Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe moet ons beproewinge beskou?

Hoe moet ons beproewinge beskou?

Hoe moet ons beproewinge beskou?

TOETSE! Beproewinge! Almal het daarmee te kampe. Dit kan veroorsaak word deur persoonlikheidsverskille, ekonomiese probleme, swak gesondheid, versoekings, portuurdwang om te doen wat verkeerd is, vervolging, toetse in verband met ons standpunt oor neutraliteit of teen afgodediens en baie ander dinge. Ongeag watter soort beproewinge ons moet verduur, dit veroorsaak dikwels groot bekommernis. Hoe kan ons dit met welslae die hoof bied? Kan dit ons enigsins tot voordeel strek?

Die beste ondersteuning

Koning Dawid van ouds se lewe was vol beproewinge, en tog het hy getrou gesterf. Waarom kon hy volhard? Hy het getoon waar die bron van sy krag was toe hy gesê het: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.” Toe het hy verder gesê: “Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my; u stok en u staf dié vertroos my” (Psalm 23:1, 4). Ja, Jehovah is ’n bron van onbeperkte ondersteuning. Hy het Dawid deur uiters donker tye gelei, en hy is bereid om dieselfde vir ons te doen wanneer dit nodig is.

Hoe kan ons Jehovah se ondersteuning verkry? Die Bybel wys hoe wanneer dit sê: “Smaak en sien dat Jehovah goed is” (Psalm 34:8). Dit is ’n hartlike uitnodiging, maar wat beteken dit? Dit is ’n aansporing om Jehovah te dien en om ons lewe heeltemal in ooreenstemming met sy wil te bring. So ’n weg beteken dat ons van ons vryheid moet prysgee, dat ons opofferings moet maak. Soms kan dit selfs tot beproewinge lei—vervolging en lyding. Maar diegene wat Jehovah se uitnodiging heelhartig aanneem, hoef nooit daaroor spyt te wees nie. Jehovah sal baie goed wees vir hulle. Hy sal hulle lei en geestelik na hulle omsien. Hy sal hulle gedurende beproewinge onderskraag deur middel van sy Woord, sy heilige gees en die Christengemeente. En hy sal hulle uiteindelik met die ewige lewe beloon.—Psalm 23:6; 25:9; Jesaja 30:21; Romeine 15:5.

Diegene wat die lewensbelangrike besluit neem om Jehovah te dien en wat by daardie besluit bly, vind dat Jehovah al sy beloftes nakom. Dit is wat die Israeliete ondervind het wat deur Josua in die Beloofde Land ingelei is. Nadat hulle die Jordaan oorgesteek het, moes hulle beproewinge verduur, stryde voer en moeilike lesse leer. Maar daardie geslag was getrouer as hulle voorvaders, wat uit Egipte gekom en in die wildernis gesterf het. Gevolglik het Jehovah die getroues ondersteun, en aangaande hulle toestand aan die einde van Josua se lewe sê die Bybelverslag: “Jehovah [het] hulle aan alle kante rus gegee, ooreenkomstig alles wat hy hulle voorvaders met ’n eed beloof het . . . Geen belofte van al die goeie beloftes wat Jehovah aan die huis van Israel gemaak het, het onvervuld gebly nie; alles is bewaarheid” (Josua 21:44, 45). Ons kan dit ook ondervind as ons ten volle op Jehovah vertrou wanneer ons beproewinge verduur en gedurende alle ander tye.

Wat kan ons vertroue op Jehovah laat verswak? Jesus het een ding uitgewys toe hy gesê het: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie . . . Julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24). As ons op Jehovah vertrou, sal ons nie sekuriteit probeer verkry waar die meeste mense in die wêreld dit soek nie—naamlik in materiële dinge. Jesus het sy volgelinge vermaan: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander [noodsaaklike materiële] dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matteus 6:33). ’n Christen wat ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge behou en God se Koninkryk eerste in sy lewe stel, neem die regte besluit (Prediker 7:12). Dit kan hom natuurlik iets kos. Hy sal miskien op materiële gebied opofferings moet maak. Maar hy sal baie belonings ontvang. En Jehovah sal hom ondersteun.—Jesaja 48:17, 18.

Wat ons uit beproewinge leer

As ’n mens besluit om te “smaak en [te] sien dat Jehovah goed is”, beteken dit natuurlik nie dat ’n mens beskerm word teen die teëspoede van die lewe nie; dit beskerm ons ook nie ten volle teen die aanvalle van Satan en sy menslike agente nie (Prediker 9:11). Gevolglik word ’n Christen se opregtheid en vasbeslotenheid dalk beproef. Waarom laat Jehovah toe dat sy aanbidders aan sulke beproewinge blootgestel word? Die apostel Petrus het een rede gegee toe hy geskryf het: “Julle [word] nou—as dit moet wees—’n klein rukkie deur allerhande beproewinge bedroef . . . , sodat die beproefde hoedanigheid van julle geloof, wat van baie groter waarde is as goud wat vergaan al word dit deur vuur getoets, by die openbaring van Jesus Christus ’n rede tot lof en heerlikheid en eer bevind kan word” (1 Petrus 1:6, 7). Ja, toetse stel ons in staat om te toon wat die hoedanigheid van ons geloof en ons liefde vir Jehovah is. En dit help ons om ’n antwoord te gee op die uittartings en beskuldigings van Satan die Duiwel.—Spreuke 27:11; Openbaring 12:10.

