Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beheer bygelowe jou lewe?

Beheer bygelowe jou lewe?

Beheer bygelowe jou lewe?

BYGELOWE word regoor die wêreld gevind. Daar word soms groot waarde daaraan geheg as deel van ’n kultuurerfenis. Of dit kan as ’n oppervlakkige belangstelling beskou word—iets wat die lewe interessant maak. In die Westerse wêreld word bygelowe gewoonlik met die spreekwoordelike greintjie sout geneem. Op ander plekke—in Afrika byvoorbeeld—kan bygelowe ’n groot invloed op mense se lewe hê.

’n Groot deel van die Afrikakultuur is op bygelowe gegrond. Rolprente, radioprogramme en lektuur wat in Afrika vervaardig word, vestig dikwels die aandag op bygelowigheid en mistieke onderwerpe, soos die toorkuns, vooroueraanbidding en fetisje. Waarom word mense in so ’n mate deur bygelowe beïnvloed, en waar kom bygelowe vandaan?

Wat skuil agter bygelowe?

Baie bygelowe spruit basies voort uit ’n vrees vir geeste van die dooies of vir enige soort geeste. Gebeurtenisse word vertolk as pogings deur hierdie geeste om met die lewendes in aanraking te kom om hulle te dreig, te waarsku of te seën.

Bygelowe word ook ten nouste verbind met genesing en medisyne. Vir die meeste mense in die ontwikkelende wêreld is moderne medisyne baie duur en dikwels eenvoudig onverkrygbaar. Baie soek dus geneesmiddels of probeer voorsorgmaatreëls tref deur hulle tot voorvaderlike gebruike, spiritisme en bygelowe te wend. Hulle voel ook meer op hulle gemak by ’n toordokter wat hulle gebruike ken en hulle taal praat, as by ’n mediese dokter. Bygelowe leef dus voort.

Volgens bygelowige tradisies kom siektes en ongelukke nie bloot toevallig voor nie, maar is dit gebeurtenisse wat deur magte in die geestewêreld aangestig word. Toordokters beweer dalk dat ’n dooie voorouer oor iets ongelukkig is. Of geestemediums sê miskien dat iemand deur middel van ’n mededingende toordokter ’n vloek op die slagoffer geplaas het en dat dit die rede vir die siekte of die ongeluk is.

Bygelowe oor die wêreld heen verskil hemelsbreed van mekaar, en die verspreiding daarvan hang van plaaslike volksoorleweringe, legendes en omstandighede af. Maar die gemeenskaplike faktor is die geloof dat iemand, of iets, uit die onsigbare geestewêreld gepaai moet word.

Onskadelik of gevaarlik?

Vir die meeste gesinne is die geboorte van ’n tweeling ’n uitsonderlike en opwindende gebeurtenis. Vir dié wat bygelowig is, kan dit egter as ’n teken vertolk word. In party streke in Wes-Afrika beskou baie dit as die geboorte van gode, en die tweeling word aanbid. As een van die tweeling of albei sterf, word beeldjies van die tweeling gemaak, en die gesin moet voedsel aan hierdie afgode offer. Op ander plekke beskou mense die geboorte van ’n tweeling as ’n vloek, en dit is vir hulle so ernstig dat party ouers ten minste een van hulle sal doodmaak. Waarom? Hulle glo dat die tweeling hulle ouers eendag sal vermoor as hulle albei bly lewe.

Sulke voorbeelde toon dat party bygelowe gevaarlik—selfs dodelik—kan wees, al lyk ander dalk interessant en onskadelik. Met ’n ongunstige vertolking kan ’n onskadelike gebeurtenis in iets gevaarliks verander word.

Ja, bygelowigheid is in werklikheid ’n geloof, ’n soort godsdiens. Met die oog op die gevaarlike aspekte van bygelowigheid is dit gepas om te vra: Wie trek eintlik voordeel uit bygelowe en bygelowige gebruike?

Die oorsprong van bygelowe

Al is die teendeel bewys, ontken party mense vandag dat Satan of bose geeste bestaan. Maar gedurende oorlogstyd kan dit net rampspoedig wees as ’n mens weier om te erken dat ’n gevaarlike vyand bestaan. Dit kan ook die geval wees in ’n stryd teen bomenslike geesskepsele, want die apostel Paulus het geskryf: “Ons het ’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte.”—Efesiërs 6:12.

Hoewel ons nie bose geesskepsele kan sien nie, bestaan hulle wel. Die Bybel vertel van ’n onsigbare geespersoon wat ’n slang gebruik het, baie soos ’n buikspreker ’n pop gebruik, om met die eerste vrou, Eva, te kommunikeer en wat haar teen God in opstand laat kom het (Genesis 3:1-5). Die Bybel identifiseer hierdie geespersoon as “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Hierdie geespersoon, Satan, het daarin geslaag om ander engele in opstand te laat kom (Judas 6). Hierdie goddelose engele het demone geword, vyande van God.

