Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aangespoor deur “die luisterryke dinge van God”

Aangespoor deur “die luisterryke dinge van God”

Aangespoor deur “die luisterryke dinge van God”

“Ons hoor hulle in ons tale oor die luisterryke dinge van God praat.”—HANDELINGE 2:11.

1, 2. Watter verbasende gebeurtenis het op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem plaasgevind?

 EEN oggend laat in die lente van die jaar 33 G.J. het iets verbasends gebeur met ’n groep manne en vroue, dissipels van Jesus Christus wat in ’n huis in Jerusalem bymekaar was. “Skielik het daar ’n gedruis uit die hemel gekom soos dié van ’n voortstuwende, stywe bries, en dit het die hele huis gevul waarin hulle gesit het. En tonge soos van vuur het vir hulle sigbaar geword . . . , en hulle is almal met heilige gees vervul en het in ander tale begin praat.”—Handelinge 2:2-4, 15.

2 ’n Groot skare het voor die huis vergader. Onder hulle was daar Jode wat in ander lande gebore is, “godvresende manne”, wat na Jerusalem gekom het om die Pinksterfees te vier. Hulle was verbaas omdat elkeen van hulle die dissipels in sy moedertaal hoor praat het “oor die luisterryke dinge van God”. Hoe was dit moontlik as diegene wat gepraat het, almal Galileërs was?—Handelinge 2:5-8, 11.

3. Watter boodskap het die apostel Petrus op Pinkster aan die skare oorgedra?

3 Een van daardie Galileërs was die apostel Petrus. Hy het verduidelik dat Jesus Christus ’n paar weke tevore deur onregverdige mense vermoor is. Maar God het sy Seun uit die dode opgewek. Daarna het Jesus aan baie van sy dissipels verskyn, met inbegrip van Petrus en ander wat nou teenwoordig was. Net tien dae vroeër het Jesus na die hemel opgevaar. Dit is hy wat die heilige gees op sy dissipels uitgestort het. Was dit van enige betekenis vir daardie mense wat die Pinksterfees gevier het? Ja, beslis. Jesus se dood het die grondslag voorsien sodat hulle vergifnis van hulle sondes kon verkry en “die heilige gees as vrye gawe” kon ontvang as hulle geloof in hom beoefen het (Handelinge 2:22-24, 32, 33, 38). Hoe het daardie omstanders toe gereageer op “die luisterryke dinge van God” wat hulle gehoor het? En hoe kan hierdie verslag ons help om ons eie diens aan Jehovah in oënskou te neem?

Tot dade aangespoor!

4. Watter profesie van Joël is op Pinksterdag 33 G.J. vervul?

4 Nadat die dissipels in Jerusalem die heilige gees ontvang het, het hulle sonder versuim die goeie nuus van redding aan ander verkondig en by die skare begin wat daardie oggend vergader het. Hulle predikingswerk het ’n merkwaardige profesie vervul, wat agt eeue tevore deur Joël, die seun van Petuel, opgeteken is: “Ek [sal] my gees op elke soort vlees uitstort, en julle seuns en julle dogters sal beslis profeteer. Wat julle ou manne betref, hulle sal drome droom. Wat julle jong manne betref, hulle sal visioene sien. En selfs op die diensknegte en op die diensmeisies sal ek in daardie dae my gees uitstort . . . voor die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah.”—Joël 1:1; 2:28, 29, 31; Handelinge 2:17, 18, 20.

5. In watter sin het eerste-eeuse Christene geprofeteer? (Sien voetnoot.)

5 Het dit beteken dat God ’n hele geslag profete, mans sowel as vroue, soos Dawid, Joël en Debora, sou verwek en hulle sou gebruik om toekomstige gebeure te voorspel? Nee. Christene sou as ‘seuns en dogters, diensknegte en diensmeisies’ profeteer in die sin dat hulle deur Jehovah se gees gedring sou word om “die luisterryke dinge” te verkondig wat Jehovah gedoen het en nog sou doen. Hulle sou dus as woordvoerders van die Allerhoogste dien. a Maar hoe het die skare gereageer?—Hebreërs 1:1, 2.

