begeertes te bowe kom?

16 Alkohol- en dwelmmisbruik, onsedelikheid en sondige drange kan ons godvrugtige toegewydheid vernietig. As ons hiervoor swig, kan dit voorkom dat ons God se regverdige vereistes nakom (1 Korintiërs 6:9, 10; 2 Korintiërs 7:1). Selfs Paulus moes ’n voortdurende stryd teen die sondige vlees voer (Romeine 7:21-25). Streng optrede is nodig om van verkeerde begeertes ontslae te raak. Om maar een ding te noem, ons moet vasbeslote wees om sedelik rein te bly. Paulus sê vir ons: “Maak . . . dood julle liggaamsdele wat op die aarde is ten opsigte van hoerery, onreinheid, geslagsdrif, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodediens is” (Kolossense 3:5). Dit verg vasbeslotenheid om ons liggaamsdele ten opsigte van hierdie sondige dinge dood te maak, sodat ons daarvan ontslae raak, dit uitwis. As ons ernstig vir God se hulp bid, sal ons te midde van hierdie goddelose stelsel van dinge verkeerde begeertes kan verwerp en regverdigheid en godvrugtige toegewydheid kan nastreef.

17. Hoe moet ons dissipline beskou?

17 Ontmoediging kan ons volharding ondermyn en ’n nadelige uitwerking op ons godvrugtige toegewydheid hê. Baie van Jehovah se knegte was al mismoedig (Numeri 11:11-15; Esra 4:4; Jona 4:3). Ontmoediging kan veral ’n verwoestende uitwerking op ons hê as dit met gegriefdheid gepaardgaan omdat ons voel dat ons te na gekom is of omdat ons streng tereggewys of gedissiplineer is. Maar teregwysing en dissipline is ’n bewys van God se belangstelling en liefdevolle besorgdheid (Hebreërs 12:5-7, 10, 11). Dissipline moenie bloot as straf beskou word nie, maar as ’n manier om ons in die weg van regverdigheid op te lei. As ons nederig is, sal ons raad waardeer en aanvaar, want ons weet “die teregwysings van dissipline is die weg van die lewe” (Spreuke 6:23). Dit kan ons help om goeie geestelike vooruitgang te maak terwyl ons godvrugtige toegewydheid nastreef.

18. Watter verantwoordelikheid het ons wat persoonlike geskille betref?

18 Misverstande en persoonlike geskille kan ons godvrugtige toegewydheid op die proef stel. Dit kan spanning veroorsaak of party beweeg om onverstandig op te tree deur hulle van hulle geestelike broers en susters af te sonder (Spreuke 18:1). Maar ons moet onthou dat dit ons verhouding met Jehovah kan skaad as ons ’n wrok of kwade gevoelens teenoor ander koester (Levitikus 19:18). Trouens, “hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie gesien het nie” (1 Johannes 4:20). In sy Bergpredikasie het Jesus beklemtoon hoe belangrik dit is om onmiddellik stappe te doen om persoonlike geskille uit die weg te ruim. Hy het vir sy luisteraars gesê: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe” (Matteus 5:23, 24). As ons verskoning vra, kan dit help om ’n wond te genees wat deur onvriendelike woorde of dade veroorsaak is. ’n Breuk kan geheel en vreedsame verhoudings herstel word as ons vergifnis vra en erken dat ons verkeerd opgetree het. Jesus het ook ander raad gegee oor hoe om geskille uit die weg te ruim (Matteus 18:15-17). Hoe bly is ons tog wanneer probleme opgelos word!—Romeine 12:18; Efesiërs 4:26, 27.

Volg Jesus se voorbeeld

19. Waarom is dit so belangrik om Jesus se voorbeeld na te volg?

19 Ons sal beslis voor beproewinge te staan kom, maar dit hoef ons nie van die wedloop om die lewe te laat afwyk nie. Onthou dat Jehovah ons uit beproewing kan verlos. Terwyl ons “elke gewig aflê” en “die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop”, moet ons “die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus” (Hebreërs 12:1-3). As ons Jesus se voorbeeld noukeurig ondersoek en daarna streef om hom in woord en daad na te volg, sal dit ons help om godvrugtige toegewydheid aan te kweek en dit in groter mate te openbaar.

20. Watter belonings ontvang ons as ons volharding en godvrugtige toegewydheid nastreef?

20 Volharding en godvrugtige toegewydheid werk saam om ons redding te help verseker. Deur hierdie kosbare eienskappe aan die dag te lê, kan ons getrou voortgaan in ons heilige diens aan God. Selfs wanneer ons beproef word, sal ons gelukkig wees terwyl ons Jehovah se tere geneentheid en seën ontvang omdat ons volhard het en godvrugtige toegewydheid beoefen (Jakobus 5:11). En Jesus self verseker ons: “Deur julle volharding sal julle julle siel verwerf.”—Lukas 21:19.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom is volharding belangrik?

• Wat is godvrugtige toegewydheid, en hoe word dit geopenbaar?

• Hoe kan ons ’n hegte verhouding met God opbou en behou?

• Wat is van die dinge wat ons godvrugtige toegewydheid in gevaar kan stel, en hoe kan ons dit vermy?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 12, 13]

Godvrugtige toegewydheid word op baie maniere geopenbaar

[Prente op bladsy 14]

Waak teen dinge wat jou godvrugtige toegewydheid in gevaar kan stel