Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal jy jou onkreukbaarheid handhaaf?

Sal jy jou onkreukbaarheid handhaaf?

Sal jy jou onkreukbaarheid handhaaf?

HOEVEEL mossies het gister doodgegaan? Niemand weet nie, en daar is waarskynlik min mense wat omgee—daar is soveel voëls. Maar Jehovah gee wel om. Jesus het na hierdie skynbaar onbeduidende voëltjies verwys en vir sy dissipels gesê: “Nie een van hulle [sal] sonder julle Vader se wete op die grond val nie.” Hy het bygevoeg: “Moet . . . nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Matteus 10:29, 31.

Later het die dissipels beter verstaan hoe kosbaar hulle vir Jehovah is. Een van hulle, die apostel Johannes, het geskryf: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry” (1 Johannes 4:9). Jehovah voorsien nie net die losprys nie, maar gee elkeen van sy knegte ook die versekering: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie.”—Hebreërs 13:5.

Jehovah se liefde vir sy volk is beslis onwrikbaar. Maar die vraag ontstaan: ‘Is ons so geheg aan Jehovah dat ons hom nooit sal verlaat nie?’

Satan se pogings om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee

Toe Jehovah Satan se aandag op Job se onkreukbare weg vestig, het Satan geantwoord: “Sou Job u aanbid as hy niks daaruit gekry het nie?” (Job 1:9, Today’s English Version). Hy het te kenne gegee dat mense se lojaliteit aan God uitsluitlik afhang van ‘wat hulle daaruit kan kry’. As dit waar was, sou enige Christen se onkreukbaarheid ondermyn kon word—mits die aanbod aanloklik genoeg is.

In Job se geval het Satan aanvanklik beweer dat Job dislojaal aan God sou wees as hy sy kosbaarste besittings verloor (Job 1:10, 11). Toe hierdie belediging vals bewys is, het Satan beweer: “’n Mens sal alles prysgee om aan die lewe te bly” (Job 2:4, TEV). Al is Satan se bewering waar in die geval van party, het Job geweier om sy onkreukbaarheid prys te gee. Die geskiedkundige verslag bevestig dit (Job 27:5; 42:10-17). Het jy soortgelyke lojaliteit? Of sal jy toelaat dat Satan jou jou onkreukbaarheid laat prysgee? Dink aan jouself terwyl ons ’n paar waarhede ondersoek wat elke Christen raak.

Die apostel Paulus het geglo dat ware Christelike lojaliteit baie sterk kan wees. Hy het geskryf: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe . . . of teenswoordige dinge of toekomstige dinge . . . of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Romeine 8:38, 39). Ons kan ’n soortgelyke oortuiging hê as ons liefde vir Jehovah sterk is. Hierdie liefde is ’n onvernietigbare band wat nie eers deur die dood oorwin kan word nie.

As ons so ’n verhouding met God het, sal ons nooit vra: ‘Sal ek Jehovah nog oor ’n paar jaar dien?’ nie. Sulke onsekerheid sou te kenne gee dat ons lojaliteit aan God afhang van wat moontlik in die loop van ons lewe met ons gebeur. Ware onkreukbaarheid word nie deur eksterne omstandighede beïnvloed nie. Dit hang af van die soort persoon wat ons innerlik is (2 Korintiërs 4:16-18). As ons Jehovah met ons hele hart liefhet, sal ons hom nooit in die steek laat nie.—Matteus 22:37; 1 Korintiërs 13:8.

Ons moet egter onthou dat Satan voortdurend probeer om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee. Hy sal ons dalk in die versoeking bring om voor die begeertes van die vlees te swig, aan portuurdwang toe te gee of die waarheid te verlaat weens teëspoed wat ons ondervind. Die wêreld wat van God vervreemd is, is Satan se vernaamste bondgenoot in hierdie aanval, hoewel ons eie onvolmaakthede sy taak makliker maak (Romeine 7:19, 20; 1 Johannes 2:16). Daar is nietemin ’n hele paar dinge wat in hierdie stryd in ons guns tel. Een van die belangrikste daarvan is die feit dat ons nie onkundig omtrent Satan se planne is nie.—2 Korintiërs 2:11.