Toetse help ons ook om ander Christelike eienskappe aan te kweek. Kyk byvoorbeeld na die psalmis se woorde: “[Jehovah] sien . . . die nederige; maar die verwaande ken hy net van ver af” (Psalm 138:6). Baie van ons is nie van nature nederig nie, maar beproewinge kan ons help om hierdie noodsaaklike eienskap aan te kweek. Dink aan die tyd in Moses se dag toe party in Israel daarvoor moeg geword het om week na week, maand na maand, manna te eet. Dit was klaarblyklik vir hulle ’n beproewing, al was die manna ’n wonderdadige voorsiening. Wat was die doel van die toets? Moses het vir hulle gesê: “[Jehovah het] jou in die wildernis met manna gevoed . . . om jou nederig te maak en om jou op die proef te stel.”—Deuteronomium 8:16.

Ons nederigheid kan ook beproef word. Hoe? Wel, hoe reageer ons op organisatoriese verfynings? (Jesaja 60:17). Ondersteun ons die predikings- en onderrigtingswerk heelhartig? (Matteus 24:14; 28:19, 20). Aanvaar ons geredelik die verduidelikings van Bybelwaarheid wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word? (Matteus 24:45-47; Spreuke 4:18). Weerstaan ons druk om die nuutste toestel, die jongste mode of die nuutste model motor te hê? ’n Nederige persoon sal ja kan antwoord op hierdie vrae.—1 Petrus 1:14-16; 2 Petrus 3:11.

Beproewinge help om nog ’n noodsaaklike eienskap in ons voort te bring—volharding. Die dissipel Jakobus het gesê: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle allerhande beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk” (Jakobus 1:2, 3). As ons die een toets na die ander met welslae verduur terwyl ons ten volle op Jehovah vertrou, bring dit standvastigheid, bestendigheid en onkreukbaarheid in ons voort. Dit versterk ons om toekomstige aanvalle van Satan, die woedende god van hierdie wêreld, te weerstaan.—1 Petrus 5:8-10; 1 Johannes 5:19; Openbaring 12:12.

Behou die regte beskouing van beproewinge

Die volmaakte Seun van God, Jesus Christus, het voor baie beproewinge te staan gekom terwyl hy op die aarde was, en dit het vir hom groot voordele ingehou omdat hy dit verduur het. Paulus het geskryf dat Jesus “gehoorsaamheid geleer [het] uit die dinge wat hy gely het” (Hebreërs 5:8). Sy lojaliteit tot in die dood het lof gebring aan Jehovah se naam en het dit vir Jesus moontlik gemaak om die waarde van sy volmaakte menselewe as ’n losprys vir die mensdom aan te bied. Dit het die weg gebaan sodat diegene wat geloof in Jesus beoefen, die vooruitsig op ewige lewe kan hê (Johannes 3:16). Omdat Jesus tydens beproewing getrou gebly het, is hy nou ons Hoëpriester en gekroonde Koning.—Hebreërs 7:26-28; 12:2.

Wat van ons? As ons ondanks beproewinge lojaal bly, bring dit eweneens groot seëninge mee. Die Bybel sê van diegene wat ’n hemelse hoop het: “Gelukkig is die mens wat beproewing bly verduur, want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat Jehovah beloof het aan diegene wat hom altyd liefhet” (Jakobus 1:12). Diegene met ’n aardse hoop het die versekering dat hulle ewige lewe in ’n aardse paradys sal beërf as hulle getrou volhard (Openbaring 21:3-6). En wat nog belangriker is, is dat hulle getroue volharding lof bring aan Jehovah se naam.

Terwyl ons Jesus se voetstappe volg, kan ons die vertroue hê dat al die toetse waarvoor ons in hierdie stelsel van dinge te staan kom, met welslae die hoof gebied kan word (1 Korintiërs 10:13; 1 Petrus 2:21). Hoe? Deurdat ons op Jehovah vertrou, wat “die krag wat bo die normale is”, voorsien aan diegene wat op hom staatmaak (2 Korintiërs 4:7). Mag ons oortuiging soos dié van Job wees, wat selfs terwyl hy kwaai beproewinge verduur het, vol vertroue verklaar het: “Nadat hy my op die proef gestel het, sal ek soos goud te voorskyn kom.”—Job 23:10.

[Prent op bladsy 31]

Jesus se lojaliteit tydens beproewing het lof gebring aan Jehovah se naam. Ons s’n kan ook