’n Altaar aan ’n naamlose god
’n Altaar aan ’n naamlose god
DIE apostel Paulus het Atene, Griekeland, in ongeveer 50 G.J. besoek. Daar het hy ’n altaar gesien wat aan ’n onbekende god gewy was, en later het hy daarvan melding gemaak terwyl hy ’n goeie getuienis oor Jehovah gegee het.
In die openingswoorde van sy toespraak op Marsheuwel, of die Areopagus, het Paulus gesê: “Manne van Atene, ek sien dat julle in alles blykbaar meer tot die vrees vir die gode geneig is as ander. Terwyl ek rondgegaan en julle voorwerpe van verering sorgvuldig waargeneem het, het ek byvoorbeeld ook ’n altaar gevind waarop gegraveer is: ‘Aan ’n Onbekende God.’ Waaraan julle dan nou onwetend godvrugtige toegewydheid betoon, dít verkondig ek aan julle.”—Handelinge 17:22-31.
Hoewel daardie Ateense altaar nooit gevind is nie, was daar soortgelyke altare in ander dele van Griekeland. Die tweede-eeuse Griekse aardrykskundige Pousanias het byvoorbeeld melding gemaak van altare van “gode wat Onbekend genoem word” in Faleron, nie ver van Atene af nie (Beskrywing van Griekeland, Attika I, 4). Volgens dieselfde naslaanwerk is daar “’n altaar van die Onbekende gode” in Olimpië.—Eleia I, XIV, 8.
In sy werk Die lewe van Apollonius van Tuana (VI, III) het die Griekse skrywer Filostratos (ca. 170-ca. 245 G.J.) gesê dat daar in Atene “altare selfs ter ere van onbekende gode opgerig is”. En in die Lewens van Filosowe (1.110) het Diogenes Laertius (ca. 200-250 G.J.) geskryf dat “naamlose altare” in verskillende dele van Atene gesien kon word.
Die Romeine het ook altare vir naamlose gode opgerig. Hier kan een gesien word wat uit die eerste of tweede eeu v.G.J. dateer en in die Palatynse Antikwarium in Rome, Italië, bewaar word. Die Latynse inskripsie daarop dui aan dat hierdie altaar gewy is aan “’n god of ’n godin”—’n frase “wat dikwels in gebede of toewydingsformules in inskripsies sowel as in literêre tekste gevind word”.
“Die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het,” is nog steeds vir baie mense onbekend. Maar soos Paulus vir die Ateners gesê het, is hierdie God—Jehovah—“nie ver van elkeen van ons af . . . nie”.—Handelinge 17:24, 27.
[Foto-erkennings op bladsy 32]
Altaar: Soprintendenza Archeologica di Roma