Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer by die ooievaar

Leer by die ooievaar

Leer by die ooievaar

“SELFS die ooievaar in die hemel—hy ken sy vasgestelde tye goed . . . Maar wat my volk betref, hulle het die reg van Jehovah nie leer ken nie” (Jeremia 8:7). Met hierdie woorde het die profeet Jeremia Jehovah se oordeel uitgespreek oor die afvallige mense van Juda, wat Jehovah hulle God verlaat en vreemde gode begin aanbid het (Jeremia 7:18, 31). Waarom het Jeremia die ooievaar as ’n treffende les vir die ontroue Jode gekies?

Die Israeliete het dikwels die ooievaar, en veral die witooievaar, gesien wanneer die voëls deur die Bybellande gemigreer het. Die Hebreeuse naam vir hierdie groot langbeenwaadvoël is die vroulike vorm van ’n woord met die betekenis “lojale; iemand wat liefderyke goedhartigheid betoon”. Dit is gepas, want anders as die meeste ander voëls bly die mannetjie en wyfie van die witooievaars lewenslank ’n paar. Nadat hulle die winter in warmer streke deurgebring het, keer die meeste ooievaars jaar ná jaar terug, dikwels na dieselfde nes wat hulle voorheen gebruik het.

Die ooievaar se instinktiewe gedrag is ook op ander merkwaardige maniere ’n voorbeeld van die eienskap lojaliteit. Mannetjies en wyfies help om die eiers uit te broei en die kuikens te voer. Die boek Our Magnificent Wildlife verduidelik: “As ouers is ooievaars besonder getrou. ’n Mannetjie in Duitsland het in kragdrade vasgevlieg en is doodgeskok. Die wyfie het 3 dae lank alleen voortgegaan om die eiers uit te broei, waartydens sy die nes net een keer vir ’n kort rukkie verlaat het om kos te soek. . . . In ’n ander geval, waar die wyfie geskiet is, het die pa die kleintjies grootgemaak.”

Deur instinktief getrou te bly aan sy lewenslange maat en deur liefdevol vir sy kleintjies te sorg, doen die ooievaar inderdaad die betekenis van sy naam gestand—“lojale”. Ooievaars het dus ’n kragtige les voorsien vir die ontroue en weerspannige Israeliete.

Vandag beskou baie mense lojaliteit en getrouheid as verouderde begrippe—bewonderenswaardig, maar nie prakties nie. Die feit dat egskeiding, die verwerping van gesinslede, geldverduistering en ander vorme van bedrog so vinnig toeneem, toon dat daar geen waarde meer aan lojaliteit geheg word nie. In teenstelling hiermee heg die Bybel groot waarde aan lojaliteit wat deur liefde en goedhartigheid gemotiveer word. Dit spoor Christene aan om hulle “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:24). Ja, die nuwe persoonlikheid help ons om lojaal te wees, maar ons kan ook ’n les oor lojaliteit by die ooievaar leer.