Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Oud en versadig van jare

Oud en versadig van jare

Lewensverhaal

Oud en versadig van jare

SOOS VERTEL DEUR MURIEL SMITH

’n Harde klop het my voordeur laat skud. Ek was pas terug by die huis vir middagete ná ’n besige oggend in die predikingswerk. Soos dit my gewoonte was, het ek water gekook vir ’n koppie tee en wou ek net gaan sit vir my halfuur lange blaaskansie. Die klop het baie dringend geklink, en terwyl ek deur toe gegaan het, het ek gewonder wie dit nou juis dié tyd van die middag kon wees. Ek het gou uitgevind. Die twee mans op my drumpel het hulle as polisiemanne voorgestel. Hulle het gesê dat hulle daar is om my huis te deursoek vir lektuur wat deur Jehovah se Getuies—’n verbode organisasie—gepubliseer word.

Waarom was daar ’n verbod op Jehovah se Getuies in Australië, en hoe het ek een van hulle geword? Dit het alles begin met ’n geskenk wat my ma in 1910 vir my gegee het, toe ek tien jaar oud was.

ONS gesin het in ’n houthuis in Crows Nest, ’n noordelike voorstad van Sydney, gewoon. Ek het eendag van die skool af by die huis aangekom en gesien dat my ma met ’n man by die voordeur praat. Ek het gewonder wie hierdie vreemde man was wat ’n pak klere aangehad en ’n sak vol boeke gedra het. Ek het my skamerig verskoon en by die huis ingegaan. Maar net ’n paar minute later het my ma my geroep. Sy het gesê: “Hierdie man het interessante boeke, en dis alles oor die Bybel. Nou ja, aangesien dit een van die dae jou verjaarsdag is, kan jy kies tussen ’n nuwe rok of hierdie boeke. Wat wil jy die graagste hê?”

“O, Mamma, ek wil graag die boeke hê”, het ek geantwoord.

So het ek op tienjarige ouderdom die eerste drie dele van Studies in the Scriptures, deur Charles Taze Russell, gekry. Die man by die deur het aan my ma verduidelik dat sy my sou moes help om die boeke te verstaan, aangesien hulle waarskynlik te moeilik vir my sou wees. My ma het gesê dat sy dit met graagte sou doen. Ongelukkig is my ma kort hierna oorlede. My pa het baie goed na my, my broer en my suster omgesien, maar ek het nou ekstra verantwoordelikhede gehad om te dra, en ek het soms gevoel dat dit my oorweldig. Maar nog ’n tragedie sou ons kort hierna tref.

Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek, en net ’n jaar later het ons geliefde pa gesterf. Ons was nou weeskinders, en my broer en suster het by familie gaan woon en ek is na ’n Katolieke kosskool gestuur. Soms het eensaamheid my ondergekry. Ek is nietemin dankbaar vir die geleentheid wat ek gegun is om my liefde vir musiek, veral die klavier, te kon uitleef. Die jare het verbygegaan, en ek het my opleiding aan die kosskool voltooi. In 1919 het ek met Roy Smith getrou, wat musiekinstrumente verkoop het. In 1920 het ons met ’n gesin begin, en weer eens het ek verdiep geraak in die daaglikse sorge van die lewe. Maar wat van daardie boeke?

’n Buurvrou vertel my van geestelike waarheid

Deur al daardie jare het die “Bybelboeke” saam met my gegaan. Hoewel ek hulle nooit regtig gelees het nie, het ek diep in my hart geweet dat hulle ’n belangrike boodskap bevat. Toe, eendag in die laat 1920’s, het Lil Bimson, een van ons bure, kom kuier. Ons het in die sitkamer gaan sit en tee gedrink.

“Haai, jy het daardie boeke!” het sy skielik uitgeroep.

“Watter boeke?” het ek verbaas gevra.

Sy het na Studies in the Scriptures op die boekrak gewys. Lil het hulle geleen en daardie dag huis toe gevat en gretig begin lees. Haar opgewondenheid oor wat sy gelees het, het gou baie duidelik geword. Lil het nog lektuur by die Bybelstudente gekry, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Daarbenewens kon sy nie anders as om ons te vertel van al die dinge wat sy leer nie. Een van die boeke wat sy gekry het, was Die harp van God, en kort voor lank was dit in ons huis. My loopbaan in Jehovah se diens het uiteindelik begin toe ek tyd opsy gesit het om hierdie Bybelpublikasie te lees. Uiteindelik het ek antwoorde op basiese vrae gevind wat my kerk my nie kon gee nie.

