Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wêreld met verwronge beskouings van lojaliteit

’n Wêreld met verwronge beskouings van lojaliteit

’n Wêreld met verwronge beskouings van lojaliteit

OP ’N warm Vrydagaand in Tel Aviv, Israel, het ’n jong man by ’n groep jeugdiges aangesluit wat buite ’n nagklub gewag het. Oomblikke later was daar ’n geweldige ontploffing tussen die skare.

Nog ’n selfmoordbomaanvaller het sy lewe gegee en op gewelddadige wyse die lewens van 19 ander jongmense geneem. “Liggaamsdele het oral rondgelê, en hulle was almal jongmense, bloedjonk—dit was die afgryslikste toneel wat ek nog gesien het”, het ’n paramediese beampte later vir verslaggewers gesê.

“Dit is eienskappe wat almal bewonder, soos lojaliteit . . . , wat die moontlikheid kan vergroot dat oorloë sal uitbreek en dit moeiliker kan maak om dit te beëindig”, het Thurstan Brewin in The Lancet geskryf. Ja, van die Kruistogte van die Christendom tot die pogroms van Nazi-Duitsland is die mensegeskiedenis bevlek met die bloed van mense wat in die naam van lojaliteit doodgemaak is.

Dislojaliteit eis al hoe meer slagoffers

Fanatiese lojaliteit kan ongetwyfeld vernietigend wees, maar ’n gebrek aan lojaliteit kan die samelewing ook uitmekaar skeur. Om lojaal te wees, beteken om getrou te wees aan ’n persoon of saak en impliseer persoonlike onwrikbare getrouheid ondanks enige versoeking om te versaak of te verloën. Hoewel die meeste mense sê dat hulle hierdie soort lojaliteit bewonder, is daar ’n ernstige gebrek aan lojaliteit op die mees fundamentele vlak van die samelewing—in die gesinskring. Die egskeidingsyfer het die hoogte ingeskiet en word vererger deur die klem wat geplaas word op selfverwesenliking, die druk van die daaglikse lewe en die gevolge van huweliksontrou wat so algemeen is. En soos die slagoffers van die bomaanval in Tel Aviv, is jongmense dikwels die onskuldige slagoffers.

“’n Kind se opvoeding is dikwels een van die dinge wat in die slag bly weens die onstabiliteit in die gesin as gevolg van egskeiding, ouers wat mekaar verlaat en enkelouerskap”, sê een verslag. Dit lyk of seuns in enkelmoedergesinne veral gevaar loop om ’n opvoedkundige agterstand te hê, selfmoord te pleeg en jeugmisdadigers te word. Elke jaar sien eenmiljoen kinders in die Verenigde State hoe hulle ouers skei, en in enige gegewe jaar sal die helfte van alle kinders wat vir getroude ouers in daardie land gebore word, waarskynlik slagoffers van egskeiding wees teen die tyd dat hulle 18 jaar oud is. Statistiek toon dat die vooruitsig vir baie jongmense in ander wêrelddele net so hartverskeurend is.

Lojaliteit—Is die standaard te hoog?

Met die huidige verbrokkeling van tradisionele lojaliteite klink die woorde van koning Dawid gepaster as ooit tevore: “Red my tog, o Jehovah, want daar is geen lojale meer nie; want die getroues het onder die mensekinders verdwyn” (Psalm 12:1). Waarom is daar so ’n algemene gebrek aan lojaliteit? Roger Rosenblatt het in die tydskrif Time geskryf: “Hoewel lojaliteit ’n edele standaard stel, is daar eenvoudig te veel vrees, gebrek aan selfvertroue, opportunisme en ambisie in ons om te verwag dat ons swak spesie hierdie standaard sal handhaaf.” Die Bybel beskryf die tyd waarin ons lewe en sê reguit: “Mense sal liefhebbers van hulleself wees, . . . dislojaal, sonder natuurlike geneentheid.”—2 Timoteus 3:1-5.

Wanneer daar in ag geneem word watter kragtige uitwerking lojaliteit—of die gebrek daaraan—op ’n mens se denke en dade het, kan ons vra: ‘Wie verdien ons lojaliteit?’ Let op wat die volgende artikel oor hierdie vraag sê.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Foto bo: © AFP/CORBIS