Wat het van die helse vuur geword?
Wat het van die helse vuur geword?
WAARAAN dink jy as jy die woord “hel” hoor? Beskou jy die hel as ’n letterlike plek van vuur en swael, van ewige foltering en pyn? Of is die hel dalk ’n simboliese beskrywing van ’n toestand, of gesteldheid?
’n Brandende hel van verskriklike foltering word al eeue lank deur godsdiensleiers van die Christendom beskou as die besliste lot van sondaars. Hierdie idee is nog steeds gewild onder baie ander godsdiensgroepe. “Die Christelike godsdiens het die woord hel dalk baie bekend laat word”, sê U.S.News & World Report, “maar dit het nie die alleenreg op die leerstelling nie. Die dreigement van pynlike vergelding in die hiernamaals kom in die een of ander vorm voor in byna elke groot wêreldgodsdiens sowel as in ’n paar kleiner godsdienste.” Hindoes, Boeddhiste, Moslems, Djainas en Taoïste glo almal aan die een of ander soort hel.
Maar hedendaagse idees van die hel het verander. “Hoewel daar nog mense is wat aan die tradisionele beeld van ’n helse vuur glo”, sê die bogenoemde tydskrif, “begin moderne opvattings posvat dat ewige verdoemenis ’n besonder onaangename alleenopsluiting is, wat te kenne gee dat die hel dalk op die ou end nie so warm is nie.”
Die Jesuïetetydskrif La Civiltà Cattolica het gesê: “Dit is misleidend . . . om te dink dat God, deur middel van demone, die veroordeeldes vreeslike foltering soos dié met vuur laat ondergaan.” Dit het bygevoeg: “Die hel bestaan, nie as ’n plek nie, maar as ’n toestand, waarin iemand die pyn daarvan ervaar om van God afgesonder te wees.” Pous Johannes-Paulus II het in 1999 gesê: “Die hel is nie ’n plek nie, maar die toestand van diegene wat hulle gewillig en heeltemal afsonder van God, die bron van alle lewe en vreugde.” Wat voorstellings van die hel as ’n brandende plek betref, het hy gesê: “Dit toon die algehele frustrasie en leegheid van die lewe sonder God.” As die Pous die hel beskryf het in terme van “vlamme en ’n duiwel in rooi klere met ’n vurk”, het die kerkgeskiedskrywer Martin Marty gesê, “sou mense dit nie ernstig opneem nie”.
Soortgelyke veranderinge vind in ander kerkgroepe plaas. ’n Verslag deur die leerstellingskommissie van die Anglikaanse Kerk het gesê: “Die hel is nie ewige foltering nie, maar dit is die finale en onherroeplike keuse om ’n weg te volg wat so heeltemal en so volkome teen God is, dat die enigste einde algehele niebestaan is.”
Die kategismus van die Verenigde State se Episkopale Kerk definieer die hel as “ewige dood weens ons verwerping van God”. ’n Toenemende aantal mense, sê U.S.News & World Report, bevorder die idee dat “die goddelose se einde
vernietiging is, nie ewige lyding nie. . . . [Hulle] beweer dat diegene wat God uiteindelik verwerp, bloot sal ophou bestaan in die ‘verterende vuur’ van die hel.”Hoewel dit vandag die neiging is om weg te beweeg van die vuur-en-swael-beeld, is daar nog baie mense wat vashou aan die opvatting dat die hel ’n letterlike plek van foltering is. “Die Skrif praat duidelik van die hel as ’n fisiese plek van vurige foltering”, sê Albert Mohler van die Suidelike Baptistekweekskool in Louisville, Kentucky, VSA. En die verslag The Nature of Hell, wat deur die Kommissie van die Evangeliese Bond opgestel is, sê: “Die hel is ’n bewuste ondervinding van verwerping en foltering.” Dit voeg by: “Daar is grade van straf en lyding in die hel wat verband hou met die erns van die sondes wat op die aarde gepleeg is.”
Die vraag is weer eens: Is die hel ’n brandende plek van ewige foltering of van vernietiging? Of is dit bloot ’n toestand van afsondering van God? Wat is die hel werklik?
[Venster/Prente op bladsy 4]
’n Kort geskiedenis van die helse vuur
WANNEER het verklaarde Christene aan die helse vuur begin glo? ’n Hele ruk ná die tyd van Jesus Christus en sy apostels. “Die Openbaring van Petrus (2de eeu G.J.) was die eerste [apokriewe] Christelike werk wat die straf en folteringe van sondaars in die hel beskryf het”, sê die Franse Encyclopædia Universalis.
Onder die vroeë kerkvaders was daar egter meningsverskille oor die hel. Justinus die Martelaar, Klemens van Aleksandrië, Tertullianus en Cyprianus het geglo dat die hel ’n brandende plek is. Origines en die teoloog Gregorius van Nyssa het die hel beskou as ’n plek van afsondering van God—van geestelike lyding. Augustinus van Hippo was weer van mening dat lyding in die hel geestelik sowel as sintuiglik is—’n beskouing wat deur baie aanvaar is. “Teen die vyfde eeu was die streng leerstelling dat sondaars ná hierdie lewe glad nie ’n tweede kans sou hê nie en dat die vuur wat hulle gaan verteer, nooit geblus sou word nie, oral die oorheersende leerstelling”, het professor J.N.D. Kelly geskryf.
In die 16de eeu het Protestantse hervormers soos Martin Luther en Johannes Calvyn gedink dat die vurige foltering van die hel ’n sinnebeeld is van ewigdurende afsondering van God. Maar in die volgende twee eeue het die idee dat die hel ’n plek van foltering is, weer posgevat. Die Protestantse prediker Jonathan Edwards het 18de-eeuse koloniale Amerikaners se harte met vrees vervul met sy grafiese beskrywings van die hel.
Maar kort daarna het die vlamme van die hel begin flikker en doodgaan. “Die 20ste eeu was byna die dood van die hel”, sê U.S.News & World Report.
[Prente]
Justinus die Martelaar het geglo dat die hel ’n brandende plek is
Augustinus van Hippo het ander geleer dat lyding in die hel geestelik en fisies is