Ek was baie bly toe Roy besondere aandag aan die Bybelboodskap geskenk het, en ons albei het ywerige Bybelstudente geword. Voorheen was Roy ’n lid van die Vrymesselaars. Nou was ons gesin verenig in ware aanbidding, en een van die broers het twee keer per week ’n Bybelstudie met ons hele gesin gehou. Ons het verdere aanmoediging ontvang toe ons die vergaderinge van die Bybelstudente begin bywoon het. Die vergaderinge is in Sydney gehou in ’n klein gehuurde saaltjie in die voorstad Newtown. Op daardie stadium was daar minder as 400 Getuies in die hele land, en daarom moes die meeste broers baie ver reis om vergaderinge by te woon.

Ons gesin moes die Sydney-hawe gereeld oorsteek om die vergaderinge by te woon. Voordat die Sydney-hawebrug in 1932 gebou is, moes ons elke keer op ’n veerboot die hawe oorsteek. Ten spyte van die tyd en geld wat hierdie ritte gekos het, het ons probeer om geeneen van die geestelike maaltye oor te slaan wat Jehovah voorsien het nie. Ons inspanning om standvastig in die waarheid te word, was die moeite werd, want die Tweede Wêreldoorlog was aan die kom, en die neutraliteitskwessie sou ons gesin regstreeks raak.

’n Tyd van toetse en belonings

Die vroeë 1930’s was opwindende tye vir my en my gesin. Ek is in 1930 gedoop, en in 1931 was ek teenwoordig by daardie onvergeetlike streekbyeenkoms toe ons almal opgestaan het en ingestem het om die pragtige naam Jehovah se Getuies aan te neem. Ek en Roy het daardie naam probeer hooghou deur al die predikingsmetodes te gebruik en kampanjes te ondersteun wat deur die organisasie aangemoedig is. In 1932 het ons byvoorbeeld deelgeneem aan ’n spesiale kampanje om boekies te versprei onder die groot getalle mense wat gekom het om die opening van die Sydney-hawebrug te sien. Die gebruik van klankmotors was vir ons iets baie besonders, en ons het dit as ’n voorreg beskou toe ons gesinsmotor met so ’n klankstelsel toegerus is. Met hierdie tegnologie het ons opnames van Bybellesings deur broer Rutherford in die strate van Sydney laat weerklink.

Maar tye was weer aan die verander en die lewe het al hoe moeiliker geword. Teen 1932 was Australië in die knellende greep van die Groot Depressie, en daarom het ek en Roy besluit om ons lewe te vereenvoudig. Een manier waarop ons dit gedoen het, was om nader aan die gemeente te trek, en so het ons ons reiskoste aansienlik verminder. Ekonomiese probleme het egter onbeduidend begin lyk namate die verskrikking van die Tweede Wêreldoorlog op die wêreld toegesak het.

Deur Jesus se opdrag te gehoorsaam om geen deel van die wêreld te wees nie, het Jehovah se Getuies regoor die wêreld die teiken van vervolging geword, en Australië was geen uitsondering nie. Party mense is deur die oorlogshisterie meegevoer en het ons Kommuniste genoem. Hierdie teenstanders het valslik beweer dat Jehovah se Getuies die vier radiostasies wat hulle in Australië besit het, gebruik om boodskappe aan die Japannese leër te stuur.

Jong broers wat vir militêre diens opgeroep is, is aan groot druk onderwerp om hulle neutraliteit prys te gee. Ek is bly om te kan sê dat al drie ons seuns hulle standpunt vir hulle oortuigings ingeneem het en neutraal gebly het. Ons oudste seun, Richard, is tot 18 maande gevangenisstraf gevonnis. Ons tweede seun, Kevin, kon as ’n gewetensbeswaarde registreer. Ongelukkig het ons jongste seun, Stuart, in ’n motorfietsongeluk gesterf toe hy op pad was om sy verweer in die hof oor die neutraliteitskwessie te voltooi. Hierdie tragedie was werklik vir ons ’n beproewing. Maar deur ons aandag op die Koninkryk en Jehovah se belofte van ’n opstanding gevestig te hou, kon ons volhard.

