Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg die Groot Onderrigter na

Volg die Groot Onderrigter na

Volg die Groot Onderrigter na

“Gaan dus en maak dissipels van mense . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—MATTEUS 28:19, 20.

1, 2. (a) Hoe is ons almal in sekere sin onderrigters? (b) Watter unieke verantwoordelikheid het ware Christene wanneer dit by onderrigting kom?

 IS JY ’n onderrigter? In sekere sin is ons almal. Elke keer as jy vir ’n verdwaalde reisiger die pad wys, vir ’n medewerker wys hoe om ’n sekere taak te verrig of vir ’n kind verduidelik hoe om sy skoene vas te maak, is jy besig om te onderrig. Dit gee ’n mens ’n mate van bevrediging om ander op sulke maniere te help, nie waar nie?

2 Wanneer dit by onderrigting kom, het ware Christene ’n unieke verantwoordelikheid. Ons het die opdrag ontvang: “Maak dissipels van mense . . . en leer hulle” (Matteus 28:19, 20). Ook in die gemeente het ons die geleentheid om te onderrig. Bekwame manne word aangestel om as “herders en onderrigters” te dien, met die doel om die gemeente op te bou (Efesiërs 4:11-13). In hulle daaglikse Christelike bedrywighede moet geestelik volwasse vroue vir jonger vroue “onderrigters [wees] van wat goed is” (Titus 2:3-5). Ons almal word aangespoor om medegelowiges aan te moedig, en ons kan ag slaan op hierdie aansporing deur die Bybel te gebruik om ander op te bou (1 Tessalonisense 5:11). Wat ’n voorreg is dit tog om ’n onderrigter van God se Woord te wees en om geestelike waardes oor te dra wat blywende voordele kan inhou!

3. Hoe kan ons bekwamer onderrigters word?

3 Hoe kan ons egter bekwamer onderrigters word? Hoofsaaklik deur die Groot Onderrigter, Jesus, na te volg. ‘Maar hoe kan ons Jesus navolg?’ wonder party dalk. ‘Hy was volmaak.’ Ons kan weliswaar nie volmaakte onderrigters wees nie. Ons kan nietemin, ongeag wat ons vermoëns is, ons bes doen om die manier waarop Jesus onderrig het, na te volg. Kom ons bespreek hoe ons vier van sy metodes kan gebruik—eenvoud, doeltreffende vrae, logiese redenasies en gepaste illustrasies.

Hou dit eenvoudig

4, 5. (a) Waarom is eenvoud ’n vername kenmerk van Bybelwaarheid? (b) Waarom is dit belangrik om op ons woordkeuse te let as ons met eenvoud wil onderrig?

4 Die basiese waarhede van God se Woord is nie ingewikkeld nie. Jesus het in gebed gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, . . . omdat u hierdie dinge vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het” (Matteus 11:25). Jehovah het dit so bewerk dat sy voornemens geopenbaar word aan mense met opregte en nederige harte (1 Korintiërs 1:26-28). Eenvoud is dus ’n vername kenmerk van Bybelwaarheid.

5 Hoe kan jy met eenvoud onderrig wanneer jy ’n tuisbybelstudie hou of herbesoeke by belangstellendes doen? Wel, wat het ons by die Groot Onderrigter geleer? Om die harte van sy toehoorders te bereik, waarvan baie “ongeleerde en gewone mense” was, het Jesus eenvoudige taal gebruik wat hulle kon verstaan (Handelinge 4:13). Die eerste vereiste om met eenvoud te kan onderrig, is dus om op ons woordkeuse te let. Ons hoef nie hoogdrawende woorde of frases te gebruik om die waarheid van God se Woord meer oortuigend vir ander te maak nie. Sulke “oordrewe woorde” kan mense afskrik, veral dié met beperkte skoolopleiding of vermoëns (1 Korintiërs 2:1, 2). Jesus se voorbeeld toon dat eenvoudige woorde wat sorgvuldig gekies is, ’n baie kragtige manier is om die waarheid oor te dra.

