Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

In watter situasies is dit vir ’n Christenvrou gepas om ’n hoofbedekking om geestelike redes te dra?

“Elke vrou wat met ’n onbedekte hoof bid of profeteer, doen haar hoof skande aan”, het die apostel Paulus geskryf. Waarom? Weens die Goddelike beginsel van hoofskap: “Die man is die hoof van die vrou.” Dit is gewoonlik die verantwoordelikheid van ’n man om in die Christengemeente te bid of te onderrig. Wanneer ’n Christenvrou omsien na sake in verband met aanbidding wat gewoonlik deur haar man of deur ’n gedoopte man waargeneem sou word, moet sy dus ’n hoofbedekking dra.—1 Korintiërs 11:3-10.

Situasies waarin ’n Christenvrou ’n hoofbedekking moet dra, kan in haar huweliksverhouding ontstaan. Wanneer die gesin byvoorbeeld vir ’n Bybelstudie of vir ’n ete bymekaarkom, neem die man gewoonlik die leiding om hulle te onderrig en hulle in gebed tot God te verteenwoordig. Maar as hy ’n ongelowige is, sal hierdie verantwoordelikheid dalk op sy vrou val. Gevolglik dra ’n Christensuster tereg ’n hoofbedekking wanneer sy hardop vir haarself en ander bid of wanneer sy ’n Bybelstudie met haar kinders in die teenwoordigheid van haar man hou. As haar man nie teenwoordig is nie, hoef die vrou nie ’n hoofbedekking te dra nie, aangesien God haar die reg gegee het om haar kinders te onderrig.—Spreuke 1:8; 6:20.

Maar sê nou ’n jong seun in die gesin is ’n toegewyde, gedoopte kneg van Jehovah God? Aangesien die seun ’n lid van die Christengemeente is, moet hy deur die manlike gemeentelede onderrig word (1 Timoteus 2:12). As sy vader ’n gelowige is, moet die seun deur hom onderrig word. Maar in die afwesigheid van die vader moet die moeder ’n hoofbedekking dra as sy ’n Bybelstudie met die jong gedoopte seun en die ander kinders hou. Sy moet self besluit of sy die gedoopte seun by so ’n studie of by ’n ete sal vra om te bid. Sy voel dalk dat hy nog nie bekwaam genoeg is nie en besluit miskien om self die gebed te doen. As sy besluit om by so ’n geleentheid te bid, moet sy ’n hoofbedekking dra.

Wanneer Christenvroue aan sekere gemeentelike bedrywighede deelneem, sal hulle moontlik ’n hoofbedekking moet dra. Byvoorbeeld, by ’n velddiensvergadering in die week is daar miskien net Christensusters en geen gedoopte mans teenwoordig nie. Daar kan ander geleenthede wees waar geen gedoopte mans by ’n gemeentelike vergadering teenwoordig is nie. As ’n suster by ’n gemeentelike vergadering of ’n velddiensvergadering wat deur die gemeente gereël word, na pligte moet omsien wat gewoonlik deur ’n broer behartig word, moet sy ’n hoofbedekking dra.

Moet ’n Christenvrou ’n hoofbedekking dra wanneer sy Bybeltoesprake mondelings of in gebaretaal tolk of wanneer sy die paragrawe uit ’n Bybelstudiehulp wat by ’n gemeentelike vergadering gebruik word, voorlees? Nee. Susters wat hierdie pligte behartig, neem nie die leiding nie en gee ook nie onderrig nie. Net so hoef susters ook nie ’n hoofbedekking te dra wanneer hulle aan demonstrasies deelneem, ondervindinge vertel of studentetoesprake in die Teokratiese Bedieningskool hou nie.

Hoewel onderrigting in die gemeente deur gedoopte mans gegee moet word, het mans sowel as vroue die verantwoordelikheid om buite die gemeente vir ander te getuig en hulle te onderrig (Matteus 24:14; 28:19, 20). Wanneer ’n Christenvrou dus in die teenwoordigheid van ’n manlike Getuie van Jehovah met mense buite die gemeente oor God se Woord praat, hoef sy nie ’n hoofbedekking te dra nie.

Maar die situasie is anders wanneer ’n gereelde Bybelstudie in ’n huis gehou word en ’n toegewyde, gedoopte man teenwoordig is. Dit is ’n voorafgereëlde onderrigsessie waar die studiehouer in werklikheid die leiding neem. Onder hierdie omstandighede word ’n studie ’n uitbreiding van die gemeente. As ’n gedoopte vroulike Getuie so ’n studie in die teenwoordigheid van ’n gedoopte manlike Getuie hou, sal sy tereg ’n hoofbedekking dra. Maar die toegewyde broer moet die gebed doen. ’n Suster sal nie in die teenwoordigheid van ’n toegewyde broer bid nie, tensy daar ’n buitengewone rede is, soos in die geval van ’n broer wat stom is.

’n Ongedoopte manlike Koninkryksverkondiger gaan dalk soms saam met ’n Christensuster na ’n Bybelstudie. As sy wil, kan sy hom vra om die studie te hou. Maar aangesien hy nie die gedoopte suster na regte in gebed tot Jehovah kan verteenwoordig nie, sal dit gepas wees dat sy by die studie bid. Wanneer die suster onder hierdie omstandighede die studie hou en bid, moet sy haar hoof bedek. Al is die manlike verkondiger nog nie gedoop nie, identifiseer buitestanders hom met die gemeente weens die predikingswerk wat hy doen.

“Die vrou [behoort] ’n teken van gesag op haar hoof te hê weens die engele”, het die apostel Paulus geskryf. Ja, Christensusters het die voorreg om goeie voorbeelde vir die miljoene engele te wees wat lojaal voortgaan om hulle aan Jehovah te onderwerp. Hoe gepas is dit tog dat godvrugtige vroue ’n hoofbedekking dra wanneer die geleentheid dit vereis!

[Prente op bladsy 26]

’n Hoofbedekking is ’n teken van respek vir hoofskap