“Weet julle waarom ek julle geld teruggebring het?”
“Weet julle waarom ek julle geld teruggebring het?”
‘EK HET geld dringend nodig!’ het Nana gedink, ’n enkelmoeder van drie seuns wat in Kaspi in die Republiek van Georgië woon. Een oggend is haar droom om geld te vind, bewaarheid. Sy het 300 lari langs die polisiestasie opgetel. Daar was niemand in die omgewing nie. Dit was ’n redelike groot som geld. Trouens, Nana het in die vyf jaar vandat die lari die nasionale geldeenheid geword het, nog nie ’n 100 lari-noot gesien nie. Plaaslike verkoopsmanne sou nie soveel verdien nadat hulle ’n hele paar jaar gewerk het nie.
‘Van watter nut is hierdie geld vir my as ek my geloof, godvrugtige vrees en geestelikheid verloor?’ het Nana gedink. Sy het hierdie Christelike eienskappe aangekweek, en selfs kwaai vervolging en slae ter wille van haar godsdiensoortuiging verduur.
Toe Nana na die polisiestasie gaan, het sy vyf beamptes gesien wat desperaat na iets soek. Sy het besef dat hulle na die geld soek; daarom het sy na hulle toe gegaan en gesê: “Het julle iets verloor?”
“Geld”, het hulle geantwoord.
“Hoeveel?”
“Driehonderd lari!”
“Ek het julle geld gevind”, het Nana gesê. Toe het sy gevra: “Weet julle waarom ek julle geld teruggebring het?” Hulle kon haar nie antwoord nie.
“Omdat ek een van Jehovah se Getuies is”, het sy gesê. “As ek nie ’n Getuie was nie, sou ek nie julle geld teruggebring het nie.”
Die polisiehoof wat die geld verloor het, het vir Nana 20 lari gegee uit waardering vir haar eerlikheid.
Dit was nie lank voordat die hele Kaspi-streek hiervan te hore gekom het nie. Die volgende dag het ’n skoonmaakster wat uit die polisiestasie gekom het, vir Nana gesê: “[Die polisiehoof] hou altyd julle lektuur in sy kantoor. Nou sal hy dit waarskynlik selfs meer waardeer.” Een polisiebeampte het selfs gesê: “Wie sou misdade pleeg as almal Jehovah se Getuies was?”