Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”

“Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”

“Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”

“Hulle het almal begin om ’n gunstige getuienis aangaande hom te gee en om hulle te verwonder oor die innemende woorde wat uit sy mond kom.”—LUKAS 4:22.

1, 2. (a) Waarom het die beamptes wat gestuur is om Jesus gevange te neem, met leë hande teruggekeer? (b) Wat toon dat die beamptes nie die enigstes was wat deur Jesus se lering beïndruk was nie?

 DIE beamptes het misluk in hulle taak. Hulle is gestuur om Jesus Christus gevange te neem, maar het met leë hande teruggekeer. Die hoofpriesters en Fariseërs het ’n verduideliking geëis: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” Met ander woorde, waarom het die beamptes nie ’n man in hegtenis geneem wat hom glad nie sou verset nie? Die beamptes het verduidelik: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.” Hulle was so beïndruk deur Jesus se lering dat hulle dit eenvoudig nie oor hulle hart kon kry om hierdie vreedsame man te arresteer nie. aJohannes 7:32, 45, 46.

2 Daardie beamptes was nie die enigstes wat deur Jesus se lering beïndruk was nie. Die Bybel sê vir ons dat mense in groot getalle gekom het net om hom te hoor praat. Die mense in sy tuisdorp het hulle verwonder “oor die innemende woorde wat uit sy mond kom” (Lukas 4:22). Meer as een keer het hy groot skares wat op die oewer van die See van Galilea vergader het, vanuit ’n boot toegespreek (Markus 3:9; 4:1; Lukas 5:1-3). By een geleentheid het “’n groot skare” dae lank by hom gebly sonder om selfs te eet.—Markus 8:1, 2.

3. Wat was die vernaamste rede waarom Jesus so ’n uitsonderlike onderrigter was?

3 Wat het Jesus so ’n uitsonderlike onderrigter gemaak? Liefde was die vernaamste rede. b Jesus was lief vir die waarhede wat hy bekend gemaak het, en hy was lief vir die mense wat hy onderrig het. Maar Jesus het ook ’n buitengewone kennis van onderrigmetodes gehad. In die studieartikels wat in hierdie tydskrif verskyn, sal ons ’n paar van die doeltreffende metodes bespreek wat hy gebruik het, asook hoe ons dit kan navolg.

Eenvoud en duidelikheid

4, 5. (a) Waarom het Jesus eenvoudige taal in sy onderrigting gebruik, en wat is merkwaardig omtrent die feit dat hy dit gedoen het? (b) In watter opsig is die Bergpredikasie ’n voorbeeld van die eenvoud waarmee Jesus onderrig het?

4 Dit is glad nie ongewoon vir hooggeleerde mense om taal te gebruik wat onverstaanbaar is vir dié wat na hulle luister nie. Maar hoe kan mense by ons kennis baat vind as hulle ons nie kan verstaan nie? As ’n onderrigter het Jesus nooit só gepraat dat ander hom nie kon verstaan nie. Stel jou voor hoe ontsaglik groot sy woordeskat moes gewees het. Maar ondanks sy geweldige kennis het hy aan sy toehoorders gedink, nie aan homself nie. Hy het geweet dat baie van hulle “ongeleerde en gewone mense” was (Handelinge 4:13). Om hulle hart te bereik, het hy taal gebruik wat hierdie mense kon verstaan. Die woorde was dalk eenvoudig, maar dit het diep waarhede bevat.

5 Dink byvoorbeeld aan die Bergpredikasie, wat in Matteus 5:3–7:27 opgeteken staan. Dit het Jesus dalk net 20 minute geneem om hierdie preek te lewer. En tog bevat dit diep leringe wat deurdring tot die kern van sake soos egbreuk, egskeiding en materialisme (Matteus 5:27-32; 6:19-34). Maar daar is geen ingewikkelde of hoogdrawende uitdrukkings nie. Daar is feitlik geen woord wat selfs ’n kind nie maklik kan verstaan nie! Dit is geen wonder nie dat die skares—wat waarskynlik boere, herders en vissermanne ingesluit het—aan die einde van sy preek “verstom was oor die manier waarop hy geleer het”!—Matteus 7:28.