6. Hoe kan ons dit vermy om ’n Bybelstudent met te veel inligting te oorweldig?

6 As ons met eenvoud wil onderrig, moet ons ook seker maak dat ons nie ’n Bybelstudent met te veel inligting oorweldig nie. Jesus het die beperkings van sy dissipels in ag geneem (Johannes 16:12). Ons moet ook die student in ag neem. Wanneer ons byvoorbeeld ’n studie hou in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, hoef ons nie elke besonderheid te verduidelik nie. a Dit is ook nie nodig om deur die inligting te jaag asof die hoofdoel is om ’n sekere hoeveelheid inligting te dek nie. Dit is verstandig om eerder toe te laat dat die student se behoeftes en vermoëns die pas van die studie bepaal. Ons doelwit is om die student te help om ’n dissipel van Christus en ’n aanbidder van Jehovah te word. Ons moet soveel tyd as wat nodig is, gebruik om die belangstellende student te help om duidelik te begryp wat hy leer. Die waarheid sal moontlik dan sy hart bereik en hom tot dade beweeg.—Romeine 12:2.

7. Watter wenke kan ons help om met eenvoud te onderrig wanneer ons toesprake in die gemeente hou?

7 Hoe kan ons “maklik verstaanbare woorde” spreek wanneer ons toesprake in die gemeente hou, veral as daar nuwelinge in die gehoor is? (1 Korintiërs 14:9). Beskou drie wenke wat ons kan help. Eerstens, verduidelik enige onbekende terme wat jy moet gebruik. Ons begrip van God se Woord het ons ’n unieke woordeskat gegee. As ons uitdrukkings soos “die getroue en verstandige slaaf”, “ander skape” en “Babilon die Grote” gebruik, moet ons dit dalk met eenvoudige frases verduidelik sodat die betekenis duidelik is. Tweedens, vermy ’n groot omhaal van woorde. Te veel woorde, wat te hoogdrawend is, sal die gehoor belangstelling laat verloor. Deur van onnodige woorde en frases ontslae te raak, kan gedagtes duidelik oorgedra word. Derdens, moenie te veel materiaal probeer dek nie. Ons ontdek dalk baie interessante besonderhede terwyl ons navorsing doen. Maar die beste is om die materiaal in ’n paar hoofpunte te organiseer en net die inligting te gebruik wat daardie punte ondersteun en wat in die toegewese tyd deeglik genoeg ontwikkel kan word.

Doeltreffende gebruik van vrae

8, 9. Hoe kan ons ’n vraag kies wat die huisbewoner se belangstelling sal prikkel? Gee voorbeelde.

8 Onthou dat Jesus ’n meester was in die gebruik van vrae om sy dissipels te help om hulle mening te lug en om hulle denke te prikkel en te oefen. Met sy vrae het Jesus liefdevol hulle hart bereik en geraak (Matteus 16:13, 15; Johannes 11:26). Hoe kan ons, soos Jesus, vrae doeltreffend gebruik?

9 Wanneer ons van huis tot huis getuig, kan ons vrae gebruik om belangstelling te wek wat vir ons die weg kan baan om oor God se Koninkryk te praat. Hoe kan ons ’n vraag kies wat die belangstelling van die huisbewoner sal prikkel? Wees oplettend. Wanneer jy ’n huis nader, kyk rond. Lê daar speelgoed op die werf wat toon dat daar kinders in die huis is? Indien wel, kan ons vra: ‘Het jy al ooit gewonder hoe die wêreld sal wees wanneer jou kinders groot is?’ (Psalm 37:10, 11). Is daar ’n paar slotte aan die voordeur, of is daar ’n sekuriteitstelsel? Ons kan vra: ‘Dink jy die tyd sal ooit kom wanneer mense soos ek en jy in ons huis en op straat veilig kan voel?’ (Miga 4:3, 4). Is daar ’n oprit vir ’n rolstoel? Ons kan vra: ‘Sal daar ooit ’n tyd wees wanneer almal wat lewe goeie gesondheid sal geniet?’ (Jesaja 33:24). Baie wenke kan gevind word in die boek Redenering uit die Skrif. b

10. Hoe kan ons vrae gebruik om die gedagtes en gevoelens in ’n Bybelstudent se hart ‘uit te skep’, maar wat moet ons in gedagte hou?

10 Hoe kan ons goed gebruik maak van vrae wanneer ons Bybelstudies hou? Ons kan nie soos Jesus harte lees nie. Tog kan taktvolle maar oordeelkundige vrae ons help om die gedagtes en gevoelens in die student se hart ‘uit te skep’ (Spreuke 20:5). Gestel byvoorbeeld ons studeer die hoofstuk “Waarom ’n godvrugtige lewenswyse geluk meebring” in die Kennis-boek. Dit bespreek God se beskouing van eerlikheid, hoerery en ander sake. Die student beantwoord dalk die gedrukte vrae reg, maar stem hy saam met wat hy leer? Ons kan vra: ‘Klink Jehovah se beskouing van hierdie sake vir jou redelik?’ ‘Hoe kan jy hierdie Bybelbeginsels in jou lewe toepas?’ Hou egter in gedagte dat dit belangrik is om die student met respek en waardigheid te behandel. Ons wil nie vrae vra wat die Bybelstudent in die verleentheid sal stel of hom sal verneder nie.—Spreuke 12:18.

