Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Goeie bure is ’n seën

Goeie bure is ’n seën

Goeie bure is ’n seën

“’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver weg is.”—Spreuke 27:10.

’N GELEERDE in die eerste eeu G.J. het vir Jesus gevra: “Wie is dan my naaste?” In antwoord hierop het Jesus nie vir hom gesê wie sy naaste is nie, maar wat iemand ’n goeie naaste maak. Jy ken Jesus se illustrasie waarskynlik goed. Baie mense ken dit as die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, en dit is opgeteken in die Evangelie van Lukas. Jesus het die verhaal so vertel:

“’n Sekere man het van Jerusalem na Jerigo afgegaan en in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek en ook geslaan het, en hulle het weggegaan en hom halfdood agtergelaat. En per toeval het ’n sekere priester met daardie pad afgegaan, maar toe hy hom sien, het hy aan die oorkant verbygegaan. Net so het ook ’n Leviet, toe hy by die plek kom en hom sien, aan die oorkant verbygegaan. Maar ’n sekere Samaritaan wat op die pad gereis het, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, is hy ontroer deur innige jammerte. En hy het na hom toe gegaan en sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Toe het hy hom op sy eie dier getel en hom na ’n herberg gebring en vir hom gesorg. En die volgende dag het hy twee denarii uitgehaal, dit vir die herbergier gegee en gesê: ‘Sorg vir hom, en wat jy ook al meer as dit uitgee, sal ek jou vergoed wanneer ek hierheen terugkom.’ Wie van hierdie drie, lyk dit vir jou, het hom die naaste gemaak van die man wat in die hande van die rowers geval het?”—Lukas 10:29-36.

Die geleerde het klaarblyklik die punt gesnap. Sonder om te aarsel, het hy die een wat hom ’n naaste van die gewonde man gemaak het, reg geïdentifiseer: “Die een wat barmhartig teenoor hom opgetree het.” Jesus het toe vir hom gesê: “Gaan en doen jy net so” (Lukas 10:37). Wat ’n kragtige illustrasie van wat dit beteken om werklik iemand se naaste te wees! Jesus se gelykenis kan ons selfs beweeg om ons af te vra: ‘Watter soort naaste is ek? Het my rasseagtergrond of nasionaliteit ’n invloed op wie ek dink my naaste is? Beperk hierdie faktore my verpligting om my medemens te help wat ek sien in die nood is? Gaan ek uit my pad om ’n goeie naaste te wees?’

Waar begin ’n mens?

As ons voel dat ons in hierdie opsig moet verbeter, moet ons by ons gesindheid begin. Ons moet ons daarop toespits om ’n goeie naaste, en buurman, te wees. Dit kan ook daartoe bydra dat ons goeie bure sal hê. Bykans tweeduisend jaar gelede het Jesus hierdie belangrike beginsel van menseverhoudings in sy beroemde Bergpredikasie beklemtoon. Hy het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). As ons ander met respek, waardigheid en goedhartigheid behandel, spoor dit hulle aan om ons op dieselfde wyse te behandel.

In die artikel “Jy moet jou bure liefhê”, wat in die tydskrif The Nation Since 1865 verskyn, het die joernalis en skryfster Lise Funderburg ’n paar eenvoudige dinge genoem wat gedoen kan word om buurmanskap aan te moedig. Sy het geskryf: “Ek wil hê dat . . . persoonlike kontak deel moet wees van die tallose gunsies wat bure vir mekaar doen—om vir hulle die koerant in te neem, die kinders op te pas, iets by die winkel te kry. Ek wil hierdie noue band hê in ’n wêreld waar vervreemding toeneem, waar gemeenskappe deur vrees en misdaad verswak word.” Dan voeg sy by: “’n Mens moet iewers begin. En dit kan net sowel by die mense langsaan wees.”

Die tydskrif Canadian Geographic het ook ’n nuttige punt genoem wat bure kan help om ’n goeie gesindheid teenoor mekaar te ontwikkel. Die skryfster Marni Jackson het gesê: “Bure, soos familie, is mense in jou lewe wat jy nie altyd kan kies nie. Die verhoudings vereis takt, ’n mate van hoflikheid en verdraagsaamheid.”

Goeie bure—goeie gewers

Baie van ons voel weliswaar bietjie ongemaklik om na ons bure toe oor te stap. Dit lyk miskien of dit baie makliker is om hulle te vermy en ons eenkant te hou. Maar die Bybel sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Daarom wend ’n goeie buurman ’n poging aan om die mense om hom te leer ken. Hoewel hy nie noodwendig intieme vriendskappe wil smee nie, doen hy die moeite om van tyd tot tyd ’n bietjie te gesels, en aan die begin miskien net vriendelik te glimlag of te waai.