Hulle het iets baie belangrikers agtergelaat

In Januarie 1941 is die werk van Jehovah se Getuies in Australië verbied. Maar soos Jesus se apostels, was ek en Roy eerder aan God as heerser gehoorsaam as aan mense, en ons het twee en ’n half jaar lank ons werk ondergronds voortgesit. Dit was gedurende hierdie tyd dat die twee polisiemanne in burgerdrag wat ek vroeër genoem het, aan my deur geklop het. Wat het gebeur?

Wel, ek het hulle ingenooi. Terwyl hulle ingestap het, het ek gevra: “Gee julle om as ek net my koppie tee klaardrink voordat julle die huis deursoek?” Verbasend genoeg het hulle ingestem, en ek het kombuis toe gegaan om tot Jehovah te bid en my gedagtes agtermekaar te kry. Toe ek teruggekeer het, het die een polisieman in ons studeerkamer ingegaan en alles gevat waarop hy die embleem van die Wagtoring kon sien, onder meer die lektuur in my velddienssak en my Bybel.

“Is jy seker dat jy nie nog lektuur het wat êrens in kartondose versteek is nie?” het hy toe gevra. “Volgens ons inligting woon jy elke week ’n vergadering by in ’n saal aan die onderpunt van hierdie straat en neem jy baie lektuur daarheen.”

“Dis waar”, het ek geantwoord, “maar dis nie nou daar nie.”

“Ja, ons weet dit, mev. Smith”, het hy gesê. “Ons weet ook dat die lektuur gebêre word in die huise van mense in die omgewing.”

Hulle het vyf kartondose met eksemplare van die boekie Freedom or Romanism in ons seun se slaapkamer gekry.

“Is jy seker dat jy nie nog iets in die garage het nie?” het hy gevra.

“Nee, daar’s niks daar nie”, het ek gesê.

Hy het toe ’n kas in die eetkamer oopgemaak. Hy het oningevulde vorms daar gekry, waarop die gemeentelike rapport gewoonlik ingevul is. Hy het dit gevat en toe daarop aangedring om die garage te deursoek.

“Kom dan hierlangs”, het ek gesê.

Hulle het my buitentoe gevolg na die garage, en nadat hulle dit deursoek het, is hulle uiteindelik daar weg.

Wel, daardie polisiemanne het gedink dat hulle ’n groot slag geslaan het met daardie vyf kartondose! Maar hulle het iets baie belangrikers agtergelaat. Jy sien, in daardie dae was ek die gemeente se sekretaresse, en ek het lyste van die gemeentelike verkondigers en ander belangrike inligting in die huis gehad. Gelukkig het die broers ons gewaarsku om daarop voorbereid te wees dat ons huise deursoek sou word, en ek het daardie dokumente goed weggesteek. Ek het dit in koeverte onderin my tee-, suiker- en meelblikke gesit. Ek het party ook in die voëlhok gesit, wat naby die garage was. Die polisie het dus reg langs die inligting wat hulle eintlik wou hê, verbygeloop.

Ons betree die voltydse diens

Teen 1947 het ons ouer kinders hulle eie gesinne begin. Toe het ek en Roy besluit dat ons die voltydse diens kon betree. Daar was hulp nodig in die Suid-Australiese veld, en daarom het ons ons huis verkoop en ’n karavaan gekoop, wat ons Mispa genoem het, wat “Wagtoring” beteken. Hierdie lewenstyl het dit vir ons moontlik gemaak om die predikingswerk in afgeleë gebiede te doen. Ons het dikwels in die ontoegekende gebied op die platteland gaan werk. Ek het baie aangename herinneringe van daardie tyd. Een van die studies wat ek gehou het, was met ’n jong vrou, Beverly. Voordat sy tot doop kon vorder, het sy uit die gebied weggetrek. Stel jou voor hoe bly ek was toe ’n suster my jare later by ’n streekbyeenkoms nader en sê dat sy Beverly is! Watter vreugde het dit my tog ná al daardie jare verskaf om te sien dat sy Jehovah saam met haar man en kinders dien.

In 1979 het ek die voorreg gehad om die Pionierdiensskool by te woon. Een van die dinge wat by daardie skool beklemtoon is, is dat ’n goeie rooster vir persoonlike studie nodig is as ’n mens in die pionierdiens wil volhard. Ek het beslis ondervind dat dit waar is. Studie, vergaderinge en die bediening was my hele lewe. Ek beskou dit as ’n voorreg dat ek meer as 50 jaar lank as ’n gewone pionier kon dien.

