Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Joga—Net ’n oefenprogram, of is daar meer by betrokke?

Joga—Net ’n oefenprogram, of is daar meer by betrokke?

Joga—Net ’n oefenprogram, of is daar meer by betrokke?

DIT is vandag vir mense baie belangrik om ’n slank en gesonde liggaam te hê. Gevolglik het baie hulle tot gimnasiums en gesondheidsklubs gewend. Duisende mense in die Westerse wêreld het hulle om dieselfde rede tot joga, ’n Oosterse kuns, gewend.

Mense wat aan spanning en depressie ly of gefrustreerd voel, het hulle ook tot joga gewend vir vertroosting en oplossings. Veral sedert die 1960’s, die dekade van hippies en blommekinders, het belangstelling in Oosterse godsdienste en hulle mistieke gebruike regdeur die Weste versprei. Rolprentsterre en rockmusikante het transendentale meditasie, wat nou verbonde aan joga is, gewild laat word. Met die oog op die toenemende belangstelling in joga kan ons vra: ‘Is joga bloot ’n oefenprogram wat die beoefenaar daarvan ’n gesonde, slank liggaam en ’n mate van gemoedsrus sal gee? Kan joga beoefen word sonder dat dit enige godsdienstige implikasies inhou? Is joga gepas vir Christene?’

Die agtergrond van joga

Die oorspronklike Sanskritwoord vir ‘joga’ kan beteken om te verenig of te verbind of onder een juk saam te voeg, om in te span of te beheer. Vir ’n Hindoe is joga ’n tegniek of dissipline wat eenwording met ’n groot bonatuurlike mag of gees tot gevolg het. Dit is al beskryf as iets wat “al die kragte van die liggaam, verstand en siel met God verbind”.

Tot hoe ver in die geskiedenis kan joga teruggevoer word? Afbeeldings van mense wat in verskillende jogaposisies sit, kom voor op seëls wat in die Indusvallei, in hedendaagse Pakistan, gevind is. Volgens argeoloë het die Indusvallei-beskawing tussen die derde en die tweede millennium v.G.J. bestaan, baie na aan die tyd van die Mesopotamiese kultuur. Op artefakte uit albei gebiede word ’n man uitgebeeld, wat ’n godheid voorstel; hy is met dierehorings bekroon en word deur diere omring, wat ’n mens aan Nimrod, die “magtige jagter”, laat dink (Genesis 10:8, 9). Die Hindoes beweer dat die figure wat in jogaposisies sit, afbeeldings is van die god Siwa, meester van die diere en meester van joga, wat dikwels deur middel van die lingam, ’n falliese simbool, aanbid word. Die boek Hindu World noem joga dus “’n kode van asketiese gebruike, hoofsaaklik van voor-Ariese oorsprong, wat oorblyfsels van talle primitiewe opvattings en voorskrifte bevat”.

Die metodes van joga is aanvanklik mondelings oorgedra. Toe het die Indiese jogawysgeer Patandzjali dit in ’n breedvoerige, geskrewe vorm omgesit, bekend as die Jogasoetra, wat nog steeds die basiese instruksieboek van joga is. Volgens Patandzjali is joga “’n stelselmatige poging om volmaaktheid te bereik, deur beheer te hê oor die verskillende elemente van die menslike natuur, fisies en psigies”. Vandat joga ontstaan het en tot vandag toe, was dit ’n integrerende deel van Oosterse godsdienste, in ons tyd veral van Hindoeïsme, Djainisme en Boeddhisme. Party beoefenaars van joga glo dat dit hulle sal help om moksja, of bevryding, te bereik deurdat hulle een word met ’n aldeurdringende gees.

Ons vra dus weer eens: ‘Kan joga bloot as ’n liggaamlike oefening gebruik word om ’n gesonde liggaam en ’n ontspanne verstand te verkry, sonder enige betrokkenheid by godsdiens?’ Met die oog op die agtergrond daarvan sal die antwoord nee moet wees.

Waarheen kan joga jou lei?

Die doel van joga as ’n dissipline is om iemand te lei na die geestelike ondervinding om verbind te word of een te word met ’n bomenslike gees. Maar watter gees sou dit wees?

In Hindu World sê die skrywer Benjamin Walker van joga: “Dit was moontlik ’n vroeë stelsel van magiese ritualisme, en daar is nog steeds ’n ondertoon van okkultisme en towery in joga.” Hindoefilosowe erken dat die beoefening van joga iemand bonatuurlike kragte kan gee, hoewel hulle gewoonlik beweer dat dit nie die hoofdoel van joga is nie. Byvoorbeeld, in die boek Indian Philosophy sê die voormalige president van Indië, dr. S. Radhakrishnan, dat “beheer oor die liggaam deur liggaamshoudings die uiterstes van hitte en koue onbeduidend maak [vir die jogi]. . . . Die jogi kan oor ’n afstand sien en hoor . . . Die oordraging van gedagtes van een persoon na ’n ander sonder die normale kommunikasiemiddele is heeltemal moontlik. . . . Die jogi kan sy liggaam onsigbaar maak.”