6. Wat is baie in die skare aangespoor om te doen nadat hulle Petrus se toespraak gehoor het?

6 Nadat die skare Petrus se verduideliking gehoor het, is baie van hulle tot dade aangespoor. Hulle het “sy woord van harte aangeneem” en is “gedoop, en op daardie dag is omtrent drieduisend siele bygevoeg” (Handelinge 2:41). As natuurlike Jode en Joodse proseliete het hulle reeds ’n basiese kennis van die Skrif gehad. Dit, tesame met geloof in wat hulle by Petrus geleer het, het die grondslag voorsien sodat hulle gedoop kon word “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” (Matteus 28:19). Ná hulle doop het hulle “voortgegaan om hulle toe te lê op die leer van die apostels”. Terselfdertyd het hulle ander van hulle nuutgevonde geloof begin vertel. Ja, “hulle was dag vir dag voortdurend eendragtig in die tempel aanwesig, . . . terwyl hulle God geloof en by die hele volk guns gevind het”. Weens hierdie getuieniswerk “het Jehovah voortgegaan om daagliks dié wat gered word, by hulle te voeg” (Handelinge 2:42, 46, 47). Christengemeentes is gestig in baie van die lande waar hierdie nuwe gelowiges gewoon het. Hierdie vermeerdering was ongetwyfeld, ten minste in sekere mate, te danke aan hulle ywerige pogings om die “goeie nuus” te verkondig toe hulle teruggekeer het huis toe.—Kolossense 1:23.

Die Woord van God oefen krag uit

7. (a) Wat trek mense van alle nasies na Jehovah se hedendaagse organisasie? (b) Watter potensiaal vir verdere vermeerdering sien jy in die wêreldwye veld asook plaaslik? (Sien voetnoot.)

7 Wat van diegene wat vandag graag knegte van God wil word? Hulle moet ook God se Woord noukeurig bestudeer. Terwyl hulle dit doen, leer hulle Jehovah ken as ’n “barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid” (Eksodus 34:6; Handelinge 13:48). Hulle leer van Jehovah se goedhartige voorsiening van die losprys deur Jesus Christus, wie se vergote bloed hulle van alle sonde kan reinig (1 Johannes 1:7). Hulle is ook bly om uit te vind van God se voorneme om “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges” te hê (Handelinge 24:15). Liefde vir die Bron van hierdie “luisterryke dinge” vul hulle hart, en hulle word beweeg om hierdie kosbare waarhede te verkondig. Hulle word dan toegewyde, gedoopte knegte van God en gaan voort om “toe te neem in die juiste kennis van God”. bKolossense 1:10b; 2 Korintiërs 5:14.

8-10. (a) Hoe bewys die ondervinding van ’n Christenvrou dat God se Woord ‘krag uitoefen’? (b) Wat het hierdie ondervinding jou van Jehovah en sy handelinge met sy knegte geleer? (Eksodus 4:12).

8 Die kennis wat God se knegte deur hulle Bybelstudie opdoen, is nie oppervlakkig nie. Hierdie kennis raak hulle hart, verander hulle denkwyse en word ’n deel van hulle (Hebreërs 4:12). ’n Vrou met die naam Camille het byvoorbeeld ’n werk gehad as ’n versorger van bejaardes. Een van hierdie bejaardes was Martha, ’n Getuie van Jehovah. Aangesien Martha aan ernstige demensie gely het, het sy voortdurend toesig nodig gehad. Sy moes daaraan herinner word om te eet—selfs om haar kos in te sluk. Maar iets het ’n blywende indruk op Martha gemaak, soos ons sal sien.

9 Eendag het Martha Camille sien huil omdat sy oor persoonlike probleme bekommerd was. Martha het haar arm om Camille gesit en haar genooi om die Bybel saam met haar te studeer. Maar kon iemand in Martha se toestand ’n Bybelstudie hou? Ja, sy kon! Al het Martha baie van haar geheue verloor, het sy nie haar luisterryke God vergeet nie; en sy het ook nie die kosbare waarhede vergeet wat sy uit die Bybel geleer het nie. Gedurende die studie het Martha Camille gevra om elke paragraaf te lees, die teksverwysings na te slaan, die vraag onderaan die bladsy te lees en dit dan te beantwoord. Dit het ’n ruk lank aangegaan, en ondanks Martha se beperkings het Camille se Bybelkennis toegeneem. Martha het besef dat Camille met ander moes omgaan wat daarin belangstel om God te dien. Daarom het sy haar student ’n rok en ’n paar skoene gegee, sodat Camille iets gepas sou hê om aan te trek wanneer sy haar eerste vergadering by die Koninkryksaal bywoon.

10 Camille is getref deur Martha se liefdevolle belangstelling, voorbeeld en oortuiging. Sy het tot die slotsom gekom dat dít wat Martha haar uit die Bybel probeer leer het, lewensbelangrik was, aangesien Martha feitlik alles vergeet het behalwe wat sy uit die Skrif geleer het. Toe Camille later na ’n ander inrigting oorgeplaas is, het sy besef dat dit tyd was vir haar om iets te doen. By die eerste geleentheid het sy by ’n Koninkryksaal ingestap, met die rok en skoene aan wat Martha haar gegee het, en ’n Bybelstudie gevra. Camille het goeie vordering gemaak en is gedoop.

