Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ywerige inspanning—Wanneer seën Jehovah dit?

Ywerige inspanning—Wanneer seën Jehovah dit?

Ywerige inspanning—Wanneer seën Jehovah dit?

“LAAT my gaan, want die dag het gebreek.”

“Ek sal u nie laat gaan voordat u my eers geseën het nie.”

“Wat is jou naam?”

“Jakob.”

“Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het met God en met mense geworstel sodat jy uiteindelik die oorhand gekry het.”—Genesis 32:26-28.

Hierdie interessante gesprek is gevoer nadat die 97-jarige Jakob merkwaardige atletiese ratsheid getoon het. Hoewel die Bybel hom nie as ’n atleet beskryf nie, het hy ’n hele nag deur met ’n engel geworstel. Waarom? Jakob was diep besorg oor Jehovah se belofte aan sy voorvader—sy erfenis.

Baie jare vroeër het Jakob se broer Esau sy eersgeboortereg aan hom gegee in ruil vir ’n bord kos. Nou ontvang Jakob tyding dat Esau op pad is met 400 man. Dit is te verstane dat Jakob angstig is, en daarom probeer hy bevestiging kry van Jehovah se belofte dat sy gesin voorspoedig sal wees in die land oorkant die Jordaanrivier. Jakob tree daadwerklik op in ooreenstemming met sy gebede. Hy stuur milddadige geskenke aan Esau wat al hoe nader kom. Hy tref ook verdedigingsmaatreëls deur sy kamp in twee te verdeel en sy vrouens en kinders oor die Jabbokdrif te neem. Met kragtige inspanning en baie trane worstel hy boonop die hele nag met ’n engel sodat “hy om guns [kan] smeek”.—Hosea 12:4; Genesis 32:1-32.

Dink aan ’n vroeëre voorbeeld, dié van Ragel, Jakob se tweede vrou en eerste liefde. Ragel is deeglik bewus van Jehovah se belofte om Jakob te seën. Haar suster Lea, Jakob se eerste vrou, word met vier seuns geseën terwyl Ragel onvrugbaar bly (Genesis 29:31-35). Sy gee egter nie toe aan selfbejammering nie, maar hou aan om Jehovah in gebed te smeek en sy doen positiewe stappe in ooreenstemming met haar gebede. Net soos haar stammoeder Sara met Hagar gedoen het, bring Ragel haar diensmeisie Bilha na Jakob toe en bied haar aan as ’n byvrou sodat, soos Ragel dit stel, “ek, ja ek, kinders van haar kan kry”. a Bilha baar twee seuns vir Jakob—Dan en Naftali. By Naftali se geboorte vertel Ragel van haar emosionele inspanning: “Met moeisame worstelinge het ek met my suster geworstel. Ek het ook oorwin!” Ragel is verder geseën met haar eie twee seuns, Josef en Benjamin.—Genesis 30:1-8; 35:24.

Waarom het Jehovah die fisiese en emosionele inspanning van Jakob en Ragel geseën? Hulle het Jehovah se wil eerste gestel en hulle erfenis waardeer. Hulle het ernstig gebid vir sy seën in hulle lewe en positiewe stappe gedoen in ooreenstemming met God se wil en hulle eie versoeke.

Soos Jakob en Ragel kan baie vandag getuig dat dit ywerige inspanning verg om Jehovah se seën te verkry. Hulle inspanning gaan dikwels gepaard met trane, moedeloosheid en frustrasie. Een Christenmoeder, Elizabeth, vertel van die ywerige inspanning wat dit geverg het om weer Christelike vergaderinge gereeld by te woon nadat sy lank weggebly het. Met vyf klein seuntjies, ’n ongelowige man en ’n 30 kilometer lange rit na die naaste Koninkryksaal was dit beslis ’n uitdaging. “Om gereeld by die vergaderinge te kom, het baie selfdissipline gekos, wat ek weet goed was vir my en vir my seuns. Dit het hulle gehelp om te besef dat dit ’n weg is wat die moeite werd is om na te streef.” Jehovah het haar pogings geseën. Van haar drie seuns wat bedrywig in die Christengemeente is, is twee in die voltydse bediening. Sy is verheug oor hulle geestelike vooruitgang en sê: “Hulle het my verbygesteek wat geestelike vooruitgang betref.” Wat ’n seën tog vir haar ywerige inspanning!

Ywerige inspanning wat deur Jehovah geseën word

Ywerige inspanning en harde werk word beslis beloon. Hoe meer ons ons vir ’n projek of toewysing inspan, hoe meer bevrediging put ons daaruit. Dit is hoe Jehovah ons gemaak het. “Elke mens [moet] eet en inderdaad drink en die goeie sien vir al sy harde werk. Dit is die gawe van God”, het koning Salomo geskryf (Prediker 3:13; 5:18, 19). Maar om God se seën te ontvang, moet ons seker maak dat ons ons vir die regte dinge inspan. Is dit byvoorbeeld redelik om te verwag dat Jehovah ’n lewenswyse sal seën waar geestelike belange nie eerste gestel word nie? Kan ’n toegewyde Christen hoop om Jehovah se goedkeuring te verkry as hy werk of bevordering aanvaar wat sal beteken dat hy geloofversterkende omgang en onderrigting by Christelike vergaderinge gereeld moet misloop?—Hebreërs 10:23-25.