11. Hoe kan openbare sprekers vrae doeltreffend gebruik?

11 Openbare sprekers kan ook vrae doeltreffend gebruik. Retoriese vrae—vrae wat ons nie verwag ons gehoor hardop moet beantwoord nie—kan ’n gehoor help om te dink en te redeneer. Jesus het soms sulke vrae gebruik (Matteus 11:7-9). Daarbenewens kan ’n spreker, ná sy inleidende kommentare, vrae gebruik om die hoofpunte wat hy gaan bespreek, op te noem. Hy kan sê: “In ons bespreking vandag gaan ons na die antwoorde op die volgende vrae kyk . . . ” Dan kan hy in die slot na daardie vrae verwys om die hoofgedagtes te hersien.

12. Gee ’n voorbeeld om te toon hoe Christen- ouer manne vrae kan gebruik om ’n medegelowige te help om vertroosting uit God se Woord te put.

12 In hulle herderswerk kan Christen- ouer manne vrae gebruik om ’n ‘terneergedrukte siel’ te help om vertroosting uit Jehovah se Woord te put (1 Tessalonisense 5:14). Om byvoorbeeld iemand te help wat mismoedig voel, kan ’n ouer man sy aandag vestig op Psalm 34:18. Dit sê: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.” Om seker te maak dat die moedelose persoon sien hoe dit op hom persoonlik van toepassing is, kan die ouer man vra: ‘Naby wie is Jehovah? Voel jy soms ‘gebroke van hart’ en ‘verbrysel van gees’? As Jehovah naby sulke persone is, soos die Bybel sê, beteken dit dan nie dat hy naby jou is nie?’ Hierdie liefdevolle versekering kan die gees van iemand wat bedruk is, laat herlewe.—Jesaja 57:15.

Logiese redenasies

13, 14. (a) Hoe kan ons met iemand redeneer wat sê dat hy nie glo in ’n God wat hy nie kan sien nie? (b) Waarom moet ons nie verwag dat ons almal sal oortuig nie?

13 In ons bediening wil ons mense se harte bereik met grondige, oortuigende redenasies (Handelinge 19:8; 28:23, 24). Beteken dit dat ons moet leer om ingewikkelde logika te gebruik om ander van die waarheid van God se Woord te oortuig? Beslis nie. Grondige redenasies hoef nie ingewikkeld te wees nie. Logiese argumente wat op ’n eenvoudige manier oorgedra word, is dikwels die doeltreffendste. Kyk na ’n voorbeeld.

14 Hoe kan ons antwoord as iemand sê hy glo nie in ’n God wat hy nie kan sien nie? Ons kan redeneer oor die natuurlike wet van oorsaak en gevolg. Wanneer ons ’n gevolg sien, aanvaar ons dat daar ’n oorsaak moet wees. Ons kan sê: ‘As jy op ’n afgeleë plek is en op ’n mooi huis afkom, waarin die kaste vol kos is (gevolg), sal jy geredelik aanvaar dat iemand (oorsaak) daardie huis gebou en die kaste vol kos gepak het. Net so ook wanneer ons die duidelike bewys van ontwerp in die natuur sien, asook die oorvloed kos in die aarde se “spens” (gevolg), maak dit dan nie sin om te aanvaar dat Iemand (oorsaak) daarvoor verantwoordelik is nie?’ Die Bybel se eenvoudige redenasie stel dit die beste: “Elke huis word natuurlik deur iemand gebou, maar hy wat alles gebou het, is God” (Hebreërs 3:4). Maar ongeag hoe grondig ons redenasie dalk is, nie almal sal oortuig wees nie. Die Bybel herinner ons aan die feit dat net diegene wat die “regte gesindheid” het, gelowiges sal word.—Handelinge 13:48; 2 Tessalonisense 3:2.

15. Watter redenasies kan ons gebruik om die aandag op Jehovah se eienskappe en weë te vestig, en watter twee voorbeelde lig toe hoe ons hierdie soort redenasie kan gebruik?

