Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aan wie moet jy lojaal wees?

Aan wie moet jy lojaal wees?

Aan wie moet jy lojaal wees?

“Ons land: . . . Mag dit altyd reg wees; maar ons land, reg of verkeerd.”—Stephen Decatur, Amerikaanse vlootoffisier, 1779-1820.

BAIE beskou onvoorwaardelike lojaliteit aan hulle land as hulle hoogste plig. Ander sou Stephen Decatur se woorde anders stel: ‘My godsdiens, mag dit altyd reg wees; maar my godsdiens, reg of verkeerd.’

Realisties gesproke word die land of godsdiens wat ons lojaliteit eis, dikwels deur ons geboorteplek bepaal, maar die besluit oor wie ons lojaliteit moet ontvang, is te belangrik dat ons dit aan die toeval kan oorlaat. Dit verg egter moed en dit skep probleme as ’n mens die lojaliteite waarmee jy grootgemaak is, bevraagteken.

’n Toets van lojaliteite

’n Vrou wat in Zambië grootgeword het, sê: “Ek was van kleins af godsdienstig. Daaglikse gebed in ons gesin se altaarkamer, die viering van godsdienstige dae en gereelde besoeke aan die tempel was deel van my opvoeding. My godsdiens en aanbidding was ’n onafskeidbare deel van my kultuur, gemeenskap en familie.”

Maar toe sy in haar laat tienerjare was, het sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en kort daarna besluit om haar godsdiens te verander. Was dit ’n daad van dislojaliteit?

Zlatko is in Bosnië grootgemaak, en hy het ’n ruk lank aan die konflik deelgeneem waarin sy tuisland gedompel was. Hy het ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Nou weier hy om teen enigiemand die wapen op te neem. Is hy dislojaal?

Die manier waarop jy hierdie vrae beantwoord, hang van jou beskouing af. Die vrou wat vroeër gemeld is, sê: “In ons gemeenskap was dit ’n onvergeeflike skande as jy jou godsdiens verander het; dit is as ’n daad van dislojaliteit beskou, as verraad teenoor jou familie en gemeenskap.” Zlatko se voormalige vriende in die weermag het eweneens enigiemand wat geweier het om aan hulle kant te veg, as ’n verraaier beskou. Maar daardie vrou sowel as Zlatko voel dat ’n meer verhewe vorm van lojaliteit—lojaliteit aan God—hulle motiveer. Nog belangriker, hoe beskou God diegene wat lojaal aan hom wil wees?

Ware lojaliteit—’n blyk van liefde

Koning Dawid het vir Jehovah God gesê: “Met iemand wat lojaal is, sal u lojaal handel” (2 Samuel 22:26). Die Hebreeuse woord wat hier met “lojaal” vertaal word, dra die gedagte oor van goedhartigheid wat hom liefdevol aan iets heg totdat sy doel daarmee bereik is. Jehovah heg hom liefdevol aan diegene wat lojaal aan hom is, met ’n gesindheid soos dié van ’n moeder met ’n suigeling. Jehovah het vir sy lojale knegte in eertydse Israel gesê: “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie? Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie” (Jesaja 49:15). Diegene wat bereid is om lojaliteit aan God bo alle ander dinge te stel, kan seker wees van sy liefdevolle sorg.

Lojaliteit aan Jehovah is op liefde gegrond. Dit beweeg ’n mens om lief te hê wat Jehovah liefhet en die goddelose dinge te haat wat Jehovah haat (Psalm 97:10). Aangesien Jehovah se oorheersende eienskap liefde is, help lojaliteit aan God ’n mens om nie liefdeloos teenoor ander op te tree nie (1 Johannes 4:8). As iemand dus uit lojaliteit aan God sy godsdiensoortuiging verander, beteken dit nie dat hy nie meer lief is vir sy familie nie.

Lojaliteit aan God—’n krag ten goede

Die vrou wat vroeër genoem is, verduidelik die rede vir haar optrede soos volg: “Deur middel van my studie van die Bybel het ek Jehovah as die ware God leer ken, en ek het ’n persoonlike verhouding met hom opgebou. Jehovah is anders as enige van die gode wat ek voorheen aanbid het; sy liefde, geregtigheid, wysheid en krag is in volmaakte ewewig. Aangesien Jehovah uitsluitlike toegewydheid vereis, kon ek nie meer die ander gode aanbid nie.

“My ouers het herhaaldelik vir my gesê dat hulle baie ontevrede met my is en dat ek hulle teleurstel. Ek het dit uiters moeilik gevind omdat my ouers se goedkeuring baie vir my beteken. Maar terwyl ek stelselmatig al hoe meer kennis van Bybelwaarheid opgedoen het, kon ek duidelik sien watter besluit ek moes neem. Ek kon Jehovah nie die rug toekeer nie.

“Die feit dat ek besluit het om eerder aan Jehovah lojaal te wees as aan godsdienstradisies, beteken nie dat ek dislojaal aan my familie is nie. Ek probeer deur my woorde en dade vir hulle wys dat ek verstaan hoe hulle voel. Maar as ek nie lojaal aan Jehovah is nie, sal ek my familie moontlik daarvan weerhou om hom te leer ken, en dit sal werklik ’n daad van dislojaliteit wees.”

Iemand is ook nie ’n verraaier wanneer lojaliteit aan God vereis dat hy op politieke gebied neutraal bly en nie die wapen teen ander opneem nie. Dit is hoe Zlatko sy optrede verduidelik: “Hoewel ek as ’n Christen grootgemaak is, het ek met iemand getrou wat nie een was nie. Toe die oorlog uitbreek, het albei kante my lojaliteit vereis. Ek is gedwing om te besluit aan watter kant ek sou veg. Ek het drie en ’n half jaar lank in die oorlog geveg. Ek en my vrou het uiteindelik na Kroasië gevlug, waar ons Jehovah se Getuies ontmoet het.