Wat is Satan se planne? Paulus het dit in sy brief aan die Efesiërs as “sette”, of “listige dade” a beskryf (Efesiërs 6:11; voetnoot in NW). Satan gebruik geslepe metodes om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee. Gelukkig kan ons hierdie listige dade identifiseer, aangesien die Duiwel se metodes in God se Woord vir ons opgeteken is. Satan se pogings om Jesus en Job se onkreukbaarheid te vernietig, voorsien voorbeelde van sommige van die maniere waarop hy probeer om ons ons Christelike onkreukbaarheid te laat prysgee.

Jesus se onkreukbaarheid was onwrikbaar

Aan die begin van Jesus se bediening het Satan die vermetelheid gehad om die Seun van God te versoek deur hom uit te daag om ’n klip in brood te verander. Hoe listig tog! Jesus het 40 dae lank nie geëet nie, en hy was dus ongetwyfeld baie honger (Lukas 4:2, 3). Satan het voorgestel dat Jesus sy natuurlike begeerte onmiddellik bevredig, op ’n manier wat in stryd was met Jehovah se wil. Vandag bevorder die wêreld se propaganda eweneens onmiddellike bevrediging, met min of geen inagneming van die gevolge nie. Die boodskap is: ‘Jy verdien dit nou’, of eenvoudig: ‘Doen dit net!’

As Jesus sy hongerpyne gestil het sonder om aan die gevolge te dink, sou Satan daarin geslaag het om Jesus sy onkreukbaarheid te laat prysgee. Jesus het sake uit ’n geestelike hoek beskou en uitdruklik gesê: “Daar staan geskrywe: ‘Die mens sal nie van brood alleen lewe nie.’”—Lukas 4:4; Matteus 4:4.

Satan het toe sy taktiek verander. Die Duiwel het die Skrif, waaruit Jesus aangehaal het, verkeerd toegepas en Jesus aangemoedig om van die tempelmuur af te spring. ‘’n Engel sal jou moet red’, het Satan beweer. Jesus was glad nie van plan om sy Vader te vra om hom wonderdadig te beskerm bloot om die aandag op homself te vestig nie. “Jy mag Jehovah jou God nie op die proef stel nie”, het Jesus gesê.—Matteus 4:5-7; Lukas 4:9-12.

Die laaste taktiek wat Satan gebruik het, was meer op die man af. Hy het ’n ooreenkoms met Jesus probeer aangaan deur hom die hele wêreld en sy heerlikheid aan te bied vir slegs een daad van aanbidding. Dit was so te sê alles wat Satan gehad het om aan te bied. Maar hoe kon Jesus ’n daad van aanbidding voor sy Vader se grootste vyand verrig? Ondenkbaar! “Jehovah jou God moet jy aanbid, en aan hom alleen moet jy heilige diens verrig”, het Jesus geantwoord.—Matteus 4:8-11; Lukas 4:5-8.

Nadat daardie drie pogings gefaal het, het Satan ‘tot ’n ander geskikte tyd van Jesus gewyk’ (Lukas 4:13). Dit toon dat Satan voortdurend na ’n geleentheid gesoek het om Jesus se onkreukbaarheid op die proef te stel. ’n Geskikte tyd het sowat twee en ’n half jaar later gekom toe Jesus sy dissipels op sy naderende dood begin voorberei het. Die apostel Petrus het gesê: “Wees goed vir uself, Here; u sal glad nie hierdie lot hê nie.”—Matteus 16:21, 22.

Het hierdie welmenende maar slegte raad dalk byval gevind by Jesus, aangesien dit van een van sy dissipels gekom het? Jesus het onmiddellik besef dat daardie woorde Satan se wense weerspieël het, nie Jehovah s’n nie. Christus het nadruklik geantwoord: “Gaan agter my, Satan! Jy is ’n struikelblok vir my, want jy dink nie God se gedagtes nie, maar dié van mense.”—Matteus 16:23.

