Onthou jy?
Onthou jy?
Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:
• Wat is empatie, en waarom moet Christene dit aankweek?
Dit is die vermoë om jou in iemand anders se plek te stel, soos om iemand anders se pyn in ons hart te voel. Christene word gemaan om ‘meegevoel, broederlike geneentheid en medelye’ te betoon (1 Petrus 3:8). Jehovah het vir ons ’n navolgenswaardige voorbeeld van empatie gestel (Psalm 103:14; Sagaria 2:8). Ons kan ons aanvoeling in hierdie verband verskerp deur te luister, oplettend te wees en ons in ander se situasie te stel.—4/15, bladsye 24-6.
• As ’n mens ware geluk wil vind, waarom moet geestelike genesing kom voordat liggaamsgebreke uiteindelik genees word?
Baie mense wat fisies gesond is, is ongelukkig en voel dat hulle onder baie probleme gebuk gaan. In teenstelling hiermee is baie Christene wat vandag liggaamsgebreke het, baie gelukkig in hulle diens aan Jehovah. Dié wat baat vind by geestelike genesing, het die vooruitsig om in die nuwe wêreld onder diegene te wees wie se liggaamsgebreke genees sal word.—5/1, bladsye 6-7.
• Waarom plaas Hebreërs 12:16 Esau in dieselfde kategorie as ’n hoereerder?
Die Bybelverslag toon dat Esau hom op onmiddellike beloninge toegespits het en heilige dinge geminag het. As iemand vandag toelaat dat so ’n gesindheid ontwikkel, kan dit tot ’n ernstige sonde, soos hoerery, lei.—5/1, bladsye 10-11.
• Wie was Tertullianus, en waarvoor het hy bekend geword?
Hy was ’n skrywer en teoloog wat in die tweede en derde eeu G.J. gelewe het. Hy het daarvoor bekend geword dat hy ’n hele aantal letterkundige werke voortgebring het ter verdediging van die sogenaamde Christelike godsdiens. In hierdie werke het hy idees en filosofiese benaderings ingebring wat die grondslag gelê het vir leerstellige verdraaiings, soos die Drie-eenheid.—5/15, bladsye 29-31.
• Waarom is ons gene nie alleen verantwoordelik vir menslike siektes, gedrag en die dood nie?
Wetenskaplikes het tot die gevolgtrekking gekom dat genetiese faktore klaarblyklik ’n rol speel by verskeie menslike siektes, en party glo dat gedrag deur ons gene bepaal word. Maar die Bybel gee ons insig in die mensdom se oorsprong, en dit sê onder andere hoe sonde en onvolmaaktheid die mensdom begin teister het. Hoewel ons gene dalk ’n rol daarin speel om ons persoonlikheid te vorm, het die feit dat ons onvolmaak is sowel as ons milieu ook ’n groot invloed op ons.—6/1, bladsye 9-11.
• Hoe werp ’n papirusfragment wat in Oxirhinchus, Egipte, gevind is, lig op die gebruik van God se naam?
Hierdie fragment van Job 42:11, 12 uit die Griekse Septuagint bevat die Tetragrammaton (die vier Hebreeuse letters van God se naam). Dit is ’n bykomende bewys dat God se naam in Hebreeus in die Septuagint verskyn het, waaruit skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte dikwels aangehaal het.—6/1, bladsy 30.
• Met watter hedendaagse kyksportsoorte is die gewelddadige en dodelike gladiatorgevegte van die Romeinse Ryk al vergelyk?
’n Onlangse uitstalling in die Kolosseum in Rome, Italië, het op hedendaagse parallelle gesinspeel deur video-uittreksels in te sluit van stiergevegte, professionele boksgevegte, motor- en motorfietswedrenne, gevegte tussen toeskouers by ander hedendaagse sportwedstryde. Vroeë Christene het die feit dat Jehovah nie lief is vir geweld of mense wat gewelddadig is nie, ter harte geneem, net soos Christene nie vandag daarvoor lief moet wees nie (Psalm 11:5).—6/15, bladsy 29.
• Wat kan ons uit Esra se voorbeeld leer wat ons sal help om bekwame onderrigters te word?
Esra 7:10 vestig die aandag op vier dinge wat Esra gedoen het, dinge wat ons kan probeer navolg. Dit sê: “Esra het [1] sy hart voorberei [2] om die wet van Jehovah te raadpleeg en [3] om dit na te kom en [4] om Israel voorskrif en geregtigheid te leer.”—7/1, bladsy 20.
• In watter twee situasies is dit vir ’n Christenvrou gepas om ’n hoofbedekking te dra?
Een is in situasies wat in die gesin ontstaan. Deur ’n hoofbedekking te dra, erken sy dat haar man die verantwoordelikheid het om die leiding te neem in gebed en Bybelonderrig. Die ander situasie is in gemeentelike bedrywighede, waar sy erken dat gedoopte mans volgens die Skrif die gesag het om te onderrig en die leiding te neem (1 Korintiërs 11:3-10).—7/15, bladsye 26-7.
• Waarom erken Christene dat joga meer is as blote oefening en dat dit gevaarlik is?
Die doel van joga as ’n dissipline is om iemand te help om een te word met ’n bomenslike gees. Joga behels die beëindiging van spontane denkprosesse, wat in stryd is met God se riglyne (Romeine 12:1, 2). Joga kan ’n mens aan die gevare van spiritisme en okkultisme blootstel (Deuteronomium 18:10, 11).—8/1, bladsye 20-2.