Aangespoor om Jehovah se standaarde te handhaaf

11. Wat benewens ons ywer in die predikingswerk kan toon dat ons deur die Koninkryksboodskap aangespoor word?

11 Vandag is daar meer as sesmiljoen Getuies van Jehovah wat, soos Martha en nou Camille, die “goeie nuus van die koninkryk” wêreldwyd verkondig (Matteus 24:14; 28:19, 20). Soos die eerste-eeuse Christene word hulle diep geraak deur “die luisterryke dinge van God”. Hulle waardeer die voorreg wat hulle het om Jehovah se naam te dra en dat hy sy gees op hulle uitgestort het. Gevolglik doen hulle hulle bes om te “wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” deur sy standaarde in elke aspek van hulle lewe toe te pas. Dit sluit in dat hulle God se standaarde eerbiedig wat kleredrag en persoonsversorging betref.—Kolossense 1:10a; Titus 2:10.

12. Watter spesifieke raad oor kleredrag en persoonsversorging vind ons in 1 Timoteus 2:9, 10?

12 Ja, Jehovah het standaarde met betrekking tot ons voorkoms vasgestel. Die apostel Paulus het getoon wat party van God se vereistes in hierdie verband is. “Ek [wil] hê dat die vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer, naamlik deur goeie werke.” c Wat leer ons uit hierdie woorde?—1 Timoteus 2:9, 10.

13. (a) Wat word bedoel met “goed versorgde kleredrag”? (b) Waarom kan ons sê dat Jehovah se standaarde redelik is?

13 Paulus se woorde toon dat Christene “hulle met goed versorgde kleredrag moet versier”. Hulle moenie slordig, onnet of onversorg lyk nie. Feitlik enigiemand, selfs diegene wat oor beperkte middele beskik, kan aan hierdie redelike standaarde voldoen deur te verseker dat hulle klere netjies, skoon en fatsoenlik is. Elke jaar stap Getuies in ’n Suid-Amerikaanse land byvoorbeeld baie kilometers deur die oerwoud en reis dan ure lank in ’n kano om hulle streekbyeenkoms by te woon. Dit is nie ongewoon dat iemand gedurende die reis in die rivier val of dat ’n struik iemand se klere skeur nie. Wanneer die byeenkomsgangers dan in die gebied aankom waar die byeenkoms gehou gaan word, lyk hulle dikwels ietwat onversorg. Hulle sit dus tyd opsy om knope aan te werk, ritssluiters reg te maak en die klere wat hulle vir die byeenkoms gaan aantrek, te was en te stryk. Hulle waardeer hulle uitnodiging om by Jehovah se tafel aan te sit, en hulle wil reg aangetrek wees.

14. (a) Wat beteken dit dat ons kleredrag van “beskeidenheid en gesonde verstand” moet getuig? (b) Wat behels dit vir ons om aan te trek ‘soos mense wat bely dat hulle God vereer’?

14 Paulus het verder getoon dat ons kleredrag van “beskeidenheid en gesonde verstand” moet getuig. Dit beteken dat ons voorkoms nie spoggerig, vreemd, verleidelik, gewaagd of ultramodern moet wees nie. En ons moet aantrek op ’n manier wat toon dat ons “God vereer”. Dit gee ’n mens stof tot nadenke, nie waar nie? Ons moenie net reg aantrek wanneer ons gemeentelike vergaderinge bywoon en dan op ander tye versuim om op ons kleredrag te let nie. Ons voorkoms moet altyd ’n godvresende, eerbiedige gesindheid weerspieël, want ons is 24 uur per dag Christene en bedienaars. Dit is vanselfsprekend dat ons werksklere en skoolklere gepas sal wees vir die soort werk wat ons gaan doen. Ons kleredrag moet nietemin beskeie en waardig wees. As ons kleredrag altyd ons geloof in God weerspieël, sal ons nooit daarvan terugdeins om informeel te getuig omdat ons skaam voel oor ons voorkoms nie.—1 Petrus 3:15.

‘Moenie die wêreld liefhê nie’

15, 16. (a) Waarom is dit belangrik dat ons nie die wêreld navolg wat kleredrag en persoonsversorging betref nie? (1 Johannes 5:19). (b) Om watter praktiese rede moet ons giere in kleredrag en persoonsversorging vermy?

15 Die raad in 1 Johannes 2:15, 16 voorsien ook riglyne ten opsigte van ons keuse van kleredrag en persoonsversorging. Ons lees: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld.”

16 Hoe tydig is hierdie raad tog! In ’n tyd wanneer daar sulke hewige portuurdwang is, moet ons nie toelaat dat die wêreld vir ons voorskryf wat om aan te trek nie. Standaarde van kleredrag en persoonsversorging het in onlangse jare agteruitgegaan. Selfs die manier waarop sakelui en beroepsmense aantrek, voorsien nie altyd ’n betroubare standaard van wat vir Christene gepas is nie. Dit is nog ’n rede waarom ons altyd bewus moet bly van die belangrikheid om nie “langer na hierdie stelsel van dinge gevorm [te] word nie” sodat ons volgens God se standaarde kan lewe en sodoende “die leer van ons Redder, God, in alles kan versier”.—Romeine 12:2; Titus 2:10.