Weens Jesus se onwrikbare liefde vir Jehovah kon Satan hom nie sy onkreukbaarheid laat prysgee nie. Niks wat die Duiwel Jesus kon aanbied, geen beproewing, ongeag hoe kwaai dit was, kon Jesus se lojaliteit aan sy hemelse Vader ondermyn nie. Sal ons net so vasbeslote wees wanneer omstandighede dit vir ons moeilik maak om ons onkreukbaarheid te handhaaf? Die voorbeeld van Job sal ons help om ’n beter begrip te hê van die uitdagings waarvoor ons dalk te staan kom.

Lojaliteit ondanks teëspoed

Soos Job uitgevind het, kan teëspoed ons te eniger tyd tref. Hy was ’n gelukkig getroude man met tien kinders en het ’n goeie geestelike roetine gehad (Job 1:5). Maar sonder dat Job daarvan bewus was, het sy onkreukbaarheid aan God ’n geskil in die hemelse hof geword, en Satan was vasbeslote om alles in sy vermoë te doen om hom dit te laat prysgee.

Job het in ’n kort tydjie sy materiële rykdom verloor (Job 1:14-17). Nietemin het Job se onkreukbaarheid die toets deurstaan, want hy het nooit sy vertroue in geld gestel nie. Job het teruggedink aan die tyd toe hy ryk was en gesê: “As ek my op goud verlaat het, . . . as ek bly was omdat ek baie eiendom gehad het, . . . sou ook dit ’n oortreding . . . wees, want ek sou die ware God daar bo verloën het.”—Job 31:24, 25, 28.

Vandag kan ons ook feitlik al ons besittings oornag verloor. ’n Sakeman wat een van Jehovah se Getuies is, is bedrieg en het ’n baie groot som geld verloor, wat hom feitlik bankrot gelaat het. Hy het openlik erken: “Ek het amper ’n hartaanval gehad. Trouens, ek dink ek sou een gehad het as dit nie was dat ek ’n verhouding met God gehad nie. Maar hierdie ondervinding het my laat besef dat ek geestelike waardes nie eerste in my lewe gestel het nie. Die opwinding wat daarmee gepaardgegaan het om geld te maak, het gewoonlik alle ander dinge oorskadu.” Hierdie Getuie het sedertdien sy sakebedrywighede tot ’n minimum beperk, en hy dien gereeld as ’n hulppionier, wat 50 of meer uur per maand aan die Christelike bediening wy. Ander probleme kan egter selfs meer verpletterend wees as die verlies van ’n mens se besittings.

Job het skaars die nuus gehoor oor die verlies van sy rykdom toe hy die berig ontvang dat sy tien kinders gesterf het. Hy het nog steeds volgehou: “Laat die naam van Jehovah voortdurend geloof word” (Job 1:18-21). Sal ons ons onkreukbaarheid handhaaf as ons skielik ’n paar gesinslede aan die dood afstaan? Francisco, ’n Christenopsiener in Spanje, het sy twee kinders in ’n tragiese busongeluk verloor. Hy is vertroos deur nader aan Jehovah te kom en meer in die Christelike bediening te doen.

Selfs ná die verpletterende verlies van sy kinders was Job se ontberinge nog lank nie verby nie. Satan het hom met ’n afstootlike, pynlike siekte getref. Op daardie stadium het Job slegte raad van sy vrou gekry. “Vervloek God en sterf!” het sy hom aangespoor. Job het haar raad geïgnoreer, en hy het nie “met sy lippe gesondig nie” (Job 2:9, 10). Sy onkreukbaarheid het nie afgehang van die ondersteuning van sy gesin nie, maar van sy persoonlike verhouding met Jehovah.

