Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verheug dat hulle leer lees het!

Verheug dat hulle leer lees het!

Verheug dat hulle leer lees het!

IN PARTY dele van die Salomon-eilande was tot 80 persent van die mense wat nou Jehovah se Getuies is, ongeletterd. Dit het nie net hulle deelname aan weeklikse gemeentelike vergaderinge beperk nie, maar het dit ook vir hulle moeiliker gemaak om Koninkrykswaarhede aan ander te leer. Is dit werklik moontlik vir volwassenes wat nooit eers ’n potlood vasgehou het nie, om te leer lees en skryf?

Die brosjure Apply Yourself to Reading and Writing, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, is in lees-en-skryf-klasse in feitlik elke gemeente van Jehovah se Getuies op die Salomon-eilande gebruik. Die volgende ondervindinge lig toe hoe honderde gehelp is om hulle vermoëns deur middel van hierdie program te verbeter. Nog belangriker, omdat hulle leer lees het, kan hulle ’n beter getuienis van hulle geloof gee.—1 Petrus 3:15.

’n Sendeling wat in ’n gemeente met meer as honderd Koninkryksverkondigers gedien het, het opgemerk dat daar min was wat hulle eie eksemplaar van Die Wagtoring by die weeklikse Bybelstudie gehad het en dat selfs minder kommentaar gelewer het. Wat was die rede hiervoor? Ongeletterdheid. Toe die gemeente aangekondig het dat ’n lees-en-skryf-klas gehou gaan word, het die sendeling gretig aangebied om klas te gee. Aan die begin het net ’n paar studente gekom, maar kort voor lank het meer as 40 mense van alle ouderdomme dit begin bywoon.

Wat was die resultate? Die sendeling vertel: “’n Kort tydjie nadat die lees-en-skryf-klas begin het, het ek sesuur die oggend mark toe gegaan om kos vir die sendinghuis te koop. Daar het ek van die studente, selfs die heel kleintjies, kokosneute en groente sien verkoop. Waarom? Omdat hulle genoeg geld wou hê om ’n pen en ’n kladboek te koop wat hulle in die lees-en-skryf-klas kon gebruik! Bywoning van die klas het hulle ook aangespoor om hulle eie eksemplaar van Die Wagtoring te hê.” Sy sê verder: “Deesdae neem jonk en oud aan die gemeentelike Wagtoring-studie deel, en ons besprekings is lewendig.” Hierdie sendeling was veral verheug toe vier lede van die klas vra of hulle aan die openbare predikingswerk kan deelneem, want, soos hulle dit gestel het, hulle is “nie meer bang nie”.

Die positiewe uitwerking wat die lees-en-skryf-klasse op die studente gehad het, het baie verder gestrek as net die vermoë om te kan lees en skryf. Die gemeente was byvoorbeeld jare lank besorg oor die ongelowige vrou van een van die Getuies. Sy het mense met klippe bestook as iemand haar net effens omgekrap het en het ander vroue selfs met ’n stuk hout aangeval. Wanneer sy nou en dan Christelike vergaderinge saam met haar man bygewoon het, was sy so jaloers op hom dat hy ’n donker bril gedra het sodat sy hom nie daarvan kon beskuldig dat hy na ander vroue kyk nie.

Kort ná die lees-en-skryf-klasse begin het, het hierdie vrou egter stilweg kom vra: “Mag ek die klasse bywoon?” Die antwoord was ja. Van toe af het sy nooit ’n klas of ’n gemeentelike vergadering oorgeslaan nie. Sy het haar toegelê op haar leeslesse en ongelooflik vinnig gevorder, wat haar baie gelukkig gemaak het. Haar volgende versoek was: “Kan iemand ’n Bybelstudie met my hou?” Haar man was maar te bly om met haar te begin studeer, en sy vorder steeds goed wat lees- en skryfvermoëns asook haar kennis van die Bybel betref.

Vir ’n 50-jarige wat nog nooit eens ’n potlood vasgehou het nie, kan dit baie moeilik wees om ’n pen vas te hou en die letters van die alfabet te vorm. In die vroeë stadiums van die leerproses kry party van die studente blase op hulle vingers omdat hulle die potlood so styf vashou en so hard op die papier druk. Ná weke van sukkel om die potlood vas te hou en te beheer, roep sommige studente met ’n breë glimlag uit: “Ek kan my hand liggies oor die papier beweeg!” Dit maak ook die instrukteurs se hart bly om die studente se vordering te sien. Een instrukteur het gesê: “Dit is ’n groot vreugde om ’n klas te onderrig, en die studente toon dikwels hulle opregte waardering vir hierdie voorsiening van Jehovah deur aan die einde van ’n klas hande te klap.”

Die sendelinge sowel as hierdie Getuies wat nou geletterd is, verheug hulle. Waarom? Omdat hulle nou hulle vermoë om te lees en skryf, kan gebruik om Jehovah te eer.

[Prente op bladsy 8, 9]

Jonk en oud waardeer die lees-en-skryf-klasse