Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek het vir julle die voorbeeld gestel”

“Ek het vir julle die voorbeeld gestel”

“Ek het vir julle die voorbeeld gestel”

‘Julle behoort vanweë die tyd onderrigters te wees.’—HEBREËRS 5:12.

1. Waarom kan die woorde van Hebreërs 5:12 ’n Christen ietwat besorg laat voel?

 VOEL jy ietwat besorg oor jouself wanneer jy die geïnspireerde woorde van ons temateks lees? Indien wel, is jy nie alleen nie. As volgelinge van Christus weet ons dat ons onderrigters moet wees (Matteus 28:19, 20). Ons weet dat die tye waarin ons lewe dit dringend maak dat ons ander so goed moontlik onderrig. En ons weet dat ons onderrigting die verskil tussen lewe en dood kan beteken vir diegene wat deur ons onderrig word! (1 Timoteus 4:16). Daarom is dit net natuurlik dat ons ons afvra: ‘Is ek werklik die soort onderrigter wat ek behoort te wees? Hoe kan ek verbeter?’

2, 3. (a) Hoe het een onderwyser die grondslag van goeie onderrigting beskryf? (b) Watter voorbeeld het Jesus vir ons gestel wat onderrigting betref?

2 Ons hoef nie mismoedig te raak as ons so voel nie. As ons aan onderrigting uitsluitlik in terme van aangeleerde tegnieke dink, sal ons moontlik voel dat dit net te veel gevra is om te verbeter. Die grondslag van goeie onderrigting is egter nie tegniek nie, maar iets baie belangriker. Let op wat ’n ervare onderwyser in ’n boek oor die onderwerp geskryf het: “Goeie onderrigting is nie ’n kwessie van spesifieke tegnieke of style, planne of aksies nie. . . . Onderrigting is hoofsaaklik ’n kwessie van liefde.” Hy het natuurlik nie uit ’n geestelike perspektief geskryf nie. Maar sy woorde is dalk selfs meer van toepassing op die onderrigtingswerk wat ons as Christene doen. Hoe so?

3 Ons Voorbeeld van ’n onderrigter is niemand anders as Jesus Christus nie, wat vir sy volgelinge gesê het: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel” (Johannes 13:15). Hy het verwys na sy voorbeeld van nederigheid, maar die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het, sluit beslis sy vernaamste werk as ’n mens op aarde in—om mense die goeie nuus van God se Koninkryk te leer (Lukas 4:43). As jy dan nou net een woord moes kies om Jesus se bediening te beskryf, sou jy nie die woord “liefde” kies nie? (Kolossense 1:15; 1 Johannes 4:8). Jesus was bowenal lief vir sy hemelse Vader, Jehovah (Johannes 14:31). Maar as ’n onderrigter het Jesus liefde op twee ander maniere getoon. Hy was lief vir die waarhede wat hy ander geleer het, en hy was lief vir die mense wat hy geleer het. Kom ons beskou hierdie twee aspekte van die voorbeeld wat hy vir ons gestel het, van naderby.

Liefde vir Goddelike waarhede van die vroegste tye af

4. Hoe het Jesus ’n liefde aangekweek vir die dinge wat Jehovah hom geleer het?

4 ’n Onderwyser se gesindheid teenoor die onderwerp wat hy bespreek, het ’n baie groot uitwerking op die gehalte van sy onderrigting. Enige onverskilligheid sal heel waarskynlik opgemerk en aan sy studente oorgedra word. Jesus het glad nie onverskillig gestaan teenoor die waarhede aangaande Jehovah en Sy Koninkryk wat hy ander geleer het nie. Jesus het intense liefde vir sy onderwerp gehad. Hy het daardie liefde as ’n student aangekweek. Gedurende die lang eeue van sy voormenslike bestaan was die enigverwekte Seun ’n ywerige student. Jesaja 50:4, 5 sê heel gepas: “Die Soewereine Heer Jehovah het my die tong gegee van dié wat geleer is, sodat ek kan weet hoe om die vermoeide met ’n woord te antwoord. Hy wek oggend na oggend; hy wek my oor om te hoor soos dié wat geleer is. Die Soewereine Heer Jehovah het my oor geopen, en ek was nie opstandig nie. Ek het my nie in die teenoorgestelde rigting gedraai nie.”