Flora, wie se man en oudste seun die Christelike weg meer as tien jaar gelede verlaat het, verstaan die gevoelens wat Job heel moontlik ervaar het. “Wanneer jy skielik die ondersteuning van jou gesin verloor, kan dit traumaties wees”, erken sy. “Maar ek het geweet dat ek nie buite Jehovah se organisasie geluk sou vind nie. Ek het dus ’n ferm standpunt ingeneem en Jehovah eerste gestel terwyl ek probeer het om nog steeds ’n goeie vrou en moeder te wees. Ek het voortdurend gebid, en Jehovah het my versterk. Ek is gelukkig omdat ek, ondanks my man se volgehoue teenstand, geleer het om ten volle op Jehovah te vertrou.”

Drie van Job se metgeselle was betrokke by Satan se volgende set om Job sy onkreukbaarheid te laat prysgee (Job 2:11-13). Hoe ontmoedigend moes dit tog gewees het toe hulle hom begin kritiseer het. As hy hulle redenasies aanvaar het, sou hy sy vertroue in Jehovah God verloor het. Hulle ontmoedigende raad kon sy gees geknak en hom sy onkreukbaarheid laat prysgee het, en dan sou Satan se plan gewerk het.

Maar Job het volgehou: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” (Job 27:5). Hy het nie gesê: ‘Ek sal nie toelaat dat julle my onkreukbaarheid van my af wegneem nie!’ Job het geweet dat sy onkreukbaarheid van hom en van sy liefde vir Jehovah afgehang het.

’n Ou set om nuwe prooi te vang

Satan gebruik nog steeds slegte raad of ondeurdagte opmerkings van vriende en medegelowiges. Ontmoediging van binne die gemeente kan ons makliker mismoedig maak as vervolging van buite. ’n Christen- ouer man wat voorheen as ’n soldaat geveg het, het dit vergelyk met die pyn wat hy verduur het weens die ondeurdagte woorde en dade van sommige mede-Christene. Aangaande die laasgenoemde het hy gesê: “Dit is die moeilikste ding wat ek nog deurgemaak het.”

Uit ’n ander hoek gesien, kan ons so ontsteld raak oor die onvolmaakthede van medegelowiges dat ons ophou om met sekere persone te praat of selfs van Christelike vergaderinge begin wegbly. Dit lyk dalk vir ons na die belangrikste ding om ons gekrenkte gevoelens te verlig. Maar hoe jammer sal dit tog wees as ons so ’n kortsigtige beskouing het en toelaat dat ons kosbaarste besitting—ons verhouding met Jehovah—verswak word deur wat ander doen of sê. As ons toelaat dat dit gebeur, het Satan ons met een van sy eeue oue sette gevang.

Ons verwag tereg hoë standaarde in die Christengemeente. Maar as ons te veel verwag van ons medeaanbidders, wat nog onvolmaak is, gaan ons beslis teleurgestel word. In teenstelling hiermee is Jehovah realisties in wat hy van sy knegte vereis. As ons sy voorbeeld volg, sal ons bereid wees om hulle onvolmaakthede te verdra (Efesiërs 4:2, 32). Die apostel Paulus het hierdie raad gegee: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.”— Efesiërs 4:26, 27, Die Bybel, 1983.

Soos die Bybel duidelik toon, gebruik Satan ’n groot verskeidenheid geslepe metodes om, indien moontlik, uit te vind hoe om ’n Christen sy onkreukbaarheid te laat prysgee. Sommige van sy sette is aanloklik vir die gevalle vlees, ander is ’n bron van pyn. Uit hierdie bespreking kan jy sien waarom jy nooit onverhoeds betrap moet word nie. Neem jou voor om met onwrikbare liefde vir God in jou hart die Duiwel ’n leuenaar te bewys en Jehovah se hart bly te maak (Spreuke 27:11; Johannes 8:44). Onthou, ware Christelike onkreukbaarheid moet nooit prysgegee word nie, ongeag die beproewinge waarvoor ons te staan kom.

[Voetnoot]

a Die Bybelgeleerde W. E. Vine sê dat die oorspronklike Griekse woord ook as “’n geslepe metode” weergegee kan word.