6. Gee ’n voorbeeld van hoe Jesus gedagtes oorgedra het wat eenvoudig maar besonder betekenisvol was.

6 Jesus het dikwels duidelike, kort frases gebruik om gedagtes oor te dra wat eenvoudig maar besonder betekenisvol is. In die era voor gedrukte boeke het hy sodoende sy boodskap onuitwisbaar in die verstande en harte van sy toehoorders ingeprent. Kyk na ’n paar voorbeelde: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; . . . julle kan nie God én Rykdom as slawe dien nie.” “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie.” “Julle [sal] daardie mense . . . aan hulle vrugte herken.” “Dié wat gesond is, het nie ’n geneesheer nodig nie, maar dié wat siek is, het wel.” “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan.” “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.” “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Matteus 6:24; 7:1, 20; 9:12; 26:52; Markus 12:17; Handelinge 20:35). c Tot vandag toe, bykans 2 000 jaar nadat Jesus dit gesê het, kan hierdie kragtige woorde maklik onthou word.

Gebruik van vrae

7. Waarom het Jesus vrae gevra?

7 Jesus het op merkwaardige wyse van vrae gebruik gemaak. Hy het dit dikwels gedoen selfs al sou dit minder tyd neem om net vir sy toehoorders te sê wat hy in gedagte het. Waarom het hy dan vrae gevra? Hy het soms deurdringende vrae gebruik om die beweegredes van sy teenstanders openbaar te maak en hulle sodoende die swye op te lê (Matteus 12:24-30; 21:23-27; 22:41-46). Maar in baie gevalle het Jesus die tyd geneem om vrae te vra sodat hy waarhede kon oordra, sodat hy sy toehoorders kon beweeg om te sê wat in hulle hart is en sodat hy die denke van sy dissipels kon prikkel en oefen. Kom ons kyk na twee voorbeelde. Die apostel Petrus is betrokke by albei.

8, 9. Hoe het Jesus vrae gebruik om Petrus te help om tot die regte gevolgtrekking te kom oor die kwessie van tempelbelasting?

8 Dink eerstens aan die geval toe belastinggaarders Petrus gevra het of Jesus die tempelbelasting betaal. d Petrus, wat soms impulsief was, het “Ja” geantwoord. Maar ’n kort rukkie later het Jesus met hom geredeneer: “‘Wat dink jy, Simon? Van wie ontvang die konings van die aarde heffings of hoofbelasting? Van hulle seuns of van die vreemdelinge?’ Toe hy sê: ‘Van die vreemdelinge’, het Jesus vir hom gesê: ‘Dan is die seuns mos vrygestel van belasting’” (Matteus 17:24-27). Die punt van Jesus se vrae moes vir Petrus duidelik gewees het. Waarom?

9 In Jesus se tyd was dit bekend dat die familielede van konings van belasting vrygestel is. Gevolglik moes Jesus, as die enigverwekte Seun van die hemelse Koning wat by die tempel aanbid is, nie verplig word om belasting te betaal nie. Let op dat Jesus nie net vir Petrus die regte antwoord gegee het nie, maar eerder op ’n doeltreffende maar liefdevolle manier vrae gebruik het om Petrus te help om tot die regte gevolgtrekking te kom—en moontlik om te besef dat hy versigtiger moet wees voor hy praat.

10, 11. Hoe het Jesus gereageer toe Petrus ’n man se oor op Pasganag 33 G.J. afgekap het, en hoe toon dit dat Jesus die waarde van vrae geken het?