Jesus het demone uit mense gedryf, en sy dissipels het ook (Markus 1:34; Handelinge 16:18). Hierdie geeste is nie dooie voorouers nie, want die dooies is “bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Hulle is eerder die opstandige engele wat deur Satan mislei is. As ons met hulle in aanraking kom of toelaat dat hulle ons beïnvloed, is dit ’n ernstige saak, aangesien hulle, net soos hulle leier, Satan die Duiwel, ons wil verslind (1 Petrus 5:8). Hulle doelwit is om ons van die enigste hoop vir die mensdom—die Koninkryk van God—af weg te keer.

Die Bybel toon wat een van die metodes is wat Satan en sy demone gebruik: “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander” (2 Korintiërs 11:14). Satan wil ons laat glo dat hy ons ’n beter lewenswyse kan bied. Derhalwe lyk dit dalk of die ingryping van bose geeste ’n paar tydelike voordele inhou. Maar hulle kan geen blywende oplossings bied nie (2 Petrus 2:4). Hulle kan onmoontlik vir enigiemand die ewige lewe gee, en hulle gaan binnekort vernietig word (Romeine 16:20). Ons Skepper is die enigste bron van die ewige lewe en ware geluk, en by hom kry ons die beste beskerming teen bose geesmagte.—Jakobus 4:7.

God veroordeel dit wanneer mense deur middel van spiritistiese gebruike hulp soek (Deuteronomium 18:10-12; 2 Konings 21:6). As ’n mens dit doen, gaan jy met die vyand om en gaan jy ’n verbintenis met God se verraaiers aan! As jy lees wat die sterre voorspel, by ’n toordokter raad vra of by enige bygelowige gebruik betrokke raak, beteken dit dat jy toelaat dat die bose geeste beheer uitoefen oor die besluite wat jy in jou lewe neem. Dit is dieselfde as om saam met hulle teen God in opstand te kom.

Beskerming teen die bose—Is dit moontlik?

Ade, a ’n man wat in Niger woon, het die Bybel saam met ’n voltydse prediker van Jehovah se Getuies gestudeer. Ade het verduidelik waarom hy ’n talisman in sy winkel gehad het: “Daar is baie vyande.” Ade se Bybelonderrigter het vir hom gewys dat ’n mens net op Jehovah kan staatmaak vir ware beskerming. Hy het Psalm 34:7 vir Ade gelees, wat sê: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle.” Ade het tot die gevolgtrekking gekom: “As Jehovah my werklik kan beskerm, dan sal ek die talisman verwyder.” Nou, jare later, dien hy as ’n ouer man en ’n voltydse bedienaar. Nie een van sy vyande het hom leed aangedoen nie.

Die Bybel toon dat tyd en onvoorsiene gebeurtenisse ons almal tref, of ons nou bygelowig is of nie (Prediker 9:11). Maar Jehovah beproef ons nooit met slegte dinge nie (Jakobus 1:13). Die dood en onvolmaaktheid is te wyte aan sonde wat ons van Adam geërf het (Romeine 5:12). Daarom word almal van tyd tot tyd siek en maak almal foute wat rampspoedige gevolge kan hê. Dit sou dus verkeerd wees om alle siektes of alle terugslae aan die optrede van bose geeste toe te skryf. As ons dit glo, sal dit ons net in die versoeking bring om die geeste op die een of ander manier te probeer paai. b Wanneer ons siek is, moet ons behoorlike mediese behandeling probeer kry, nie die raad van “’n leuenaar en die vader van die leuen”, Satan die Duiwel, nie (Johannes 8:44). Statistiek toon dat mense wat in lande woon waar voorvaderlike bygelowe algemeen is, nie langer lewe of beter lewens lei as mense in ander lande nie. Dit is dus duidelik dat bygelowe nie voordelig vir die gesondheid is nie.

God is magtiger as enige bose gees, en Hy stel in ons welsyn belang. “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking” (1 Petrus 3:12). Bid tot hom vir beskerming en wysheid (Spreuke 15:29; 18:10). Probeer om sy Heilige Woord, die Bybel, te verstaan. Juiste kennis van die Bybel is die beste beskerming wat ons kan hê. Dit sal ons help om te verstaan waarom slegte dinge gebeur en hoe ons die guns van die almagtige God kan verkry.

Voordele van kennis van God

Juiste kennis van Jehovah en sy voornemens—die teenoorgestelde van onkunde en bygelowigheid—is die sleutel tot ware beskerming. Dit word getoon deur die geval van Jean, ’n man van Benin. Bygelowe was diepgewortel in Jean se familie. Volgens bygelowige stamgebruike moet ’n vrou wat pas aan ’n seun geboorte gegee het, nege dae lank in ’n hut bly wat spesiaal gebou is. As sy aan ’n dogter geboorte gegee het, moet sy sewe dae in die hut bly.