5, 6. (a) Watter ondervinding het Jesus klaarblyklik by sy doop gehad, en watter uitwerking het dit op hom gehad? (b) Watter verskil sien ons tussen Jesus en Satan wat die gebruik van God se Woord betref?

5 Terwyl Jesus as ’n mens op aarde opgegroei het, het hy steeds Goddelike wysheid liefgehad (Lukas 2:52). Toe, by sy doop, het hy ’n unieke ondervinding gehad. “Die hemel [is] geopen”, sê Lukas 3:21. Jesus kon klaarblyklik van toe af sy voormenslike bestaan onthou. Daarna het hy 40 dae in die wildernis deurgebring en gevas. Dit moes hom sekerlik groot genot verskaf het om te peins oor die talle onderrigsessies wat hy van Jehovah ontvang het toe hy in die hemel was. Maar kort voor lank is sy liefde vir God se waarhede op die proef gestel.

6 Toe Jesus moeg en honger was, het Satan hom probeer versoek. Wat ’n verskil sien ons tog tussen hierdie twee seuns van God! Albei het uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal—maar met gesindhede wat hemelsbreed van mekaar verskil het. Satan het God se Woord verdraai en dit sonder enige eerbied gebruik om sy eie selfsugtige belange te bevorder. Ja, daardie opstandeling het Goddelike waarhede heeltemal verag. Daarenteen was Jesus se liefde vir die Skrif duidelik uit die manier waarop hy dit aangehaal en God se Woord met groot sorg in elke antwoord gebruik het. Jesus het lank reeds bestaan voordat daardie geïnspireerde woorde aanvanklik neergeskryf is, en tog het hy groot respek daarvoor gehad. Dit was kosbare waarhede wat van sy hemelse Vader gekom het! Hy het vir Satan gesê dat hierdie woorde van Jehovah belangriker as voedsel is (Matteus 4:1-11). Ja, Jesus was lief vir al die waarhede wat Jehovah hom geleer het. Maar hoe het hy daardie liefde as onderrigter geopenbaar?

Liefde vir die waarhede wat hy ander geleer het

7. Waarom het Jesus nie sy eie leringe uitgedink nie?

7 Jesus se liefde vir die waarhede wat hy ander geleer het, kon altyd duidelik gesien word. Dit sou per slot van rekening nie vir hom moeilik gewees het om sy eie idees uit te dink nie. Hy het ’n groot skat van kennis en wysheid gehad (Kolossense 2:3). Nietemin het hy sy toehoorders keer op keer daaraan herinner dat alles wat hy hulle geleer het, nie van hom afkomstig was nie, maar van sy hemelse Vader (Johannes 7:16; 8:28; 12:49; 14:10). Hy was veels te lief vir Goddelike waarhede om dit met sy eie idees te vervang.

8. Hoe het Jesus aan die begin van sy bediening ’n voorbeeld van vertroue op God se Woord gestel?

8 Toe Jesus sy openbare bediening begin het, het hy gou volgens ’n spesifieke patroon te werk gegaan. Dink aan die manier waarop hy die eerste keer aan God se volk bekend gemaak het dat hy die beloofde Messias was. Het hy eenvoudig voor skares verskyn, hom as die Christus bekend gestel en daarna verstommende wonderwerke verrig om dit te bewys? Nee. Hy het na ’n sinagoge gegaan, waar God se volk gewoonlik uit die Skrif gelees het. Daar het hy die profesie van Jesaja 61:1, 2 hardop gelees en verduidelik dat hierdie profetiese waarhede op hom van toepassing is (Lukas 4:16-22). Die talle wonderwerke wat hy verrig het, het gehelp om te bevestig dat hy Jehovah se ondersteuning gehad het. Nogtans het hy altyd op God se Woord staatgemaak in sy onderrigting.

