Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe bygelowigheid mense se lewe raak

Hoe bygelowigheid mense se lewe raak

Hoe bygelowigheid mense se lewe raak

JY KOM iemand teë wanneer jy jou huis verlaat. Jy stamp jou toon teen ’n klip. ’n Sekere soort voël roep in die nag. Jy het oor en oor dieselfde droom. Vir baie mense is dit alledaagse, onskadelike gebeurtenisse. Maar onder sekere volke in Wes-Afrika kan dit as tekens, voorbodes of boodskappe uit die geestewêreld beskou word. Hulle meen dat dit voorspoed of rampspoed kan beteken, na gelang van die teken en wat die vertolking daarvan is.

Bygelowe bestaan natuurlik nie net in Afrika nie. Hoewel China en republieke van die voormalige Sowjetunie jare lank amptelik ateïsties was, hou verbasend baie van die mense in hierdie lande nog vas aan bygelowe. Baie in die Westerse wêreld lees wat die sterre voorspel, vrees Vrydag die 13de en vermy swart katte. Party volke in die Verre Noorde beskou die noorderlig as ’n voorbode van oorlog en pessiektes. In Indië word vigs versprei deur vragmotorbestuurders wat glo dat hulle geslagsomgang moet hê om op warm dae koel te bly. In Japan glo tonnelwerkers dat dit teëspoed sal meebring as ’n vrou in ’n tonnel ingaan voordat dit voltooi is. Daar is ook baie bygelowe in georganiseerde sport. Een vlugbalspeler het selfs ’n reeks oorwinnings toegeskryf aan die feit dat hy swart sokkies pleks van wittes gedra het. Die lys is eindeloos.

Wat van jou? Het jy dalk ’n geheime, onverklaarbare vrees? Word jy geraak deur ’n “geloof, ’n mate van geloof of ’n gebruik waarvoor daar blykbaar geen logiese verduideliking is nie”? Jou antwoord kan insiggewend wees, aangesien dit is hoe een naslaanwerk die woord “bygeloof” definieer.

Iemand wat toelaat dat bygelowigheid ’n uitwerking op sy besluite en daaglikse roetine het, laat toe dat hy deur iets oorheers word wat hy nie werklik verstaan nie. Is dit verstandig? Moet ons ons aan so ’n vae en moontlik bose invloed onderwerp? Is bygelowigheid ’n onbeduidende swakheid of ’n gevaarlike bedreiging?