Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Het Abel geweet dat ’n diereoffer nodig was om God se guns te verkry?

Die Bybelverslag oor Kain en Abel wat hulle offers gebring het, is baie kort. In Genesis 4:3-5 lees ons: “Na verloop van tyd het Kain van die vrugte van die grond as ’n offer aan Jehovah gebring. Maar wat Abel betref, ook hy het van die eerstelinge van sy kleinvee gebring, selfs hulle vet. En terwyl Jehovah Abel en sy offer gunstig aangesien het, het hy Kain en sy offer glad nie gunstig aangesien nie.”

Die Bybel sê nie dat Jehovah voor hierdie gebeurtenis enige spesifieke inligting gegee het oor offerandes of oor watter soort offerandes vir hom aanneemlik sou wees nie. Gevolglik het Kain en Abel klaarblyklik hulle offers heeltemal uit eie beweging gebring. Hulle het nie toegang tot hulle ouers se oorspronklike Paradystuiste gehad nie; hulle het die gevolge van sonde begin voel en hulle was van God vervreemd. In hulle sondige en ellendige toestand het hulle heel moontlik ’n groot behoefte daaraan gehad om hulle tot God te wend om hulp. Hulle het waarskynlik vrywillig ’n gawe aan God geoffer om sy guns te probeer verkry.

Die uiteinde was dat God Abel se offer aangeneem het, maar nie Kain s’n nie. Waarom? Was dit omdat Abel die regte dinge geoffer het en Kain nie? Ons kan nie seker wees of die soort offer enigiets met die saak te doen gehad het nie, aangesien daar nie vir een van hulle gesê is wat aanneemlik is en wat nie. Maar albei soorte offers was waarskynlik aanneemlik. In die Wet wat Jehovah later aan die nasie Israel gegee het, het aanneemlike offerandes nie net diere en dele van diere ingesluit nie, maar ook geroosterde graan, garsgerwe, fynmeel, gebak en wyn (Levitikus 6:19-23; 7:11-13; 23:10-13). God het klaarblyklik nie net weens die aard van Kain en Abel se offerandes een aangeneem en die ander verwerp nie.—Vergelyk Jesaja 1:11; Amos 5:22.

Eeue later het die apostel Paulus gesê: “Deur geloof het Abel ’n offerande van groter waarde aan God gebring as Kain, en deur hierdie geloof het hy getuienis aangaande homself ontvang dat hy regverdig is, aangesien God aangaande sy gawes getuig het” (Hebreërs 11:4). God het Abel dus as regverdig beskou weens geloof. Maar geloof waarin? Geloof in Jehovah se belofte dat hy die Saad sou voorsien wat ‘die slang se kop sou vermorsel’ en die vrede en volmaaktheid sou herstel wat die mensdom vroeër geniet het. Die stelling dat die Saad ‘in die hakskeen gewond’ sou word, het Abel moontlik laat redeneer dat ’n offerande nodig was waarby die vergieting van bloed betrokke was (Genesis 3:15). Hoe dit ook al sy, feit is dat Abel se betuiging van geloof gemaak het dat sy “offerande van groter waarde . . . as Kain” s’n was.

Kain is eweneens nie verwerp omdat hy die verkeerde soort offerande gebring het nie, maar weens sy gebrek aan geloof, wat deur sy dade getoon is. Jehovah het dit duidelik vir Kain gestel: “As jy jou daartoe wend om goed te doen, sal daar dan nie ’n verheffing wees nie?” (Genesis 4:7). God het Kain nie verwerp omdat hy oor sy offer ontevrede was nie. Kain is eerder deur God verwerp “omdat sy eie werke goddeloos was”—gekenmerk deur jaloesie, haat en uiteindelik moord.—1 Johannes 3:12.