Soos vroeër gemeld is, is dit “die tallose gunsies” wat bure vir mekaar doen wat in werklikheid help om goeie verhoudings tussen bure op te bou en te handhaaf. Dit is dus goed om op die uitkyk te wees na klein dingetjies wat jy vir jou bure kan doen, want dit sal dikwels ’n gees van samewerking en wedersydse respek bevorder. As ons dit doen, volg ons bowendien die Bybelse raad: “Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie.”—Spreuke 3:27; Jakobus 2:14-17.

Goeie bure—dankbare ontvangers

’n Mens sou graag wou sê dat almal hulp en geskenke met dankbaarheid ontvang. Maar ongelukkig is dit nie altyd so nie. Baie keer word hulp en welmenende geskenke op so ’n ondankbare wyse ontvang dat die opregte gewer moontlik dink: ‘Dit is die laaste keer dat ek so iets doen!’ Soms kry jy dalk net ’n stywe knik vir al jou pogings om jou bure vriendelik te groet en vir hulle te waai.

Maar in baie gevalle is die ontvanger nie werklik ondankbaar nie, hoewel dit op die oog af so kan lyk. Dalk is hy onseker of verleë weens sy kulturele agtergrond, en dit laat hom op ’n ongeërgde, skynbaar onvriendelike manier optree. Aan die ander kant kan sommige mense jou vriendelikheid ongewoon vind in hierdie ondankbare wêreld, of hulle kan selfs jou beweegredes wantrou. Hulle sal miskien ’n mate van gerusstelling nodig hê. Dit kan dus tyd en geduld verg om ’n vriendskaplike verhouding op te bou. Maar bure wat die kuns aanleer om goeie gewers en dankbare ontvangers te wees, sal bydra tot ’n vreedsame en gelukkige gees in die buurt.

Wanneer teëspoed tref

Goeie bure is veral waardevol wanneer rampe tref. In tye van nood word ’n ware gees van buurmanskap gesien. Daar is baie verslae oor die onselfsugtige dade van bure gedurende sulke tye. Dit lyk of die tragedie wat hulle saam deurmaak, bure spontaan laat saamwerk en moeite vir mekaar laat doen. Selfs dié met verskillende beskouings sal dikwels saamwerk.

The New York Times het byvoorbeeld berig dat tradisionele vyande soos goeie bure saamgestaan het toe ’n verwoestende aardbewing Turkye in 1999 getref het. “Ons is jare lank geleer om die Turke te haat”, het die Griekse rubriekskrywer Anna Stergiou in ’n Ateense koerant geskryf. “Maar hulle ongelooflike pyn maak ons geensins bly nie. Ons was ontsteld, ons het gehuil asof die eeue oue haat verdwyn het toe ons dooie babas sien.” Toe die reddingspogings amptelik afgelas is, het Griekse reddingspanne geweier om die soektog na oorlewendes te laat vaar.

Dit is beslis ’n edel, dapper daad van naasteliefde om aan reddingswerk deel te neem nadat ’n ramp plaasgevind het. Maar om jou naaste se lewe te red deur hom te waarsku voordat teëspoed hom tref, kan beslis beskou word as ’n daad van naasteliefde wat selfs groter waarde het. Ongelukkig toon die geskiedenis dat diegene wat hulle naaste oor naderende rampe waarsku, dikwels nie verwelkom word nie omdat dit op die tyd dat die waarskuwing gegee word, nie so maklik is om te sien dat ’n ramp dreig nie. Diegene wat die waarskuwing gee, word dikwels nie geglo nie. Dit verg baie volharding en selfopoffering van diegene wat mense probeer help wat nie bewus is van die gevaarlike situasie waarin hulle verkeer nie.

Die grootste daad van naasteliefde

Vandag staar die mensdom iets baie groters as ’n natuurramp in die gesig. Dit is die voorspelde optrede van die almagtige God wat hierdie aarde van misdaad, goddeloosheid en gepaardgaande probleme gaan bevry (Openbaring 16:16; 21:3, 4). Hierdie betekenisvolle gebeurtenis is nie maar net ’n vae moontlikheid nie, dit is ’n sekerheid! Jehovah se Getuies is gretig om die kennis wat nodig is om hierdie naderende wêreldskokkende gebeurtenis te oorleef, met soveel mense moontlik te deel. Daarom hou hulle aan om hulle welbekende predikingswerk oor die hele wêreld te doen (Matteus 24:14). Hulle doen dit gewillig, uit liefde vir God en hulle naaste.

Moet derhalwe nie toelaat dat vooroordeel of ergernis jou verhinder om te luister wanneer die Getuies na jou deur toe kom of jou elders nader nie. Hulle probeer goeie bure wees. Aanvaar dus gerus hulle aanbod om die Bybel met jou te studeer. Leer hoe God se Woord ons daarvan verseker dat ’n toekoms op hande is wanneer bure vreugdevol sal saamwoon. Dan sal geen rasse-, godsdiens- of klassediskriminasie die hartlike verhouding bederf wat die meeste van ons opreg begeer nie.

[Prente op bladsy 6, 7]

Dit is goed om dinge vir ander in jou buurt te doen

[Erkennings]

Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.