Wanneer mense sien dat ’n jogi op ’n bed van spykers lê of oor warm kole loop, lyk dit dalk vir sommige na oëverblindery en vir ander na ’n grap. Maar hierdie dinge kom algemeen voor in Indië, en so ook die gebruik om op een been te staan terwyl daar ure lank direk na die son gestaar word, asook om beheer oor asemhaling te hê wat die persoon in staat stel om lang tye in sand begrawe te bly. In Junie 1995 het The Times of India berig dat ’n drie en ’n half jaar oue dogtertjie in ’n beswyming gelê het terwyl ’n motor wat meer as 750 kilogram weeg, toegelaat is om oor haar onderlyf te ry. Die skare was verbaas toe sy wakker word en heeltemal ongedeerd was. Die berig het bygevoeg: “Dit was suiwer jogakrag.”

Dit is ongetwyfeld vir geen normale mens moontlik om enige van hierdie dinge te doen nie. Daarom moet ’n Christen hom afvra: Waarop dui hierdie uitsonderlike dinge? Kom dit van Jehovah God, “die Allerhoogste oor die hele aarde”, of van ’n ander bron? (Psalm 83:18). Die Bybel sê duidelik wat God se beskouing hieroor is. Toe die Israeliete op die punt gestaan het om in te gaan in die Beloofde Land, wat deur die Kanaäniete bewoon is, het Jehovah deur Moses vir die kinders van Israel gesê: “[Jy] mag . . . nie leer om volgens die verfoeilike dinge van daardie nasies te doen nie.” Watter “verfoeilike dinge”? Moses het gewaarsku teen enigiemand “wat van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is” (Deuteronomium 18:9, 10). Hierdie dinge is verfoeilik vir God omdat dit werke van die demone en van die gevalle vlees is.—Galasiërs 5:19-21.

Nie vir Christene nie

Ongeag wat gesondheidsinstrukteurs dalk sê om die teendeel te probeer bewys, joga is nie net liggaamlike oefeninge nie. Die boek Hindu Manners, Customs and Ceremonies vertel die ondervindinge van twee jogabeginners wat onder die leiding van ’n ghoeroe gestaan het. Die een het volgens berig gesê: “Ek het bomenslike pogings aangewend om my asem so lank as moontlik op te hou en het net asemgehaal wanneer ek op die punt gestaan het om flou te word. . . . Eendag, op die middaguur, het ek gedink dat ek ’n helder maan sien, wat gelyk het of dit beweeg en heen en weer geswaai het. ’n Ander keer het ek my op die middaguur verbeel dat ek in dik duisternis gehul is. My instrukteur . . . was baie tevrede toe ek hom van hierdie visioene vertel het. . . . Die tyd kom nader, het hy my verseker, wanneer ek baie verbasender resultate weens my selfkastyding sou ervaar.” Die tweede man vertel: “Hy het my verplig om elke dag na die lug te staar sonder om my oë te knip of my posisie te verander. . . . Soms het ek gedink dat ek vuurvonke in die lug sien; ander kere het ek gedink dat ek vuurbolle en ander meteore sien. My onderrigter was baie tevrede met die sukses van my pogings.”

Die vreemde gesigte is blykbaar deur die ghoeroes as die gepaste resultate beskou op die weg na die ware doelwit van joga-oefeninge. Ja, die einddoel van joga is moksja, wat na bewering beteken dat ’n mens een word met die een of ander onpersoonlike groot gees. Dit word beskryf as “die (doelbewuste) beëindiging van spontane denkvermoëns”. So iets is duidelik in stryd met die doel waarna Christene moet streef, soos hulle gemaan word: “[Bied] julle liggaam aan . . . as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë. En moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”—Romeine 12:1, 2.

Elkeen moet self besluit oor watter liggaamlike oefening hy wil doen. Christene sal egter nie toelaat dat enigiets—hetsy dit liggaamlike oefening, kleredrag, vermaak, om te eet of te drink of iets anders is—hulle verhouding met Jehovah God skend nie (1 Korintiërs 10:31). Vir diegene wat bloot ter wille van hulle gesondheid oefening doen, is daar baie soorte oefening om van te kies wat hulle nie sal blootstel aan die gevare van spiritisme en okkultisme nie. As ons gebruike en opvattings vermy wat op valse godsdiens gegrond is, kan ons uitsien na die tyd wanneer God ons sal seën met ’n regverdige nuwe stelsel van dinge waarin ons tot in ewigheid volmaakte gesondheid van liggaam en verstand sal kan geniet.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.

[Prente op bladsy 22]

Baie geniet heilsame bedrywighede wat ’n mens nie aan spiritisme blootstel nie