’n Leeftyd van harde werk om ’n sekulêre beroep of materiële voorspoed na te streef, sal nie noodwendig beteken dat ’n mens “die goeie sien” as jy geestelike dinge uitgesluit het nie. Jesus het in sy illustrasie van die saaier die gevolge beskryf van inspanning vir die verkeerde dinge. Aangaande die saad “wat tussen die dorings gesaai is”, het Jesus verduidelik dat dit “die een [is] wat die woord hoor, maar die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar” (Matteus 13:22). Paulus het ook teen dieselfde strik gewaarsku en bygevoeg dat diegene wat ’n materialistiese weg nastreef “in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes [val], wat mense in vernietiging en verderf stort”. Wat is die teenmiddel vir so ’n geestelik dodelike lewensweg? Paulus het verder gesê: ‘Vlug vir hierdie dinge en moenie julle hoop op onsekere rykdom vestig nie, maar vestig dit op God, wat aan ons alles ryklik vir ons genot verskaf.’—1 Timoteus 6:9, 11, 17.

Ongeag hoe oud ons is of hoe lank ons Jehovah al dien, dit kan vir ons almal voordelig wees om die ywerige inspanning van Jakob en Ragel na te volg. In hulle strewe om God se goedkeuring te verkry, het hulle nooit van hulle erfenis vergeet nie, ongeag hoe angswekkend of frustrerend hulle omstandighede dalk was. Vandag is die druk en probleme waarmee ons te kampe het, dalk net so angswekkend, frustrerend of selfs neerdrukkend. Die versoeking is om die stryd gewonne te gee en nog ’n slagoffer van Satan se aanvalle te word. Hy kan enige van die middele tot sy beskikking gebruik, hetsy dit vermaak of ontspanning, sport of stokperdjies, loopbane of materiële voorspoed is, om sy doel te bereik. Wonderlike resultate word dikwels belowe, maar selde verkry. Diegene wat bedrieg of verlei word om hulle op sulke strewes toe te spits, vind maar alte dikwels dat dit hoofsaaklik tot teleurstelling lei. Laat ons, soos Jakob en Ragel van ouds, die gees ontwikkel van dié wat hard worstel en Satan se sette te bowe kom.

Die Duiwel sal baie graag wil sien dat ons die stryd gewonne gee en voel dat ‘die situasie hopeloos is. Daar is niks wat ons kan doen nie. Dit help nie.’ Hoe noodsaaklik is dit dan tog vir ons almal om te waak dat ons nie ’n fatalistiese gesindheid ontwikkel en dink ‘niemand is lief vir my’ en ‘Jehovah het my vergeet’ nie. Dit is selfvernietigend om aan sulke gedagtes toe te gee. Toon dit dalk dat ons moed opgegee het en nie meer worstel totdat ons ’n seën ontvang nie? Onthou, Jehovah seën ons ywerige inspanning.

Hou aan worstel vir Jehovah se seën

Ons geestelike welsyn hang in groot mate daarvan af dat ons twee basiese waarhede oor ons lewe as knegte van Jehovah besef. (1) Niemand het die alleenreg op al die probleme, siektes of moeilike situasies in die lewe nie en (2) Jehovah luister na die geroep van diegene wat hom ernstig om hulp en ’n seën smeek.—Eksodus 3:7-10; Jakobus 4:8, 10; 1 Petrus 5:8, 9.

Ongeag hoe moeilik jou omstandighede is of hoe beperk jy dalk voel, moenie swig voor “die sonde wat ons maklik verstrik” nie—naamlik gebrek aan geloof (Hebreërs 12:1). Hou aan worstel totdat jy ’n seën ontvang. Beoefen geduld, terwyl jy aan die bejaarde Jakob dink wat die hele nag deur geworstel het sodat hy geseën kon word. Soos die boer wat in die lente saai en wag vir die oes, moet jy geduldig wag op Jehovah se seën op jou geestelike bedrywighede, ongeag hoe beperk jy dalk dink jou bedrywighede is (Jakobus 5:7, 8). En hou altyd die psalmis se woorde in gedagte: “Dié wat met trane saai, sal met vreugdegeroep maai” (Psalm 126:5; Galasiërs 6:9). Wees standvastig en bly in die geledere van dié wat worstel.

[Voetnoot]

a Die gebruik om byvroue te hê, het voor die tyd van die Wetsverbond bestaan en is deur die Wet erken en gereguleer. God het dit eers weer met die koms van Jesus Christus raadsaam geag om die oorspronklike standaard van monogamie wat hy in die tuin van Eden vasgestel het, te herstel, maar hy het wel byvroue deur middel van wette beskerm. Dié gebruik het logieserwys gehelp om die bevolking van Israel vinniger te laat vermeerder.