Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Watter riglyne gee die Skrif oor die opleiding van kinders wanneer een ouer een van Jehovah se Getuies is en die ander nie?

Twee belangrike skriftuurlike beginsels voorsien riglyne oor die opleiding van kinders vir ’n Getuie-ouer wie se huweliksmaat nie ’n Getuie is nie. Die een is: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Die ander is: “’n Man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is” (Efesiërs 5:23). Die laasgenoemde beginsel is nie net van toepassing op vrouens wie se man ’n Getuie is nie, maar ook op dié wie se huweliksmaat nie ’n Getuie is nie (1 Petrus 3:1). Hoe kan ’n Getuie-ouer ’n balans tussen hierdie beginsels vind wanneer dit by die onderrigting van sy of haar kinders kom?

As die man een van Jehovah se Getuies is, is dit sy verantwoordelikheid om in die geestelike sowel as die materiële behoeftes van sy gesin te voorsien (1 Timoteus 5:8). Hoewel die ongelowige moeder moontlik meer tyd met hulle kinders deurbring, moet die Getuievader sy kinders leer deur hulle geestelike opleiding tuis te gee en deur hulle na Christelike vergaderinge te neem, waar hulle by sedelike opvoeding en heilsame omgang sal baat vind.

Sê nou sy ongelowige vrou dring daarop aan om hulle kinders na haar plek van aanbidding te neem of om hulle haar godsdiensopvattings te leer? Die landswet gee haar dalk die reg om dit te doen. Of die kinders oorgehaal sal word om by sulke plekke aan dade van aanbidding deel te neem, kan baie afhang van die gehalte van die vader se geestelike onderrigting. Namate die kinders ouer word, behoort die skriftuurlike opleiding wat hulle vader hulle gee, hulle te help om die waarheid uit God se Woord hulle eie te maak. Hoe gelukkig sal dit die gelowige man tog maak as sy kinders hulle standpunt vir die waarheid inneem!

As die moeder een van Jehovah se Getuies is, moet sy die beginsel van hoofskap respekteer terwyl sy besorgdheid oor haar kinders se ewige welsyn toon (1 Korintiërs 11:3). In baie gevalle sal die ongelowige huweliksmaat nie omgee as sy Getuievrou hulle kinders sedelike en geestelike onderrigting gee nie, en die vergaderinge van Jehovah se volk voorsien sulke hulp. Die moeder kan haar ongelowige man help om te sien hoe hulle kinders baat vind by die opbouende onderrigting wat hulle deur middel van Jehovah se organisasie ontvang. Sy kan taktvol verduidelik watter waarde dit het om die Bybel se sedelike beginsels by hulle kinders in te skerp, aangesien hulle in ’n wêreld lewe wat sedelik agteruitgaan.

Maar die ongelowige man dring dalk daarop aan dat sy kinders sy godsdiens beoefen, en moontlik neem hy hulle na sy plek van aanbidding en gee hy hulle godsdiensonderrig in ooreenstemming met sy geloof. Of ’n man is dalk teen alle godsdiens gekant en dring aan dat sy kinders geen godsdiensonderrig moet ontvang nie. As die hoof van die gesin, is dit hoofsaaklik sy verantwoordelikheid om die besluit te neem. a

Hoewel sy as ’n toegewyde Christen haar man se hoofskap respekteer, sal die gelowige vrou die gesindheid in gedagte hou van die apostel Petrus en Johannes, wat gesê het: “Wat ons betref, ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie” (Handelinge 4:19, 20). Uit besorgdheid oor die geestelike welsyn van die kinders sal ’n Getuiemoeder geleenthede vind om hulle sedelike leiding te gee. Sy het ’n verantwoordelikheid voor Jehovah om ander te leer wat sy weet die waarheid is, en haar kinders moet nie uitgesluit word nie (Spreuke 1:8; Matteus 28:19, 20). Wat kan die Getuiemoeder in so ’n situasie doen?

Neem die kwessie van geloof in God. Die Getuievrou kan dalk nie ’n formele Bybelstudie met haar kinders hou nie omdat haar man dit verbied. Moet dit haar keer om haar kinders enigiets van Jehovah te leer? Nee. Dit is net natuurlik dat haar woorde en dade haar geloof in die Skepper sal weerspieël. Haar kinders sal ongetwyfeld vrae oor die onderwerp hê. Sy moet die vrymoedigheid hê om haar godsdiensvryheid te gebruik om oor haar geloof in die Skepper te praat, onder andere met haar kinders. Selfs as sy nie ’n Bybelstudie met die kinders kan hou of hulle gereeld na die vergaderinge kan neem nie, kan sy hulle van Jehovah God leer.—Deuteronomium 6:7.

Aangaande die verhouding tussen ’n Getuie en sy of haar ongelowige huweliksmaat het die apostel Paulus geskryf: “Die ongelowige man is geheilig met betrekking tot sy vrou, en die ongelowige vrou is geheilig met betrekking tot die broer; anders sou julle kinders in werklikheid onrein wees, maar nou is hulle heilig” (1 Korintiërs 7:14). Jehovah beskou die huweliksverhouding as iets heiligs weens die gelowige maat, en die kinders word as heilig in Jehovah se oë beskou. Die Getuievrou moet haar bes doen om haar kinders te help om die waarheid te verstaan en die uiteinde in Jehovah se hande laat.

Namate die kinders ouer word, moet hulle besluit watter standpunt hulle sal inneem op grond van die kennis wat hulle van hulle ouers ontvang het. Hulle sal dalk besluit om in ooreenstemming met Jesus se woorde op te tree: “Hy wat groter geneentheid vir vader of moeder het as vir my, is my nie waardig nie” (Matteus 10:37). Hulle word ook beveel: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here” (Efesiërs 6:1). Baie jongmense het besluit om eerder “aan God as heerser gehoorsaam [te] wees” as aan ’n ouer wat nie ’n Getuie is nie, al staan daardie ouer hulle teë. Hoe lonend sal dit tog vir die Getuie-ouer wees om te sien dat die kinders besluit om Jehovah te dien ten spyte van teenstand!

[Voetnoot]

a Die vrou se wetlike reg om haar godsdiens vryelik te beoefen, sluit haar reg in om Christelike vergaderinge by te woon. In sommige gevalle was die man nie bereid om gedurende daardie tye na die minderjarige kinders te kyk nie, en daarom moes die besorgde moeder hulle saam met haar na die vergaderinge neem.