Gesondheidsprobleme

Die laaste paar dekades het ek egter voor buitengewone uitdagings te staan gekom. In 1962 is daar vasgestel dat ek gloukoom het. Destyds was die behandeling hiervoor ietwat beperk, en my sig het redelik vinnig versleg. Roy se gesondheid het ook agteruitgegaan, en in 1983 het hy ’n baie ernstige beroerte gehad wat hom gedeeltelik verlam en hom sy spraak laat verloor het. Hy is in 1986 oorlede. Hy het my gedurende my voltydse diens op baie praktiese maniere ondersteun, en ek mis hom werklik baie.

Ten spyte van hierdie terugslae het ek met ’n goeie geestelike roetine probeer volhou. Ek het ’n sterk motor gekoop, een wat ek vir velddiens in ons plattelandse gebied kon gebruik, en met die hulp van my dogter Joyce met my pionierdiens voortgegaan. My sig het geleidelik verswak totdat ek die sig in my een oog heeltemal verloor het. Die dokters het dit met ’n glasoog vervang. Ek kon nogtans met behulp van ’n vergrootglas en die lektuur in grootdruk, drie tot vyf uur per dag studeer met die bietjie sig wat ek nog in my ander oog gehad het.

Studietyd was nog altyd vir my baie kosbaar. Jy kan jou dus voorstel hoe geskok ek was toe ek een middag terwyl ek besig was om te studeer, ewe skielik niks kon sien nie. Dit was asof iemand die lig afgeskakel het. Ek kon nou glad nie meer sien nie. Hoe het ek aanhou studeer? Wel, al is ek nou al redelik doof, maak ek staat op die oudiokassette en die liefdevolle ondersteuning van my gesin om my geestelik sterk te hou.

Volharding tot die einde toe

Noudat ek oor die honderd jaar oud is, het ek nog ’n paar gesondheidsprobleme bygekry, en ek moes my pas heelwat verslap. Soms voel ek ’n bietjie verlore. Trouens, noudat ek glad nie meer kan sien nie, verdwaal ek soms regtig! Ek sal so graag weer Bybelstudies wil hou, maar met my gesondheid soos dit nou is, kan ek nie meer uitgaan en hulle gaan soek nie. Dit het my aanvanklik terneergedruk laat voel. Ek moes leer om my beperkings te aanvaar en net te doen wat ek kan. Dit was nie maklik nie. Maar ek het nogtans die voorreg om elke maand die bietjie tyd te rapporteer wat ek daaraan bestee om oor ons groot God, Jehovah, te praat. Wanneer ek die geleentheid kry om oor die Bybel te praat, soos wanneer verpleegsters, sakemanne en ander na my huis toe kom, maak ek goed gebruik daarvan—op taktvolle wyse natuurlik.

Een van die wonderlikste seëninge wat ek geniet, is om te sien hoe vier geslagte van my familie Jehovah getrou dien. Party van hulle dien as pionierbedienaars op plekke waar daar hulp nodig is, as ouer manne of bedieningsknegte en by Bethel. Soos baie ander van my geslag, het ek verwag dat die einde van hierdie stelsel al lankal hier sou wees. Maar wat ’n vermeerdering het ek tog gedurende my sewe dekades in die bediening gesien! Ek put groot bevrediging uit die wete dat ek aan hierdie grootse werk kon deelneem.

Die verpleegsters wat my besoek, sê dat dit my geloof moet wees wat my aan die gang hou. Ek stem met hulle saam. As ’n mens in Jehovah se diens bedrywig is, geniet jy die beste lewe wat daar kan wees. Soos koning Dawid kan ek waarlik sê dat ek oud en versadig van jare is.—1 Kronieke 29:28.

(Suster Muriel Smith is op 1 April 2002 oorlede, terwyl hierdie artikel voorberei is. Sy sou een maand later 102 jaar oud geword het en was werklik voorbeeldig in getrouheid en volharding.)

[Prente op bladsy 24]

Toe ek omtrent vyf was en toe ek 19 was en my man Roy ontmoet het

[Prent op bladsy 26]

Ons motor en die karavaan wat ons Mispa genoem het

[Prent op bladsy 27]

Saam met my man Roy in 1971