10 Die tweede voorbeeld hou verband met ’n voorval wat op Pasganag 33 G.J. plaasgevind het, toe ’n skare gekom het om Jesus in hegtenis te neem. Die dissipels het Jesus gevra of hulle moes veg om hom te verdedig (Lukas 22:49). Sonder om op ’n antwoord te wag, het Petrus ’n man se oor met ’n swaard afgekap (hoewel Petrus hom dalk erger wou beseer het). Petrus het in stryd met sy heer se wil opgetree, want Jesus was heeltemal bereid om homself oor te gee. Hoe het Jesus gereageer? Ewe geduldig het hy Petrus drie vrae gevra: “Die beker wat die Vader my gegee het, sal ek dit dan nie vir seker drink nie?” “Dink jy dat ek nie ’n beroep op my Vader kan doen om op hierdie oomblik meer as twaalf legioene engele aan my beskikbaar te stel nie? Hoe sou die Skrif dan vervul word dat dit so moet plaasvind?”—Johannes 18:11; Matteus 26:52-54.

11 Peins vir ’n oomblik oor hierdie verslag. Jesus, omring deur ’n woedende skare, het geweet dat sy dood op hande is en dat dit op sy skouers rus om sy Vader se naam van blaam te suiwer en die mensdom van redding te verseker. Tog het hy net daar tyd gemaak om deur middel van vrae belangrike waarhede in Petrus se verstand in te prent. Is dit nie duidelik dat Jesus die waarde van vrae geken het nie?

Treffende hiperbole

12, 13. (a) Wat is ’n hiperbool? (b) Hoe het Jesus ’n hiperbool gebruik om te beklemtoon hoe dwaas dit is om geringe foute van ons broers te kritiseer?

12 In sy bediening het Jesus dikwels gebruik gemaak van nog ’n doeltreffende onderrigmetode—die hiperbool. Dit is ’n doelbewuste oordrywing om iets te beklemtoon. Met hiperbole het Jesus beelde geskilder wat moeilik is om te vergeet. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

13 In die Bergpredikasie, toe Jesus die belangrikheid daarvan beklemtoon het om ‘op te hou om ander te oordeel’, het hy gesê: “Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie?” (Matteus 7:1-3). Kan jy jou dit voorstel? Iemand wat geneig is om krities te wees, bied aan om ’n blote strooihalm uit sy broer se “oog” te haal. Die kritiese persoon gee te kenne dat sy broer sake nie duidelik genoeg kan sien om aanvaarbare oordele te vel nie. Maar die kritiese persoon se eie vermoë om te oordeel, word belemmer deur ’n “balk”—’n stuk hout wat groot genoeg is om ’n dak te stut. Wat ’n onvergeetlike manier om te beklemtoon hoe dwaas dit is om die geringe foute van ons broers te kritiseer terwyl ons dalk self groot foute het!

14. Waarom was Jesus se woorde oor die muggie wat uitgesif en die kameel wat ingesluk word, ’n besonder treffende hiperbool?

14 By ’n ander geleentheid het Jesus die Fariseërs veroordeel as “blinde gidse, wat die muggie uitsif maar die kameel insluk” (Matteus 23:24). Dit was ’n besonder treffende hiperbool. Waarom? Die verskil tussen ’n klein muggie en ’n kameel, wat een van die grootste diere was wat Jesus se toehoorders geken het, was treffend. Daar word gereken dat 70 miljoen muggies nodig sal wees om dieselfde as ’n gemiddelde kameel te weeg! Jesus het ook geweet dat die Fariseërs hulle wyn deur ’n doek sif. Hierdie streng voorstanders van reëls het dit gedoen om te voorkom dat hulle ’n muggie insluk en sodoende seremonieel onrein word. En tog het hulle figuurlik gesproke die kameel ingesluk, wat ook onrein was (Levitikus 11:4, 21-24). Jesus se punt was duidelik. Die Fariseërs het die kleinste van die Wet se vereistes nougeset nagekom, maar die gewigtiger sake verontagsaam—naamlik “geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid” (Matteus 23:23). Hoe duidelik het Jesus tog hulle ware karakter blootgelê!

