Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is die hel werklik?

Wat is die hel werklik?

Wat is die hel werklik?

ONGEAG waaraan jy dink wanneer jy die woord “hel” hoor, die hel word oor die algemeen as ’n plek van straf vir sonde beskou. Die Bybel sê aangaande sonde en die uitwerking daarvan: “Deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde, en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het” (Romeine 5:12). Die Skrif sê ook: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). Aangesien die straf vir sonde die dood is, is die basiese vraag om te bepaal wat die hel werklik is: Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?

Gaan die een of ander soort lewe, in die een of ander vorm, ná die dood voort? Wat is die hel, en watter soort mense gaan daarheen? Is daar enige hoop vir diegene in die hel? Die Bybel gee betroubare en bevredigende antwoorde op hierdie vrae.

Lewe ná die dood?

Is daar iets binne-in ons, soos ’n siel of ’n gees, wat ná die dood van die liggaam voortleef? Kyk na hoe die eerste mens, Adam, lewendig geword het. Die Bybel sê: “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas” (Genesis 2:7). Hoewel asemhaling hom aan die lewe gehou het, het dit baie meer behels om “die asem van die lewe” in sy neusgate te sit as om bloot lug in sy longe te blaas. Dit het beteken dat God die lewensvonk—“die lewenskrag”, wat in alle aardse skepsele werksaam is—in Adam se lewelose liggaam gesit het (Genesis 6:17; 7:22). Die Bybel verwys na hierdie lewenskrag as “gees” (Jakobus 2:26). Daardie gees kan vergelyk word met ’n elektriese stroom wat ’n masjien of ’n toestel in werking stel en dit in staat stel om die funksie daarvan te verrig. Net soos die elektriese stroom nooit die eienskappe aanneem van die toerusting wat dit in werking stel nie, so neem die lewenskrag ook nie enige van die eienskappe aan van die wesens waaraan dit lewe gee nie. Dit het geen persoonlikheid en geen denkvermoë nie.

Wat gebeur met die gees wanneer iemand sterf? Psalm 146:4 sê: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy grond; op daardie dag vergaan sy gedagtes.” Wanneer iemand sterf, hou sy onpersoonlike gees nie aan om in ’n ander ryk as ’n geesskepsel voort te leef nie. Dit “keer terug na die ware God wat dit gegee het” (Prediker 12:7). Dit beteken dat enige hoop op toekomstige lewe vir daardie persoon nou geheel en al by God berus.

Die eertydse Griekse filosowe Sokrates en Plato het geglo dat ’n siel binne-in ’n persoon die dood oorleef en nooit sterf nie. Wat leer die Bybel aangaande die siel? Adam “het ’n lewende siel geword”, sê Genesis 2:7. Hy het nie ’n siel ontvang nie; hy was ’n siel—’n mens in sy geheel. Die Skrif praat van siele wat werk doen, voedsel begeer, ontvoer word, slapeloosheid ondervind, ensovoorts (Levitikus 23:30; Deuteronomium 12:20; 24:7; Psalm 119:28). Ja, die mens self is ’n siel. Wanneer iemand sterf, sterf daardie siel.—Esegiël 18:4.

Wat is die toestand van die dooies dan? Toe Jehovah sy vonnis oor Adam uitgespreek het, het Hy gesê: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Waar was Adam voordat God hom uit die stof van die aarde gevorm en hom lewe gegee het? Hy het eenvoudig nie bestaan nie! Toe Adam gesterf het, het hy teruggekeer na daardie toestand waar lewe heeltemal afwesig is. Die toestand van die dooies word duidelik in Prediker 9:5, 10 beskryf, waar ons lees: “Die dooies weet glad niks nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie” (Die Bybel, 1953). Volgens die Skrif is die dood ’n toestand van niebestaan. Die dooies is van niks bewus nie en het geen gevoelens, geen gedagtes nie.

Eindelose foltering of gemeenskaplike graf?

Aangesien die dooies nie ’n bewuste bestaan voer nie, kan die hel nie ’n brandende plek van foltering wees waar die goddeloses ná die dood ly nie. Wat is die hel dan? As ons kyk na wat met Jesus gebeur het nadat hy gesterf het, sal dit help om hierdie vraag te beantwoord. Die Bybelskrywer Lukas vertel: “[Jesus is] nie in Hades [hel, King James Version] verlaat . . . en sy vlees [het] ook nie verderwing gesien . . . nie” (Handelinge 2:31). a Waar was die hel waarheen selfs Jesus gegaan het? Die apostel Paulus het geskryf: “Wat ek aan julle oorgedra het, is . . . dat Christus vir ons sondes gesterf het, volgens die Skrif; en dat hy begrawe is, ja, dat hy op die derde dag opgewek is, volgens die Skrif” (1 Korintiërs 15:3, 4). Jesus was dus in die hel, die graf, maar hy is nie daar gelaat nie, want hy is opgewek.