15 In ons onderrigting, hetsy in die veldbediening of in die gemeente, kan ons logiese redenasies gebruik om die aandag op Jehovah se eienskappe en weë te vestig. Wat veral doeltreffend is, is die ‘hoeveel te meer’-redenasie wat Jesus soms gebruik het (Lukas 11:13; 12:24). Hierdie soort redenasie, wat op teenstelling gegrond is, kan ’n diep indruk maak. Om te toon hoe onredelik die leerstelling van die helse vuur is, kan ons sê: ‘Geen liefdevolle vader sou sy kind straf deur die kind se hand in ’n vuur te hou nie. Hoeveel te meer moet die hele idee van ’n helse vuur ons liefdevolle hemelse Vader met weersin vervul!’ (Jeremia 7:31). Om ander te leer dat Jehovah vir elkeen van sy knegte as individue omgee, kan ons sê: ‘As Jehovah elkeen van die miljarde sterre by name ken, hoeveel te meer sal hy nie omgee vir mense wat hom liefhet en met die kosbare bloed van sy Seun gekoop is nie!’ (Jesaja 40:26; Handelinge 20:28). Sulke kragtige redenasies kan ons help om die harte van ander te bereik.

Gepaste illustrasies

16. Waarom is illustrasies waardevol in onderrigting?

16 Doeltreffende illustrasies is iets wat ons onderrigting interessanter kan maak vir ander. Waarom is illustrasies waardevol in onderrigting? Een opvoedkundige het gesê: “Die vermoë om abstrak te dink, is een van die moeilikste dinge vir mense.” Illustrasies prent betekenisvolle beelde in ons verstand in en help ons om nuwe idees beter te begryp. Jesus se gebruik van illustrasies was uitmuntend (Markus 4:33, 34). Kom ons kyk hoe ons van hierdie onderrigmetode gebruik kan maak.

17. Watter vier faktore maak ’n illustrasie doeltreffend?

17 Wat maak ’n illustrasie doeltreffend? Eerstens, dit moet pas by ons gehoor en betrekking hê op omstandighede waarmee dié wat na ons luister, hulle maklik kan vereenselwig. Ons onthou dat Jesus in baie van sy illustrasies dinge uit die daaglikse lewe van sy toehoorders gebruik het. Tweedens, ’n illustrasie moet in ’n redelike mate pas by die punt wat gemaak word. As die vergelyking nie werklik gepas is nie, kan die illustrasie bloot die aandag aftrek van dié wat na ons luister. Derdens, ’n illustrasie moet nie vol onnodige besonderhede wees nie. Onthou dat Jesus die nodige spesifieke besonderhede gegee het, maar onbelangrike besonderhede weggelaat het. Vierdens, wanneer ons ’n illustrasie gebruik, moet ons seker maak dat die toepassing duidelik is. Anders snap party dalk nie die punt nie.

18. Waar begin ’n mens om ’n gepaste illustrasie te kry?

18 Waar begin ’n mens om ’n gepaste illustrasie te kry? Ons hoef nie aan lang, omslagtige stories te dink nie. Kort illustrasies kan baie doeltreffend wees. Probeer eenvoudig dink aan voorbeelde van die punt onder bespreking. Gestel ons bespreek byvoorbeeld die onderwerp van God se vergifnis, en ons wil die punt in Handelinge 3:19 toelig, waar dit sê dat Jehovah ons oortredinge ‘uitwis’. Dit op sigself is beeldspraak, maar watter tasbare voorbeeld kan ons gebruik om die punt toe te lig—’n uitveër? ’n spons? Ons kan sê: ‘Wanneer Jehovah ons sondes vergewe, wis hy dit uit asof hy dit met ’n spons (of ’n uitveër) uitvee.’ Dit is maklik om die punt van so ’n eenvoudige illustrasie te snap.

19, 20. (a) Waar kan ons goeie illustrasies vind? (b) Wat is ’n paar voorbeelde van doeltreffende illustrasies wat al in ons lektuur verskyn het? (Sien ook venster.)

19 Waar kan ons gepaste illustrasies, onder andere werklike voorbeelde, vind? Dink aan dinge in jou eie lewe of in die verskillende agtergronde en ondervindinge van medegelowiges. Illustrasies kan uit baie ander bronne gekies word, onder meer lewende en lewelose dinge, huishoudelike items of ’n onlangse gebeurtenis wat in die gemeenskap bekend is. ’n Sleutel om goeie illustrasies te vind, is om oplettend te wees en die alledaagse omstandighede om ons ‘sorgvuldig waar te neem’ (Handelinge 17:22, 23). Een naslaanwerk oor die openbare spreekkuns verduidelik: “Die spreker wat menselewe en die verskillende werksaamhede daarvan waarneem, wat met allerhande mense praat, dinge noukeurig ondersoek en vrae vra totdat hy dit verstaan, sal ’n oorvloed illustrasies versamel wat hom goed te pas sal kom wanneer hy dit nodig kry.”