“Uit ons studie van die Bybel het ons tot die besef gekom dat ons allereers aan Jehovah lojaal moet wees en dat hy wil hê ons ons naaste moet liefhê, ongeag aan watter godsdiens of ras hulle behoort. Nou is ek en my vrou verenig in ons aanbidding van Jehovah, en ek het geleer dat ek nie lojaal aan God kan wees en teen my naaste kan veg nie.”

Lojaliteit wat deur juiste kennis gevorm word

Aangesien Jehovah ons Skepper is, geniet lojaliteit aan hom tereg voorrang bo enigiets anders wat op ons lojaliteit aanspraak maak (Openbaring 4:11). Maar om te keer dat lojaliteit aan God in ’n fanatiese en vernietigende krag ontaard, moet dit deur juiste kennis gevorm word. Die Bybel spoor ons aan: ‘Word vernuwe in die krag wat julle verstand aandryf en beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat na God se wil in ware lojaliteit geskep is’ (Efesiërs 4:23, 24). Die bekende man wat hierdie geïnspireerde woorde geskryf het, het die moed gehad om die lojaliteite te bevraagteken waarmee hy grootgemaak is. Sy ondersoek het tot ’n voordelige verandering gelei.

Ja, Saulus het voor ’n toets van lojaliteite te staan gekom, net soos in die geval van baie ander in ons tyd. Saulus is in die streng tradisies van sy familie grootgemaak, en hy het besonder lojaal geword aan die godsdiens waarin hy gebore is. Lojaliteit aan wat hy geglo het, het hom selfs beweeg om met geweld op te tree teenoor dié wat nie sy beskouing gedeel het nie. Saulus was daarvoor bekend dat hy in die huise van Christene ingegaan en hulle weggesleep het sodat hulle gestraf en selfs doodgemaak kon word.—Handelinge 22:3-5; Filippense 3:4-6.

Maar nadat Saulus juiste kennis van die Bybel opgedoen het, het hy iets gedoen wat baie van sy metgeselle as ondenkbaar beskou het. Hy het sy godsdiens verander. Saulus, wat later as die apostel Paulus bekend gestaan het, het besluit om eerder lojaal aan God te wees as aan tradisie. Lojaliteit aan God wat op juiste kennis gegrond was, het Saulus beweeg om verdraagsaam, liefdevol en aanmoedigend te wees, in teenstelling met sy voormalige vernietigende, fanatiese gedrag.

Waarom lojaal wees?

Dit hou besliste voordele in as ons toelaat dat ons lojaliteite deur God se standaarde gevorm word. ’n Verslag wat in 1999 deur die Australiese Instituut vir Gesinstudies uitgebring is, het byvoorbeeld gesê dat “vertroue en getrouheid . . . [en] geestelikheid” van die basiese vereistes vir stabiele en bevredigende huwelike is. Dieselfde studie het bevind dat “stabiele en bevredigende huwelike” daartoe bydra dat mans en vroue ’n gelukkiger, gesonder en langer lewe geniet en dat stabiele huwelike kinders ’n beter kans gee om ’n gelukkige lewe te lei.

In vandag se onseker wêreld is lojaliteit soos ’n reddingstou wat ’n moeë swemmer aan ’n reddingsboot verbind. As die “swemmer” geen lojaliteite het nie, sal hy soos deur golwe en die wind rondgeslinger word. Maar as sy lojaliteite misplaas is, is dit asof sy reddingstou aan ’n sinkende skip vasgemaak is. Soos Saulus sal hy dalk vind dat hy in ’n vernietigende weg ingesleep word. Maar lojaliteit aan Jehovah, wat op juiste kennis gegrond is, is ’n reddingstou wat ons stabiliteit gee en tot ons redding lei.—Efesiërs 4:13-15.

Jehovah maak hierdie belofte aan diegene wat lojaal aan hom is: “Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word” (Psalm 37:28). Binnekort sal almal wat lojaal aan Jehovah is, in ’n paradysaarde ingebring word, waar hulle vryheid van droefheid en pyn sal geniet en hulle sal verheug in blywende verhoudings vry van godsdiens- en politieke verdeeldhede.—Openbaring 7:9, 14; 21:3, 4.

Vandag reeds het miljoene mense regoor die wêreld geleer dat ware geluk slegs moontlik is as hulle lojaal aan Jehovah is. Laat Jehovah se Getuies gerus toe om jou te help om jou beskouing oor lojaliteit in die lig van Bybelwaarheid te ondersoek. Die Bybel sê vir ons: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef.”—2 Korintiërs 13:5.

Dit verg moed om ons geloof te toets en te bevraagteken waarom ons lojaal daaraan is, maar die belonings kan beslis die moeite werd wees wanneer dit ons nader aan Jehovah God bring. Die vrou wat vroeër aangehaal is, druk die gevoelens van baie mense uit wanneer sy sê: “Ek het geleer dat lojaliteit aan Jehovah en aan sy standaarde ons help om gebalanseerd te wees in die manier waarop ons ons familie behandel en om beter lede van die gemeenskap te word. Ongeag hoe moeilik die toetse is, as ons lojaal aan Jehovah is, sal hy altyd lojaal aan ons wees.”

[Prente op bladsy 6]

Juiste kennis het Saulus beweeg om die voorwerp van sy lojaliteit te verander

[Prent op bladsy 7]

Ondersoek gerus jou lojaliteite in die lig van Bybelwaarheid

[Foto-erkennings op bladsy 4]

Churchill, links bo: U.S. National Archives photo; Joseph Göbbels, ver regs: Library of Congress