Dink ook aan die geval van die regverdige man Job, wat baie gely het. Hy wou uit sy benarde toestand kom en het gesmeek: “Wie sal my dit skenk, dat u my in die hel [Sjeool] sou beskerm en my versteek totdat u toorn verby is?” (Job 14:13, Douay Version). b Hoe onredelik tog om te dink dat Job graag na ’n brandende plek wou gaan vir beskerming! Vir Job was “die hel” bloot die graf, waar sy lyding tot ’n einde sou kom. Die Bybelse hel is dus die gemeenskaplike graf van die mensdom waarheen goeie mense sowel as slegte mense gaan.

Die helse vuur—allesverterend?

Kan dit wees dat die vuur van die hel simbolies is van ’n allesverterende, of algehele, vernietiging? Die Skrif tref ’n onderskeid tussen vuur en Hades, of die hel, en sê: “Die dood en Hades is in die poel van vuur geslinger.” “Die poel” wat hier gemeld word, is simbolies, aangesien die dood en die hel (Hades) wat daarin gegooi word, nie letterlik kan brand nie. “Dit [die poel van vuur] beteken die tweede dood”—die dood waaruit daar geen hoop is om weer tot die lewe opgewek te word nie.—Openbaring 20:14.

Die poel van vuur beteken dieselfde as “die vurige Gehenna [helse vuur, Die Bybel, 1953]” waarvan Jesus gepraat het (Matteus 5:22; Markus 9:47, 48). Gehenna kom 12 keer in die Christelike Griekse Geskrifte voor, en dit verwys na die Hinnomvallei, buite die mure van Jerusalem. Toe Jesus op aarde was, is hierdie vallei as ’n vullishoop gebruik, “waar die lyke van misdadigers, die karkasse van diere en allerhande ander vullis gegooi is” (Smith’s Dictionary of the Bible). Die vure is aan die gang gehou deur swael by te voeg om die vullis te verbrand. Jesus het daardie vallei as ’n gepaste simbool van ewige vernietiging gebruik.

Net soos Gehenna, simboliseer die poel van vuur ook ewige vernietiging. Die dood en Hades word daarin “geslinger” in die sin dat dit uit die weg geruim gaan word wanneer die mensdom van sonde en die veroordeling tot die dood bevry word. Moedswillige, onberouvolle sondaars sal ook hulle “deel” in daardie poel hê (Openbaring 21:8). Hulle sal ook vir ewig vernietig word. Aan die ander kant het diegene in God se geheue wat in die hel—die gemeenskaplike graf van die mensdom—is, ’n wonderlike toekoms.

Die hel word leeggemaak!

Openbaring 20:13 sê: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee.” Ja, die Bybelse hel sal leeggemaak word. Soos Jesus belowe het, kom “die uur . . . waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Hoewel miljoene dooies op die oomblik nie meer in enige vorm bestaan nie, is hulle in Jehovah God se geheue en sal hulle opgewek word, of weer lewendig gemaak word, in ’n herstelde aardse paradys.—Lukas 23:43; Handelinge 24:15.

In die nuwe wêreld wat God gaan bring, sal verrese mense wat sy regverdige wette gehoorsaam, nooit weer hoef te sterf nie (Jesaja 25:8). Jehovah “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”. Trouens, “die vorige dinge [sal] verbygegaan” het (Openbaring 21:4). Wat ’n wonderlike vooruitsig vir diegene in die hel—“die gedenkgrafte”! Hierdie vooruitsig alleen is vir ons genoeg rede om meer kennis van Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, in te neem.—Johannes 17:3.

[Voetnote]

a In die King James Version word die Griekse woord Hades al tien keer wat dit in die Christelike Griekse Geskrifte voorkom, met “hel” vertaal. Die vertaling in Lukas 16:19-31 meld foltering, maar die hele verslag het ’n simboliese betekenis. Sien hoofstuk 88 van Die grootste mens wat nog geleef het, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Die Hebreeuse woord Sjeool verskyn 65 keer in die Hebreeuse Geskrifte en word in die King James Version as “hel”, “graf” en “kuil” vertaal.

[Prent op bladsy 5]

Job het gebid dat hy in die hel beskerm word

[Prent op bladsy 6]

Vurige Gehenna—’n simbool van ewige vernietiging

[Prent op bladsy 7]

‘Dié in die gedenkgrafte sal uitkom’