In 1975 het Jean se vrou geboorte gegee aan ’n pragtige babaseuntjie, wat hulle Marc genoem het. Op grond van hulle kennis van die Bybel wou Jean en sy vrou niks met bose geeste te doen hê nie. Maar sou hulle swig voor vrees en die druk om die bygeloof te volg en die moeder in die hut laat bly? Nee—hulle het hierdie stambygeloof verwerp.—Romeine 6:16; 2 Korintiërs 6:14, 15.

Het Jean se gesin enigiets oorgekom? Baie jare het al verloop, en Marc dien nou as ’n bedieningskneg in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Die hele gesin is bly dat hulle nie toegelaat het dat bygelowigheid hulle lewe beïnvloed en hulle geestelike welsyn in gevaar stel nie.—1 Korintiërs 10:21, 22.

Ware Christene moenie toelaat dat die bose gebruike van bygelowigheid hulle lewe beïnvloed nie, en hulle moet die geestelike lig aanvaar wat deur die Skepper, Jehovah, en sy Seun, Jesus Christus, aangebied word. Hulle kan sodoende ware gemoedsrus geniet wat voortspruit uit die wete dat hulle doen wat reg is in God se oë.—Johannes 8:32.

[Voetnote]

a Die name is verander.

b Sien die artikel “Laat die Duiwel ons siek word?” in Die Wagtoring van 1 September 1999.

[Venster/Prent op bladsy 5]

’n Paar algemene bygelowe van regoor die wêreld

• Eetstokkies wat in ’n bak rys regop staan, is ’n teken van die dood

• Om ’n uil in die sonlig te sien, bring teëspoed mee

• As ’n kers gedurende ’n seremonie doodgaan, beteken dit dat bose geeste naby is

• As iemand ’n sambreel op die vloer laat val, beteken dit dat daar ’n moord in die huis gaan wees

• Om ’n hoed op die bed te sit, bring teëspoed mee

• Die klank van klokkies verdryf demone

• As ’n mens al die kerse op ’n verjaarsdagkoek met die eerste probeerslag doodblaas, sal jou wens vervul word

• ’n Besem teen ’n bed stel bose geeste in die besem in staat om die bed te toor

• As ’n mens ’n swart kat teëkom, beteken dit teëspoed

• As iemand ’n vurk laat val, beteken dit dat ’n man kom kuier

• ’n Prent van olifante bring voorspoed mee as dit teenoor ’n deur hang

• ’n Hoefyster bo die deur bring voorspoed mee

• ’n Klimopplant wat teen die huis op rank, bied beskerming teen die bose

• Dit bring teëspoed mee as ’n mens onder ’n leer deur loop

• As ’n spieël breek, beteken dit sewe jaar van teëspoed

• As ’n mens peper mors, beteken dit dat jy ’n woordewisseling met jou beste vriend gaan hê

• As ’n mens sout mors, bring dit teëspoed mee tensy jy ’n knypie oor jou linkerskouer gooi

• As ’n wiegstoel sonder iemand daarop bly wieg, word demone genooi om daarop te sit

• As ’n mens skoene onderstebo los, bring dit teëspoed mee

• Wanneer iemand doodgaan, moet vensters oopgemaak word om die siel te laat uitgaan

[Venster op bladsy 6]

Bevry uit die greep van bygelowigheid

Jehovah se Getuies het die predikingswerk in ’n gebied in Suid-Afrika gedoen. By een deur het die Getuies ’n vrou teëgekom wat die volle uitrusting van ’n Sangoma (toordokter) aangehad het. Hulle wou loop, maar die vrou het daarop aangedring dat hulle hulle boodskap oordra. Een van die Getuies het Deuteronomium 18:10-12 gelees om vir haar die Bybelse beskouing van spiritistiese gebruike te wys. Die toordokter het na die boodskap geluister en tot ’n Bybelstudie ingestem. Sy het gesê dat sy sou ophou om ’n Sangoma te wees as sy uit haar studie van die Bybel kon sien dat dit teen Jehovah se wil is.

Nadat sy hoofstuk 10 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe saam met die Bybel bestudeer het, het sy al haar toorgoed verbrand en die vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Sy het ook haar huwelik wettig geregistreer, al het sy en haar man 17 jaar tevore uitmekaargegaan. Nou is albei toegewyde, gedoopte Getuies van Jehovah.

[Prent op bladsy 6]

’n “Sangoma” gooi dolosse om die oorsaak van ’n pasiënt se probleme deur middel van waarsêery vas te stel

[Prente op bladsy 7]

Juiste kennis van God bied ware beskerming en bring geluk