9. Hoe het Jesus in sy handelinge met die Fariseërs sy lojale liefde vir God se Woord getoon?

9 Toe Jesus deur godsdiensteenstanders uitgedaag is, het hy nie ’n intellektuele stryd met hulle aangeknoop nie, hoewel hy maklik so ’n stryd kon gewen het. Hy het eerder God se Woord gebruik om hulle argumente te weerlê. Dink byvoorbeeld aan die keer toe die Fariseërs beweer het dat Jesus se volgelinge die Sabbatswet geskend het deur ’n paar are in ’n graanland te pluk en dit te eet terwyl hulle deur die lande geloop het. Jesus het geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en die manne wat by hom was, honger geword het nie?” (Matteus 12:1-5). Daardie eiegeregtige manne het heel waarskynlik die geïnspireerde verslag gelees wat in 1 Samuel 21:1-6 opgeteken staan. Indien hulle dit gelees het, het hulle nie ’n belangrike les daarin onderskei nie. Jesus het egter meer gedoen as om net die verslag te lees. Hy het daaroor nagedink en die les daarin ter harte geneem. Hy was lief vir die beginsels wat Jehovah deur middel van daardie verslag oorgedra het. Gevolglik het hy daarna verwys, sowel as ’n voorbeeld uit die Mosaïese Wet gebruik, om die gebalanseerde gees van die Wet duidelik te maak. Jesus se lojale liefde het hom ook beweeg om God se Woord te verdedig teen die pogings van godsdiensleiers om dit te verdraai sodat dit hulle kon pas of dit onder ’n moeras van mensetradisies te begrawe.

10. Hoe het Jesus profesieë oor die gehalte van sy onderrigting vervul?

10 Weens Jesus se liefde vir sy onderwerp sou hy mense nooit op ’n eentonige of werktuiglike manier onderrig nie. Geïnspireerde profesieë het aangedui dat die Messias met ‘minsaamheid op sy lippe’ sou praat en dat hy “elegante woorde” sou gebruik (Psalm 45:2; Genesis 49:21). Jesus het daardie profesieë vervul deur sy boodskap vars en interessant te hou. Hy het dit gedoen deur “innemende woorde” te gebruik terwyl hy die waarhede waarvoor hy so lief was, aan mense geleer het (Lukas 4:22). Sy entoesiasme kon ongetwyfeld in sy gesigsuitdrukkings gesien word, en sy oë het gestraal weens sy lewendige belangstelling in sy onderwerp. Wat ’n genot moes dit tog gewees het om na hom te luister, en wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog vir ons om na te volg wanneer ons met ander praat oor wat ons geleer het!

11. Waarom het Jesus se vermoëns as onderrigter hom nooit opgeblase van trots laat word nie?

11 Het Jesus se uitsonderlike begrip van Goddelike waarhede en sy treffende gebruik van woorde hom opgeblase van trots laat word? Dit gebeur dikwels in die geval van menseonderrigters. Maar onthou dat Jesus Goddelike wysheid gehad het. Sulke wysheid laat geen ruimte vir hoogmoed nie, want “wysheid is by die beskeidenes” (Spreuke 11:2). Daar was iets anders wat voorkom het dat Jesus trots of hoogmoedig sou word.

Jesus was lief vir die mense wat hy geleer het

12. Hoe het Jesus getoon dat hy nie wou hê dat sy volgelinge geïntimideerd deur hom moes voel nie?

12 Jesus se innige liefde vir mense kon altyd duidelik gesien word in sy onderrigting. In teenstelling met die onderrigting van trotse mense, het sy onderrigting ander nooit geïntimideerd laat voel nie (Prediker 8:9). Nadat Petrus een van Jesus se wonderwerke aanskou het, was hy oorweldig deur verbasing, en hy het aan Jesus se knieë neergeval. Maar Jesus wou nie hê dat sy volgelinge ’n morbiede vrees vir hom moes hê nie. Hy het vriendelik gesê: “Hou op om bang te wees”, en toe het hy Petrus vertel van die opwindende dissipelmaakwerk waaraan hy sou deelneem (Lukas 5:8-10). Jesus wou hê dat sy dissipels deur hulle eie liefde vir die kosbare waarhede aangaande God beweeg moes word, en nie deur ’n vrees vir hulle onderrigter nie.

13, 14. Op watter maniere het Jesus empatie met mense betoon?