17. (a) Watter vrae moet ons oorweeg wanneer ons klere koop of ’n styl kies? (b) Waarom moet gesinshoofde in die voorkoms van gesinslede belangstel?

17 Voordat jy besluit of jy ’n kledingstuk gaan koop, is dit verstandig om jou af te vra: ‘Waarom hou ek van hierdie styl? Word dit vereenselwig met ’n bekende vermaaklikheidskunstenaar—iemand wat ek bewonder? Het lede van ’n straatbende of ’n groep wat ’n onafhanklike, opstandige gees bevorder, hierdie styl aangeneem?’ Ons moet die kledingstuk ook goed bekyk. As dit ’n rok of ’n romp is, wat van die lengte? Die snit? Is die kledingstuk beskeie, gepas en smaakvol, of is dit nousluitend, verleidelik of slordig? Vra jou af: ‘Sal ek rede tot struikeling gee as ek hierdie kledingstuk dra?’ (2 Korintiërs 6:3, 4). Waarom moet ons hieroor besorg wees? Want die Bybel sê: “Selfs die Christus het homself nie behaag nie” (Romeine 15:3). Christengesinshoofde moet in die voorkoms van gesinslede belangstel. Uit eerbied vir die glorieryke God wat hulle aanbid, moet gesinshoofde nie huiwer om streng, liefdevolle raad te gee wanneer dit nodig is nie.—Jakobus 3:13.

18. Wat beweeg jou om noukeurig te let op jou kleredrag en persoonsversorging?

18 Die boodskap wat ons bring, kom van Jehovah, wat die verpersoonliking van waardigheid en heiligheid is (Jesaja 6:3). Die Bybel spoor ons aan om hom na te volg “as geliefde kinders” (Efesiërs 5:1). Ons kleredrag en persoonsversorging kan ons hemelse Vader tot eer strek of hom oneer aandoen. Ons wil beslis sy hart bly maak!—Spreuke 27:11.

19. Watter voordele hou dit in om “die luisterryke dinge van God” aan ander bekend te maak?

19 Hoe voel jy oor “die luisterryke dinge van God” wat jy geleer het? Hoe bevoorreg is ons tog om die waarheid te ken! Omdat ons geloof in die vergote bloed van Jesus Christus beoefen, word ons sondes vergewe (Handelinge 2:38). Gevolglik het ons vrymoedigheid van spraak voor God. Ons is nie bang vir die dood soos diegene wat geen hoop het nie. Ons het eerder Jesus se versekering dat die dag kom wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Jehovah het al hierdie dinge goedgunstig aan ons geopenbaar. En hy het sy gees op ons uitgestort. Waardering vir al hierdie goeie gawes behoort ons dus te beweeg om sy verhewe standaarde te eerbiedig en om hom met ywer te loof terwyl ons hierdie “luisterryke dinge” aan ander verkondig.

[Voetnote]

a Toe Jehovah Moses en Aäron aangestel het om ten behoewe van sy volk met Farao te praat, het Hy vir Moses gesê: “Ek het jou God gemaak vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet word” (Eksodus 7:1). Aäron het as ’n profeet gedien, nie in die sin dat hy toekomstige gebeure voorspel het nie, maar deurdat hy Moses se woordvoerder, of mondstuk, geword het.

b Van die groot aantal wat die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal op 28 Maart 2002 bygewoon het, is miljoene nog nie bedrywige dienaars van Jehovah nie. Dit is ons bede dat die hart van baie van hierdie belangstellendes binnekort beweeg sal word om te streef na die voorreg om verkondigers van die goeie nuus te wees.

c Hoewel Paulus se woorde tot Christenvroue gerig is, is dieselfde beginsels op Christenmans en -jongmense van toepassing.

Hoe sal jy antwoord?

• Van watter “luisterryke dinge” het die volk op Pinkster 33 G.J. gehoor, en hoe het hulle gereageer?

• Hoe word iemand ’n dissipel van Jesus Christus, en wat sluit dissipelskap in?

• Waarom is dit vir ons belangrik om op ons kleredrag en persoonsversorging te let?

• Watter faktore moet in ag geneem word wanneer jy besluit of ’n kledingstuk of styl gepas is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 15]

Petrus het bekend gemaak dat Jesus uit die dode opgewek is

[Prente op bladsy 17]

Strek jou voorkoms die God wat jy aanbid tot eer?

[Prent op bladsy 18]

Christenouers moet in die voorkoms van gesinslede belangstel