15. Wat is van die lesse wat Jesus mense geleer het deur hiperbole te gebruik?

15 Regdeur sy bediening het Jesus dikwels hiperbole gebruik. Kyk na ’n paar voorbeelde. “Geloof . . . so groot soos ’n [kleine] mosterdsaadjie” wat berge kon versit—Jesus kon nouliks ’n doeltreffender manier gevind het om te beklemtoon dat selfs ’n bietjie geloof baie kan verrig (Matteus 17:20). ’n Groot kameel wat deur die oog van ’n naald probeer gaan—hoe goed lig dit tog toe hoe moeilik dit vir ’n ryk persoon is om God te probeer dien terwyl hy aan ’n materialistiese lewenstyl vashou! (Matteus 19:24). Verwonder jy jou nie oor Jesus se kleurryke beeldspraak en sy vermoë om met min woorde die grootste trefkrag te hê nie?

Onweerlegbare logika

16. Hoe het Jesus altyd sy skerpsinnigheid gebruik?

16 Met sy volmaakte verstand was Jesus ’n meester daarin om logies met mense te redeneer. Maar hy het nooit hierdie vermoë misbruik nie. In sy onderrigting het hy altyd sy skerpsinnigheid gebruik om die waarheid te bevorder. Soms het hy kragtige logika gebruik om die valse aantygings van sy godsdiensteenstanders te weerlê. In baie gevalle het hy logiese redenasies gebruik om sy dissipels belangrike lesse te leer. Kom ons kyk na Jesus se meesterlike vermoë om logika te gebruik.

17, 18. Watter kragtige logika het Jesus gebruik om ’n valse aantyging van die Fariseërs te weerlê?

17 Dink aan die geval toe Jesus ’n demoonbesete man genees het wat blind was en nie kon praat nie. Toe die Fariseërs daarvan hoor, het hulle gesê: “Hierdie man dryf die demone nie anders uit as deur middel van Beëlsebub [Satan], die heerser van die demone, nie.” Let op dat die Fariseërs erken het dat bomenslike krag nodig was om Satan se demone uit te dryf. Maar om te keer dat die mense in Jesus glo, het hulle gesê dat sy krag van Satan kom. Jesus het getoon dat hulle nie hulle argument goed deurdink het en tot ’n logiese gevolgtrekking gekom het nie, deur hulle te antwoord: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes, en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. Net so, as Satan Satan uitdryf, het hy teen homself verdeeld geraak; hoe sal sy koninkryk dan bly staan?” (Matteus 12:22-26). Jesus het as ’t ware gesê: ‘As ek, soos julle sê, ’n agent van Satan is, en tot niet maak wat Satan gedoen het, dan werk Satan mos teen homself en sal hy spoedig tot ’n val kom.’ Kragtige logika, nie waar nie?

18 Toe het Jesus verder oor hierdie saak geredeneer. Hy was daarvan bewus dat party onder die Fariseërs ook demone uitgedryf het. Daarom het hy ’n eenvoudige maar verpletterende vraag gevra: “As ek die demone deur middel van Beëlsebub uitdryf, deur middel van wie dryf julle seuns [of dissipels] hulle uit?” (Matteus 12:27). Jesus se argument was met ander woorde: ‘As ek werklik demone deur die krag van Satan uitdryf, dan moet júlle dissipels onder dieselfde krag werk.’ Wat kon die Fariseërs sê? Hulle sou nooit erken dat hulle dissipels onder Satan se krag werk nie. Met onweerlegbare logika het Jesus getoon hoe uiters onredelik hulle aantyging teen hom was.

19, 20. (a) Op watter positiewe manier het Jesus logika gebruik? (b) Hoe het Jesus ’n ‘hoeveel te meer’-redenasie gebruik toe sy dissipels hom gevra het om hulle te leer hoe om te bid?

19 Jesus het nie net logika gebruik om sy teenstanders die swye op te lê nie, maar hy het ook logiese, oorredende argumente gebruik om positiewe, hartverblydende waarhede oor Jehovah aan ander te leer. ’n Hele paar keer het hy gebruik gemaak van wat ’n mens ’n ‘hoeveel te meer’-redenasie kan noem om sy gehoor te help om van ’n bekende waarheid na verdere oortuiging oor te gaan. Kom ons kyk na net twee voorbeelde.