13 Jesus se liefde vir die mense wat hy geleer het, kon ook gesien word in die empatie wat hy vir hulle gehad het. “Toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Hy het medelye met hulle in hulle ellendige toestand gehad en is beweeg om hulle te help.

14 Let op Jesus se empatie by ’n ander geleentheid. Toe ’n vrou met bloedvloeiing hom in ’n skare genader het en aan die soom van sy kleed geraak het, is sy wonderdadig genees. Jesus het gevoel dat krag van hom uitgaan, maar hy het nie gesien wie genees is nie. Hy was vasbeslote om die vrou te vind. Waarom? Nie om haar te berispe omdat sy die Wet of die reëls van die skrifgeleerdes en Fariseërs oortree het, soos sy dalk gevrees het nie. Hy het eerder vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees” (Markus 5:25-34). Let op die empatie in daardie woorde. Hy het nie bloot gesê: “Word gesond” nie. Hy het eerder gesê: “Wees van jou ernstige siekte genees.” Markus gebruik hier ’n woord wat letterlik “geseling” kan beteken, ’n vorm van slae wat dikwels as marteling gebruik is. Jesus het dus erken dat sy weens haar siekte gely het, dat sy moontlik geweldige fisiese en emosionele pyn moes verduur het. Hy het empatie vir haar gehad.

15, 16. Watter voorvalle in Jesus se bediening toon dat hy na die goeie in mense gesoek het?

15 Jesus het ook liefde vir mense getoon deur na die goeie in hulle te soek. Dink aan wat gebeur het toe hy Natanael ontmoet het, wat later ’n apostel geword het. “Jesus het Natanael na hom toe sien kom en van hom gesê: ‘Kyk, gewis ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.’” Jesus het op wonderdadige wyse in Natanael se hart gekyk en sodoende baie omtrent hom uitgevind. Natanael was natuurlik alles behalwe volmaak. Hy het sy foute gehad, soos almal van ons. Trouens, toe hy van Jesus gehoor het, het hy ’n ietwat taktlose opmerking gemaak: “Kan enigiets goeds uit Nasaret kom?” (Johannes 1:45-51). Maar van al die dinge wat Jesus van Natanael kon sê, het hy iets positiefs gekies om die aandag op te vestig, die man se eerlikheid.

16 Net so ook toe ’n leëroffisier—moontlik ’n heiden, ’n Romein—na Jesus toe gekom en hom gevra het om sy siek dienskneg te genees, het Jesus geweet dat die soldaat foute het. ’n Leëroffisier van daardie tyd se verlede sou waarskynlik bevlek gewees het met baie dade van geweld, bloedvergieting en valse aanbidding. Maar Jesus het die aandag op iets goeds gevestig—die man se uitsonderlike geloof (Matteus 8:5-13). Later, toe Jesus met die kwaaddoener gepraat het wat langs hom aan die folterpaal gehang het, het Jesus nie die man bestraf weens sy misdadige verlede nie, maar hom aangemoedig met ’n hoop vir die toekoms (Lukas 23:43). Jesus het maar alte goed geweet dat dit mense net ontmoedig as jy ’n negatiewe, kritiese beskouing van hulle het. Sy pogings om die goeie eienskappe in ander te vind, het baie mense ongetwyfeld aangespoor om selfs beter te doen.

Bereidwilligheid om mense te dien

17, 18. Hoe het Jesus bereidwilligheid getoon om ander te dien toe hy die toewysing aanvaar het om aarde toe te kom?

17 Nog ’n kragtige bewys van Jesus se liefde vir die mense wat hy geleer het, was sy bereidwilligheid om hulle te dien. In sy voormenslike bestaan was God se Seun altyd lief vir die mensdom (Spreuke 8:30, 31). As Jehovah se “Woord”, of woordvoerder, het hy dalk baie met mense te doen gehad (Johannes 1:1). Maar hy het “homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem” deur sy verhewe posisie in die hemel te verlaat, deels sodat hy mense op ’n direkter manier kon onderrig (Filippense 2:7; 2 Korintiërs 8:9). Terwyl hy op aarde was, het Jesus nie verwag dat ander hom moes bedien nie. Inteendeel, hy het gesê: “Die Seun van die mens [het] gekom . . . , nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Jesus het heeltemal in ooreenstemming met daardie woorde geleef.