20 Daar is nog ’n ryk bron van doeltreffende illustrasies—Die Wagtoring, Ontwaak! en ander lektuur wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word. Jy kan baie leer deur te kyk hoe hierdie publikasies illustrasies gebruik. c Sien byvoorbeeld die illustrasie wat in paragraaf 11 van hoofstuk 17 in die Kennis-boek gebruik word. Dit vergelyk die verskeidenheid persoonlikhede in die gemeente met die verskillende voertuie wat saam met jou op ’n pad ry. Wat maak die illustrasie doeltreffend? Let op dat dit gebaseer is op ’n alledaagse situasie, dit pas goed by die punt wat gemaak word en die toepassing is duidelik. Ons kan gepubliseerde illustrasies in ons onderrigting gebruik en dit dalk aanpas by die behoeftes van ’n Bybelstudent of vir gebruik in ’n toespraak.

21. Watter belonings ontvang ’n bekwame onderrigter van God se Woord?

21 ’n Bekwame onderrigter ontvang groot belonings. Wanneer ons ander onderrig, deel ons iets met hulle; ons gee van onsself om hulle te help. Dit maak ons gelukkig om so te gee, want die Bybel sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Vir onderrigters van God se Woord sluit daardie geluk die vreugde in om te weet dat ons iets van werklike en blywende waarde aan ander oordra—die waarheid aangaande Jehovah. Ons kan ook bevrediging put uit die wete dat ons die Groot Onderrigter, Jesus Christus, navolg.

[Voetnote]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Sien die deel “Inleidings vir gebruik in die veldbediening”, op bladsye 9-15.—Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

c Sien die Watch Tower Publications Index 1986-2000, onder “Illustrations” om voorbeelde te vind.—Uitgegee in ’n hele paar tale deur Jehovah se Getuies.

Onthou jy?

• Hoe kan ons met eenvoud onderrig wanneer ons ’n tuisbybelstudie hou? wanneer ons ’n toespraak in die gemeente hou?

• Hoe kan ons vrae doeltreffend gebruik wanneer ons van huis tot huis getuig?

• Hoe kan ons logiese redenasies gebruik om die aandag op Jehovah se eienskappe en weë te vestig?

• Waar kan ons gepaste illustrasies vind?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 23]

Onthou jy hierdie illustrasies?

Hier volg net ’n paar doeltreffende illustrasies. Slaan gerus die verwysing na en kyk hoe die illustrasie gehelp het om die punt onder bespreking duidelik te maak.

• Soos sweefakrobate of ’n ysskaatspaar, maak diegene wat ’n suksesvolle huwelik wil bou, grootliks staat op ’n goeie maat.—Die Wagtoring, 15 Mei 2001, bladsy 16.

• ’n Mens kan jou gevoelens uitdruk soos jy ’n bal gooi. Jy kan dit saggies gooi of dit so hard gooi dat dit jou maat seermaak.—Ontwaak!, 8 Januarie 2001, bladsy 10.

• Om liefde te leer betoon, is soos om ’n nuwe taal aan te leer.—Die Wagtoring, 15 Februarie 1999, bladsye 18, 22-3.

• Oorgeërfde sonde kan vergelyk word met wat gebeur wanneer ’n rekenaar se lêers deur ’n virus beskadig word.—Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, bladsy 156.

• Spiritisme doen vir demone wat ’n lokaas vir jagters doen. Dit lok die prooi.—Kennis wat tot die ewige lewe lei, bladsy 111.

• Hoe Jesus Adam se nakomelinge gered het, kan vergelyk word met ’n ryk weldoener wat ’n maatskappy se skuld (wat deur ’n oneerlike bestuurder aangegaan is) afbetaal en die fabriek weer oopmaak, tot voordeel van die talle werknemers.—Die Wagtoring, 15 Februarie 1991, bladsy 13.

• Net soos kunsliefhebbers groot moeite sal doen om ’n erg geskende meesterstuk te restoureer, kyk Jehovah verder as ons onvolmaakthede, kan hy die goeie in ons sien en kan hy ons uiteindelik tot die volmaaktheid herstel wat Adam verloor het.—Die Wagtoring, 15 Februarie 1990, bladsy 22.

[Prente op bladsy 20]

Ware Christene is onderrigters van God se Woord

[Prent op bladsy 21]

Ouer manne kan vrae gebruik om medegelowiges te help om vertroosting uit God se Woord te put