20 Toe Jesus se dissipels hom gevra het om hulle te leer hoe om te bid, het hy die illustrasie vertel van ’n man wie se “onbeskroomde volharding” uiteindelik ’n onwillige vriend oorreed het om sy versoek toe te staan. Jesus het ook die bereidwilligheid van ouers beskryf om “goeie gawes” aan hulle kinders te gee. Toe het hy afgesluit: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:1-13). Die punt wat Jesus gemaak het, is nie op ooreenkoms gegrond nie, maar op teenstelling. As ’n onwillige vriend uiteindelik oorreed kan word om in sy buurman se behoefte te voorsien, en as onvolmaakte menseouers na die behoeftes van hulle kinders omsien, hoeveel te meer sal ons liefdevolle hemelse Vader heilige gees gee aan sy lojale knegte wat hom nederig in gebed nader!

21, 22. (a) Watter redenasie het Jesus gebruik toe hy raad gegee het oor hoe ’n mens bekommernisse oor materiële dinge die hoof kan bied? (b) Tot watter slotsom kom ons nadat ons ’n paar van Jesus se onderrigmetodes hersien het?

21 Jesus het ’n soortgelyke redenasie gebruik toe hy raad gegee het oor hoe ’n mens bekommernisse oor materiële dinge die hoof kan bied. Hy het gesê: “Let goed daarop dat die rawe nie saad saai of oes nie, en hulle het geen pakhuis of voorraadskuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle tog werd as voëls? Let goed op hoe die lelies groei; hulle swoeg nie en hulle spin nie . . . As God dan die plantegroei in die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, só klee, hoeveel te meer sal hy julle klee, julle kleingelowiges!” (Lukas 12:24, 27, 28). Ja, as Jehovah vir die voëls en blomme sorg, hoeveel te meer sal hy vir sy knegte sorg! Sulke liefdevolle maar kragtige redenasies het ongetwyfeld die hart van Jesus se toehoorders geraak.

22 Nadat ons ’n paar van Jesus se onderrigmetodes hersien het, kan ons maklik tot die slotsom kom dat daardie beamptes wat hom nie kon gevange neem nie, beslis nie oordryf het nie toe hulle gesê het: “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie.” Maar die onderrigmetode waarvoor Jesus seker die bekendste is, is sy gebruik van illustrasies, of gelykenisse. Waarom het hy hierdie metode gebruik? En wat het sy illustrasies so doeltreffend gemaak? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Die beamptes was waarskynlik agente van die Sanhedrin en onder die gesag van die hoofpriesters.

b Sien die artikels “Ek het vir julle die voorbeeld gestel” en ‘Volg my voortdurend’ in Die Wagtoring van 15 Augustus 2002.

c Hierdie laaste aanhaling, wat in Handelinge 20:35 gevind word, is net deur die apostel Paulus aangehaal, hoewel die inhoud van hierdie woorde in die Evangelies gevind word. Paulus het hierdie stelling dalk gehoor (by ’n dissipel wat Jesus dit hoor sê het of by die verrese Jesus) of hy het dit deur Goddelike openbaring ontvang.—Handelinge 22:6-15; 1 Korintiërs 15:6, 8.

d Van die Jode is vereis om ’n jaarlikse tempelbelasting van twee dragmas (omtrent twee dae se loon) te betaal. Die belasting is gebruik om te betaal vir die onderhoud van die tempel, die diens wat daar verrig is en die daaglikse offerandes wat ten behoewe van die volk gebring is.

Onthou jy?

• Watter voorbeelde toon dat Jesus met eenvoud en duidelikheid onderrig het?

• Waarom het Jesus vrae in sy onderrigting gebruik?

• Wat is ’n hiperbool, en hoe het Jesus hierdie onderrigmetode gebruik?

• Hoe het Jesus logiese redenasies gebruik om sy dissipels hartverblydende waarhede oor Jehovah te leer?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 9]

Jesus het eenvoudige taal gebruik wat gewone mense kon verstaan

[Prent op bladsy 10]

Die Fariseërs het ‘die muggie uitgesif maar die kameel ingesluk’