18 Jesus het nederig voorsien in die behoeftes van dié wat hy onderrig het en gewilliglik van homself ten behoewe van hulle gegee. Hy het die Beloofde Land te voet deurkruis en honderde kilometers tydens predikingsreise afgelê om soveel mense moontlik te bereik. In teenstelling met die trotse Fariseërs en skrifgeleerdes het hy nederig en genaakbaar gebly. Alle soorte mense—hooggeplaastes, soldate, regsgeleerdes, vroue, kinders, die armes, die siekes, selfs die gemeenskap se uitgeworpenes—het met graagte na hom toe gekom, sonder om bang te wees. Al was Jesus volmaak, was hy nog steeds ’n mens en het hy dus moeg en honger geword. Maar selfs wanneer hy moeg was of rus nodig gehad het of ’n stil tydjie wou hê om te bid, het hy die behoeftes van ander voor sy eie gestel.—Markus 1:35-39.

19. Hoe het Jesus ’n voorbeeld gestel van nederigheid, geduld en vriendelikheid in sy optrede teenoor sy dissipels?

19 Jesus was net so gewillig om sy eie dissipels te dien. Hy het dit gedoen deur hulle vriendelik en geduldig te onderrig. Wanneer hulle gesukkel het om belangrike lesse te verstaan, het hy nie tou opgegooi, sy humeur verloor of met hulle geraas nie. Hy het voortdurend nuwe maniere gevind om hulle te help om sy punt te begryp. Dink byvoorbeeld aan hoe dikwels die dissipels gestry het oor wie die grootste onder hulle was. Keer op keer, tot op die aand voor sy teregstelling, het Jesus nuwe maniere gevind om hulle te leer om nederig met mekaar te handel. Wat hierdie kwessie van nederigheid betref, soos met alle ander dinge, kon Jesus tereg sê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel.”—Johannes 13:5-15; Matteus 20:25; Markus 9:34-37.

20. Watter onderrigmetode het Jesus anders as die Fariseërs gemaak, en waarom was die metode doeltreffend?

20 Let op dat Jesus nie net vir die dissipels gesê het wat die voorbeeld was nie; hy het “die voorbeeld gestel”. Hy het hulle deur sy voorbeeld geleer. Hy het nie uit die hoogte met hulle gepraat, asof hy hom te vernaam geag het om die dinge te doen wat hy vir hulle gesê het om te doen nie. Dit was hoe die Fariseërs opgetree het. “Hulle sê maar doen nie”, het Jesus van hulle gesê (Matteus 23:3). Jesus het nederig vir sy studente getoon presies wat sy leringe behels, deur daarvolgens te lewe, deur dit self toe te pas. Toe hy dus sy volgelinge aangespoor het om ’n eenvoudige lewe vry van materialisme te lei, was dit nie vir hulle nodig om te wonder wat hy bedoel nie. Hulle kon self sien wat hy bedoel het: “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Matteus 8:20). Jesus het sy dissipels gedien deur nederig vir hulle die voorbeeld te stel.

21. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

21 Jesus was sonder enige twyfel die grootste Onderrigter wat nog op die aarde gewandel het! Sy liefde vir wat hy ander geleer het en sy liefde vir die mense wat hy geleer het, was duidelik vir alle opregtes van hart wat hom gesien en na hom geluister het. Dit is vandag net so duidelik vir ons wat die voorbeeld wat hy gestel het, bestudeer. Maar hoe kan ons Christus se volmaakte voorbeeld volg? Die volgende artikel sal hierdie vraag bespreek.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat is die grondslag van goeie onderrigting, en wie het die voorbeeld hierin gestel?

• Op watter maniere het Jesus liefde getoon vir die waarhede wat hy ander geleer het?

• Hoe het Jesus liefde getoon vir die mense wat hy geleer het?

• Watter voorbeelde toon Jesus se nederige bereidwilligheid om diegene te dien wat hy geleer het?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 12]

Hoe het Jesus getoon dat hy lief was vir die beginsels in God se Woord?